|
Die Voortrekkerleier na wie Pretoria genoem is en sy monumentale rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis
Die
kosbare erflating van
|
||
| Lesers
wat agtergrond-inligting oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis verlang om
die gebeure rondom Pretorius beter te begryp, kan ook die volgende
artikels lees: • Die geskiedenis van Suid-Afrika • Die Groot Trek |
||
![]()
Uitgeëtste weergawe (met
beskaduwing) van
IE
groot, forse leier is ’n skadu van sy ou self waar hy op sy sterfbed
in sy plaashuis lê. Sy veel jonger tweede vrou probeer haar bes om dit
vir hom so gerieflik as moontlik te maak, maar moet magteloos sy
agteruitgang en bitter lyding aanskou. Burgers
wat vroeër onder hierdie wyse veldheer geveg het, verneem kort-kort hoe
dit nou met hom gaan. Maar, soos ’n profeet wat baiemaal nie deur sy
tydgenote erken word nie, sal sekerlik nie almal presies besef watter
reus in hul midde gewandel het nie. Tog
kom swart hoofmanne na die sterwende ou kommandant-generaal se bed,
kniel by hom en soen sy hande. By hulle is daar ’n diepe eerbied vir
die Boereleier wie se insig en versiendheid hulle leer respekteer het. En
toe sterf die eienaar van die plaas Grootplaats, by die samevloeiing van
die Magalies- en die Krokodilrivier anderkant die Vaal. Hy word na sy
graf op die plaas gedra, rouklaers bid en sing, die kluite klap op die
kis en sy geliefdes loop met groot hartseer van die graf af weg. Maar
onder die agtergeblewenes is daar ’n baie skrander seun van die ou man
wat die mantel as aanvoerder by hom sal oorneem en sal sorg dat die
Boeremense hom nie sal vergeet nie. Die
seun sal ’n dorp stig en dit Pretoria noem—na
sy pa, Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius. En
in die Ou Kerkhof van die einste Pretoria—wat dekades later die
administratiewe hoofstad van ’n verenigde Suid-Afrika sal word—sal
Andries Pretorius se stoflike oorskot in 1891 met groot eerbetoon
herbegrawe word… WIE
was Andries Pretorius eintlik? Stellig die grootste van al die
Voortrekkerleiers, het baie historici al gereken. Trouens, van hom is al
gesê dat hy meer
as al sy tydgenote die wese van die Groot Trek en die wordende
republikeinse ideaal van die Afrikaner deurgrond het.
As
die grondlegger van die eerste Boererepubliek wat as gevolg van die
Groot Trek ontstaan het, het hy hy besef dat die krag wat in
eensgesindheid lê, noodsaaklik is om die Voortrekkers se
onafhanklikheid van Brittanje af te dwing. Hy was ook ’n bekwame
onderhandelaar wat geweet het hoe om sy tyd af te wag. Volgens
beskrywings van sy tydgenote moet hy ’n charismatiese man met ’n
treffende voorkoms gewees het, groot en sterk gebou. ’n Vroulike
bewonderaar het só oor hom geskryf: "Aantreklik, ’n lang figuur
van tussen ses en sewe voet (nagenoeg twee meter), regop, vriendelik en
innemend." En
niemand kan ontken dat hy ’n gebore leidsman was nie. In die
Voortrekkers se donkerste uur het hy die Kaapkolonie verlaat en die
destyds leierlose uitgeweke Boere in Natal te hulp gesnel. Daar het hy
soveel vertroue ingeboesem dat hy ’n verslae, magtelose klompie mense
in ’n kontingent van besielde, dapper en seëvierende pioniers
verander het. ANDRIES
PRETORIUS is op 27 November 1798 by Graaff-Reinet in die destyds
Kaapkolonie gebore, die vyfde geslag van die Suid-Afrikaanse
Pretorius-stamvader Johannes Pretorius. Johannes het in 1666 in diens
van die Kompanjie uit Nederland in die Kaap aangekom, kort daarna na
Mauritius vertrek, maar in Desember 1669 permanent in die Kaap kom woon. Hierdie
stamvader was die seun van ds. Wessel Scout van Nederland, wat in sy tyd
as teologiese student aan die Universiteit van Leiden sy name na die
Latynse vorm verander en dus Wesselius Praetorius (later Pretorius)
geword het. Van sy interessante afstamming was die
suigeling Andries natuurlik glad nie bewus toe hy sy eerste skreeutjie
in sy ouers se Karoo-opstal gegee het kort voor die eeuwisseling van die
1700’s na die 1800’s nie. Hy was die oudste seun uit die tweede
huwelik van Marthinus Wessel Pretorius, en sy ma was ’n nooi Susanna
Viljoen, die weduwee van Johannes Hattingh. Maar
dit is omtrent al wat daar oor Andries Pretorius se jeugjare te vertel
is. So goed as niks is daaroor bekend nie. Ons
weet wel dat drie broers en ’n suster op sy geboorte sou volg (daar
was ook halfbroers en halfsusters uit sy pa se eerste huwelik). Andries
het sy eerste lewensjare waarskynlik op sy pa se plaas Driekoppen, sowat
40 km noordoos van Graaff-Reinet, geslyt. Veel
skoolonderrig het hy nie gehad nie—dit is immers in die pionierstyd
van destyds nie so belangrik geag nie en as ’n man ten minste jou naam
kon skryf en uit die Bybel kon lees, was jou graad van geletterheid
stellig heeltemal voldoende. Tog het Andries dit ver genoeg gebring om
sy gedagtes vry goed op papier te kon neerskryf. Die
tekortkominge in sy onderwys is ruimskoots vergoed deur ’n gesonde
verstand en skerpsinnige oordeel wat heelwat bokant die middelmatige
was, is van hom vertel. Andries was nog
nie eens twintig toe hy op 8 November 1818 in die gemeente Tulbagh met
die agttienjarige Christina Petronella de Wit getrou het nie. Sy sou
dertig jaar van vreugdes maar ook ontberings aan die sy van haar
ondernemende man deurmaak, totdat sy hom ontval het. Hy het daarna weer
getrou. Sewe
dogters en drie seuns is uit sy en Christina
se huwelik gebore, en hul oudste seun Marthinus
Wessel Pretorius, het later die staatspresident van die Boerestate die
Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) sowel as die Oranje-Vrijstaat
geword. Dis ook hy wat Pretoria in 1855 gestig en na sy pa genoem het. IN
die jare net voor die Groot Trek was Andries Pretorius ’n gesiene
persoonlikheid in die Graaff-Reinetse omgewing, hoewel hy nie so ’n
leidende rol as die ander latere Voortrekkerleier Piet Retief gespeel
het nie. Sy kwaliteite as leier is egter goed erken, soseer dat hy in
die Sesde Grensoorlog (1834-’35) ’n kommando van 800 Graaff-Reinetse
burgers teen die Xhosa aangevoer het. Nadat
die Groot Trek op dreef gekom en die wawiele van die groot trekgeselskap
van Gerrit Maritz in September 1836 uit Graaff-Reinet noordwaarts begin
rol het, het baie van die mense wat agtergebly het sterk daaraan begin
dink om ook die Kaapkolonie te verlaat en onder die Britse gesag uit te
trek. Ook
Pretorius het sulke gedagtes gekoester en gevolglik in Oktober 1837 met
’n klein geselskap op ’n verkenningstog na die binneland vertrek
waar hy die Trekkers besoek het. Die
opvatting kan nietemin bestaan dat Pretorius daarna die Kolonie
permanent verlaat het uitsluitlik omdat hy na die Trekkers in Natal
ontbied is om vir hulle as leier op te tree. Dit sou wees nadat hulle
leierloos gelaat was. Die Trekkerleiers Piet Retief en Piet Uys is
naamlik deur die Zoeloes onder leiding van hul koning Dingane gedood,
Gerrit Maritz het aan siekte beswyk en Andries Potgieter het uit Natal
weer die binneland ingetrek. Pretorius
het egter vantevore al sy begeerte laat blyk om te trek en inderdaad
reeds vir hom ’n plaas in Natal van ene Thomas Garden gekoop. Wat
meer sê, nog voor die aankoms van boodskappers wat uit Natal gestuur is
om sy hulp in te roep, het hy reeds voorbereidings getref om sy
besittings in die Kolonie te verkoop en na Natal te verhuis. Hoe
ook al, Pretorius het die Kolonie aan die einde van Oktober 1838 met sy
trekgeselskap verlaat, maar hy het sy trek aan die Modderrivier
agtergelaat en hom na die Trekkers se hooflaer aan die Klein-Tugela in
Natal gehaas.
Uit: Afrikaanse Kinderensiklopedie
"Al
ons opperhoofde was omgebring en ons was soos skape sonder ’n
herder," sou ’n Voortrekkervrou later oor dié dae vertel. Pretorius
het dinge soos handomkeer verander. Sy deeglikheid en deurtastende optrede het dadelik vertroue ingeboesem en hy is aangewys as hoofkommandant van die strafkommando wat teen Dingane moes optree. Twee dae later het hy met sy kommando noordoos in die rigting van Zoeloeland getrek. Doelgerig sou hy sorg dat die Suid-Afrikaanse toneel daarna nooit weer dieselfde sou wees nie... DIE
Gelofte, die slag by Bloedrivier... hierdie geskiedenis is baie bekend.
Pretorius sou uiteindelik die bevel voer oor ’n mag van 470 man, wat met
64 waens Dingane (of Dingaan) se gebied binnegedring en op 16 Desember
1838 wesenlik die Zoeloekoning se mag gebreek het. 16
Desember is daarna elke jaar gedenk as Dingaansdag of Geloftedag, maar
dit staan vandag bekend as Versoeningsdag. Van die sowat 10 000 Zoeloes
(party bronne sê daar was duisende meer) wat aan die slag deelgeneem
het, het 3 000 gesneuwel. Met hul assegaaie was hulle duidelik nie
opgewasse teen die Boere se gewere nie, maar dit bly wonderbaarlik dat
geen Boer daardie dag gesneuwel het nie. Net drie is gewond, onder wie
Pretorius self, wat deur ’n assegaai aan sy hand beseer is.
Pretorius
het hierna ’n verbond gesluit met Dingane se broer Mpande, waardeur
Dingane gedwing is om te vlug. "Andries Pretorius het ’n nuwe
Suid-Afrikaanse orde geskep," sou later oor hom geskryf word. In 1840
het Pretorius gehelp om die Boererepubliek van Natalia te stig, wat
slegs tot 1843 bestaan het toe die Britte Natal geannekseer het. ’n
Tyd lank het hy met die Britte probeer saamwerk, hoewel ander Boere
eerder die binneland ingetrek het as om dit te doen. Tog het hy al hoe
meer ontnugter geraak oor die Britse bedoelinge met Suidelike Afrika. Vir hom
het die Britte nie die probleem in Natal raakgesien nie deurdat hulle
nie gebiedskeiding wou afdwing tussen twee kulture wat in daardie
stadium nie naastenby assimileerbaar sou wees nie. Sekere ontleders sou
in sy optrede die wortels van die latere apartheid in Suid-Afrika wou
lees, maar dit sou heeltemal verkeerd wees om hom alleen en in sy eie
bepaalde tydsgewrig daarvoor te blameer. Pretorius
het swaar van Natal afskeid geneem en hom oorkant die Vaal op ’n plaas
aan die Magaliesberg gaan vestig. "Ik nam mij … volstrek voor om
mij nooit onder Britsch gezag te onderwerpen," het hy op ’n keer
geskryf. Maar die
wrywing tussen hom en die Britte is op die spits gedryf toe sir Harry
Smith die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier (die latere Vrystaat),
waar baie Boere hulle reeds gevestig het, vir Brittanje geannekseer het. Pretorius
is as kommandant-generaal gekies van die burgers wat hulle daar teen die
Britte verset het. Die Britte het hierop geantwoord deur Pretorius voëlvry
te verklaar, met ’n prys van 2000 pond op sy kop. Die
Boere se versetoptrede sou uiteindelik uitloop op die botsing by
Boomplaats op 29 Augustus 1848 tussen Pretorius se sowat 300 man en
Smith se 1 200. Hoewel Pretorius se mag die voordeel van ’n gunstiger
gevegsterrein geniet het, het die Britse oormag dit reggekry om hulle op
die vlug te jaag. Pretorius self moes noordwaarts uitwyk, terug na sy
Transvaalse plaas aan die Magaliesberg. Hier
moes hy tot sy leedwese hoor dat sy vrou tydens sy afwesigheid oorlede
en begrawe is. Pretorius het die
volgende jaar weer getrou en wel met ’n nooi Petronella Aletta de
Lange, wat negentien jaar oud en dus meer as ’n kwarteeu jonger as hy
was. Hulle sou saam drie dogters hê, van wie die oudste twee vroeg
oorlede is en die jongste nog ’n suigeling was toe haar pa gesterf
het. In
Transvaal moes Pretorius met die Voortrekkerleier Andries Potgieter
wedywer om die leierskap van die Boere. Ondanks sy ondervinding met sir
Harry Smith het hy steeds onderhandeling met die Britte verkies en hy
het ook die Boere verteenwoordig op die vergadering vir die
ondertekening van die Sandrivier-konvensie van 1852. Feitlik
uitsluitlik op sy inisiatief en optrede is die soewereine
onafhanklikheid van Transvaal met hierdie konvensie erken en een van die
einddoelstellings van die Groot Trek verwesenlik. Dit
was hom egter nie beskore om ook die erkenning van die onafhanklikheid
van die Oranje-Vrystaat in 1854 te beleef nie, hoewel hy onteenseglik
die weg voorberei het vir die ondertekening van die
Bloemfontein-konvensie waardeur ook hierdie gebied aan die Boere
teruggegee is. Pretorius
is op 23 Julie 1853 oorlede ná ’n smartlike lyding aan die sogenaamde
"borswater", slegs enige maande ná Potgieter, wat aan
dieselfde kwaal beswyk het.
Soos
reeds gesê, word Andries Pretorius deur baie beskou as die grootste van
die groot geeste wat die Groot Trek opgelewer het. Party van sy
tydgenote het hom "vader Pretorius" genoem en vir ander was hy
die "koning der emigranten". Sy godvresendheid is nooit betwyfel nie. En die respek wat hy van sekere
swart hoofmanne geniet het, spreek boekdele. Hy
het die gawes van ’n knap veldheer, ’n gebore diplomaat en ’n
versiende staatsman in sy persoon verenig, en toe sy afskeidsbrief aan
die Krygsraad voorgelees is, het sterk manne onbeskaamd gehuil. Laat sy naam dus voortleef, is die gevoel van talle Afrikaners. Dit is mense wat—selfs hier in die begin van die 21ste eeu, wat so ingrypend anders is as die 19de—nog lank nie vergeet het waar hulle vandaan kom nie...
|
||