Leonardo da Vinci
• Klik hier vir ’n ander artikel oor Leonardo wat nie ’n deel van die Renaissance-reeks is nie.
LINKS: Leonardo, ’n selfportret in
rooi kryt in die Koniniklike Biblioteek in Turyn, Italië. |
|||||
|
Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
ET goed op na my, o leser, as jy vreugde uit my werk put, want... die deursettingsvermoë om dit voort te sit en om sulke dinge uit te vind... is weinig mense beskore. En kom, o mens, kom kyk watter wonders deur studie in die natuur ontdek kan word.”
Glad nie beskeie nie! Dié aanhaling kom uit een van die baie aantekeninge wat Leonardo da Vinci vir die wêreld nagelaat het. Maar hy het waarskynlik meer rede as ek en jy om sy eie beuel te blaas. Want nie alleen is hy baasskilder nie, maar ook beeldhouer, musikus, digter, argitek, wetenskaplike, ingenieur en uitvinder van naam.
Hy teken en skryf oor plante en diere, rotsformasies, Italiaanse en Latynse grammatika, die menslike liggaam, kanonne, vliegmasjiene, duikbote, beweegbare brûe, strydwaens, oorlogstuie...
Daar is byna niks in sy tyd waarvan hy nie weet nie—en waarin hy nie uitblink nie.
Leonardo word op 15 April 1452 in die Italiaanse dorpie Vinci op die bekoorlike Toskaanse platteland gebore. As buite-egtelike kind van ’n boeremeisie, Caterina, woon hy eers by sy grootouers, maar later by sy pa en stiefma. Sy pa, die regsgeleerde Ser Piero, sien toe dat Leonardo leer lees en skryf en darem iets van grammatika en wiskunde weet.
Hy is ’n besonder mooi kind en word van jongs af geboei deur die natuur. Eenvoudige natuurverskynsels soos ’n blom wat in die lente bloei of ’n voël in vlug is vir hom ’n wonderwerk—en hy maak dit sy lewenstaak om die hoe en die waarom van die natuur na te speur.
Leonardo is so lief vir diere dat hy ’n vegetariër word. As hy ’n voëltjie in ’n hok sien, koop hy dit en laat dit vry.
Omstreeks 1469 neem sy pa hom na Florence, waar hy leerjonge word in die werkwinkel van Andrea del Verrocchio, gerespekteerde vakman, goudsmid, beeldhouer en skilder. Om die liggame van hul figure so lewensgetrou moontlik uit te beeld, bestudeer Verrocchio en Leonardo selfs die spiere van oopgesnyde lyke.
Ná ses jaar kan Leonardo in elke soort medium skilder en is hy in al die geheime van die skilderkuns onderleg. Sy gebruik van kleur en perspektief is so goed dat hy spoedig sy leermeester oortref.
Toe Verrocchio hom toelaat om ’n knielende engel te voltooi in ’n skildery waarmee hy besig was, bereik Leonardo soveel diepte en dinamika dat Verrocchio, só word vertel, nooit weer sy kwas optel nie.
Die Adorasie van die Wyse Manne
• LEONARDO is skaars twintig toe hy tot die vooraanstaande skildersgilde toegelaat word. Nou kan hy self werkopdragte aanvaar.
In 1481 kry hy opdrag om ’n altaarpaneel, die Adorasie van die Wyse Manne, te skilder. Hoewel hy dit nooit voltooi nie, is dit ’n meesterstuk waarin hy al sy kennis van perspektief en anatomie (die bou van die liggaam) toepas.
Daar word vertel dat Leonardo nogal voortvarend en gou verveeld was en daarom so min van sy werke voltooi het. Ander meen weer hy het so min klaargekry omdat hy met niks minder as volmaaktheid tevrede was nie.
Hoe ook al, hy was nooit ’n oomblik ledig nie. Hy wou presies weet hoe alles in die natuur werk, en het oor die jare meer as 4000 bladsye aantekeninge en sketse van sy waarnemings nagelaat.
• IN sy jare by Verrocchio ontwerp Leonardo allerhande soorte krygstuie en forte. In 1481 skryf hy aan Lodovico Sforza, hertog en heerser van Milaan, en bied sy dienste as militêre ingenieur, argitek, beeldhouer, musikus, en laastens as skilder, aan.
Hy begin die volgende jaar, toe hy dertig is, as kunstenaar-ingenieur in Milaan werk. Hy open ’n werkwinkel soortgelyk aan dié van Verrocchio waarin hy aan allerhande opdragte werk.
Hieronder tel Madonna van die Rotse, ’n onvoltooide altaarpaneel waaroor ’n hofsaak ontstaan, en ’n portret van Cecilia Gallerani, Sforza se pragtige houvrou.
In dié tyd vind Leonardo ook ’n magdom voorwerpe uit, onder meer ’n spitdraaier om vleis te rooster, aangedryf deur die warm lugstroom (konveksiestroom) van ’n vuur daaronder, meganiese sae, draaibanke wat met pedale werk en masjiene wat vertikaal en horisontaal kan boor. Hy ontwerp ook gewere en vliegmasjiene.
In ’n boek oor uitvindings wat in 1899 gepubliseer is, word 400 aan Leonardo toegeskryf.
Twee groot opdragte kenmerk Leonardo se jare by Sforza: ’n bronsstandbeeld van die hertog se oorlede pa op ’n perd en ’n fresko van die Laaste Avondmaal.
Hoewel die standbeeld nooit voltooi is nie, sit Leonardo sewentien jaar se werk—darem nie heeltyds nie—in dié projek. Hy doen baie sketse van Sforza se perde, maak ’n yslike kleimodel van ’n perd en ontwerp selfs gietoonde. Maar in 1499, voordat die beeld gegiet kan word, val die Franse die hertogdom van Milaan binne en skiet die kleiperd aan stukke. Sforzo gebruik boonop die brons om kanonne te maak.
Leonardo voltooi darem die Laaste Avondmaal, sy naasberoemdste werk (ná die Mona Lisa). Maar skaars ’n paar jaar later begin die verf afskilfer omdat hy as proefneming ’n olietempera gebruik het wat nie goed heg nie. (Tempera is ’n soort verf wat dof droog word en algemeen gebruik is voor die uitvinding van olieverf.)
Die werk was in ’n verskriklike toestand van verwering en verval toe dit (hier in ons tyd) ’n aantal jare gelede gerestoureer moes word. Maar selfs in sy verweerde toestand het die Laaste Avondmaal groot trefkrag gehad. Vandag is dit weer ’n skitterende versinnebeelding van Leonardo se ideaal as skilder. In een van sy aantekeningboeke skryf hy immers dat dit die hoogste roeping van die skilder is om "die doel van die mens se siel" in gebaar en beweging vas te lê.
Die Laaste Avondmaal beeld die oomblik uit nadat Jesus vertel het dat een van sy dissipels hom gaan verraai. In konsternasie wil hulle weet: "Is dit ek, Here?" Die fresko is ’n fyn sielkundige studie van elke dissipel se persoonlikheid en verhouding met Christus. Dis opmerklik dat Judas se gesig en hande in skadu gehul en van hartseer en skaamte vertrek is.
Mona Lisa
• NÁ die Franse inval keer Leonardo na Florence terug, maar dinge het baie verander. Die De Medici’s is verdryf en die stad weer ’n republiek. Daar is ook ’n hele nuwe geslag kunstenaars, onder wie Michelangelo Buonarroti, sy legendariese mededinger.
Leonardo werk nou as militêre ingenieur en kartograaf (kaarttekenaar) en teken van die mooiste en mees akkurate kaarte van destyds.
Hy skilder omstreeks 1503 sy befaamde Mona Lisa. Hy werk vier jaar daaraan en dra dit oral met hom saam. Die model se misterieuse glimlag, waarmee Leonardo glo lank gesukkel het, het ’n onweerstaanbare bekoring.
Leonardo doen ook in dié tyd sy beroemde penskets van ’n embrio in die baarmoeder. Dit is ’n uitmuntende voorbeeld van ’n moderne wetenskaplike illustrasie.
In 1503 gee die stadsvaders Leonardo opdrag om ’n fresko vir hul raadskamer te skilder waarin hy ’n beroemde gebeurtenis uit die geskiedenis van Florence uitbeeld. Leonardo kies die Slag van Anghiari, waar die Florentynse magte eenmaal die Milane verslaan het.
Ter voorbereiding doen hy talle sketse en ’n volgrootte tekening van ’n groep vegtende soldate te perd wat in ’n tydlose greep van oorlogsug vasgevang is.
Van die fresko het niks oorgebly nie—daar word vertel dat Leonardo dit met vuur probeer droogmaak en só geruïneer het. Die model-tekening van die Slag van Anghiari het ná ’n eeu of wat ook verlore gegaan. Al wat ons vandag van die fresko weet, kom van Leonardo se sketse en kopieë wat ander kunstenaars van sy modeltekening gemaak het.
Ná die vernietiging van sy fresko en herhaalde mislukkings met sy vliegmasjien word Florence ’n stad van teleurstellings vir Leonardo. Toe die koning van Frankryk hom dus in 1506 nooi om na Milaan terug te keer, is dit ’n uitkoms.
In Milaan spits
Leonardo hom al hoe meer toe op sy wetenskaplike belangstellings
en pak hy weer sy studie van die menslike liggaam aan. Ná ’n
paar jaar van vreedsame navorsing word die Franse uit Milaan
verdryf en Leonardo moet ’n ander heenkome soek.
Laaste jare
In die somer van 1516 nooi die nuwe, jong koning van Frankryk hom na sy hof en bied hom ’n elegante huis met die naam Cloux naby die kasteel aan.
Leonardo is toe al ’n siek man. Hy besef sy tyd is min en probeer sy magdom proefnemings en waarnemings in orde kry, maar rig nie veel uit nie. Drie jaar later, op 2 Mei 1519, sterf hy vreedsaam.
Die kerkhof waar hy begrawe lê, is tydens die Franse revolusie verwoes. Die beendere van die dooies is oral rondgestrooi. Dis later bymekaargemaak en saam begrawe—vermoedelik is dit vandag Leonardo se laaste aardse rusplek.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor die Renaissance Klik hier om terug te keer na die groot inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |
|||||