Die Renaissance (2)

BO: Asof dit die kroon span oor die argitektoniese prestasies van die Vroeg-Renaissance troon Filippo Brunelleschi se katedraal-koepel oor Florence in Italië—’n digitale verkleuring van ’n deel van die ou eenkleur-foto hieronder. (Let dus daarop dat die kleure nie noodwendig presies met die ware kleure ooreenstem nie.)

Kuns word koning

 

Toe Europa uit die lang winterslaap van die Middeleeue wakker word, is hy soos ’n jong mens in die lente van sy lewe: vol hoop, avontuur en skeppingsdrif. ’n Mens sien dié nuwe tydsgees veral in die kuns van die Vroeg-Renaissance. En die kunstenaar, eens die nederige vakman in diens van die Kerk, word nou koning...

 

BO: ’n Ou eenkleur-foto van Florence se rooi dakke met Filippo Brunelleschi se imposante katedraal-koepel (waarvan die dak ook baksteenrooi is). Die katedraal word deur die Florentyne die Basilica di Santa Maria del Fiore (Duomo) genoem.

  Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

M

ET ingehoue asem wag Florence, bloeiende handelstad in die hart van Italië, omstreeks 1400 op ’n katastrofe. Die magtige heersers van Milaan, die Visconti’s, is op ’n oorwinningstog van die noorde af op pad. Hul doel: om die hele Italië te beheer.

 

Maar die geskiedenis is vol onverwagte kinkels. Die Milaanse leier Giangaleazzo sterf skielik—en Florence ontsnap ongedeerd.

 

Die burgers van Florence skud dié episode nie sommerso van hulle af nie. ’n Trotse, patriotiese humanisme word onder hulle vaardig. Florence word aangeprys as die “nuwe Athene”, beskermer van vryheid en tuiste van die kunste en lettere.

 

Ter ere van dié nuwe titel begin die Florentyne nou vol geesdrif om hul stad met allerlei monumente te verfraai—met ’n gevolglike styging in die aansien van die beeldende kunste. Waar dit voorheen bloot as handewerk of “meganiese kunste” beskou is, word dit nou verhef tot die status van die “vrye kunste”—die eweknie van intellektuele vakgebiede soos wiskunde, filosofie en taalkunde.

 

Ook die ander kunsgebiede deel in dié verhoogde aansien—en algaande word die kunstenaars van die Vroeg-Renaissance gereken as mense van denke wie se skeppings werklik die resultaat van intellektuele inspanning is. Enigiets wat na die werk van ’n grootmeester lyk, selfs ’n onvoltooide skets, word as versamelaarstuk gereken.

 

Dis in dié tyd, die eerste helfte van die 1400’s, dat ’n merkwaardige groep Florentynse argitekte, beeldhouers en skilders op die toneel verskyn.

 

Soos in die vorige aflewering vertel is, word die Renaissance gekenmerk deur ’n herlewing van die hoë kultuur van ou Griekeland en Romedie sogenaamde klassieke. Die ou Romeinse tradisie sterf in Italië nooit heeltemal uit nie—dit is dus nie verbasend dat dié land soveel groot Renaissance-geeste oplewer nie. Argitekte en beeldhouers kon self gaan kyk hoe die antieke bouvalle en beelde in die ou stad Rome lyk.

 


 

Brunelleschi

 

  •   DIE argitektuur van die Renaissance word ingelei deur die veelsydige Filippo Brunelleschi.

 

REGS: Standbeeld van Brunelleschi wat na die katedraal-koepel in Florence kyk.

 

Foto deur “Richardfabi”, wat dit op hierdie bladsy van die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

 

Hierdie Florentyn is nie alleen ’n briljante argitek nie, maar ook beeldhouer, goudsmid, horlosiemaker, werktuigkundige en militêre ingenieur. Hy het ook wiskundige perspektief ontdek en wetenskaplike toerusting gebou. Brunelleschi wen kort voor 1420 ’n kompetisie om die koepel van die onvoltooide katedraal van Florence te bou’n kortkop voor sy mededinger Ghiberti.

 

Daar is reeds in 1269 aan dié indrukwekkende katedraal begin bou, maar dis nooit voltooi nie. Die koepel is ’n yslike kopseer—die massiewe omvang dreig om die Florentynse Republiek bankrot te maak. Maar Brunelleschi het die antwoord: ’n hoë, liggewig, agthoekige ontwerp wat sonder die gewone stelle der stelle steierwerk opgerig sal kan word.

 

Brunelleschi sit die Gotiese boustyl in sy koepel voort, maar bou die gewelf (die geboë “plafon” onder die koepel) volgens ’n Romeinse tegniek en baan só ’n nuwe weg vir die argitekte van sy tyd.

 

Die werk aan die koepel begin in 1420 en word eers sestien jaar later voltooi.

 

Terwyl Brunelleschi nog besig is met die planne vir die koepel, stel die De’ Medici-familie hom aan om ’n sakristie (’n vertrek waar al die kerktoebehore bewaar word) en ’n begrafniskapel aan die Romaanse kerk van San Lorenzo te bou.

 

Hier laat Brunelleschi die klassieke herleef met boë en pilare, tonnelgewelwe en koepels om ’n koel, geordende atmosfeer te skep.

 

Onder sy ander bekende ontwerpe in Florence tel die Pazzi-kapel en die Kerk van Santo Spinto, waarmee onderskeidelik in 1430 en 1436 begin word.

 


 

  Alberti

 

  •   NÁ Brunelleschi se dood in 1446 word hy deur ’n ander veelsydige genie opgevolg: Leone Battista Alberti, argitek, skilder, filosoof, wiskundige, musikus, toneelskrywer, digter en geleerde.

 

Hoewel Alberti net ’n paar geboue ontwerp, oortref hy Brunelleschi in die gebruik van die klassieke argitektuur, waaroor hy in 1440 ’n invloedryke boek skryf. Sy werk het ’n groot invloed op latere argitekte.

 

In 1450 voltooi hy die hooffasade (vooraansig) van die Kerk van Santa Maria Novella, waarmee reeds in die vorige eeu begin is. Hy skep ’n besonderse gevoel van wiskundige verhouding en harmonie met swart-en-wit marmerversierings in sirkels, vierkante en reghoeke—alles uit die klassieke versierstyl.

 

BO: Die hooffasade van Santa Maria Novella wat deur Alberti voltooi is.

 

FOTO: Georges Jansoone, geneem op 12 Oktober 2005. Georges Jansoone het ’n veel groter weergawe daarvan op hierdie bladsy van die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring, verspreiding en/of modifisering daarvan vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation. ’n Kopie van die lisensie word ingesluit in die afdeling genaamd  "GNU Free Documentation License".

 

Een van sy ander groot skeppings is die fasade van die Kerk van Sant’ Andrea in Mantua, ’n pragtige kombinasie van ’n klassieke tempelgewel met kroonlys en ’n groot triomfboog in die middel.

 


 

 Donatello

 

  •   DIE grootste beeldhouer van die Vroeg-Renaissance is ongetwyfeld die beskeie alleenloper Donatello (1386-1466), geboortenaam: Donato di Niccolò di Betto Bardi. Sy standbeelde lyk soos ware mense—iets wat laas in die Griekse en Romeinse tye gesien is.

 

Onder sy talle meesterstukke tel drie standbeelde van Dawid. In die een word die jong seun Dawid uitgebeeld pas nadat hy die reus Goliat verslaan het—in net ’n paar stewels en hoed.

 

Dié bronsbeeld van Dawid van omstreeks 1430 is die eerste lewensgroot, vrystaande, naakte beeld van ’n mens sedert die antieke tye. In die Middeleeue is dit as heidens en sondig beskou om die menslike liggaam só uit te beeld. Donatello se Dawid was dus ’n groot waagstuk, en selfs sy tydgenote het waarskynlik hul wenkbroue gelig, want dit het jare geduur voordat iets soortgelyks geskep is.

 

’n Interessante werk van Donatello is dié van profeet Habakuk’n beeld met die bynaam Zuccone oftewel Pampoenkop—wat hy vir die kloktoring van Florence se katedraal geskep het (dit is nou in die Museo dell’Opera del Duomo in Florence).

 

In 1443 skep hy sy grootste vrystaande beeldhouwerk, die ruiterbeeld van Gattamelata ter ere van die aanvoerder van die Venesiese leër.

LINKS BO: Donatello se Dawid (detail) van omstreeks 1430, ’n bronsbeeld waarmee hy die konvensies van die Middeleeue kennelik omvergewerp het. Dit is in die Museo Nazionale del Bargello in Florence.

 

REGS, HEEL BO: Donatello se siening van profeet Hábakkuk’n beeld met die bynaam “Zuccone” oftewel “Pampoenkop”.
 

REGS BO: Die ruiterbeeld van Gattamelata deur Donatello staan in die hoofplein van Padua. Erasmo van Narni, beter bekend as "Gattamelata" (’n bynaam wat iets soos "Die Vleiende Kat" beteken), was onder die bekendste huursoldaat-leiers in die Italiaanse Renaissance. Die edelmanne wat oor die Italiaanse stadstate geheers het, het bedroewend klein leërtjies gehad wat hulle kwalik teen toenemende aanvalle deur buitelandse moondhede en afgunstige bure kon beskerm. Gevolglik het hulle soldate gehuur om hul gebiede te help beveilig, onder wie Gattamelata, wat uiteindelik die aanvoerder van die Venesiese leër geword het.
 


 

Masaccio

 

  •   DIE jong skilder Masaccio (1401-1428) kry dikwels die eer dat hy die skepper van die nuwe skilderstyl is. Masaccio (geboortenaam: Tommaso Cassai) begin om mense met natuurlike bewegings en emosieryke uitdrukkings te skilder—én sonder klere. Hoewel ’n paar ander skilders voor hom reeds in die Florentynse Renaissance-styl begin werk, het sy werk ’n groter invloed.

 

Masaccio gebruik meetkundige beginsels om die perspektief (die afstand tussen voorwerpe) in sy skilderwerk noukeurig uit te beeld—dit lyk inderdaad of sy skilderye uit die werklike lewe kom. Hy bestudeer Brunelleschi se tegniek van lineêre perspektief en pas dit toe in sy fresko’s in die Brancacci-kapel van die Kerk van Santa Maria del Carmine in Florence. Dit is omstreeks 1427 geskilder.

 

BO: Een van die fresko’s van Masaccio in die Cappella Brancacci van die Santa Maria del Carmine in Florence.

Dié emosieryke Bybelse tonele is veral treffend vanweë die merkwaardig akkurate verhouding tussen ver en nabygeleë voorwerpe. Sy gebruik van lugperspektief (die uitwerking van lug op voorwerpe—hoe verder, hoe blouer en dowwer) oortref ook alle vorige pogings.

 

Masaccio sterf op ’n jeugdige 27 en laat net ’n handvol van sy meesterlike baanbrekerswerke vir die wêreld agter.

 

Die lys van groot Italiaanse geleerdes en kunstenaars van die eerste helfte van die vyftiende eeu het haas geen einde nie: Botticelli, Mantegna, Bellini, Veneziano, Ghiberti, Della Robbia, Verrocchio, Pollaiuolo... Dit, waarskynlik meer as enigiets anders, maak die Vroeg-Renaissance so ’n merkwaardige tydvak in die geskiedenis.

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor die Renaissance

Klik hier om terug te keer na die groot inhoudsblad van die Mieliestronk-werf