|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
PAMPOENE EN KIE.: Vlesige voedsel, vars en vol pit
PAMPOENE,
komkommers, spanspekke, waatlemoene... die pampoenfamilie, of
Cucurbitaceae, is ’n tweesaadlobbige plantfamilie wat goed
honderd genera (geslagte) met sowat agthonderd spesies (soorte) omvat. Die meeste lede van dié familie is eenjarige rankplante wat baie vinnig groei—óf al op die grond langs óf as klimplante met hegrankies teen stellasies op. Plantkundiges beskou die vrugte as bessies. Die meeste van die vrugte het ’n betreklik harde skil (epikarp) en ’n dik, eetbare vrugvlees (mesokarp), waarin die sade ingebed lê.
Die oerplant waaruit die huidige pampoenvariëteite ontwikkel is, was vermoedelik inheems in Sentraal-Amerika. Pitte van pampoenverwante plante is al in Mexiko gevind, wat meer as 7000 jaar tot 5500 v.C. terugdateer. Vandag word pampoene egter op alle vastelande buiten Antarktika gekweek.
Behalwe dat hulle baie vesel bevat, is pampoene ook ryk aan vitamien A en kalium.
En dan kan ’n mens wonder hoe die Afrikaans idoom ontstaan het dat iemand wat taamlik vreesloos is “nie vir koue pampoen skrik nie”. Ook interessant is dat ons ’n sekere kliersiekte, naamlik pampoentjies, na die vrugte van bekende ou rankende groentesoort genoem het.
Die
variëteite van die spesie wat as komkommers geklassifiseer word, word
meestal rou geëet in die vorm van komkommerslaai. Die oerplant kom op sy
beurt uit Suid-Asië. Die
spanspek, met sy geurige, soet vrugte, is weer waarskynlik inheems in Indië.
Soos by pampoene is daar talle variëteite, maar alle spanspekke is lede van
dieselfde spesie (Cucumis melo).
Foto: U.S. Department of Agriculture
Die
sappige waatlemoene met hul rooi vrugvlees waaraan die gesin in die
somervakansie so lekker smul, se land van oorsprong is onbekend. Tog weet
ons dat die ou Egiptenare reeds duisende jare gelede waatlemoene geplant
het. Die waatlemoen is natuurlik ook ’n ou gunsteling in Suid-Afrika. Hy
en die smaaklose makataan is albei variëteite van een spesie (Citrullus
vulgaris).
Foto: Reed Tychonski / The American Folklife Center / U.S. Library of Congress
|