|
In ’n grot diep onder die aarde, wat in die jare
negentig in die suide van Frankryk ontdek is, word die verlede
lewend... sien ’n mens die denkpatrone van die ou Europeërs intens
verewig op die klip. Maar ook in Suid-Afrika kry ons die interessantste
rotsafbeeldings uit ’n baie kleurryke voortyd en later. Trouens, in ons land is daar na raming
meer as 15.000 plekke wat saam honderdduisende
tekeninge bevat...
|
Rotskuns
Die wonderbeelde uit die voortyd

BO:
Tekeninge in ’n die beroemde
Chauvet-grot in die suide van Frankryk spreek van ’n verstommende
“kunssinnigheid” wat nie van grotbewoners van duisende jare
gelede verwag sou word nie. Maar geleerdes sê dit het eerder
te doen gehad met ’n ontwikkelde geloofsbeskouing as met
kuns. Wie sê die eerste mense van Europa was te baar vir
gesofistikeerde uitinge van die gees!
Foto van rotstekeninge van perde in
Chauvet-grot deur “Pline”,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye
web geplaas het. Kopiëring, verspreiding en/of
modifisering word vergun ingevolge die
GNU Free Documentation license, weergawe 1.2 of enige
latere
weergawes soos gepubliseer deur die
Free Software Foundation;
sonder invariante seksies,
sonder omslagtekste vir die voorkant en sonder omslagtekste vir
die agterkant. ’n Kopie van die lisensie word vervat in die
seksie getiteld
"GNU
Free Documentation license".
•
Kyk ook die artikel
Kuns op
die klippe
in die
Mieliestronk-reeks oor vroeë mense en antieke
beskawings

REGS:
Selfs in verskillende moderne kulture, soos dié van
hierdie sjamaan, is die verbintenis van die aardse mens
en die geesteswêreld ’n onlosmaaklike deel van die
godsdiensbeskouing. Geleerdes reken dat hierdie
beskouing reeds baie lank gelede inherent aanwesig was
toe ons voorouers in Afrika en Europa in grotte gewoon
het. Die tekeninge wat hulle op die rotse gemaak het,
was nie “skilderye” soos dié wat ons vandag teen ons
kamermure hang net omdat dit vir ons “mooi” is nie.
Rotstekeninge, word gemeen, het ’n totaal ander
betekenis gehad.
Dit het naamlik nou saamgehang met
die mense se godsdiens, met hul belewenisse van die sin
van alle dinge, hul manier van aanbidding en hul geloof.
As ’n mens die beeltenis van ’n dier kon “beheer”,
volgens een teorie, kon jy mos die dier self ook beheer
en dit sou van jou ’n suksesvolle jagter kon maak.
Foto: Histories. Bron: U.S.
National Park Service
|
REGS:
Nog rotstekeninge in die
Chauvet-grot, naby
Vallon-Pont-d’Arc en
noordwes van Avignon in Frankryk.
Bron: National Geophysical Data Center /
NOAA
EEN die wande van die diep versteekte grot
kry die verre verlede weer lewe... die Europa van ’n totaal ander
tydperk, volgens geleedes so tussen 20 000 en 30 000 jaar gelede.
Verskillende
wilde diere, ’n bonte menigte, wemel hier byna geanimeerd op die
ruwe klip voor die waarnemer. Dis geskilderde mammoete en oerosse,
steenbokke en leeus, bere, perde, hiënas, rendiere en wollerige
renosters. So verbysterend goed is hulle in die primitiewe verwe bewaar
dat jy beswaarlik kan glo dat hulle reeds tientalle millenniums
gelede geskilder is. Wat meer sê, sekere van die kunswerke vertoon
so ’n merkwaardige sofistikasie dat jy maklik verlei kan word om te
dink hulle lyk darem besonder “modern”.
En wat dit des te verstommender maak—indien
jy ’n Suid-Afrikaner met Europese bloed in jou are is—is dat van die
mense wat destyds die tekeninge gemaak het, dalk-dalk net jou eie
oervoorvaders kon gewees het...
Wie sê nog ons grootjies van die voortyd
was harige, tandeknersende en snorkende ignorante wat nie tot
verhewe gedagtes en edele uitinge van die gees in staat was nie!
REGS:
Verdere rotstekeninge in die Chauvet-grot.
Krediet: U.S.
Department of Energy.
DIT verwonder ’n mens dus glad nie dat die
ontdekking van hierdie rotsafbeeldings in die jare negentig in die
suide van Frankryk steeds as een van die opspraakwekkendste
argeologiese vondste van ons tyd beskou word nie.
Ook ’n panter en ’n uil is daar verbeeld, wat volgens ’n kenner
nooit voorheen in die prehistoriese rotskuns gevind is nie. Alles
deel van ’n paar honderd tekeninge en gravures wat deur ’n span
argeoloë naby Vallon-Pont-d'Arc, noordwes van Avignon, ontdek is.
Die speleoloog Jean-Marie Chauvet het die versteekte grotopening in
Desember 1994 gevind. Hy en sy kollegas,
Christian Hillaire en Eliette Brunel-Deschamps,
is onder meer met ’n touleer onder in die aarde in, waar die
manjifieke toneel hulle op ’n diepte van sowat 500 meter ingewag
het.
Ná die ontdekking is selfs geskat dat dit tot dertig jaar kan duur
om alles in hierdie wonderlike ou kunsmuseum te dokumenteer. Boonop
is gereken dat dit navorsers fantastiese nuwe insigte sal kan gee in
die lewe en denke van die voorouers van die Europeërs.
Die
Chauvet-grot, soos dit nou bekend staan, is spoedig beskou as een
van die mees betekenisvolle terreine van prehistoriese Europese kuns, saam met die ander Franse
grotte Lascaux en Cosquer, asook Altamira, ’n grot in Spanje.

BO: ’n Rotstekening
in die Lascaux-grot.
Krediet: Aangedui as openbare besit vanweë ouderdom (“PD Old”)
Maar wat was dan die rede dat die tekeninge gemaak is? Het die
antieke kunstenaars dieselfde soort skeppingsdrang as vandag se
skilders en beeldhouers ervaar?
Onwaarskynlik, sê geleerdes. Hulle meen dit het eerder baie nou
saamgehang met die mense se godsdiens, met hul belewenisse van die
sin van alle dinge, hul manier van aanbidding en hul geloof.
As ’n mens die beeltenis van ’n dier kon “beheer”, volgens een
teorie, kon jy mos die dier self ook beheer. Dit sou van jou ’n
suksesvolle jagter kon maak. En jag was noodsaaklik om te oorleef.
Boesmans in
Spanje?
ROTSTEKENINGE was eintlik op baie plekke op
aarde ’n waarskynlike uitlewing van mense van verskillende kulture
se geloofsoortuigings. En partykeer toon die verskillende
afbeeldings sulke ooreenkomste dat dit ’n mens verstom.
’n San (Boesman), wat op klip in die Sederberg (Wes-Kaap) verewig is,
en ’n rotstekening in ’n rotsskuiling naby Albocácer, Castellón, in
Spanje, lyk byvoorbeeld so eenders dat jy jou byna kan verbeel dat
hulle deur dieselfde kunstenaar geskilder kon gewees het.
Vergelyk die San-tekening uit die Sederberg [HEEL LINKS] met die
natreksel van ’n rotstekening in Spanje [LINKS].
Op die koop toe is ander tekeninge in Spanje gevind wat merkwaardig
baie soos die motiewe van Amerikaanse Indiane lyk—selfs driehoeke
met fraiings wat Indiaanse tente (wigwams of tepees) sou kon
voorstel.
Was daar dus die een of ander tyd Boesmans in Spanje of het Indiane
in die oerverlede daar besoek afgelê? Dui alles op vroeëre kontakte
waardeur die verskillende kulture mekaar beïnvloed het? Nee tog nie,
sê geleerdes vandag. Die eenvoudige verduideliking is dat
rotskunswerke eenders is omdat mense eenders is.
En in daardie vroeë dae was alle mense op die jag aangewese om te
oorleef.
Rotstekeninge kan nietemin tot interessante gissings lei. Dink maar
aan die beroemde “Witvrou van die Brandberg” (wat eintlik ’n man is)
in Namibië.
REGS: ’n Natreksel van die beroemde
“Witvrou van die Brandberg” in Damaraland, Namibië.
Dit is enigiets tussen 500 en 2000 jaar oud. Nadat hierdie tekening
van ’n skynbaar blanke figuur in die negentiende eeu gevind was, was
daar al heelwat teorieë en raaiery oor die oorsprong daarvan.
Een teorie was dat dit op ’n kontak tussen die San en die ou
Feniciërs sou kon dui. Of dalk tussen die San en die ou Egiptenare.
Kenners dink vandag egter nie meer so nie en beskou dit as heeltemal
inheems.
Hoe ook al, die “Witvrou” is net een van talle interessante
rotstekeninge en gravures wat al hier in ons eie wêrelddeel gevind
is—die meeste daarvan geskep deur die vindingryke San. Vir hulle het
die kuns ’n besondere deel van hul godsdiens en hul hele
lewensbeskouing uitgemaak.
Die kuns van die San
•
Lees ook die uitgebreide Mieliestronk-artikel
oor die San
SOOS die vonds in Frankryk na berekening uit
20 000 tot 30 000 jaar gelede dateer, so is daar beskilderde
rotsblaaie in Namibië waarvan die ouderdom op 27 500 jaar vasgestel
is. Dit is gedoen deur houtskool te ontleed wat op dieselfde vlak op
die vloer van die betrokke rotsskuiling gevind is.
In die Wondergrot naby Kuruman is op dieselfde manier vasgestel dat
’n reeks gegraveerde rotsblaaie van sowat 2000 jaar (die jongste)
tot omtrent 10 500 jaar oud moet wees. Die tradisie van rotskuns in
hierdie deel van Afrika is ver oor die 20 000 jaar oud.
Daar is na raming meer as 15 000 plekke in Suid-Afrika wat saam
honderdduisende afbeeldings bevat.
LINKS:
’n Samevoeging van San-tekeninge van verskillende plekke in ons eie
wêrelddeel.
’n Kenner van die San-kuns vertel dat die San
se godsdiens gegrond was op die geloof dat krag van God verkry kon
word deur in ’n ander bewussynstoestand of beswyming te gaan. Sodra
hierdie krag ontvang sou gewees het, is dit veral gebruik om siekes
te genees, reën te maak en wilde diere te beheer.
Mense wat hul bonatuurlike krag goed kon beheer, sou visioene gesien
en buitengewone dinge beleef het. Van hierdie mense het goeie
kunstenaars geword en hul ervarings geïllustreer om ander te
inspireer en te onderrig.
Rotstekeninge is met verfsoorte geskilder wat van fyngemaalde
kleisoorte en oker gemaak is. Dit is met ysteroksied (roes) rooi en
geel gekleur. Wit verf is van klei gemaak en swart verf van
mangaanoksied of houtskool.
Sagte rotserts is tussen twee klippe fyngemaal en die poeier met
water of bloed of moontlik plantsappe en eierwit gemeng. Dit is met
kwaste van dierehare, vere of gerafelde stokke aangeverf. Sommige
rotstekeninge lyk of dit met die vinger gedoen is.
Dit is uiters belangrik dat ons ons land se rotskuns moet bewaar,
omdat dit ons so ’n boeiende insig gee in ’n verlede wat nooit in
boeke aangeteken kon word nie. Kyk gerus, maar moenie daaraan vat as
jy ooit êrens onder ’n krans op só ’n skat afkom nie.
En onthou dat vernielsug ’n mens hier baie duur te staan kan kom: jy
kan jou ’n yslike boete op die hals haal en dalk boonop in die tronk
beland!
Blombos... die kuns
van die oer-“strandlopers”
|
REGS: Die
Blombos-grot aan die Suid-Kaapse kus waar opgrawings
merkwaardige vondste opgelewer het.

BO: ’n
Gegraveerde stukkie oker van die Blombos-grot. |
 |
Foto regs bo met vergunning van C.S.
Henshilwood, National Geophysical Data Center / via U.S. NOAA.
Foto
links bo: Chris Henshilwood / persvrystelling deur OLPA / U.S.
National Science Foundation
UITGRAWINGS wat sedert
1991 in die sogenaamde Blombos-grot aan die Indiese Oseaan sowat 300
km oos van Kaapstad gedoen is, toon dat rotskuns in Suid-Afrika
selfs veel ouer is as die tekeninge wat net aan die San toegedig kan word.
Daar is naamlik aanduidings dat die
Middel-Steentydse mense wat die grot in ’n kalksteenkrans bewoon
het, minstens sewentig-, tagtigduisend jaar gelede ’n soort moderne
bewussyn gehad, abstrakte denke geopenbaar en in ’n sintaktiese taal
gepraat het.
Hier het Christopher Henshilwood,
adjunk-professor aan die Staatsuniversiteit van New York, saam met
onder andere die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad, onder meer
twee opsienbarende stukkies oker van slegs sowat vyf en agt
sentimeter lank gevind.
Die stukkies oker is met ’n komplekse
meetkundige motief gegraveer, hoewel die betekenis daarvan onbekend
is. Dit kontrasteer met gewone tekeninge van mense en diere, wat
later in so baie ander grotte aangebring sou word. Boonop is skulpe
in die Blombos-grot gevind wat geperforeer is om vermoedelik as
krale ingeryg te gewees het—skulpe wat tienduisende jare ouer is as
enige ander antieke persoonlike ornamente wat voorheen
geïdentifiseer is.
Rotskuns in ander
wêrelddele

BO: In die Nuwe Wêreld
het die Amerikaanse Indiane ook rotse gebruik om hul eie leefwêreld
met tekeninge voor te stel. Hier is ruiters met breërandhoede
en swaarde uitgebeeld—waarskynlik Spanjaarde. Dié sou lede kon
gewees het van
vroeë ekspedisies met wie die inboorlinge in kontak gekom het.
Foto:
Sarah Schlanger
/ New Mexico Bureau of Land
Management / U.S. Nationale Park Service (detail)

BO: In
Australië — ’n deel van ’n rotstekening van omstreeks 6000
v.C. in die Kakadu-wildtuin, Noorder-Territorium.
Navorsers reken die Australiese inboorlinge het geglo
dat rotstekeninge gebruik kon word om dinge te laat
gebeur en menselewens te beïnvloed. Diere is ook dikwels
geteken, vermoedelik om onder meer geslaagde jagtogte
te verseker deur die jagters in verbinding te bring met
die gees van die dier wat gejag is. Verhale rondom die
sogenaamde Skeppingsvoorvaders, wat vorm aan die wêreld sou gegee
het, is eweneens verbeeld.
Foto: National Library of Medicine /
U.S. National Institutes of Health |