Anglo-Boereoorlog 

  Deel 2 :
Die oormag teen
die guerrillas en die uiteindelike vredesluiting

In die eerste halfjaar van 1900 word die aanvanklike suksesse van die Boeremagte in verpletterende nederlae omskep... en wapper die Union Jack oplaas in altwee die hoofstede van die Boererepublieke. Die seëvierende Britte juig, maar die Boere is nog lank nie verslaan nie…
 


Foto’s van kanonne en Britse besetting van Bloemfontein: Drie Eeue, vol. 4, Nasionale Boekhandel, 1953. Foto’s waarvan bronne nie aangedui word nie, kom uit bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal stellig weens verjaring verval het



 


  
DIT
gaan aanvanklik goed met die Boere in die Anglo-Boereoorlog. Maar soos dr. Leopold Scholtz dit stel in sy boek Waarom die Boere die Oorlog verloor het, was die Boerekrygers geen professionele weermag nie, dog eintlik ’n volksleër waarvan die leiers eerder gekies as aangestel is.

Hulle was nie onderlê in taktiek nie en het die kanse verspeel wat hul getalle-oormag hulle gegee het in die begin van die oorlog voordat Britse versterkings kon opdaag. Geskiedskrywers wys dan ook daarop hoe die gety begin keer het toe lord Frederick Sleigh Roberts, ’n beroemde Britse militêre strateeg, op 11 Februarie 1900 met sy opmars begin het.

 


Roberts se oogmerk is om sy 300 000 man (vier divisies voetsoldate en die kavalleriedivisie van genl. J.D.P. French) te gebruik om Kimberley te ontset, die hoofmag van genl. Piet Cronjé uit te skakel en Bloemfontein in te neem. French glip verby Cronjé se Magersfontein-stellings en ontset Kimberley op 15 Februarie. Die Boere, wat so lank vrugteloos om Kimberley gelê het, val na Boshof terug.

Kort hierna tref die eerste groot ramp die Boere: die Slag by Paardeperd, wat ’n keerpunt in die oorlog blyk te wees. Genl. Cronjé, wat te lank by Magersfontein bly sit het, besluit om langs die Modderrivier op te trek, waar hy by Vendutiedrif, oos van Paardeberg, deur die Britse magte omsingel word. Die geveg duur ’n hele aantal dae en op 27 Februarie 1900 gee Cronjé oor met 4 000 man (hoofsaaklik Transvalers).

Op dieselfde dag dryf genl. sir Henry Redvers Buller met ’n oormag van 40 000 man (teenoor slegs 5 000 Boere) vir genl. Louis Botha by Pietershoogte in Natal terug. Die weg na die beleërde Ladysmith is oop en sir George White en sy troepe word ontset.

Die ontmoedigde Boere val terug. Die hele swaartepunt van die oorlog verskuif na die Vrystaat. Die beroemde genl. Christiaan de Wet, toe hoofkommandant van die Wes-Vrystaat, probeer Roberts se weg na Bloemfontein versper, maar word deur die aanrukkende Britse kolonnes by Abrahamskraal (Poplar Grove) omsingel.

Soos talle kere daarna ontkom die merkwaardige Boeregeneraal egter sonder ’n enkele ongeval.

Op 13 Maart word Bloemfontein deur die Britte beset. Op 28 Maart sterf genl. Piet Joubert in Pretoria en word hy deur die 38-jarige Louis Botha as Transvaalse kommandant-generaal opgevolg.
 


BO: Britse troepe beset Bloemfontein op 13 Maart 1900.

 

 

BO: “Kakies” (Engelse) by Bloemfontein.

 

 

Op ’n krygsraad op 17 Maart op Kroonstad word besluit om die stryd met kleiner kommando's, beweegliker eenhede en aanvalle op verbindingslinies voort te sit. Guerrilla-oorlogvoering sou voortaan die Boere se strydmetode word. De Wet slaan hier, daar en oral toe en sy rol as skitterende guerrilla-leier lok talle weifelaars onder die Boere terug na die kommando's.

Roberts se volgende plan is ’n breë opmars noordwaarts van Bloemfontein af. Met meer as 100 000 man ruk die Britte uit Natal en die Vrystaat na Transvaal op, en op 31 Mei 1900 ry Roberts Johannesburg binne.

Ofskoon die Vrystaat reeds deur Roberts as die ''Oranjerivierkolonie'' geannekseer is, duur die weerstand daar voort.

Roberts beskou dit as dade van rebellie teen die nuwe owerheid, en hy besluit om plaashuise af te brand in omgewings waar Boerekommando’s spoorlyne beskadig het. Mettertyd sou dié beleid tot die verbranding van oeste en die doodmaak van vee lei—’n beleid van “verskroeide aarde”.

Die Vrystaatse regering, wat reeds van Bloemfontein af na die Noord-Vrystaat uitgewyk het, versit maande lank van dorp tot dorp. Pres. M.T. Steyn van die Vrystaat voeg hom uiteindelik met sy regering by genl. De Wet en trek daarna tot die einde van die oorlog met hom saam.

LINKS: Genl. Christiaan de Wet.


En toe, in Junie 1900, word die Union Jack op die Raadzaal in Pretoria gehys. Die Transvaalse regering wyk eers uit na Machadodorp, daarna na Waterval-Onder en toe na Nelspruit.

Tog het die Boere van die republieke—dié wat nie “hensoppers” was wat wou hê hulle moes oorgee nie—steeds verbete teen die Britse oormag bly veg. Soos een Boeregeneraal dit gestel het: “Ons volk gaan deur ruwe golwe van ’n onstuimige oseaan en die skuitjie kantel maar baie, maar getroue matrose gee nooit moed op nie. Doen hul dit, gaan die skuitjie onder en verdwyn die matrose vir ewig van die toneel. Hul geskiedenis hou op en hul kinders word in hul eie land vreemdelinge.”

(Die grootste gedeelte van die teks hierbo is gegrond op inligting in die boek 500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis onder redaksie van prof. dr. C.F.J. Muller. Die boek verskyn ook op CD saam met verskeie ander geskiedeniswerke in die omvangryke JLVS History Reference Library, uitgegee deur Academica.)

 

Anglo-Boeroorlog: etlike belangrike gebeurtenisse in die eerste maande van 1900 tot met
die besetting van Pretoria


6 Jan.: Caesar's Camp en Wagon Hill (Platrand) by Ladysmith
word deur die Boere aangeval

10 Jan.: Roberts en Kitchener kom in Kaapstad aan

24 Jan.: Slag by Spioenkop

11 Feb.: Roberts begin met groot omvleuelingsopmars

14-27 Feb.: Buller se vierde poging om Ladysmith te ontset

15 Feb.: French ontset Kimberley

18 Feb.: Slag by Paardeberg

27 Feb.: Oorgawe van Cronjé by Paardeberg

28 Feb.: Buller ontset Ladysmith

7 Mrt.: Slag by Poplar Grove

10 Mrt.: Slag by Driefontein

13 Mrt.: Britte neem Bloemfontein in

17 Mrt.: Boere-krygsraad by Kroonstad

27 Mrt.: Genl. Joubert oorlede

31 Mrt.: Genl. De Wet lok Broadwood in ’n hinderlaag by Sannaspos

3 Mei: Roberts hervat opmars na Pretoria
11 Mei: Buller hervat opmars

12 Mei: Roberts beset Kroonstad

17 Mei: Mahon en Plumer ontset Mafeking

28 Mei: Britte annekseer Oranje-Vrystaat en hernoem dit die
Oranjerivier-kolonie

31 Mei: Roberts beset Johannesburg

5 Jun.: Roberts beset Pretoria. Die seëvriende Britte dink die
oorlog is verby, maar daar sou nog lank en bitter geveg
word…
 


Die ongelyke stryd, die konsentrasiekampe en, oplaas, die Vrede van Vereeniging


HOEWEL die Britte die hoofstede van die twee Boererepublieke ingeneem het, gee die Boere nie bes nie. Vir hulle is daar steeds te veel op die spel, ofskoon die stryd nou sonder bepaalde strategie voorduur. Tog word die Boeremoreel met die oorgawe van genl. Prinsloo met 4000 man verder ondermyn. En in die laaste stellingsgeveg van die oorlog, by Balmanutha, buig die dapper Boerekrygers onder genl. Louis Botha ná twee dae die knie voor die Britse oormag onder Roberts, French en Buller. Die kommando’s word egter wel gered.

