|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
REïNKARNASIE: Hoe dit in die Hindoeïsme en Boeddhisme verstaan word en hoekom die Christen-gelowige dit heeltemal verwerp Baie mense dink vandag ligtelik oor reïnkarnasie—die idee dat ’n mens voorheen reeds sou gelewe het en telkens maar weer in ’n nuwe liggaam na die aarde terugkeer. Wat talle nie reg besef nie, is dat hulle ’n Oosterse denkwyse propageer wanneer hulle enigsins die gedagte sou probeer goedpraat of selfs net laat blyk dat hulle miskien daarin kan glo. Maar presies wat behels die begrip reïnkarnasie soos dit in die gelowe van die Hindoes en Boeddhiste vervat is? Hierdie opsomming kan jou help om meer te verstaan waaroor dit eintlik gaan... Hoofbron: GODSDIENSTE VAN DIE WÊRELD, uitgegee deur Struik Christelike Boeke, 1989, uit die Engels vertaal deur Ludwig Olwagen Hindoeïsme
en reïnkarnasie HINDOEïSME
het oor etlike duisende jare in Indië ontstaan en is soos ’n
rivier waarin baie strome gevloei het. Die strome is die gelowe en
praktyke van talle rasse, etniese groepe en kulture op die Indiese
subkontinent. Waar die Christen in terme van die belangrikheid van besluitneming binne een leeftyd dink, en die verlossing in terme van die individu sien (hoewel die groep of die geheel nie verwaarloos word nie), dink die Hindoe aan die vloei van die lewe deur baie bestane. Dit lê agter die idee van samsara wat hierdie vloei van geboorte na dood en dan nahergeboorte, ensovoorts, uitdruk. Die gevolg is dat die beperkte duur van die geskiedenis verleng word na biljoene der biljoene jare. Die
begrip karma hou verband met die begrip samsara. Karma beteken
letterlik 'werk' of 'aksie', maar dui ook op die gevolge van aksies
binne een bestaan wat in ’n volgende bestaan invloei en die aard
daarvan beïnvloed—en so gaan die ketting voort. Die Hindoe se hoop is
daarom op bevryding (moksha) van hierdie ketting of siklus,
gerig. Boeddhisme en reïnkarnasie
DIE
stigter van die Boeddhisme, Siddharta Gautama, het in die sesde
eeu vC in Noord-Indië gewoon. Daar word vertel dat hy grootgemaak is om
’n koning te word en met ’n pragtige prinses getrou het. As ’n
jong prins sou sy pa hom teen al die hartseer van die wêreld buite die
paleise beskerm het, maar op ’n keer het hy uitgeglip en die lyding
daarbuite aanskou. Hy het toe sy gesin en lewe van beskerming en groot
gerief verlaat om die antwoorde vir hierdie lyding te vind. Boeddhisme
benadruk ’n lewe van meditasie en neig na die standpunt dat mense
wesenlik op hul eie in die heelal is en slegs op eie houtjie Nirvana
(’n "hiernamaals" van redding en seën) kan ontvang.
Boeddhistiese
denke sentreer nie om die verering van een persoon, goddelik of menslik
nie. Boeddha is nie ’n god of ’n godgestuurde middelaar nie; hy kan
nie as ’n redder of verlosser vir ander optree nie. Die beginsel van lering (dharma) is baie belangriker as die persoon van Boeddha. Volgens die Boeddhistiese begrip is dit iets tydloos wat nie aan die geskiedenis verbind of aan verandering onderworpe is nie. Volgens
Boeddha is elke deel van die heelal—nie net menslike wesens
nie—onderhewig aan verandering en verval. Alles wat geskep word, moet
vergaan. Wat meer sê, nóg die mense nóg die wêreld is op sigself
voltooide eenhede en geskei van ander eenhede. Hulle is saamgestel uit
baie individuele elemente wat in ’n konstante staat van verandering
is, wat altyd oplos en op nuwe wyses met ander saamsmelt. Hierdie
komponente rangskik hulself nie willekeurig nie. Hulle word deur streng
wette beheer. In die geval van menslike wesens is die belangrike faktor
die wet van karma, wat oorspronklik ’n Hindoe-beginsel was. Karma,
wat min of meer 'aksie' of 'dade' beteken, is die hoedanigheid wat deur
die gedagtes, woorde en dade van ’n individu weerspieël word. Dit
bepaal die aard van die individu se hergeboorte: goeie werke beteken
outomaties ’n goeie hergeboorte en slegte werke ’n slegte een.
So
word elke hergeboorte deur die karma van die vorige lewe bepaal.
Dit is die morele orde van die wêreld waaruit niemand kan ontsnap nie. Dharma—as
wet gesien—beteken nie net hierdie morele wet nie, maar ook die
fisiese wette wat die heelal regeer; dit bepaal ook inderdaad die
individuele dele waaruit dit bestaan. Voorbeelde van hierdie dharma
is die vier elemente van grond, water, vuur en lug; die kleure en
klanke; organiese lewe; die sintuie, emosies, impulse van die wil, die
vermoë om te redeneer, bewussyn, onkunde, roem, skoonheid, rykdom, ware
en valse leerstellings; seksualiteit, slaap, honger, siekte; groei,
veroudering en afsterwing. Dit
is onmoontlik om hierdie dharmas op enige geordende wyse te
klassifiseer. Hoofsaak is dat die fisiese wêreld en alles daarin die
gevolg is van die samewerking van al hierdie afsonderlike komponente.
Ofskoon dit dus lyk of die menslike wese ’n onafhanklike eenheid is,
is dit net ’n illusie. Die mens is eintlik ’n vloeiende stroom van dharmas
wat voortdurend verander en hulle ná die dood herrangskik om ’n nuwe
individu te vorm. Dus erken die leer van Boeddha nie die Hindoe-idee van die self (atman) wat konstant bly deur die siklus van hergeboortes nie. Dit is redelik om te vra of die een wat gesterf het en die een wat op grond van sy karma hergebore word, nie twee verskillende wesens is nie. In ’n sekere sin is dit waar, want daar is geen onsterflike 'siel' om die twee te verbind nie. Maar tog is die nuwe inkarnasie terselfdertyd onskeibaar verbind aan ’n besondere voorafgaande lewe deur die karma wat dit erf, en wat dit nou sal uitdruk. Hoekom die Christen die begrip reïnkarnasie verwerp DIE
OOSTERSE godsdienste is
religieë
van verdienste en selfverlossing.
Volgens die
Christelike leer het geen
mens egter die vermoë
om homself te red
nie. Ons kan ons redding
slegs by God soek.
Dus praat Christene
nie net van God
se regverdigheid nie,
maar bo alles van Sy genade
en barmhartigheid. Ons kan ook slegs goeie lewens lei as ons ’n nuwe lewe deur Jesus Christus geskenk is. Ons kan nooit die ewige lewe deelagtig word deur dit te verdien nie, nie deur die heel beste werke waartoe enige mens ooit in staat sou wees nie.
Die Oosterse godsdienste en die Christendom verskil geheel en al, nie net in die geloof oor die mens en die wêreld nie, maar ook in die siening van God.
By die Christen-gelowige kan daar nooit enige aanvaarding van iets soos reïnkarnasie wees nie. Ons lewe eenmaal en ons sterwe eenmaal om as hernieude skepsels die ewige lewe deelagtig te wees—indien ons, deur Gods se liefdevolle genade, Jesus Christus as ons persoonlike Saligmaker aangeneem het tot ’n wedergeboorte wat niks met die Oosterse sienings van hergeboortes gemeen het nie. Wedergebore Christene verklaar dan ook met ’n absolute sekerheid dat hulle geredde kinders van God is wat tot in alle ewigheid deel sal hê in Sy koninkryk—’n sekerheid wat geen van die ander godsdienste se belyers ooit kan hê waar hulle glo dat die mens deur sy eie handelinge sy eie heil of die teendeel bewerk nie. |