Romeinse syfers
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
IE skoolkinders in die ryk van die ou Romeine het dit nie altyd so maklik gehad nie. Veral nie as dit by somme gekom het nie. ’n Mens kan maar net probeer om, sê, DCCLXIX met CMXCVII te vermenigvuldig—sonder om dit eers oor te skakel na die getalle wat ons vandag gebruik—om te besef watter onbegonne taak dit moet gewees het.
Skole was, terloops, nie vir alle Romeinse kinders beskore nie—en daar was ook nie groot klasse in spesiale geboue soos dié wat ons ken nie. Die kinders van die armer dele van die bevolking moes eenvoudig maar ongeletterd bly. Kinders van die meer bevoorregte elite wat nie in hul eie huise deur geletterde slawe onderrig is nie, is na die huis van ’n onderwyser gestuur wat ’n aantal leerlinge gehad het.
Wanneer hulle so twaalf, dertien jaar oud was, kon bevoorregte seuns ’n skool bywoon om onder meer Grieks en Latyn te studeer, en op sestien sou party seuns in ’n skool vir retoriek kon gaan leer om openbare spekers te wees.
Maar, as ’n mens onnutsig wil wees, kan ’n mens seker sê dat die omslagtigheid van die Romeinse syferstelsel blykbaar nie juis wafferse boekhouers van formaat sou kon opgelewer het nie! Die Romeinse kinders het boonop ook maar net klippies gehad om hulle met hul tellery te help. Of daar kon kepies in ’n stukkie hout of strepies op die grond gemaak word om verdere berekeninge te doen.
Waar het die Romeine dan aan hul syferstelsel gekom? Presies wanneer hulle dit die eerste keer gebruik het, weet ons vandag nie meer nie, maar dit moet lank voor die Middeleeue gewees het. Hoewel daar verskillende teorieë oor die oorsprong van die Romeinse syfers is, word algemeen aanvaar dat die Romeine die idee van die ou Etruskers gekry het.
Net soos ou Rome het die Etruskiese beskawing ook in die antieke Italië bestaan en wel in ’n streek wat vandag min of meer met Toskane (hoofstad Florence) ooreenstem. Die simbole in die getallestelsel wat die Etruskers gebruik het, het só gelyk:
En die Etruskers? Waar het hulle op hul beurt aan hierdie stelsel gekom? Hulle het weer blykbaar hul sisteem ontwerp deur dié van die antieke Grieke af te kyk.
Die sogenaamde Attiese numerieke waardes is miskien reeds van die sewende eeu v.C. af deur die Grieke gebruik. (Attika is ’n skiereiland in Griekeland.) Die Attiese syfers is ook die Herodiaanse syfers genoem, omdat die geleerde Aelius Herodianus (omstreeks 180-250) hulle die eerste keer in die tweede eeu in ’n manuskrip beskrywe het. Hierdie Attiese stelstel het die volgende simbole gehad:
DIE Romeinse numerieke stelsel is desimaal (werk in tiene), maar is nie direk posisioneel nie en bevat geen nul-simbool nie. En dit is juis die toevoeging van daardie nul by ene, tiene, honderde, ens. wat ons teenswoordige stelsel so eenvoudig en ekonomies maak dat elke kind betreklik ingewikkelde rekenkundige bewerkinge kan maak.
Die Romeine het afsonderlike simbole gebruik vir een, vyf, tien, vyftig, honderd, vyfhonderd en duisend en hul getalle geskryf deur hierdie tekens volgens ’n bepaalde metode saam te groepeer. Die basiese simbole is:
BO: Romeinse simbole
Wanneer ’n Romeinse simbool herhaal word, of gevolg word deur ’n simbool van gelyke of laer waarde, word aangedui dat daar bygetel moet word. Gevolglik staan XVIII vir X + V + I + I + I of 18. Wanneer ’n simbool voorafgegaan word daur ’n simbool van ’n laer waarde, word bedoel dat daar afgetrek moet word. Die numerieke waarde van IX is dus X minus I of 9.
Vroeëre weergawes van die Romeinse numerieke stelsel het ietwat verskil van dié wat vandag steeds gebruik word. Aanvanklik is die syfer 4 byvoorbeeld nie IV geskryf nie, maar IIII, terwyl 9 as VIIII aangedui is.
Die Romeinse ekwivalent vir die jaar 2011 is MMXI (1000 plus 1000 plus 10 plus een). Eenvoudig genoeg, maar as dit nou, sê maar, die jaar 3668 was, sou dit geskrywe moes word as MMMDCLXVIII. Ja-nee, die ou Romeine was vindingryk, dog hulle het seker partymaal maar taamlik gesukkel wanneer dit by tel gekom het!
BO:
Nog twee
horlosies waarop die tyd deur middel van Romeinse
Foto’s: U.S. Treasury
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Doen omrekeninge na Romeinse getalle
Gratis JavaScript verskaf deur The JavaScript Source
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||