|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
Geslepe
kalant van Klapperdopland Die krap wat boom klim!
Foto: Dr. James P. McVey, NOAA Sea Grant Program / NOAA
VIR
’n dier wat sy lewe in die see begin het, is hy darem ’n behendige
boomklimmer. Maar die rowerkrap sal mos nie die tipiese kreeftegang gaan as
hy dit kan verhelp nie! Twee
en ’n halwe eeu lank is stories in Europa vertel van hoe sekere krappe van
die eilande in die Indiese Oseaan en Stille Suidsee palmbome klim en
klapperdoppe uitmekaarskeur om by die kokosneute se vlesige binneste uit te
kom. Na aanleiding hiervan het die groot Sweedse natuurkundige Carolus
Linnaeus (1707-'78), wat die stelsel ingevoer het om twee Latynse name aan
diere en plante te gee, dié krap selfs Birgo latro genoem. Die latro
beteken “rower”. Die
waarheid is egter dat rowerkrappe inderdaad bome klim, maar nie om
kokosneute te verrinneweer nie. Hoe lief hulle ook al vir die vrugte van die
klapperpalm is—en ondanks hul yslike kloue—is dié skaaldiere eenvoudig
nie sterk genoeg om die klapperdoppe oop te breek nie. Hulle klim bloot in
die bome in om aan roofvyande te ontsnap of om skaduwee te vind.
Foto deur L-Bit, wat dit kopieregvry (in die openbare domein) verklaar het in die Engelstalige weergawe van die vrye Wikipedia-ensiklopedie
Tog kon die naam “rowerkrap” nie meer gepas gewees het nie. Hulle is naamlik berug vir hul “lang vingers” en daar is al gesien hoe hulle kookgerei en messegoed van kampeerplekke af wegsleep. Moeilik om te glo, maar een het na bewering selfs koers gekies met ’n potjie, ’n ander een met ’n bottel whisky. Het die laasgenoemde skarminkel toe agterna twee rye spore geloop, kan ’n mens wonder... want loop ’n krap nie maar in elk geval só nie? |
|
Klik
hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser |