|
Ons agtste Wêrelderfenisgebied
REGS BO: ’n Ou man met die tipiese wesenstrekke van die Khoi-Khoi—die ras waartoe die Namas van die Richtersveld behoort.
• Foto links bo geneem deur Peter Hers op ’n reis saam met Jocelyn Hers na Namakwaland en die Richtersveld. Belangstellende webswewers kan meer oor hul besonder interessante reis lees en sien deur op hierdie skakel te klik.
• Foto regs bo word tot openbare besit (“in the public domain”) gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom.
|
|||||
|
NUS
ingebed, soos ’n ongebore baba in die moederliggaam, lê dit in die
laaste groot kromming van die Oranje voordat dié rivier in die see
uitmond. Die Richtersveld Nasionale Park. ’n Bergwoestynpark met die
sonderlingste bekoring.
Maar die Richtersveld Nasionale Park (kyk kaart no. 1 hier langsaan) van 162 445 hektaar is maar net ’n deeltjie van die hele Richtersveld-streek. Die gebied strek naamlik van Port Nolloth en Steinkopf in die suide noordwaarts tot by die Oranjerivier en van Vioolsdrif tot by Alexanderbaai (kyk kaart no. 2).
Ver van die stadsgewoel bevind die besoeker hom in die Richtersveld in ’n tydlose, ongerepte wêreld van sandvlaktes en klipformasies, maar paradoksaal ook van ’n ryke planteverskeidenheid, met die grootste versameling endemiese vetplante op ons planeet. Boonop word daar byvoorbeeld op een vierkante kilometer meer as 360 spesies blomplante (angiosperme of bedeksadige plante) gevind by ’n plek waar die jaarlikse gemiddelde reënval nie eens 70 mm is nie.
Nie verniet dat die Wêrelderfeniskomitee van Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) die “Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap” in Junie 2007 as Suid-Afrika se agtste Wêrelderfenisgebied aangewys het nie. Die “Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap” beslaan ’n gebied van 160 000 hektaar en is net suid van die Richtersveld Nasionale Park geleë. Saam vorm hulle ’n magtige bolwerk vir natuur- en kultuurbewaring.
Die Kulturele en Botaniese Landskap met sy dramatiese bergwoestynwêreld is in Christchurch, Nieu-Seeland, deur die Unesco-komitee aangewys as ’n kulturele landskap wat gemeenskaplik deur die halfnomadiese Namavolk besit en bestuur word.
Wat die temperatuur aanbetref, is die Richtersveld weliswaar ’n plek van uiterstes. In die somer kan die kwik tot 50 grade C en hoër styg, en reën is baie, baie skaars. Plant en dier is dus dikwels aangewese op die vog in die mis wat soggens vroeg oor die landskap vorm en ’n welkome lafenis in die dorsland bied.
Boonop is die Richtersveld so ru en onhergbergsaam dat ’n groot deel daarvan slegs met 4x4-voertuie verken kan word. Die mees woeste dele lyk met die eerste waarneming so bar en verlate dat dit soms met die landskap van Mars vergelyk word.
Totdat die besoeker nader kyk. Die planterykdom om hom is verstommend. Plek-plek beur ’n stoere kokerboom, een van verskeie spesies (Aloe dichotoma), deur die rotsgrond—of ’n halfmens (Pachypodium namaquanum) kleef aan ’n rotswand soos ’n wafferse brandwag van die berge.
Maar dis nie net “halwe mense” wat hulle in die Richtersveld tuis voel nie. Dit is ook die wêreld van regte mense en wel van die bittereinder-Namas. Hierdie Namas, ’n Khoi-Khoi-groep, woon al eeue in dié gebied, so vroeg as omstreeks 500 n.C. reeds. Met hul aankoms het hulle lede van die San (Boesmans) hier aangetref het, wat hulle nóg heelparty eeue tevore al hier gevestig het.
Die Nama en San het blykbaar ’n tyd lank saambestaan, omdat die San as jagter-vergaarders en die Namas as veeboere nie op mekaar se terreine oortree het nie. Maar met die afname van die wild, het die San verder getrek en die Namas het aangebly.
Met die toename in Nama-getalle was regulering egter nodig om die druk op die Richtersveld se brose ekologiese struktuur te verlig. Die gevolg was die proklamering in 1991 van die Richtersveld Nasionale Park, ons land se eerste kontraktuele park waar die tradisionele gebruik van die grond (om vee te laat wei) by die bestuur van die park geïnkoporeer is. Tradisie en ontwikkeling sou dus hand aan hand gaan en daar sou noue samewerking wees deurdat die Namas van die streek die park saam met die owerheid (Suid-Afrikaanse Nasionale Parke) sou bestuur.
Barre landstreek of nie, die park se 650 plantspesies, wat die sappige vetplante insluit, sorg vir genoeg kos vir voëls en soogdiere soos die bobbejaan, Hartman se bergsebra, klipspringer, koedoe, steenbok, luiperd, rooikat en nog meer.
Die Richtersveld se plante is met die fassinerendste eienskappe toegerus om in die dorheid te oorleef. Groei, blom en saad skiet geskied dikwels vinnig nadat dit gereën het om die oorlewing van die spesies te verseker.
Maar die groot bekoring van die Richtersveld lê in sy verre verlatenheid weg van al die holderstebolder van die moderne lewe, waar die stadsmens nog werklik rus kan vind vir sy vermoeide gemoed. Waar die werking van wind en weer deur soveel millenniums ’n unieke wêreld uitgebeitel het. Waar die enigste masjiengedreun dié van die yl verspreide veldmotors is wat oor droë spoelslote en getande klippe worstel om die pad te vind. Dog die groot, groot beloning maak dit alles die moeite werd vir die bestuurders en hul passasiers. Die Richtersveld klim mos in jou hart, sê dié wat weet.
REGS BO: ’n Uitmuntende voorbeeld van die botterblom, Tylecodon paniculatus. REGS: Waar die magtige Oranje deur die dorsland keep....
|
|||||