’n Laslappie van Mieliestronk

OU ROME:

Supersentrum van die Romeine
  

Bouvalle van die Romeinse Forum

BO: Bouvalle van die Romeinse Forum, waar die groot volksvergaderings plaasgevind en sprekers die skare van rostra af toegespreek het. Dit was ’n gebouekompleks van tempels, seremoniële boë en openbare geboue—die politieke, godsdienstige en kommersiële sentrum van ou Rome.

Drie foto’s saamgeheg deur B.J. Samelsonjones, wat die kopiereg daarop opgehef en dit tot openbare besit (“public domain”) verklaar het

 

IN die huidige stad Rome, die lewendige Italiaanse hoofstad met sy meer as twee en ’n halwe miljoen mense, praat die geskiedenis nie net met ’n mens nie—oral roep die klippe dit tot jou uit. Rome is vandag immers ’n ongeëwenaarde bewaarplek van monumente uit alle tydperke in sy ryke kultuurgeskiedenis.

 

Wat meer sê, baie van ons eie kultuurwortels lê op ’n manier in hierdie stad. Want al het die ou Romeine baie van die ou Grieke oorgeneem, is hul nalatenskap aan die Westerse wêreld vandag steeds oral rondom ons te sien. Uit die Griekse alfabet het byvoorbeeld die Latynse alfabet van die Romeine ontwikkel. En dit is die alfabet wat ons vandag nog gebruik met die einste letters wat nou hier voor jou pryk!

 

’n Voorstelling van die Romeinse god van die landbou, Saturnus

BO: ’n Voorstelling van die Romeinse god van die landbou, Saturnus, na wie nie net die planeet Saturnus genoem is nie, maar ook Saterdag, die sewende dag van die week.

  

Illustrasie: JPL / NASA (detail)

 

Maar hoe het die antieke Rome tot stand gekom? Spore van ’n Ystertydse nedersetting van die middel van die agtste eeu v.C. is al gevind op die Palatynse heuwel (een van die sewe heuwels van Rome) en nog argeologiese getuienis dui daarop dat mense reeds van ten minste 1000 v.C. hier rond gewoon het.

 

Baie mense met ’n meer romantiese ingesteldheid verkies egter die legende oor die geboorte van Rome wat deur die groot Latynse digter Vergilius (70-19 vC) vertel word.

Aenas—só lui die vertelling—kom op die rivier Tiber in Italië aan. Sy seun Ascanius stig die stad Albalonga. Sy nakomelinge die tweelingbroers Romulus en Remus word as suigelinge aan hul eie lot oorgelaat, maar gered en gesoog deur ’n wolvin. Nadat Romulus vir Remus in ’n rusie doodgemaak het, stig hy omstreeks 753 vC die stad Rome. Sewe legendariese konings sou Romulus opgevolg het.

 

Romulus en Remus drink aan die wolvinREGS: Romulus en Remus drink aan die wolvin wat hulle van ’n gewisse dood gered het.

 

Krediet: Openbare besit (“public domain”) vanweë ouderdom

 

Omstreeks 509 vC het Rome ’n republiek geword wat vyf eeue lank bly bestaan het. Die Romeinse Ryk het in 27 vC onder keiser Augustus tot stand gekom en nog gebiede is daarby gevoeg. In die jaar 395 nC is die Romeinse Ryk in twee dele (Wes en Oos) verdeel. Die Wes-Romeinse Ryk het in 476 nC tot ’n val gekom, terwyl die Oos-Romeinse (Bisantynse) Ryk tot 1453 geduur het.

 

Die gekultiveerheid van die Romeine was om die minste sê verstommend. In ’n Romeinse huis kon daar ’n vestibule (voorportaal) wees, met ’n atrium (voorhof) met weerkaatsende bad, ’n werkplek, mure met fresko's (muurskilderinge), ’n oorhangende teëldak en klein, smal vensters.

 

’n Romeinse denarius, ’n gestandaardiseerde silwermuntstukLINKS: ’n Romeinse denarius, ’n gestandaardiseerde silwermuntstuk.

 

Krediet: Openbare besit (“public domain”) vanweë ouderdom

 

Romeinse militêre verowerings beklee belangrike plekke in die geskiedenis. Die Romeine het Suid-Italië met die hulp van Syrrhus, die koning van Epirus, verower (272 vC, die Beleg van Taranto). Hulle het in die derde en tweede eeu vC in die Puniese Oorloë teen Carthago geveg. Rome het sy beheer oor die Po-vallei in 200 vC vergroot en Macedonië en Griekeland as provinsies geannekseer (die Beleg van Korinte). Hy het Carthago in 146 vC verwoes en met sy verowering van die Afrika-kuste begin. Julius Caesar (101-44 vC) was ’n groot Romeinse krygsman en staatsman. Tydens die Galliese kampanje het hy Brittanje binnegeval en as ’n held na Rome teruggekeer.

   

Romeinse ruïnes in Jordanië

Behoue geblewe akwaduk

Rome het in sy bloeityd sy vleuels wyd gesprei, soos hierdie Romeinse ruïnes in Jordanië (LINKS BO) getuig, asook die behoue geblewe akwaduk (REGS BO) van vermoedelik êrens in Noord-Afrika. Akwadukte was kunsmatige leikanale vir water bo-op brugstellasies.

Foto links bo: U.S. Geological Survey; foto regs bo: U.S. Library of Congress

 

Soldate in die Romeinse leër het hulself met skilde beskerm wanneer hulle mure aangeval het, en die stormram is gebruik om deur mure te breek. ’n Reuse-katapult is deur twee spanne soldate beheer—dit het groot, ronde klippe geslinger.

 

Opvoeding is eweneens hoog geag deur die ou Romeine. Kinders tussen sewe en vyftien jaar het teen dagbreek wakker geword om skool toe te gaan. Hulle het wastafeltjies en ’n stilus (stif) gebruik om mee te skryf.

 

Die openbare baddens was belangrike bymekaarkomplekke vir die manne. Hulle het daar oor die politiek gesels en praatjies gemaak.

 

Maar om terug te keer tot die Romeine se nalatenskap: Hulle het belangrike nutswerke agtergelaat soos die veertien akwadukte (leikanale) wat water aan die stad Rome verskaf het. Die eerste rioolstelsel, wat 2500 jaar gelede geïnstalleer is, werk steeds. Sekere paaie wat die hele Romeinse Ryk aaneengeskakel het, word vandag nog gebruik. Des te belangriker is die feit dat die moderne wêreld die grondslag van sy wette, sy begrip van orde en sy opvattinge van die reg te danke het aan die Romeine wie se wette te boek gestel is.

 

Alle paaie lei na Rome, lui die ou spreekwoord. Ons kan dit byna omdraai en sê dat alle paaie uit Rome na die res van die wêreld lei.

 

Interieur van ’n antieke Romeinse huis

BO: Die interieur van ’n antieke Romeinse huis—tydperk
van 20 v.C. tot 20 n.C.

Illustrasie word as openbare besit gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad