|

|
|
Lewe op
ander planete?
WETENSKAPLIKES
het nou reeds etlike planete buite die sonnestelsel
opgespoor, maar dié is so bitter ver weg in die
onmeetlike hemelruim dat hulle nog nie een kon kry wat met
ons eie planeet ooreenstem nie. Maar sê nou dit
gebeur wel dat ’n “tweede aarde” gevind word? Só
’n planeet sal hopeloos te ver wees om per
ruimteskip te besoek—met die bestaande middele kan
dit hoegenaamd nie binne een menseleeftyd gedoen word
nie. Maar
hoe kan ons dan weet of daar dalk lewe op só 'n “ander
aarde” is of nie? Geleerdes kan na die chemiese
samestelling van die hemelliggaam kyk. Verskillende
elemente straal naamlik verskillende kleure uit en
deur die kleure van die planeet se infrarooi
uitstraling te ontleed, kan gesien word of sulke
atmosferiese gasse soos koolstofdioksied, waterdamp en
osoon (verdigte suurstof) aanwesig is. Voldoende
voorrade van hierdie drie stowwe saam—soos op die
aarde— sou op ’n sterk moontlik van lewe kon dui. En
tog sal dit nog geen bewys van buiteaardse lewe wees
nie. Wat
meer sê, al sou die moontlikheid sterk wees, sal ons
nog nie weet of die lewensvorms blote alge of wesens
met 'n ontwikkelde beskawing is nie. Baie
mense—ook geleerdes—glo in elk geval dat die
gevorderde lewe op aarde uniek is. Hoewel hulle
miskien sal aanvaar dat iets soos mikrobes elders kan
bestaan, dink hulle nie dat daar enige wesens kan wees
wat hoegenaamd met die mens vergelyk kan word nie.
Dit
alles ondanks die feit dat lewensvorms blykbaar
baie veelsydig en gehard kan wees, soos die
groot foto’s
langsaan toon—en dat daar triljoene der triljoene
hemelliggame daarbuite is.
REGS:
Die Orion-
newelvlek, soos gesien deur ver-
skillende filters. Swawel word as rooi gesien,
waterstof as groen en suurstof as blou.
Foto-kopiereg:
Russell Croman / NASA
|
|
Wyd en syd
oor die aardbol is daar ’n magdom lewensvorms en moontlik ’n ewe
ontsaglike menigte wat wag om nog ontdek te word. In die diepste
myne, kokend warm bronwater, in ys en vretende sure... selfs waar
jy dit die minste sou verwag, is daar die vreemdste spesies wat ons
planeet met lewe help vul. Hierdie fotobeeld toon ’n klompie
organismes wat maklik as die drie heel raarste groepe lewensvorms op ons
planeet bestempel kan word...
Foto’s en spektrum-grafiek: NASA /
JPG / PLANET QUEST, the search for another Earth (tensy ander
vermeld)
1) Buiswurms en ander
kreature van die superverhitte donker dieptes van die see

BO: Hulle lyk dalk soos ’n spul
verkoolde stokkies of pypies op ’n rommelhoop—miskien selfs soos
sigarette wat só uitgebrand het dat elkeen se as in een stuk behoue
gebly het. Maar wat jy hier sien, is organismes van ’n
hidrotermiese uitlaat op die seebodem kilometers onder die
seeoppervlak.
Hierdie kreature, wat blykbaar nie
sonlig moet hê om te oorlewe, soos die res van ons aardse
lewensvorms regstreeks of onregstreeks nodig het nie, is in 1977 die
eerste keer by die Galapagos-skeur in die see by Ecuador
gevind.
Wetenskaplikes het in der waarheid
daar hele gemeenskappe van verskeie lewensvorms rondom uitlate van
warm, mineraalryke water aangetref. Hulle kry hul energie uit die
warmbronwater van diep onder uit die maag van die aarde.
Die organismes lewe in ’n diep
en stikdonker wêreld onder die geweldige waterdruk, maar dit is nog
die ergste nie. Boonop oorlewe hulle in die nabyheid van
superverhitte water van ’n ongehoorde 350 grade C. (By
seevlak, waar die druk veel minder is, kook water by 100 grade C.)
Geen wonder dit lyk byna of die
buiswurms hierbo tot as verbrand het nie!