Brittanje verklaar Transvaal (die Z.A.R.) op 1 September 1900 tot ’n kolonie, net soos hy dit in Mei met die Vrystaat gedoen het.

In die begin van 1901 lyk die vooruitsigte erg bedroewend vir die Boere. Die Britse oormag is oorweldigend. Om alles te kroon, verwoes die invalsmag alles wat voorkom en word die Boerevroue en -kinders en ander nievegtendes saamgebondel in konsentrasiekampe waar hulle in die haglikste omstandighede moet lewe (meer hieroor in Deel 3 van hierdie reeks).

Maar nog swig die Boere nie. Hulle moet egter steeds voor die vyand uitvlug, hoewel hulle deur nog ’n paar oorwinnings bemoedig word. Daar word selfs tot die teenaanval oorgegaan, onder meer toe genl. Jan Smuts die Kaapkolonie met ’n stropersmag binneval en, soos al dit gestel is, “die vyand in die rug aantas”. In Oktober verslaan genl. Botha vir genl. Benson by Bakenlaagte, en in Wes-Transvaal verras genl. Koos de la Rey (“die Leeu van die Weste”) vir Kekewich by Moedwil. Op Kersdag 1901 vernietig genl. De Wet ’n vyandelike kamp by Groenkop.


REGS: Genl. Koos de la Rey (“die Leeu van die Weste”).
 


Die gevegte het met die verloop van die oorlog al hoe minder geword. In 1902 oorrompel genl. De la Rey ’n Engelse konvooi by Ysterspruit en by Tweebosch verslaan hy vir lord Methuen in die laaste groot botsing van die oorlog en word die aanvoerder gevange geneem.

Die Anglo-Boereoorlog het die Britse nasie baie, baie meer gekos as wat ooit verwag is. ’n Pond was in daardie dae nog groot geld en daar is aanvanklik geraam dat die oorlog Brittanje £10 miljoen uit die sak sou jaag. Pleks daarvan het dit hom £228 miljoen gekos, terwyl duisende Britse soldate op die velde van Suid-Afrika gesneuwel het.

Maar dit het ook al hoe duideliker geword dat die Boere onmoontlik die ongelyke stryd sou kon volhou. Die uiteindelike vredesooreenkoms waarmee die Anglo-Boereoorlog beëindig is, sou bekend staan as die Vrede van Vereeniging.

Die ooreenkoms is op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken, ná beraadslagings deur Boereleiers wat op 15 Mei by Vereeniging vergader het. Transvaal (die Z.A.R.) en die Vrystaat sou hul onafhanklikheid verloor, maar die miltêre beheer sou so gou moontlik deur burgerlike bestuur vervang word. Wat meer sê, selfbestuur sou toegestaan word sodra omstandighede dit sou toelaat.

En benewens ander toegewings sou Brittanje £3 miljoen beskikbaar stel om met die heropbouing van die land te help.

Brittanje het die oorlog gewen, maar op die keper beskou, het dit hom materieel weinig indien enigiets in die sak gebring. Al wat dit gedoen het, was om die Britse invloed in Afrika te bestendig—wat volgens sekere waarnemers vir ons voordelig was vanweë die “gesofistikeerdheid” van die Britse kultuur.

Maar kort voor lank was die vier Britse kolonies verenig in die Unie van Suid-Afrika, gelei deur Boeregeneraals. Die Unie was boonop algou ook saam met Brittanje ’n gelyke vennoot in die Statebond, ’n bondgenootskap wat in 1931 duidelik omskryf is toe die Statuut van Westminster die reg van die Britse parlement afgeskaf het om wette in verband met ander lidstate of “dominiums” op te stel.

By nabetragting kan wel gevra word of die Anglo-Boereoorlog met al sy ellende en hartseer en bitterheidskepping dan werklik nodig was. Maar dan weer... oor hoeveel ander verwoestende oorloë kan dieselfde vraag gestel word?
 

• Na Deel 3: klik hier

• Terug na Deel 1: klik hier
 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad