Die Renaissance (1)

 
Nuwe lig
van die Renaissance
 

 Stadsligte van Europa op ’n moderne ruimtefoto

 

Soos die glinsterende stadsligte van Europa op ’n moderne ruimtefoto, só het die Renaissance die hele Europese vasteland in ’n stralende ontwaking laat baai uit die donkerte wat in die Middeleeue geheers het.
 

Die wetenskap, sterrekunde en geneeskunde het ’n ongekende bloeityd belewe. Die boekdrukkuns het wye geesteswêrelde geopen—en groot seereise het ’n nuwe kontinent ontsluit. Die kunste het ontvou soos die bloeisels van ’n seldsame blom. Maar dit was in Italië, geboorteland van die groot Petrarca, Boccaccio en Giotto, dat die Renaissance werklik vlam gevat het.
 

Die beweging het in die 1300’s begin en mettertyd van Italië af na Frankryk, Spanje, Duitsland, Nederland, Brittanje en ander lande oorgespoel. Teen omstreeks 1600 was die Renaissance verby... maar sy skouspelagtige nalatenskap is vandag steeds met ons... ’n onmiskenbare deel van ons Westerse kultuur...

 

Stadsligte van Europa: ruimtefoto deur NASA GSFC Scientific Visualization Studio

  Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

D

IE wieg van die moderne mens... só kan ’n mens die Renaissance noem. Want uit dié kultuurbeweging ontstaan ’n nuwe mens, een wat vir homself wil dink, wat dinge ondersoek en bevraagteken—heeltemal anders as sy verstarde Middeleeuse broer wat in die donker skadu van die magtige Roomse Kerk van destyds ’n eng en vreugdelose bestaan gevoer het.

 

Die Roubetoon van Christus deur Giotto di Bondone
 
BO: Die Roubetoon van Christus (roubeklaers by Sy liggaam nadat Hy van die kruis afgehaal is) deur die Florentynse kunstenaar Giotto di Bondone. Baie mense glo Giotto was die eerste skilder van die Renaissance.
 

Dié nuwe beweging vat in die 1300’s in Italië vlam, waar handelaars en reisigers uit alle dele van Europa bymekaarkom. Van hier af spoel dit in die laat 1400’s oor na Frankryk, Spanje, Duitsland, Nederland, Brittanje en ander lande. Teen omstreeks 1600 brand die Renaissance hom heeltemal uit.

 

Die woord Renaissance kom van die Latynse woord rinascere, wat beteken om weer gebore te word. Die nuwe mens van die Renaissance het diep en dorstig begin drink uit die bronne van kennis—veral die geskrifte van die antieke Grieke en Romeine wat sulke hoë en veredelde beskawings tot stand gebring het.

 

Die ou Griekse en Romeinse kultuur staan ook as die klassieke of die Oudheid bekend. Die Renaissance word soms die herlewing van die klassieke genoem, juis omdat dié met soveel ywer bestudeer en nagevolg is.

 

Politieke agtergrond

 

  •    DIE Renaissance het nie eensklaps ontstaan nie, en ’n mens kan ook nie ’n spesifieke geskiedkundige gebeurtenis as die oorsaak daarvan vaspen nie.

 

In die 1400’s en 1500’s was daar wel groot gebeurtenisse met verreikende gevolge, soos die val van Konstantinopel en die Turke wat Suidoos-Europa oorgeneem het; die ontdekkingsreise en die vestiging van koninkryke in Afrika, Asië en die Nuwe Wêreld; en die Hervorming en die Teenhervorming.

 

Maar teen die tyd dat dié gebeurtenisse hulle afgespeel het, was die Renaissance al goed aan die gang. Hulle was dus nie die aanloop tot die nuwe era nie, hoewel hulle baie gehelp het om die gees van die Renaissance aan te blaas.

 

Die Italië van die 1300’s en 1400’s was nie die verenigde land wat ons vandag ken nie. Dit het uit ’n klomp verskillende state bestaan, elk meestal deur ’n stad geregeer.

 

Met die aanbreek van die Renaissance het talle belangrike Italiaanse stede onder die beheer van ’n enkele familie gekom. Die Visconti-familie het byvoorbeeld Milaan beheer, die Este-familie Ferrara en die Gonzaga-familie Mantua.

 

Lorenzo de' Medici, heerser van Florence en beskermheer van die kunsteDié families was vuur en vlam vir die Renaissance en het die beskermhere van belangrike kunstenaars, intellektuele en politi¬ci geword. Dié geleerdes was gou die mees gesiene en gerespekteerde lede in die gemeenskap.

 

Sommige Italiaanse stede is gesamentlik deur ’n groep ryk families geregeer—dis ’n republikeinse regering genoem. Hulle het argitekte fortuine betaal om vir hulle paleisagtige herehuise te bou en manjifieke katedrale en openbare geboue te ontwerp

 

Die invloedryke families het ook die studie van Griekse en Latynse geskrifte aangemoedig sodat dié kultuur as model vir hul eie gemeenskap kon dien.

 

Onder die beheer van die befaamde familie De’ Medici het Florence die bloeipunt van die nuwe kuns geword. Venesië, geregeer deur ’n republikeinse regering van 180 families, het weer geskitter as juweel van die nuwe boukuns.

