|
Die
verbasende plante wat ‘vleis vreet’ |
||||||
|
Groen spel gevaar as een van die plantewêreld se karnivore ’n porsie stikstofryke proteïen wil bekom. Boonop is daar baie plante wat niksvermoedende diertjies só kan vang en verteer...
BO:
Mislei deur die plant se soet afskeidings, loop ’n vlieg argeloos op
’n blaar van die sogenaamde
vlieëvanger (Engels Venus fly-trap). Teks: Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld op CD-ROM Foto's:
•
Vlieëvanger
met vlieg en enkele blaar:
MSARG •
Vlieëvanger
in die natuur: Jane Villa-Lobos@USDA-NRCS PLANTS Database •
Bekerplante: US Fish & Wildlife Service •
Sonnedou: Willis
Keithley, 1957 / US National Park Service •
Botterkruid: Milo Pyne @ USDA-NRCS PLANTS Database
/ USDA SCS, 1991 •
Blaaskruidblomme:
Gary M Stolz / US Fish & Wildlife Service NOU
toe nou, jy dog nog heeltyd alle plante is sagmoedige skepsels... milde groen
organismes wat slegs lug, sonskyn, water en grond nodig het om hulle
gelukkig te hou? Verkeerd!
Al die plante is nie so nie, want daar’s ook plante met byt. In streke
waar die grond ’n gebrek aan minerale het, en veral in vleigrond waar
minerale moeilik geabsorbeer word, is daar talle plante met die nare—of
miskien moet ’n mens liewer sê vernuftige—vermoë om insekte en
ander baie klein diertjies te vang en te verteer. Hoewel
hierdie plante ook wel kos maak deur fotosintese—die
vorming van chemiese verbindings deur middel van water, sonlig en die
koolstofdioksied in die lug—kry hulle met hul “vleisvretery” ekstra
voedingstowwe in waarsonder hulle kwalik aan die lewe sou kon bly. Roofplante
kan dus oorleef in gebiede waar die meeste ander plante doodeenvoudig
sou vrek. En
praat van slinkse tegnieke om hul prooi te vang. Party, soos die
botterkruid (Eng. butterwort) en blaaskruid (Eng. bladderwort),
wag dat insekte daarin struikel. Ander, soos die sogenaamde vlieëvanger
(Eng. Venus fly-trap of Venus’s fly-trap) en sonnedou (Eng. sundew), verlei
hul potensiële slagoffers met onweerstaanbare geure en kleure. Maar
kom ons bekyk ’n paar van die bekendste roofplante van naderby. Plante
wat somme maak
•
DIE vlieëvanger (“Venus’s fly-trap”) is berug vir die
aardige, vaardige en ratse manier waarop hy sy prooi vang. Hy groei in
die klam, mossige dele van Noord-Amerika, maar is regoor die wêreld ’n
gewilde huisplant.
Die
blare van die vlieëvanger groei soos ’n roset (roosvormig) naby die
grond. Op die foto LINKS
BO is ’n plant in die vrye natuur. Elke blaar
soos
die een REGS
BO is ’n afsonderlike valstrik. Dit is min of meer rond
en word verdeel deur ’n sentrale skarnier, wat die lobbe (dele) kan
laat toeklap soos die twee helftes van ’n oester. Die rande van die
blaar het sagte tande wat die strik, wanneer hy oop is, nogal soos
gapende kake laat lyk. Prooidiere
word na die plant toe aangelok deur soetruikende heuningkliere aan die
blare se buiterand en rooi kleurstof daarbinne. Die binne-oppervlak van
elke lob bevat drie sensitiewe sneller-hare. Die
sneller-hare is die plant se“brein”. En hulle kan jou werklik tel!
Die vlieëvanger se blare kan slegs drie keer toeklap en weer oopgaan,
waarna hulle doodgaan. Die blaar moet dus seker maak dat die voorwerp
wat daarop land, inderdaad ’n prooidier is, en nie ’n
reëndruppel
of stukkie plantegroei nie, voordat hy toegaan. Word
’n sneller-haar slegs een keer aangeraak, gebeur daar niks nie. Sou
dit of ’n ander haar kort daarna ’n tweede keer geroer word—soos sal
gebeur wanneer ’n insek daar rondbeweeg op soek na kos—klap die
lobbe blitsvinnig toe en die tande vorm die tralies van ’n geslote
hok. Die
lobbe druk ferm teen die spartelende insek aan en kliere aan die
binne-oppervlak van die blaar skei verteringsappe af wat oor die
diertjie stroom en sy liggaam afbreek. Wanneer
die vertering klaar is, gaan die blaar oop en die insek se oorblywende
dop word deur die wind weggewaai. Beker
van die dood
•
NOG ’n bekende vleisvreter is die sogenaamde bekerplant (Eng. pitcher
plant). Die blare van hierdie
plant vorm werklik ’n beker, wat ’n dodelike dammetjie
verteringsappe bevat.
Insekte,
aangelok deur onder meer die
soet geur van nektar, gaan die gapende bek van die plant binne. Sodra
hulle binne is, verlei die aroma en die oorvloed van suiker-agtige
nektar hulle om nog verder ondertoe te beweeg. Maar hoe dieper hulle
ingaan, des te glyeriger word die beker se wande. Skielik
verloor die argelose slagoffer sy greep en tuimel in die kuil van
suursappe daaronder, waar hy verdrink. Die sappe breek die dooie liggaam
gou af en die plant absorbeer die nuttige minerale. ’n
Taai tameletjie •
PARTY vleisvretende plante gebruik klewerige afskeidings om hul
prooi te vang. Die sonnedou (ook genoem sondou of sondoutjie), wat
feitlik regoor die wêreld in moerasagtige plekke voorkom, het
rosetagtige blaartrosse soos dié van die vlieëvanger.
Verlok
deur die druppeltjies wat in die son glinster, kruip insekte en
spinnekoppe tot op die blare en raak in die klewerigheid verstrik. Die
vangarms langsaan buig ook oor in die rigting van die worstelende prooi
om hom behoorlik met gom te versmoor. Die vangarms stel ensieme vry wat
die liggaampie afbreek, en die blaar absorbeer die voedingstowwe.
Agter
geslote deure
• DIE blaaskruid, ’n vleisvreter van varswaterdamme en vleie, sou daarop kon roem dat hy die vinnigste plant op aarde is.
Maar
die vangery geskied nie aan die bokant van die blomdraende plant nie.
Stingels of blare, wat onder die water dryf, bevat klein ballon-agtige
sakkies. Elke blasie het ’n klein valdeurtjie met sneller-haartjies. Wanneer
’n waterdiertjie soos ’n watervlooi teen die haartjies skuur, skiet
die valdeurtjie oop en die vlooi word oombliklik in die blaas ingesuig.
Die deurtjie klap dan agter hom toe. Namate
die liggaampie ontbind, word voedingstowwe deur die blaaswand opgeneem.
Het
jy geweet? • Vleisvretende plante wat op droë grond groei, vang nie “graag” bestuiwende insekte soos bye en wespe nie. Hul blomme is op lang stingels ver weg van hul valstrikke. •
Party soorte krapspinnekoppe is immuun teen die verterende sappe
van bekerplante. Hulle skuil binne-in die beker en bespring insekte
wat soontoe aangelok word. Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |