Die
Renaissance
(4)

   

Michelangelo

Die wroeging en die ekstase

Il divino Michelangelogoddelike kunstenaar—só het hulle hom genoem, selfs in sy eie leeftyd. Begenadig met vele talente—beeldhouer, skilder, argitek en digter—maar in sy lang, stormagtige lewe dikwels ongelukkig en eensaam. Hier is die verhaal van “die man met vier siele”, wat saam met Leonardo da Vinci en Raphael die Italiaanse kuns tot ’n ongelooflike hoogtepunt gevoer het...

 

ILLUSTRASIE: Portret van Michelangelo deur Daniele da Volterra.

(Die raam is deur ons aangebring en is nie ’n deel van die portret nie.)



BO: Piëta (1498-1499), die beroemdste van drie—of miskien vier—piëtas wat deur Michelangelo Buonarroti (1475-1564) gebeeldhou is. Met hierdie meesterwerk in marmer, tans in die Sint Pieterskerk in die Vatikaan in Rome, het ’n jeugdige Michelangelo op sowat 24-jarige leeftyd reeds al die groot skilders van sy tyd oortref. Vandag dink baie kunskenners steeds dat dié beeld so ná aan volmaaktheid is as wat ’n beeldhouwerk kan kom.

Dié Piëta is—getrou aan die piëta-tradisie—’n voorstelling van die treurende moeder Maria wat die dooie liggaam van Jesus koester nadat Hy van die kruis afgehaal is. Tog het Michelangelo dit goedgedink om haar nie as die ouer vrou uit te beeld wat sy toe moes gewees het nie dog as ’n jong vrou. Daar is verskillende menings oor hoekom hy haar só voorgestel het.

Een daarvan is dat haar jeugdige voorkoms en blykbaar serene gesigsuitdrukking, tesame met die posisie van haar arms, kan suggereer dat sy besig is om na haar Kindjie te kyk, terwyl die kyker sien wat in die toekoms gebeur.

Die beeld met sy dinamiese, vloeiende lyne, hoogs realistiese uitbeelding van die ledemate en die voue in die kleding wek ’n diep emosionele reaksie by die kyker. Soos iemand dit al gestel is: “Ons kom hier van aangesig tot aangesig te staan nie slegs teen pyn as ’n voorwaarde vir verlossing nie, maar eerder met absolute skoonheid as een van sy gevolge.”

    

Teks gedeeltelik uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

D

IS al die vierde aand dat dit so aangaan. Die geslaan. Die geskree. Die argumente. Die bure raak kriewelrig. Wat op aarde is by die Buonarroti’s aan die gebeur?

 

Maar al wat plaasgevind het, is dat die jong Michelangelo aangekondig het dat hy ’n kunstenaar wil word. Sy pa, Lodovico, wil niks daarvan hoor nie. A nee a, sy slim seun moet ’n geleerde word, ’n kloosterhoof.

 

Lodovico se reaksie is vreemd as ’n mens aan die tyd dink waarin hy geleef het. In die laat 1400’s is Florence immers ’n kunstenaarsparadys. Die regerende De’ Medici-familie en die ryk handelaars laat oral manjifieke geboue en standbeelde oprig om hul stad te versier. Beeldhouers, skilders en argitekte is van die mees gesiene burgers van hul tyd.

 

Maar Michelangelo—eintlik Michelagniolo in Italiaans—is net so koppig as sy pa. Hy weier om verder skool te gaan, en uiteindelik skryf sy pa hom in as leerjonge by ’n kunswerkwinkel.

 


 

   Vroeë lewe

 

  •   MICHELANGELO word op 6 Maart 1475 op Caprese, naby Arezzo, gebore. Sy ma sterf toe hy net sewe jaar oud is en laat vyf seuns agter. Hy gaan skool tot hy dertien is, en begin toe sy loopbaan as kunstenaar in die werkwinkel van Domenico Ghirlandaio, ’n suksesvolle en beroemde paneel- en freskoskilder.

 

Michelangelo is so talentvol dat hy sommer dadelik sy ouer, meer ervare medestudente in die skadu stel. Selfs sy leermeester raak jaloers op hom. As oefening kopieer Michelangelo dikwels die kunswerke van grootmeesters—so goed dat niemand later die verskil kan agterkom nie.

 

Op ’n dag kom ’n vername besoeker by die werkwinkel aan. Hy is Lorenzo de’ Medici, ook bekend as Lorenzo die Manjifieke omdat hy die kunste so gul en rojaal ondersteun. Onder sy talle kunsskatte tel ’n manjifieke versameling antieke Griekse en Romeinse beelde wat hy in sy tuin uitstal.

 

Hy wil ’n skool vir jong beeldhouers in sy tuin begin en kom nou by Ghirlandaio rondkyk vir belowende studente. Hoewel Michelange­lo nog nooit beeldhouwerk gedoen het nie, beveel sy leermeester hom dadelik aan—miskien om van hom ontslae te raak.

 

Michelangelo onderskei hom van die eerste dag af. Hy het nog nooit tevore met klei gewerk of iets uit marmer gekap nie, maar Lorenzo kon dadelik sien dat hier ’n genie aan die ontluik is. Later vra hy die jong kunstenaar se pa of Michelangelo soos een van sy seuns in die paleis kan woon sodat hy, Lorenzo, hom kan help om een van die grootste beeldhouers van alle tye te word.

 

Lodovico is egter glad nie in sy skik met die idee dat sy seun nou ’n “steenkapper” word nie. Hy is self ’n arm steenwerker—vir sy seun wil hy iets beters hê. Maar die prag en praal van die paleis en tuin, Lorenzo se sjarme en die belofte van ’n werk versag sy hart.

 

Só gebeur dit dat Michelangelo die vol­gende drie jaar in die paleis woon, waar hy onder die waaksame oog van die talentvolle beeldhouer Bertoldo werk en leer.

 

As kind was Michelangelo altyd ernstig, maar namate hy ouer word, raak hy al hoe meer buierig en teruggetrokke. Hy is uiters krities oor die werk van andere en dikwels onbeskof uitgesproke.

 

Dit kom hom duur te staan. Eendag, toe hy weer een van sy medestudente, ene Torrigiani, se sketse verkleineer, gee dié hom ’n lelike opstopper op die neus. Van toe af loop Michelangelo rond met ’n neus soos ’n bokser—iets wat hom die res van sy lewe baie sou pla.

 

In 1492 eindig Michelangelo se gelukkige paleisjare met die skielike dood van Lorenzo. Hy is baie hartseer, want Lorenzo was soos sy eie pa. Hoewel hy vry is om in die paleis aan te bly, wil Michelangelo eerder na sy pa terugkeer.

 

Terwyl hy daar woon, kerf hy ’n kruis uit hout vir ’n Florentynse kloosterhospitaal. Die kloosterhoof is so in sy skik daarmee dat hy Michelangelo toelaat om lyke in die hospitaal oop te sny. Dit klink makaber, maar dit was die enigste manier waarop groot kunstenaars kon uitvind hoe die mens werklik aanmekaargesit is. Die menslike anatomie was nog ’n duister veld, want die Roomse Kerk het die ontleding (disseksie) van menslike liggame verbied. Selfs dokters het net ’n vae idee gehad van wat onder die mens se vel aangaan.

 

In 1494 breek ’n opstand uit en die De’ Medici-familie word uit Florence verdryf. Ook Michelangelo vlug en gaan woon in Bologna.

 


 
Piëtas
(Kunswerke van die dooie liggaam van Christus ná Sy kruisiging, in die reël saam met die moeder Maria wat die liggaam koester)

 

  •   WERK is skaars in Bologna, en ’n jaar later keer Michelangelo na Florence terug. Desperaat vir geld, maak hy ’n beeld van ’n slapende Cupido in so ’n klassieke styl dat dit as ’n antieke stuk in Rome verkoop word.

 

Die koper, ’n geestelike met die hoë rang van kardinaal, kom gou agter dat hy geflous is. Maar hy is so geïmponeer dat hy Michelangelo nooi om in sy paleis in Rome te kom woon.

 

Michelangelo ontvang verskeie opdragte terwyl hy hier woon. Een van sy beste werke uit dié tyd is sy lewensgroot Piëta in opdrag van die kardinaal van Sint Denis in Frankryk. Piëta is die naam wat gegee word aan kunswerke van die moeder Maria (of ook ander figure) wat die gekruisigde liggaam van Jesus koester. Die woord kom van die Latynse pietas, waarvan ons piëteit (verering, eerbied), asook die Engelse woord pity afgelei is.

 

Michelangelo se Piëta is gevoelvol en oorweldigend—selfs die are in Jesus se liggaam is te sien (lees ook die byskrif heel vooraan hierdie artikel).

 

Michelangelo het dié tema nog twee of straks drie keer in sy lewe aangedurf.

 

Trouens, sy laaste drie beeldhouwerke was juis piëtas (as aangeneem word dat die sogenaamde Palestrina-Piëta wel ook sy handewerk is). Party daarvan was waarskynlik bedoel om sy graf te versier wanneer hy te sterwe sou kom. Volgens Giorgio Vasari, bekend vir sy beroemde biografieë oor Italiaanse kunstenaars, wou Michelangelo in die Basilica di Santa Maria Maggiore in Rome begrawe word.

 


BO: Die
Florentynse Piëta in Florence.

REGS: Die Rondanini-Piëta in Milaan.

 

Aan sy sogenaamde Florentynse Piëta, wat ook Die Kruisafneming of Die Lamentasie oor die Dooie Christus genoem word, het hy tussen 1547 en 1553 gewerk. Dit was voordat hy dit in 1555 stukkend geslaan het, omdat een been afgebreek en omdat die marmerblok foutief was. Hy het darem toegelaat dat sy dienskneg die stukke vir hom neem. Die dienskneg het die stukke later verkoop en die nuwe eienaar het hulle volgens Michelangelo se modelle laat rekonstrueer. Danksy hierdie rekonstruksie kan ons vandag nog die beeld in die Museo dell’Opera del Duomo in Florence sien.

 

Daar is vier figure in die Florentynse Piëta, naamlik die dooie liggaam van Christus, wat pas van die kruis afgehaal is, Nikodemus (of moontlik Josef van Arimathea), Maria Magdalena en nog ’n onvolledige vrouefiguur. Hiermee wyk Michelangelo af van die reël dat daar ook ’n afbeelding van die moeder Maria moet wees op ’n piëta (wat óf ’n skildery óf ’n beeldhouwerk kan wees).

 

Nog ’n piëta, Michelangelo se laaste, is ook intens ontroerend juis vanweë die eenvoud en onafgerondheid daarvan. Dit staan bekend as die Rondanini-Piëta en word in die Castello Sforzesco, ’n kasteel in Milaan, Italië, gehuisves.

 

Michelagolo het tot in die laaste weke voor sy dood in 1564 aan die Rondanini-Piëta gewerk en dit onvoltooid gelaat. Hierin het hom weer gewend tot die tema van Maria wat  by die dooie liggaam van Christus treur, soos hy soveel jare tevore in sy jongmenstyd gedoen het.

As ’n mens die beeld uit sekere hoeke bekyk, lyk dit egter of Jesus vir Maria met sy rug omhoog hou, pleks dat Maria vir Jesus koester. Daar word vertel dat Michelangelo dit versigtig op hierdie manier geskep het om uit te beeld hoe die Gees van Jesus in der waarheid vir Maria in haar verdriet sou kon vertroos het.

 

’n Verdere piëta, die sogenaamde Palestrina-Piëta in die Galleria dell’Accademia in Florence, is miskien deur Michelangelo geskep, maar dit is eers in 1756 die eerste keer aan hom toegeskryf sonder bewese getuienis. Die swaar, hoekige kontoere van die figure daarin maak dit volgens gerekende kenners egter ’n onwaarskynlike werk van Il divino Michelangelo.

 


 

Dawid

 

  •   TEEN die vroeë 1500’s het Rome Florence as middelpunt van die Italiaanse kunswêreld vervang. Veral die pouse het fortuine aan kunswerke bestee om hul stad en kerke te verfraai. Dit is die tydperk wat as die Hoog-Renaissance bekend staan, toe die verskynsel van die kunstenaar as geniale enkeling sy hoogtepunt bereik het.

 

Anders as tydens die Vroeg-Renaissance, toe kunstenaars ontwikkel het in rigtings wat andere kon navolg, was die individualistiese grootmeesters van die Hoog-Renaissance onnabootsbaar. Dit was dus ’n tydperk van enkelinge soos Leonardo da Vinci, Michelangelo en Raphael (lees in ons volgende aflewering oor hom).

 

Met die De’ Medici’s uit die pad, soek die stadsvaders van Florence vroeg in die vyftiende eeu ’n kunstenaar om ’n groot openbare beeld te skep, ’n patriotiese simbool van die nuwe republiek.

 

Die materiaal wat gebruik moet word, is ’n yslike stuk duur marmer wat ’n vorige beeldhouer vergeefs probeer bewerk het.

 

Ook Leonardo, wat teen dié tyd al baie beroemd is, word gevra, maar hy verklaar dat die blok marmer so bederf is dat hy stukke sou moes aanlas om ’n menslike figuur te skep.

 

Toe onderneem die vurige 26-jarige Michelangelo om iets daaruit te skep. Hoewel die werk in Rome instroom, los hy alles en begin om sy Dawid uit die marmer te "bevry".

 

LINKS: DIE kop van Michelagelo se imposante Dawid (in Florence).

 

Michelangelo het altyd van die standpunt uitgegaan dat die beeld reeds in die ruwe marmer was, en dat hy slegs die oortollige dele moes wegkap om die figuur uit sy kliptronk te "bevry". Maar hy het altyd eers verskeie tekeninge en selfs modelle van was of klei gemaak voordat hy dit gewaag het om die "tronk" te bestorm.

 

Soms kon hy nie die figuur bevry nie, en het dit dan onvoltooid gelos, soos sy Matteus.

 

Twee jaar lank, tot 1504, werk Michelangelo aan sy vier meter lange Dawid—op party plekke is skaars ’n sentimeter oor om weg te kap. Net soos Donatello se Dawid sewentig jaar vroeër is syne naak, maar die lyf baie meer gevoelvol en gespierd. Uiterlik kalm, maar met ’n ingehoue energie, is dit sprekend van Michelangelo se kunstenaarskap.

 

Dawid begin die opdragte instroom, ’n Voortreflike werk uit dié tyd is ’n skildery op hout bekend as Die Heilige Familie. Dit beeld Maria uit as ’n stewige Toskaanse boeremeisie wat die kleuter Jesus oor haar skouer na Josef toe aangee.

 

Die stadsvaders vra Michelangelo in 1504 om ’n fresko op ’n muur in die regeringspaleis te skilder. Op die muur net oorkant werk Leonardo da Vinci, sy aartsmededinger, reeds geruime tyd aan sy fresko.

 

Aangevuur deur die drang om te wys wie is die beste, seël Michelangelo sy werkruimte af en spring met mag en mening aan die werk. Hy kies ’n gevegstoneel uit dieselfde oorlog as Leonardo, die Slag van Cascina. Dit beeld ’n groep soldate uit wat in die Arnorivier baai toe die vyand skielik op hulle afkom.

 

Op die ou end is albei fresko’s meesterstukke—verskillend, maar elkeen briljant op sy eie manier. Jammer genoeg het albei verlore gegaan: Leonardo s’n het blase gemaak en afgeskilfer nadat hy dit met vuur drooggemaak het, en Michelangelo s’n is uitgekap en gesteel.

 


 

Sixtynse Kapel

  

  •   IN 1505 ontbied die temperamentele pous Julius II, ’n ambisieuse man met ’n ysterwil, Michelangelo na Rome. Sy eerste taak is om die weelderigste praalgraf nog vir die pous te skep. Daar word goed na die kunstenaar omgesien—hy word soos ’n koninklike behandel en kry rojale voorskotte.

 

Soos altyd werp Michelangelo hom hart en siel in sy werk. Hy teken honderde ontwerpe voordat hy tevrede is. Dit sou ’n praalgraf soos geen ander wees nie met vyftig marmerbeelde en rye spoggerige marmerboë en -pilare. Agt maande lank werk hy sy aan sy met die werkers in die steengroewe van Carrara om self sy marmer uit te soek.

 

Die pous is so opgewonde dat hy intussen die Sint Pieterskerk laat restoureer om die graf waardig te wees. Hy gee Michelangelo ’n huis langs die pouslike paleis en bou selfs ’n brug tussen hulle sodat hy net wanneer hy wil kan gaan kyk hoe die kunstenaar werk.

 

Die pous en Michelangelo was altwee stormagtige persoonlikhede, en ná die soveelste uitbarsting pak Michelangelo sy goed en keer terug na Florence.

 

Uiteindelik vergewe die pous hom, seën hom selfs, maar voor Michelangelo verder aan die graf kan werk, moet hy eers ’n reuse-beeld van sy pouslike hoogheid maak om in Bologna te pryk. Sy soldate het pas dié staat verower. Van dié beeld het niks oorgebly nie. Toe Bologna teruggewen word, is die beeld afgeruk en verwoes.

 

En toe gebeur iets baie ironies. ’n Talentvolle kunstenaar met die naam Bramante, wat jaloers op Michelangelo was, raai op ’n dag die pous aan om Michelangelo te kry om die plafon van die Sixtynse Kapel te beskilder. (Dit is die kapel in die Vatikaan en oorspronklik gebou vir pous Sixtus IV.)

 

Bramante het goed geweet dat Michelangelo maar min ondervinding van freskoskildering het—moontlik het hy gehoop om ’n groot gek van hom te maak.

 

Maar die pous reken dis ’n uitstekende idee. Weer eens laat hy Michelangelo sy werk aan die graf onderbreek en vra hom om die enorme plafon te beskilder.

 

Michelangelo steek viervoet vas. Nee. Hy is tog allereers ’n beeldhouer en nie ’n skilder nie.

 

Bowendien is die plafon met sy rondings en boë ’n uiters moeilike oppervlak om op te werk. Maar die pous hou voet by stuk en Michelangelo stem onwillig in.

 

Hy voel so senuagtig oor sy gebrek aan ondervinding dat hy sy vriende in Florence vra om hom te kom help skilder. Maar hy is so teleurgesteld in hul werk dat hy alles tot niet maak en van voor af begin, dié keer heeltemal op sy eie.

 

Die volgende vier jaar skilder Michelangelo dag en nag aan die plafon van sowat 500 vierkante meter—hy eet of slaap soms glad nie. Hy werk in uiters moeilike omstandighede op hoë steiers: soms plat op sy rug, soms nek agteroor, maar altyd met sy arms bokant sy kop.

 

Soos gewoonlik werk hy in die grootste geheimhouding. Eers toe hy halfpad klaar is, laat hy die pous en sy hof toe om te kom kyk. Uiteindelik, op Allerheiligedag in 1512, is die plafon klaar.

 

Die resultaat is een van die beroemdste kunswerke ter wêreld, as’t ware ’n kleurryke wêreld in die lug. Meer as 300 figure, almal rond en driedimensioneel soos beelde wat lewe gekry het, wemel daarin.

 

Party is rolspelers in dramatiese tonele uit Genesis soos die skepping, sondeval en sondvloed, ander Ou-Testamentiese profete, sibilles (klassieke profetesse) en naakte jongelinge.

 

’n Duitse skrywer het op ’n keer gesê: "Niemand kan werklik weet wat die mens kan vermag as hy nog nie die Sixtynse Kapel gesien het nie!"

 

 

BO: Michelangelo se monumentale werk teen die plafon van die Sixtynse Kapel.

 

Foto geneem deur Aaron Logan van http://www.lightmatter.net/gallery/italy/4_G, wat dit ook op hierdie bladsy in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en die verspreiding en modifikasie daarvan vergun mits sy eienaarskap te alle te erken word ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie.
 

 

Bramante se slenter het geboemerang. Michelangelo is nou beroemder as ooit tevore. Selfs vandag nog raak mense meegevoer en ontroer as hulle dit sien.

 

Pous Julius II sterf in 1513 en laat ’n groot som geld agter vir die voltooiing van sy praafgraf. Michelangelo wy nou al sy energie aan die middelstuk, ’n groot beeld van Moses wat die kliptafels van die Tien Gebooie vashou. Hy voltooi dit in 1516.

 

Die Moses-beeld het dieselfde gevoel van ingehoue krag as Dawid—’n vaderfiguur met groot wysheid, maar die woede van ’n man wat die kliptafels kon verpletter, skuil net onder die oppervlak.

 

Die beeld lyk so eg dat Michelangelo, toe hy dit voltooi het, glo ’n hamer daarna gegooi en geskree het: "Praat! Praat!"

 

Dit is een van net drie standbeelde wat uiteindelik vir die pous se praalgraf gemaak is. Die graf is nooit heeltemal voltooi soos beplan nie—ondanks al die sweet, probleme en rusies.

 


 

Latere werke

 

  •        IN  the room the women come and go

          Talking of Michelangelo

 

Só het die groot digter T.S. Eliot oor Michelangelo gedig. En vandag is dit nog so. Michelangelo was, en is, ongelooflik beroemd. Sy latere werke het nie min hiertoe bygedra nie.

 

Ná pous Julius II se dood in 1513 vra sy opvolger, pous Leo X, ’n lid van die De’ Medici-familie, Michelangelo om ’n fasade vir die Kerk van San Lorenzo (die kerk van die De’ Medici’s in Florence) te ontwerp.

 

Getrou aan sy aard dring Michelangelo daarop aan om al die beeldhouwerk self te doen. Dit duur naderhand so lank dat hy aangesê word om dit te los en eerder ’n ander projek aan te pak: ’n bykomende sakristie, bekend as die Nuwe Sakristie, vir die kerk met praalgrafte vir vier De’ Medici-broers daarin.

 

Michelangelo werk veertien jaar hieraan. Hy voltooi die argitektuur, maar net die twee jonger broers se graftombes kom klaar. Op een van die grafte is die twee misterieuse figure genaamd Dag en Nag. Dag word voorgestel as ’n man wat dreigend oor sy skouer gluur, en Nag is ’n vrouefiguur wat kop onderstebo sluimer.

 

In dié tyd werk Michelangelo ook aan ’n groot biblioteek langs die kerk, tegelykertyd ’n gedenksaal en openbare bewaarplek van die De’ Medici’s se kosbare versameling boeke en manuskripte. Dié biblioteek is ’n imposante model van Michelangelo se vernuwende argitektuur.

 

Sy gesondheid begin al verswak toe pous Clemens VII hom vra om die muur agter die altaar in die Sixtynse Kapel te versier met ’n fresko wat die laaste oordeel uitbeeld.

 

Die pous sterf egter in 1534 voordat hy kan begin. Michelangelo gaan toe maar voort met pous Julius II se praafgraf, waaraan hy al sedert 1505 met baie onderbrekings werk. Die nuwe pous Paulus III sit egter sy werkery stop en beveel dat die tombe net so opgerig word. Dis ’n verskriklike teleurstelling vir Michelangelo, want dis ’n blote afskynsel van wat hy oorspronklik beplan het.

 

Hy pak toe Die Laaste Oordeel aan, wat hy in 1541 voltooi. Nes sy plafonfresko vroeër is dit ’n meesterstuk. Dit beeld Christus in die middel uit met die goeie siele op pad na die hemel en die veroordeeldes op pad na die hel.

REGS: Detail van Michelangelo se Die Laaste Oordeel in die Sixtynse Kapel. Dit toon Bartholomeüs die apostel met die mes waarmee sy vel afgestroop sou gewees het, asook die afgeslagte vel self. (Volgens ’n sekere legende het Bartholomeüs ’n marteldood gesterf deurdat sy vel só van hom afgeskil was voordat hy met die kop na onder gekruisig is.) Ironies genoeg is die gesig van die vel herkenbaar as dié van Michelangelo—’n soort selfportret dus.

 

Anders as die kalm figure van sy vorige skilderye wat die ideale mens van die Hoog-Renaissance uitbeeld, word dié in Die Laaste Oordeel deur emosie gewroeg.

 

Baie in sy skik met die fresko gee pous Paulus hom opdrag om nog twee fresko’s te skilder, een oor die bekering van Paulus op pad na Damaskus en die ander oor die kruisiging van die apostel Petrus. Dit was sy laaste skilderwerk.

 


 

   Sint Pieterskerk

 

  •   IN 1546 gee pous Paulus Michelangelo opdrag om die herbouing van die Sint Pieterskerk in Rome oor te neem ná die dood van die vorige argitek, sy jaloerse mededinger Bramante. Michelangelo skop ’n bohaai op, maar stem uiteindelik in. Hy ontwerp ’n heeltemal nuwe koepel, kleiner as die oorspronklike, maar manjifiek en gewaagd.

 

Die nuwe Sint Pieterskerk was die grootste bouprojek van die Hoog-Renaissance en is eers in die sewentiende eeu, lank ná Michelangelo se dood, voltooi.

 

LINKS: Die Sint Pieterskerk in die Vatikaan in Rome. Die basilika is die grootste gosdiensgebou ter wêreld en word dikwels deur die pous gebruik.

 

Foto: Wolfgang Stuck, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het. Sy groot foto hiervan verskyn hier op die web.

 

Teen dié tyd bewe Michelangelo se hande al van ouderdom en hy kan skaars ’n reguit lyn trek. Toe wend hy hom tot die digkuns, en in sy laaste jare skryf hy van die mees briljante gedigte ooit in die Italiaanse digkuns. Dit toon watter sagtheid en teerheid onder die nors oppervlak van die ruwe ou kunstenaar geskuil het.

 

Ongelukkig verbrand hy die meeste daarvan, asook baie van sy tekeninge wat hy vooraf van sy beelde en skilderye gemaak het. Hy wou nie hê mense moet weet hoe hy gesukkel het om te vermag wat vandag nog onder die wêreld se grootste kunsskatte tel nie.

 

Hy is nooit getroud nie, maar het in sy later jare ’n mooi vriendskap met Vittoria Colonna gehad. Sy is egter in 1547 dood, en toe is sy lewe nóg eensamer. Lank nadat al sy vriende dood is, sterf hy op 18 Februarie 1564 op 89 jaar—met sy laaste werke so merkwaardig soos sy eerstes.

 

Nadat hy Florence in die middel-1530’s vir goed verlaat het, is sy stoflike oorskot jare later van Rome af na Florence teruggebring om in die Basilica di Santa Croce (Basilika van die Heilige Kruis) begrawe te word. Dit is ook die rusplek van ander beroemde Italiane soos die geleerde Galileo Galilei, die musikus, digter en dramaturg Machiavelli en die komponis Rossini.

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor die Renaissance

Klik hier om terug te keer na die groot inhoudsblad van die Mieliestronk-werf


Klik hier en lees van die wonderlike nuwe CD-ROM met Christelike Renaissance- en ander kunswerke in supergroot formaat wat nou deur Mieliestronk.com voorberei word