|
Mooi
loop,
VAARWEL,
ou glorieryke konsertboot!
Mooi loop, ou rivier waarop hy vaar! Die plakkaat langsaan vir die
beroemde musiekblyspel Show Boat kan op verskillende vlakke beskou
word. ’n Mens kan dit ook vertolk dat die mense op die voorgrond vaarwel
wuif aan ’n vergange era... ’n kleurryke tyd in die lang geskiedenis
van die magtige Mississippi in Amerika. En die kajuitjies was propvol passasiers wat die boewe moes ontduik—dobbelaars, dranksmokkelaars en ander swendelaars wat maar te gretig was om hulle van hul swaarverdiende geld te beroof. Die ruwe romantiek van die Mississippi is stellig vir altyd verby is. Tog rol die “Ou Man” ongesteurd voort soos in die liedjie. Hy bly Amerika se belangrikste binnelandse waterweg en is boonop een van die besigste kommersiële waterweë ter wêreld... |
||
AT ’n
era! Watter avontuurlikhede! Wat ’n rivier! Lees die Amerikaanse
skrywer Mark Twain se werke—soos die Avonture van Tom Sawyer en
ander—as jy die lewe op die Mississippi in die negentiende eeu
wonderbaarlik voor jou geestesoog wil sien afspeel. Jy hoor
weer die lawaai en gekletter terwyl vaartuie by die dorpe aan die
rivieroewers vasmeer... die gedreun en gerammel terwyl die bote die
dokke verlaat. Daardie
dae is reeds lank verby. Die stoombote is vervang deur reuse-tenkskepe
wat olie pleks van katoen vervoer. Die hordes dobbelaars, komediante,
slawehandelaars en swendelaars wat die Mississippi berug gemaak het, het
plek gemaak vir agtenswaardige skeepvaartmaatskappye, gewone stadsmense
wat ’n eerlike bestaan voer en toeriste wat die talle
besienswaardighede bewonder wat die rivier hulle bied.
Foto uit ’n versameling van die Old County Court House Museum, Vicksburg, Mississippi Maar
een ding het nie verander nie: die Mississippi is steeds Amerika se
belangrikste binnelandse waterweg. Volgens een raming ’n tyd gelede word
360 miljoen metrieke ton vrag jaarliks op die rivier verskeep (sowat
sestig persent van die totale vrag wat op binnelandse waterweë in die
Verenigde State vervoer word). Dit
is ook een van die besigste kommersiële waterweë ter wêreld. Op die
rivier en sy baie sytakke word verskeie goedere goedkoop van die
Amerikaanse binneland af na die see verskeep, om uiteindelik na seehawens
regoor die aarde gebring te word—goedere wat wissel van landbouprodukte
tot steenkool, olie, aluminium, staal en ander nywerheidsprodukte. Groot
vragskuite, waarvan talle in konvooie van sowat 1,5 km lank vaar, word in
die rivier voortgehelp deur kragtige sleepbote wat spesiaal vir hierdie
doel ontwerp is.
Die
vernaamste hawens is onder meer Minneapolis, St. Louis, Memphis, Baton
Rouge en New Orleans. Die
magtige rivier—berug vir sy verwoestende vloede—begin as ’n klein,
helder stroompie wat uit die Itasca-meer in die staat Minnesota vloei. Hy
kronkel eers noord en dan ooswaarts vir omtrent 100 km, met
stroomversnellings en deur ’n reeks mere met bosse aan die oewers,
voordat hy met sy groot tog suidwaarts na die see begin. Die
rivier sak met 20 m by die Waterval van St. Anthony in Minneapolis, en van
hier af is hy oral bevaarbaar. Hy sluit hom verderaan net noord van St.
Louis by die Missouri aan en verbreed tot ’n majestueuse waterweg met hoë
kranse aan weerskante. Die
Mississippi kan nie alleen op sy geweldige volume en krag roem nie.
Trouens, sy vernaamste sytak, die Missouri, lewer ’n reuse-bydrae tot
sy grootheid. Die Missouri (genoem na die Missouri-Indiane wat naby sy
sameloop met die Mississippi gewoon het) vloei 3726 km in ’n min of
meer suidwestelike rigting van sy oorsprong in die Rotsgebergte van
Montana tot waar hy hom by die Mississippi aansluit. Omdat hy deur die Groot Vlaktes van Noord-Amerika loop, voer hy soveel slik mee dat die water duidelik modderig lyk. Pioniers van die streek het die Missouri die bynaam ''Big Muddy'' gegee, en die eerste setlaars het gekla dat sy water ''te dik is om te drink, te dun om te ploeg''. By die sameloop van die Missouri en die Mississippi vloei die slikwater van eersgenoemde byna soos ’n aparte stroom langs die vonkelende blou water van die Mississippi totdat die twee strome uiteindelik meng. Van hier af het die Mississippi ook ’n dofgeel kleur.
BO: Vandag aan die oewers van die Mississippi... Landbouers benut die kosbare water terdeë en alles lyk hier so rustig landelik. Tog is die rivier ook berug vir sy verwoestende vloede. Foto: John Mabery / US Fish and Wildlife Service By
Cairo word die rivier se volume meer as verdubbel by die sameloop met die
Ohio. Hierdie samevloeiing vorm die grens tussen die Bo- en
Benede-Mississippi-streek. Tussen Cairo en New Orleans verder suid kronkel
die rivier deur ’n laagliggende moerasgebied. Hy verander gedurig van
rigting terwyl hy nuwe hoefdraaie vorm en oues verbysteek om geïsoleerde
plate water (meandermere) langs sy oewers te laat. In
sy benedeloop is daar groot slik-afsettings wat steil oewerwalle vorm. Dit
keer in ’n beperkte mate dat die rivier oor sy walle bars tydens vloede. Namate
die Mississippi die Golf van Mexiko, naby die stad New Orleans, nader,
word groot hoeveelhede slik neergelaat om ’n reuse-delta van sowat 33
700 vk. km te vorm. Sowat 363 miljoen metrieke ton slik word jaarliks tot
die delta toegevoeg, sodat dit in ’n tempo van 10 km per eeu in die see
in uitgroei.
BO: Nog ’n ruimtefoto van die Mississippi-monding, in meer natuurlike kleure. Foto:
Earth Observatory / NASA |
||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |