|
Aan sy sogenaamde
Florentynse Piëta, wat ook Die Kruisafneming of Die
Lamentasie oor die Dooie Christus genoem word,
het hy tussen 1547 en 1553
gewerk. Dit was voordat hy dit in 1555 stukkend geslaan het,
omdat een been afgebreek en omdat die marmerblok foutief was. Hy
het darem toegelaat dat sy dienskneg die stukke vir hom neem.
Die dienskneg het die stukke later verkoop en die nuwe eienaar
het hulle volgens Michelangelo se modelle laat rekonstrueer.
Danksy hierdie rekonstruksie kan ons vandag nog die beeld in die
Museo dell’Opera del Duomo in Florence sien.
Daar is vier figure in die
Florentynse Piëta,
naamlik die dooie liggaam van Christus, wat pas van die kruis
afgehaal is, Nikodemus (of moontlik Josef van Arimathea), Maria
Magdalena en nog ’n onvolledige vrouefiguur. Hiermee wyk
Michelangelo af van die reël dat daar ook ’n afbeelding van die
moeder Maria moet wees op ’n piëta (wat óf ’n skildery óf ’n
beeldhouwerk kan wees).
Nog ’n piëta,
Michelangelo se laaste, is ook intens ontroerend juis vanweë die eenvoud en
onafgerondheid daarvan. Dit staan bekend as die
Rondanini-Piëta en word in die
Castello Sforzesco, ’n kasteel in Milaan, Italië, gehuisves.
Michelagolo het tot in die
laaste weke voor sy dood in 1564 aan die
Rondanini-Piëta gewerk en dit onvoltooid
gelaat. Hierin het hom weer gewend tot die tema
van Maria wat by die dooie liggaam van
Christus treur, soos hy soveel jare tevore in sy
jongmenstyd gedoen het.
As ’n mens die beeld uit
sekere hoeke bekyk, lyk dit egter of Jesus vir
Maria met sy rug omhoog hou, pleks dat Maria vir
Jesus koester. Daar word vertel dat Michelangelo
dit versigtig op hierdie manier geskep het om
uit te beeld hoe die Gees van Jesus in der
waarheid vir Maria in haar verdriet sou kon
vertroos het.
’n Verdere piëta, die sogenaamde Palestrina-Piëta in
die Galleria dell’Accademia in Florence, is miskien deur
Michelangelo geskep, maar dit is eers in 1756 die eerste keer
aan hom toegeskryf sonder bewese getuienis. Die swaar, hoekige
kontoere van die figure daarin maak dit volgens gerekende
kenners egter ’n onwaarskynlike werk van
Il divino Michelangelo.
Dawid
• TEEN die vroeë 1500’s het Rome Florence as
middelpunt van die Italiaanse kunswêreld vervang. Veral die
pouse het fortuine aan kunswerke bestee om hul stad en kerke te
verfraai. Dit is die tydperk wat as die Hoog-Renaissance bekend
staan, toe die verskynsel van die kunstenaar as geniale enkeling
sy hoogtepunt bereik het.
Anders as
tydens die Vroeg-Renaissance, toe kunstenaars ontwikkel het in
rigtings wat andere kon navolg, was die individualistiese
grootmeesters van die Hoog-Renaissance onnabootsbaar. Dit was
dus ’n tydperk van enkelinge soos Leonardo da Vinci,
Michelangelo en Raphael (lees in ons volgende aflewering oor
hom).
Met die De’
Medici’s uit die pad, soek die stadsvaders van Florence vroeg in
die vyftiende eeu ’n kunstenaar om ’n groot openbare beeld te
skep, ’n patriotiese simbool van die nuwe republiek.
Die materiaal
wat gebruik moet word, is ’n yslike stuk duur marmer wat ’n
vorige beeldhouer vergeefs probeer bewerk het.
Ook Leonardo,
wat teen dié tyd al baie beroemd is, word gevra, maar hy
verklaar dat die blok marmer so bederf is dat hy stukke sou moes
aanlas om ’n menslike figuur te skep.
Toe onderneem
die vurige 26-jarige Michelangelo om iets daaruit te skep.
Hoewel die werk in Rome instroom, los hy alles en begin om sy
Dawid uit die marmer te "bevry".
LINKS:
DIE kop van Michelagelo se imposante Dawid (in Florence).
Michelangelo
het altyd van die standpunt uitgegaan dat die beeld reeds in die
ruwe marmer was, en dat hy slegs die oortollige dele moes wegkap
om die figuur uit sy kliptronk te "bevry". Maar hy het altyd
eers verskeie tekeninge en selfs modelle van was of klei gemaak
voordat hy dit gewaag het om die "tronk" te bestorm.
Soms kon hy nie
die figuur bevry nie, en het dit dan onvoltooid gelos, soos sy
Matteus.
Twee jaar lank, tot 1504, werk Michelangelo aan sy vier meter
lange Dawid—op party plekke is skaars ’n sentimeter oor om weg
te kap. Net soos Donatello se Dawid sewentig jaar vroeër is syne
naak, maar die lyf baie meer gevoelvol en gespierd. Uiterlik
kalm, maar met ’n ingehoue energie, is dit sprekend van
Michelangelo se kunstenaarskap.
Ná Dawid begin
die opdragte instroom, ’n Voortreflike werk uit dié tyd is ’n
skildery op hout bekend as Die Heilige Familie. Dit beeld Maria
uit as ’n stewige Toskaanse boeremeisie wat die kleuter Jesus
oor haar skouer na Josef toe aangee.
Die stadsvaders
vra Michelangelo in 1504 om ’n fresko op ’n muur in die
regeringspaleis te skilder. Op die muur net oorkant werk
Leonardo da Vinci, sy aartsmededinger, reeds geruime tyd aan sy
fresko.
Aangevuur deur
die drang om te wys wie is die beste, seël Michelangelo sy
werkruimte af en spring met mag en mening aan die werk. Hy kies
’n gevegstoneel uit dieselfde oorlog as Leonardo, die Slag van
Cascina. Dit beeld ’n groep soldate uit wat in die Arnorivier
baai toe die vyand skielik op hulle afkom.
Op die ou end
is albei fresko’s meesterstukke—verskillend, maar elkeen
briljant op sy eie manier. Jammer genoeg het albei verlore
gegaan: Leonardo s’n het blase gemaak en afgeskilfer nadat hy
dit met vuur drooggemaak het, en Michelangelo s’n is uitgekap en
gesteel.
Sixtynse Kapel
• IN 1505 ontbied die temperamentele pous Julius
II,
’n ambisieuse man
met ’n ysterwil, Michelangelo na Rome. Sy eerste taak is om die
weelderigste praalgraf nog vir die pous te skep. Daar word goed
na die kunstenaar omgesien—hy word soos ’n koninklike behandel
en kry rojale voorskotte.
Soos altyd werp
Michelangelo hom hart en siel in sy werk. Hy teken honderde
ontwerpe voordat hy tevrede is. Dit sou ’n praalgraf soos geen
ander wees nie met vyftig marmerbeelde en rye spoggerige
marmerboë en -pilare. Agt maande lank werk hy sy aan sy met die
werkers in die steengroewe van Carrara om self sy marmer uit te
soek.
Die pous is so
opgewonde dat hy intussen die Sint Pieterskerk laat restoureer
om die graf waardig te wees. Hy gee Michelangelo ’n huis langs
die pouslike paleis en bou selfs ’n brug tussen hulle sodat hy
net wanneer hy wil kan gaan kyk hoe die kunstenaar werk.
Die pous en
Michelangelo was altwee stormagtige persoonlikhede, en ná die
soveelste uitbarsting pak Michelangelo sy goed en keer terug na
Florence.
Uiteindelik
vergewe die pous hom, seën hom selfs, maar voor Michelangelo
verder aan die graf kan werk, moet hy eers ’n reuse-beeld van sy
pouslike hoogheid maak om in Bologna te pryk. Sy soldate het pas
dié staat verower. Van dié beeld het niks oorgebly nie. Toe
Bologna teruggewen word, is die beeld afgeruk en verwoes.
En toe gebeur
iets baie ironies. ’n Talentvolle kunstenaar met die naam
Bramante, wat jaloers op Michelangelo was,
raai op ’n
dag die pous aan om Michelangelo te kry om die plafon van die
Sixtynse Kapel te beskilder. (Dit is die kapel in die Vatikaan
en oorspronklik gebou vir pous Sixtus
IV.)
Bramante het
goed geweet dat Michelangelo maar min ondervinding van
freskoskildering het—moontlik het hy gehoop om ’n groot gek van
hom te maak.
Maar die pous
reken dis ’n uitstekende idee. Weer eens laat hy Michelangelo sy
werk aan die graf onderbreek en vra hom om die enorme plafon te
beskilder.
Michelangelo
steek viervoet vas. Nee. Hy is tog allereers ’n beeldhouer en
nie ’n skilder nie.
Bowendien is
die plafon met sy rondings en boë ’n uiters moeilike oppervlak
om op te werk. Maar die pous hou voet by stuk en Michelangelo
stem onwillig in.
Hy voel so
senuagtig oor sy gebrek aan ondervinding dat hy sy vriende in
Florence vra om hom te kom help skilder. Maar hy is so
teleurgesteld in hul werk dat hy alles tot niet maak en van voor
af begin, dié keer heeltemal op sy eie.
Die volgende
vier jaar skilder Michelangelo dag en nag aan die plafon van
sowat 500 vierkante meter—hy eet of slaap soms glad nie. Hy werk
in uiters moeilike omstandighede op hoë steiers: soms plat op sy
rug, soms nek agteroor, maar altyd met sy arms bokant sy kop.
Soos gewoonlik
werk hy in die grootste geheimhouding. Eers toe hy halfpad klaar
is, laat hy die pous en sy hof toe om te kom kyk. Uiteindelik,
op Allerheiligedag in 1512, is die plafon klaar.
Die resultaat
is een van die beroemdste kunswerke ter wêreld, as’t ware ’n
kleurryke wêreld in die lug. Meer as 300 figure, almal rond en
driedimensioneel soos beelde wat lewe gekry het, wemel daarin.
Party is
rolspelers in dramatiese tonele uit Genesis soos die skepping,
sondeval en sondvloed, ander Ou-Testamentiese profete, sibilles
(klassieke profetesse) en naakte jongelinge.
’n Duitse
skrywer het op ’n keer gesê: "Niemand kan werklik weet wat die
mens kan vermag as hy nog nie die Sixtynse Kapel gesien het
nie!"
|