|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
REGENERASIE: Die hergroei van verlore organe
Regenerasie
is die vermoë om organe wat verlore gegaan het of beseer is, te vervang
deur nuwes te laat uitgroei. Die proses kan die beste waargeneem word by
plante wat, as hulle afgesny word, weer blare, stamme en blomme kan kry
mits
die wortels nie te sleg beskadig is nie. Regenerasie
by diere kom meestal voor by dié met ’n eenvoudige bou. As sponse,
holtediere en platwurms aan stukke gesny word, kan elke stukkie in ’n
volledige nuwe enkeling ontwikkel.
Skaaldiere
kan afgeskeurde kloue, pote en voelers vervang. Krappe en krewe kan
byvoorbeeld willekeurig ’n ledemaat afwerp wat in die kake van ’n
roofvyand vasgevang is. ’n Klein vervangende ledemaat maak sy verskyning
en raak groter telkens wanneer die dier vervel. Krewe
het selfs die verbasende vermoë om verlore of beskadigde oë te vervang. Regenerasie
kom veel minder by werweldiere voor. Van dié is akkedisse die bekendste
regenereerders. Baie soorte akkedisse kan die stert afgooi as ’n roofvyand
dit in sy bek het en dan stertloos ontsnap. Partykeer is die ontvanger selfs
doodtevrede om net die stert te kry en laat hy toe dat die skenker spore
maak. Hierdie
ontsnapmetode is so doeltreffend
dat die stert by sekere akkedissoorte patrone het of helderder gekleur as
die res van die liggaam is, juis om die aanvaller se aandag op hierdie
minder kwesbare gedeelte te vestig. Maar
stert weggooi is nie sonder opoffering nie. Akkedisse berg baie van hul
liggaamsvet in hul sterte. As die kos skaars raak nadat hy sy stert verloor
het, kan die reptiel van honger vrek. Akkedisse
het ook hul sterte nodig om hul ewewig te behou wanneer hulle hardloop, klim
en (in die geval van waterakkedisse) swem. Om ’n ruk stertloos te wees kan
dus baie moeilik wees en die akkedisse gooi dit net af wanneer dit absoluut
nodig is. Regenerasie by soogdiere is uiters beperk. Takbokke werp elke jaar hul horings af en nuwes groei in hul plek.
Foto’s van U.S. National Park Service saamgestel en gewysig
Maar
mense en die meeste soogdiere kan slegs lewer- en bloedselle regenereer en
wonde laat genees. Wanneer ons seerkry, ontwikkel ’n nuwe soort weefsel—litteken-weefsel—gewoonlik
oor die wond. (Hare,
naels en vel is ietwat anders deurdat ons hulle voortdurend genereer eerder
as regenereer nadat hulle verlore gegaan het.) Tog lewe ons in opwindende tye en dinge kan straks vorentoe ook op hierdie terrein in die geneeskunde verander. Tot nou toe kon ons mense ’n verlore ledemaat slegs deur ’n kunsledemaat, byvoorbeeld van plastiek, vervang. Tegnieke van genetiese ingryping en die gebruik van stamselle, waaroor ons in ’n ander artikel breedvoeriger vertel, sorg egter vir die verstommendste nuwe moontlikhede van orgaanvervanging. Dit kan dalk selfs uiteindelik moontlik wees om hele menslike “onderdele” met stamselle te kweek.
Krediet: Ricardo Zayas en Phillip Newmark, Universiteit van Illinois, Urbana-Champaign / Vergunnning U.S. National Science Foundation. |
|
Klik
hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser |