|
DIAL DIRECT
Motor- en Huishoudelike Versekering
|
|
|
Hartebreker wat die wêreld geleer het om harte te vervang... die gebeurtenisryke lewe van die geniale Suid-Afrikaanse professor wat een van die beroemdste medici van alle tye geword het
Chris
Barnard Christiaan Neethling Barnard (1922-2001) was ’n briljante Suid-Afrikaanse hartchirurg wat die eerste menslike hartoorplanting in die geskiedenis gedoen het. Die flambojante lewe van die hartebreker prof. Chris was ’n sepie-agtige vervolgverhaal op sigself, maar niks kan afbreuk doen aan die monumentale werk wat hy as chirurg verrig het nie. Hy word nie verniet as een van grootste geneeskundiges van die twintigste eeu beskou nie...
|
|
IE
hart van een mens in ’n ander een oorplant? Destyds het dit byna te
fantasties geklink om waar te wees! Die tradisionele siening van die
hart is immers dat dit die setel van die lewe is, die sentrum van die
gemoed, die tuiste van die siel en die oorsprong van die liefde. Trouens,
woorde soos hartseer, hartelus, hartstog, hartedief en hoeveel ander getuig almal
hoe ons mense die hart met ons diepste emosies vereenselwig. Hoe kan
’n mens dan nog dieselfde mens wees as iemand anders se hart in jou
borskas klop? Maar ná die nag van 2 op 3 Desember 1967 sou die wêreld vinnig sy romantiese siening van die biologiese hart verander—en boonop met nuwe oë kyk na die stand van die geneeskunde in Suid-Afrika, wat blykbaar reeds ’n graad van sofistikasie bereik het wat min mense verwag het. Daardie
gedenkwaardige Sondagmôre het mense tot by die uithoeke van die aarde
gehoor dat ’n mens-op-mens-hartoorplanting deur ’n Kaapse dokter
gedoen is—die eerste in die geskiedenis. Van die vorige middernag af
tot dagbreek het ’n span
hartchirurge, narkotiseurs en teaterpersoneel van die Groote
Schuur-hospitaal met
die bystand van mediese tegnoloë die hart van ’n verongelukte
jong meisie in ’n sterwende kruidenier van Seepunt ingeplant. Die
leier van die hartspan, het die wêreld verneem, was ene prof. dr. Chris
Barnard. Die haas onbekende prof. Barnard was skielik ’n wêreldfiguur. Soos met mnr. Nelson Mandela later, het armes, rykes, onbekendes en die beroemdstes ter wêreld met mekaar gewedywer om hom te ontmoet, en boonop het die aantreklikste vroue voor sy sjarme geswig.
Gesny uit ’n foto van National Liberary of Medicine / U.S. National Institutes of Health (digitaal verkleur)
Eie aan hom het Barnard in al die
verheerliking gebaai, maar sy flambojantheid sou altyd deur
Suid-Afrikaners aanvaar word as een van eksentrisiteite van die genie
wat hy onbetwisbaar was. Wat Chris Barnard vir Suid-Afrika—en die
geneeskunde—beteken het, bly in elk geval onberekenbaar groot.
Die
seun uit die Karoo CHRISTIAAN
NEETHLING BARNARD is op 8
November 1922 op Beaufort-Wes in die Karoo gebore, een van vyf
seuns van die sendingpredikant Adam Barnard en sy vrou Maria. Een van
die seuns, genaamd Abraham, is aan sy hart dood toe hy ’n skamele vyf
jaar oud was, en dit kon wel ’n rol gespeel het in Chris se latere besluit
om hom as hartchirurg te bekwaam.
Hy het
in 1940 aan die Hoërskool Beaufort-Wes gematrikuleer en in 1946 as
geneesheer en chirurg aan die Universiteit van Kaapstad gekwalifiseer.
Sy ouers het dit nie breed gehad het nie, en die jong Chris moes elke
dag sowat agt kilometer ver na die universiteit loop. Hy het sy
afronding as ’n intern aan die Groote Schuur-hospitaal ontvang.
Tydens sy opleiding in die algemene snykunde het hy ook tyd ingeruim vir
hoogs vindingryke navorsing oor aangebore ingewandsafwykings by
pasgeborenes. Barnard
is in 1948 met Aletta ("Louwtjie") Louw getroud by wie hy twee
kinders gehad het. Ná sy troue het hy hom op die skilderagtige dorp
Ceres in die Wes-Kaap gaan vestig waar hy tot 1951 ’n huisdokter was. Met sy
terugkeer na Kaapstad het hy by die Stadshospitaal en Groote Schuur
diens gedoen.
In 1956 het hy ’n beurs ontvang om aan die
Universiteit van Minnesota onder twee pioniers in die hartsnykunde, Richard Varco en C. Walton Lillehei, te studeer.
Dit was hier waar hy onder meer die beginsels van opehartoperasies
bemeester het. Weer
terug in die Kaap het hy ’n hartlongmasjien wat die Amerikaanse regering
beskikbaar gestel het, goed benut en spoedig een van die beste
hartsnykunde-eenhede ter wêreld opgebou. Barnard het veral welslae
gehad met die herstel van aangebore hartdefekte by kinders en met
klep-operasies. Een van sy onderskeidings was sy aanstelling in 1962
as hoogleraar in die departement van chirurgie aan die Universiteit van
Kaapstad. Teen 1965, toe nieroorplantings nie juis goeie
resultate getoon het nie, het Barnard aan hartoorplantings begin dink.
In 1967 was hy drie maande in Amerika, waar hy die beginsels van
immuniteitsonderdrukkingsterapie bestudeer het. In die Kaap het hy ’n
nier oorgeplant en die pasiënt het uiteindelik langer as twintig jaar
bly lewe. Met dié minimale ondervinding het hy sy aandag na
hartoorplantings verskuif.
’n
Lewe vir altyd verander
Die
jong, kloppende hart was net wat Barnard nodig gehad het vir die pasiênt
Louis Washkansky, wat in sy vyftigerjare was, maar wie se hart so
verswak het dat hy vir seker nie meer lank kon lewe nie. As die
ontvanger van die wêreld se eerste oorgeplante hart, sou Washkansky se
naam spoedig saam met dié van Barnard in hoofberigte regoor die
aarde verskyn.
Intussen
het Barnard as die "rolprentster-chirurg" en die groot
hartebreker-hartdokter ook die skinderbladsye in die wêreldpers
oorheers. Met die oorplanting het hy as’t ware wêreldburgerskap
ontvang: ’n oudiënsie met die pous, vriendskappe met ’n filmster
soos Sophia Loren en selfs ’n verhouding met die rolprentster Gina
Lollobrigida. Sy natuurlike
aantreklikheid het hom goed te pas gekom, terwyl swerms beroemdes
gebaklei het om langs hom afgeneem te word. Barnard het egter nie op sy louere gerus en in
sy roem gestagneer nie, maar as ’n baanbreker op sy gebied steeds
groot werk bly doen. Reeds op 2 Januarie 1968 het hy die hart van ’n
sekere Clive Haupt in dr. Philip Blaiberg, ’n Kaapse tandarts,
oorgeplant. Blaiberg het sowat ’n jaar en ’n half met sy nuwe hart
gelewe. Wat meer sê, twee van Barnard se eerste vier pasiënte het
langer as ’n jaar oorleef, en die vyfde en sesde onderskeidelik byna
13 en 24 jaar. Uiteindelik het Barnard meer as 50 harte
oorgeplant. Hy was later ook die pionier van die tegniek van die
abba-hart—waar die ontvanger se hart nie verwyder word nie, maar die
skenker s’n daarby gevoeg word om as ’n hulp-pomp te dien. In November 1977 het die professor weer
opspraak gewek deur ’n bobbejaanhart en ’n sjimpanseehart as tydelike
maatreëls in twee sterwende pasiënte oor te plant. Die pasiënte het
egter net ’n paar uur en vyf dae onderskeidelik bly lewe. Weens die
intense verwerping van die vreemde weefsel het prof. Barnard besluit om
hierdie tegniek te laat vaar. In 1983, op 61-jarige ouderdom, het Barnard vroeg afgetree uit sy pos aan die Universiteit van Kaapstad. Sy belangstelling in kliniese snykunde het afgeneem, deels weens pynlike rumatoïede artritis wat dit vir hom moeilik gemaak het om so goed te opereer as wat hy wou. Hy het hom op sy skryfwerk begin toespits, wêreldwyd
lesings gelewer en onder meer ’n nuwe hartoorplantingsprogram in
Oklahoma, Amerika, help vestig.
Hartstogtelike
lewe BARNARD se liefdesavonture
alleen bied oornoeg stof vir ’n
roman wat ’n hele paar boekdele sal kan beslaan. In
1969 het hy van Louwtjie geskei en in 1970 met Barbara Zoellner getrou.
Hulle het twee seuns gehad. Barbara was ’n pragtige vrou en die media
het haar verafgood—sy was ’n gewilde voorbladmodel vir tydskrifte. Maar
Barbara het klaarblyklik uiteindelik nie langer kans gesien vir die
stralerjakkeraarslewe saam met Chris nie en hulle het in 1982 geskei. ’n
Wanhopige Chris het selfs ’n brief in ’n groot Suid-Afrikaaanse
koerant laat
plaas waarin hy sy liefde aan haar verklaar het, maar dit het Barbara
duidelik nie tot ander insigte laat kom nie en hulle het nooit versoen
geraak nie. Uit
Chris se huwelik met die model Karin Setzkorn in 1988 (sy was jonk
genoeg om sy kleindogter te wees) is ook twee kinders gebore. Hulle is
geskei kort voor prof. Barnard se tragiese dood in 2001 in Ciprus.
En op 2 September 2001, terwyl hy op die kusdorp Paphos, Ciprus, met vakansie was, het prof. Barnard weens ’n asma-aanval gesterf toe hy nie betyds sy asmapompie in die hande kon kry nie. Hy was byna 79 jaar oud. As
daar ooit iemand was wat volmaak gepas het by die liriek van wyle Frank
Sinatra se bekende lied I Did It My Way dan was dit Chris
Barnard. Die strofe in die lied "Regrets I had a few, but then too few to
mention" strook veral perfek met die eiesinnige individualis wat
oor weinig spyt was, maar die geluk waardeer het wat hy in sy lewe kon smaak. Tog
het hy ook geweet waar sy hulp vandaan kom. Soos hy
eenmaal gesê het: "Wanneer ek sterf, kan ek sê: 'Dankie, Here, ek
het ’n groot geleentheid in die lewe gehad.' " Barnard het geweet hy maak geskiedenis, maar hy het stellig nie die enorme opskudding verwag wat sy eerste hartoorplanting veroorsaak het nie. Vir hom het die hart werklik weinig te doen gehad met die gevoelslewe en was dit bloot ’n "primitiewe pomp". Maar die intensiteit waarmee hy in die kollig ingeruk is, sou uitstekend rym met sy eie intense karakter. Hy het klaarblyklik die geweldige aandag tot die einde toe geniet.
Prof. dr. Chris Barnard se passie juis vir die "menslike pomp" het hom ’n ereplek in die geskiedenis besorg wat min sterflinge beskore is, wat ook al van sy persoonlike hartsake vertel word. Hy was bowenal en allereers die geniale en uiters toegewyde medikus wat onverskrokke ’n nuwe weg ingeslaan het toe ander nog skoorvoetend gehuiwer het om dit te doen.
|
|