’n Laslappie van Mieliestronk

POTALA-PALEIS:
 Wonderwoning in die Tibetaanse berge

 

’n Sprokiestoneel uit ’n Walt Disney-rolprent? Iets uit Legoland? Nee, die luisterryke gebou bestaan werklik—op ’n kliprif sowat anderhalf kilometer wes van Lhasa, die hoofstad van Tibet…  

 

Potala-paleis

BO: Die indrukwekkende Potala-paleis op ’n verkleurde swart-wit foto—en (ONDER) ’n kleiner foto van die paleis in egte kleure.

Foto onder: U.S. Library of Congress / PD

Potala-paleisDIE Potala-paleis is al beskryf as een van die mensgemaakte wonders van die węreld. Die paleis is in die sewentiende eeu gebou op die bouval van ’n antieke koninklike vesting en was ’n Boeddhistiese klooster en die winterwoning van die Dalai Lamas (Boeddhistiese opperpriesters van Tibet) totdat die Kommunistiese oorname van Tibet die Dalai Lama in 1959 gedwing het om na Indië te vlug. Vandag huisves dit ’n museum.

Die private woonvertrekke van die Dalai Lamas was doer bo, afgesonder van die massas. Potala—wat “Boeddha se berg” beteken—word partykeer die Rooi Paleis genoem, omdat hierdie gedeelte karmosynrooi is. Die res van die dertienverdieping-gebou is suikerwit, met goue dakke.

 

Daar is meer as 1000 kamers, waaronder meditasiesale, biblioteke, pakkamers, martelkamers, ’n onderaardse kerker met die onheilspellende naam Grot van Skerpioene, asook sowat 10 000 sogenaamde heilige voorwerpe en
20 000 standbeelde.

 

Soos verskeie ander plekke in die Verre Ooste en Midde-Ooste, was Lhasa en sy paleis vir buitelanders verbode. ’n Paar ontdekkingsreisigers het wel daar probeer insluip, maar hulle is betrap en teruggestuur. Vreemd genoeg het party buitelanders wat wel Potala te sien gekry het, heel onverwags daarop afgekom.

 

Heinrich Harrer en Peter Aufschnaiter, twee Oostenrykse bergklimmers, was in die begin van die Tweede Węreldoorlog aan die bergklim in Indië. Hulle is in ’n Britse interneringskamp aangehou, maar het ontsnap en hul weg oor die verraderlike Himalaja-gebergte gevind totdat hulle in Lhasa aangekom het—’n buitengewone prestasie, veral omdat hulle nie die regte toerusting of klere vir só ’n avontuur gehad het nie.

 

Die twee het op die ou end sewe jaar lank in Tibet gebly, vriende gemaak met die Dalai Lama en hom vergesel toe hy uit Potala gevlug het.

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad