|
|||||||||||
|
Foto:
Peggy Greb
/ ARS / U.S.
Department of Agriculture
YNAPPELS uit Natal, nè?” kon ene Charles Purdon gemymer het toe hy op ’n sekere dag in 1865 ’n haarkappersaak in Grahamstad in die oostelike deel van die Kaapkolonie binneloop en van dié knopperige vrugte bekyk wat uit die buurkolonie gearriveer het.
“Pynappels uit Natal... hmmm... sal hulle nie dalk ook hier in ons eie wêrelddeel aard nie?”
Die haarkapper, ’n sekere Lindsay Green, het ’n klompie pynappelkrone (die blaardele bo-aan die vrugte) aan die ondernemende Charles Purdon gegee, wat hulle toe gaan plant het om te kyk wat sy proefneming sou oplewer. Die res is geskiedenis—met die Oos-Kaap wat ’n gerekende pynappel-produserende streek uit eie reg sou word.
Net die Bathurst-gebied lewer immers tans jaarliks meer as 150 000 ton aan ’n fabriek in Oos-Londen. In 2003 is ’n nuwe verwerkingsaanleg van R7 miljoen in dié hawestad geopen, wat daarop dui dat die pynappelbedryf hier van krag tot krag gaan.
Ander bronne reken ons eerste pynappels het Natal uit Ceylon bereik en dat die eerste aanplantings in 1860 hier gedoen is.
Herkoms van die pynappelplant
DIE pynappelplant
kom oorspronklik van Suid-Amerika, miskien van Brasilië, Paraguay, Uruguay
of Puerto Rico. Amerikaanse Indiane wat oor die vasteland heen verkenningstogte
onderneem en handel gedryf het, het die vrug deur Sentraal- en Suid-Amerika
versprei. Voordat die vrug tot vandag se vlesige heerlikheid
verdedel is, was dit egter ’n baie minder smaaklike vrug. Dit het oorspronklik
dan ook baie anders gelyk as die pynappel wat ons vandag ken.
Dit het harde sade so groot soos ryskorrels gehad. Toe, in 1493, het die Italiaans-Spaanse seevaarder Christopher Columbus die pynappel op
die eiland Guadaloupe ontdek. Hy was so ingenome daarmee dat hy dit met hom
saamgeneem het na koningin Isabella van Spanje. Ander reisigers en matrose het
ook die plant en vrug met hulle meegeneem toe hulle na Europa teruggekeer het. Uit die oorspronklike plante is ’n geskikte kultivar gekweek wat tot vandag se pynappel gelei het.
Die benaming “pynappel” het eweneens ’n
interessante geskiedenis. Toe die Europese ontdekkers van weleer met
hierdie vrug kennis maak, het dit hulle alte veel herinner aan die
dennebol, die vrugkeël van die denneboom—wat ook die “pynboom”, of
kortweg “pyn”, genoem word. Die Spanjaarde se woord
vir die pynappel is piña... en
verskillende ander nasies het ewe pynloos dié soort pyn ’n deel van
hul eie
woordeskat gemaak!
DAAR is
twee hoofgebiede waar met pynappels geboer word:
•
Die Hluhluwe-streek van KwaZulu-Natal, wat negentig persent van die vars
vrugte lewer wat in Suid-Afrika bemark word.
•
Die Oos-Kaap, wat vrugte vir inlê lewer. In die Umkomaas-gebied suid van Durban en die Levubu-gebied in die Limpopo-provinsie word ook ’n bietjie vars vrugte vir die mark gekweek.
Suid-Afrika produseer sowat ses persent van die pynappels wat op aarde bemark word. Die wêreldmark word deur Thailand, Indonesië, die Filippyne en Kenia oorheers. Ander belangrike produserende gebiede is Hawaii, Brasilië, Maleisië, Taiwan, Mexiko en Puerto Rico.
Die pynappelplant
DIE pynappelfamilie (Bromeliaceae) is ’n tamaai groot familie. Dit bevat meer as 2100 spesies wat in 46 genera geplaas word. Die ekonomies belangrikste spesie is ons bekende pynappel (Ananas comosus.)
Foto: Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture Twee soorte pynappels word in ons land kommersieel verbou. Die
baie gewilde Queen-pynappel is soeter en smaakliker wanneer dit vars geëet
word. Die plant het stekelrige blare. Daarteenoor is daar die Canyene-pynappel,
wat gewoonlik versap of vir inlê verwerk word. Hierdie plant het weer gladde
blare. Plante
soos die pynappel het blomme wat in groepe gerangskik is en bloeiwyses genoem
word. Die plant bring eers ’n blomsteel voort met klein blommetjies wat daaruit
groei. Mettertyd begin die blomme oopgaan. Elkeen blom net ’n dag lank en
ontwikkel dan in ’n klein vruggie. Al die vruggies versmelt geleidelik en vorm ’n sogenaamde veelvuldige vrug. Die veelvuldige vrug en steel word die geel vleis van die pynappel. Die vrug is groot, met ’n doringagtige skilpaddop-voorkoms en daardie blarekroon op die punt.
Kweking
TWEE
verskillende dele van die plant kan gebruik word om nuwe plante te kweek. Hulle
is die blaredeel bo-aan die vrug, asook die suiers wat aan die moederplant groei.
Pynappels word in seksies van 20 m breed gekweek. Daar is paadjies tussen die
plante sodat elke plant bemes en met omgewingsvriendelike insekte- en
onkruiddoders bespuit kan word. Die pynappelplante staan in opgehewe rye. Sodoende word oortollige water, wat die plant beskadig, weggedreineer. Die plantjies word met die hand geplant. Die eerste vrugte kan ná vyftien tot twintig maande gepluk word. Ná nog vyftien maande vind ’n volgende oes plaas, waarna die grond omgeploeg en van ’n jaar tot agttien maande toegelaat word om braak te lê.
Pynappels aard die beste in ’n temperatuur van tussen 15 en 30 grade C en het baie son nodig.
Pluk en verpak
PYNAPPELS
word met die hand gepluk en in kratte gepak. Die Queen- pynappels word na skure
gebring waar hulle volgens grootte en kleur met die hand sorteer word. Hulle
word dan in houers gepak vir die Suid-Afrikaanse varsproduktemark of vir
uitvoer.
REGS: Oestyd in ’n Suid-Afrikaanse pynappelplantasie.
Foto: Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Die oes kan meganies vergemaklik word deur ’n lang metaalarm met ’n vervoerband. Terwyl ’n vragmotor deur die pynappelplantasie ry, beweeg die arm oor die plante en die plukkers loop agtema. Hulle plaas dan die pynappels op die vervoerband wat dit na die vragmotor bring.
’n Waardevolle neweproduk is die vesels van die pynappelblare.
In fabrieke kan pynappels verwerk word om ingelê te word, of die sap kan vir koeldranke uitgepers word. Die vleis van die pynappel kan ook gedroog word.
Gesondheidsvoordele
Die pynappel gevat ook ’n proteolitiese ensiem genaamd bromelein, wat voedsel verteer deur proteïen af te breek. Pynappelnektar kan dus as marinade gebruik word waarin vleis laat lê word om sag te word.
DIT kan pret wees om na jou eie pynappelplant
om te sien—en op die koop toe uiteindelik boonop met ’n heerlike pynappel
beloon te word! En jy kan dit doen... met ’n bietjie geduld en liefderyke
versorging. Omdat die pynappel ’n tropiese plant is en normaalweg
in ’n warm, vogtige klimaat groei, sal ryp en erge koue dit beskadig. Maak dus
seker dat jy jou pynappelplant (in ’n pot) in die winter binnenshuis en naby ’n venster hou
wat baie sonskyn kry. • Eers moet
jy vir jou ’n Queen-pynappel gaan koop, want jy het een nodig om een te kweek. • Sny die
kroon (boonste blareloof) af. • Stroop ’n
paar wortelblare van die kroon af. Draai dit onderstebo en laat dit sowat ’n
week lank droog word sodat die afgesnyde kant kan verhard voordat jy dit plant. • Vra vir Ma
of Pa om vir jou ’n poreuse pot van so 20 cm te kry. Plant die kroon in hierdie
pot met die blare na bo. Gebruik goeie tuingrond wat met dertig persent
organiese materiaal gemeng is. • Tik die
grond ferm onder teen die kroon vas en probeer sorg dat daar geen grond tussen
die blare kom nie. • Ná die planting moet jy die pynappel met ’n goeie huishoudelike plantvoedsel bemes en daarna weer elke twee of drie maande. Jy sal weet dat jou pynappelplant lekker groei wanneer jy ’n rooi keël uit die middel van die kroon sien groei. Hierdie rooi keël sal deur blou blomme gevolg word, en uiteindelik sal jou langverwagte pynappelvrug begin vorm. Jy moet onthou dat dit agttien maande kan duur voordat jou pynappel sy vrug gee. Miskien kan jy die plant se eerste verjaardag op ’n almanak merk. Dan sal jy weet—jy sal nog net ses maande langer hoef te wag! |
|||||||||||