|
||
|
In die Suid-Afrika van die nuwe millennium word die rokers op ’n bondel gejaag—en raad om op te hou rook is volop. Maar wat werk en wat nie? Daar’s net een ware vereiste en dis ’n WIL so sterk soos ’n klipsteen. Tog sal die volgende nuttige wenke jou help om deur die drif te kom... |
||
|
Die sleutel tot ware sukses
As
jou LUS tog maar net so groot was nie. Dan het jy sommer dadelik jou
sigarette weggegooi tot in die buitenste duisternis. Hierdie
drang is verskriklik onvoorspelbaar. Hy kan soos ’n groot twak by jou
aanklop wanneer jy dit die minste verwag of jou met vernietigende
verdrag verlei soos ’n Lorelei vanuit die newels. Daar
is verskillende dinge wat die Groot Verlange kan aanwakker. Dit kan
nikotien-ontrekking wees of stres, ’n bekende rooksituasie of ’n
aangename herinnering. Bloot deur van rook te lees—soos jy nou hier
doen—kan jou rooklus soos ’n tsoenami laat opwel en al jou goeie
voornemens te pletter loop om die rookgewoonte uiteindelik te bowe te
kom. Is
daar dan geen raad meer vir jou nie? Skep moed, daar is tog.
Die geheim lê bloot daarin om jou hunkeringe te konfronteer en
hulle op die ou, beproefde maniere op hul herrie te gee...
Konsentreer
op die lus DIE MEESTE bevliegings om te móét rook is van korte duur. Hulle bou op en bereik hul hoogtepunt binne ’n paar minute, net om gewoonlik binne tien tot dertig minute te vervaag. Sodra
die drang opbou, is dit noodsaaklik om te onthou dat jy op jou begeerte
moet konsentreer soos jy dit nóú ervaar en om nie daaraan te dink hoe
erg dit in die nabye toekoms gaan word nie. ’n Mens is in die reël in
staat om jou teenswoordige lus te hanteer en geneig om te oordryf oor
hoe erg dit nog gaan word. En
deur die drang te oordryf, vererger jou stres tot die punt waar jy voel
dat jy buite beheer is. Stel jou dus in op hoe jy op die oomblik voel en
probeer so gou moontlik om jou lus te hanteer en te beheer. Die volgende
strategieë kan jou daarmee help.
Skep
asem EEN
VAN die doeltreffendste planne vir rooklus-beheer is om sagkens en diep
asem te haal—van vyf tot tien keer. Die nut hiervan is dat suurstof
sowel die brein versterk en laat ontspan, wat ’n toestand van
“waaksame
ontspanning” teweegbring, net soos met nikotien. Met die in- en
uitaseming boots jy ook jou rook-aksies na. Asemhaling is ’n beheer-meganisme wat jy oral en te eniger tyd
kan aanwend. Jy moet dit ook nie as ’n plig beskou nie, maar as iets
lekker ontspannends. Vul jou longe van onder af op tot by jou skouers en konsentreer om die lug in die teenoorgestelde volgorde uit te blaas. Jou ribbekas moet werklik uitswel. Ná ’n paar asemteue sal jy klaar anders voel—’n teken dat jou rooklus begin afneem. As jy duiselig voel of klein wit kolletjies voor jou oë sien, is
jy besig om te hiperventileer (te veel suurstof in te neem). Staak dan
die diep asemhaling en haal normaal asem. Dis nie ongewoon dat mense wat ophou rook in die begin tydens
asemhalingsoefeninge slym uithoes nie. Hoewel dit ongemaklik kan wees,
is dit in werklikheid ’n goeie teken dat jou longe besig is om van
jare se teer en gemors ontslae te raak.
H.A.L.T. NOG
’n doeltreffende strategie teen rooklus is ontleen aan ’n plan van
Alkoholiste Anoniem. In
die vroeë jare van die A.A. het lede besef dat daar sekere situasies
kan ontstaan wat gerehabiliteerde drankverslaafdes weer na die bottel
laat gryp. En omdat dit so dikwels kan gebeur, het hulle by hul
byeenkomste selfs plakkate aan die mure aangebring om lede daaraan te
herinner om te “H.A.L.T.” Dit is ’n woord wat gevorm is uit die
beginletters van die Engelse woorde Hungry, Angry, Lonely en Tired. Die
betekenis is duidelik: sorg dat jy nooit te honger, kwaad, eensaam en
moeg word nie—goeie raad ook vir die “gerehabiliteerde
nikotienverslaafde”. Eet
dus gereeld wanneer jy honger is. Die paar kilogram wat jy gaan bykry,
kan jy later afskud wanneer jy nie meer so verbete teen die rooklus hoef
te veg nie. As roker is jou
eetlus soseer deur die nikotien beduiwel dat rook maklik ’n
plaasvervanger vir voedsame kos kon wees. Jy sou byvoorbeeld tevrede
gewees het met ’n sigaret en koffie pleks van ’n goed gebalanseerde
ontbyt. As
jy kwaad is of eensaam voel, bel ’n vriend—of gaan stap, lees iets inspirerends, skryf in jou
dagboek. Jy kan selfs op die Internet probeer klets met talle medestryders
oor die wêreld heen. En
sorg beslis dat jy genoeg rus kry. Navorsers sê ons is te dikwels besig
om ons slaap in te boet ten einde dinge gedaan te kry. Dan probeer ons
onsself met sigarette en kafeïen opkruk om net deur die dag te kan kom. So kan jy met basiese selfversorging baie doen om jou rookdrange te beteuel. Jou gesondheid kan spoedig verbeter. En met oefeninge en diep asemhalings, en deur tyd te maak vir rus en ontspanning—en, ja, die omhelsing van geliefdes—gaan jy jou lewenskwaliteit so ten goede verander dat jy verheug gaan wees om ’n oud-roker genoem te word! Los dus daardie sigarette, mens. Dis sowaar sommer twak. |
||