 

Die Humanisme

 

  •    DIE Middeleeuse mens het homself nie as agterlik beskou nie. Sy wêreld, só het hy geglo, verskil nie juis van die klassieke Oudheid nie. Die verlede het vir hom bloot uit die tyd vóór Christus en ná Christus bestaan.

 

Die Roomse Kerk het ’n ystergreep oor die denke van die Middeleeuse mens gehad—dit het voorgeskryf wat mense mag glo en dink en doen. Nuwe uitvindsels en denke is met alle mag onderdruk. Alle nuwe dinge is as “aards” en “kettery” veroordeel—alles was ingestel op die Hiernamaals.

 

In teenstelling hiermee het die Renaissance-mens in opstand gekom teen die dwangbuis van die Roomse Kerk. Hy wou vry wees om vir homself te dink en die betekenis en skoonheid van die menslike lewe te ontdek.

 

Vir die Renaissance-mens was die duisendjarige era wat sy tyd voorafgegaan het, werklik donker met weinig vooruitgang. Hy het egter die grootste bewondering gehad vir die glorieryke beskawings van die sogenaamde “heidene” van die Oudheid.

 

Anders as die Middeleeuse mens het hy geglo dat hy ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap het, en hy het hom op die studie van die mens toegelê.

 

Die geleerdes en kunstenaars van die Renaissance het geglo die mens is net so belangrik as die godsdiens. Daarom is hulle Humaniste genoem. Hulle het onderwerpe soos die letterkunde en filosofie bestudeer om hulle te help om die mens in al sy kompleksiteite beter te verstaan.

 

Die Humaniste het hulle met onuitputlike ywer op die studie van die gewoontes, wette en idees van die klassieke Oudheid toegespits. Om die ou geskrifte te verstaan, moes hulle met Grieks en Latyn worstel en die dowwe spoor van die geskiedenis naspoor. Dié spoor is tydens die Middeleeue feitlik uitgewis.

 

Skool van Athene
 
BO: Terug na die klassieke Oudheid... In Raphael se beroemde skildery Skool van Athene word vermaarde Renaissance-genote van hom as geleerdes van die Oudheid voorgestel. Só verskyn die skilder Leonardo da Vinci byvoorbeeld daarin as die ou Griekse wysgeer Plato.

 

Die eerste van die vername Humaniste is die skrywer en digter Petrarca en sy effens jonger tydgenoot Giovanni Boccaccio. Dié twee vriende het tydens hul vele reise talle ou klassieke geskrifte ontdek wat tydens die Middeleeue “verlore” geraak het.

 

Petrarca en BoccacioIn hul eie werke het die twee daarna gestreef om die keurige styl van die ou skrywers na te volg. Petrarca het die nou beroemde opmerking gemaak dat die mens aan sy styl geken word. Slordige taalgebruik, só het hy geglo, is ’n teken van slordige denke.

 

Petrarca geniet tot vandag toe nog groot aansien vir sy gedigte, en Boccaccio het op sy beurt roem verwerf met boeke soos Decamerone, ’n versameling verhale.

 

Die Humaniste wou nie bloot die werke van die Oudheid dupliseer nie, maar die verfynde klassieke denke met die Christendom versoen.

 

Die argitekte van die Renaissance het dus nie tempels soos dié van die ou Grieke en Romeine opgerig nie, maar Christelike kerke volgens die klassieke boustyl.

 

Die geneeshere van die Renaissance het eweneens wel die antieke mediese handboeke bestudeer en bewonder—maar hul boekkennis vergelyk met dit wat hulle op die ontleedtafel ontdek het. Só het groot flaters aan die lig gekom, en hulle het uit hul foute geleer—iets wat die Middeleeuse mens nie gedoen het nie.

 

Geboorte van die Renaissance-kuns

 

  •    DIE geskiedenis van die skone kunste is nou verweef met die maatskaplike, politieke en kulturele ontwikkelinge van die Renaissance. Net soos hul eweknieë op ander terreine het ook die kunstenaars met kwas en beitel probeer om die gees van die klassieke in hul werke vas te vang.

 

Anders as hul Middeleeuse broers wat die mens bloot ter wille van die godsdiens maar taamlik stokkerig en onrealisties uitgebeeld het, het die nuwe geslag kunstenaars die skoonheid van die menslike liggaam en die natuur in lewensgetroue skilderye en beelde beklemtoon.

 

Giotto... dalkDaar word algemeen aanvaar dat die argitektuur en beeldhoukuns van die Renaissance in die vroeë 1400’s in Florence ontstaan het. Dis egter nie so seker wáár en wannéér die Renaissance-skilderkuns ontstaan het nie.

 

Baie mense glo die Florentyn Giotto di Bondone was die eerste skilder van die Renaissance. Hy het talle uitmuntende fresko’s (muurskilderye op nat pleisterwerk) in die vroeë 1300’s in kerke in Florence, Assissi en Padua geskilder. Hy het geglo ’n skildery is ’n venster waardeur ’n mens na die werklike lewe kyk. Al sy figure is so natuurlik dat dit lyk of hulle asemhaal.

  


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor die Renaissance

Klik hier om terug te keer na die groot inhoudsblad van die Mieliestronk-werf