MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: ZANIE VAN DER VYVER
SKOOLGRAAD: 5
E-POS: nvandervyver@saexpress.co.za  
DATUM: 11/10/2004 

PROJEKTITEL:
BEROEP IN BEHUISING: BOUREKENKUNDE

Wat is ’n bourekenaar en wat doen hy?

BAIE min loopbane is so bevredigend – en lonend – as dié in bourekenkunde.

Dit bied uitstekende werksomstandighede – met kollegas in die kantoor of in medewerking met die konstruksiespan – dit is die argitek, ingenieur en bouaannemer – op die buitelugterrein.

Bourekenaars is die finansiële spesialiste van die boubedryf – die deskundiges op die gebied van kostebeplanning en -beheer, kontraktuele reëlings, tenders, onderhandelingsprosedures en die opstel van begrotings.

Dit is die ideale beroep vir mans en vroue met ’n aanvoeling vir syfers. Graadkursusse word deur ses Suid-Afrikaanse universiteite aangebied. 

Wat is nodig vir ’n loopbaan as bourekenaar?

Rekenkundige vermoëns is die belangrikste omdat jy regdeur jou loopbaan met syfers sal werk. Talente vir abstrakte redenasie, selfuitdrukking en deursettingsvermoë sal jou help om jou naam in bourekenkunde te vestig. Persoonlike integriteit en ’n verantwoordelikheidsbesef is belangrike eienskappe. 

Vakke wat ek op skool moet neem om toegelaat te word om vir hierdie beroep te studeer:

•  Rekeningkunde
•  Wiskunde
•  ’n Wetenskapvak
Dan moet ’n mens natuurlik ook matriekvrystelling hę.

Om ná skool verder te gaan het ’n mens die graad B.Sc. (Bourekenkunde) nodig ten einde as bourekenaar sake te doen. Dit kan in ’n vier- of vyfjaarkursus gedoen word en die laaste helfte van die opleiding is gewoonlik prakties. 

Vooruitsigte in hierdie beroep:

Werksgeleenthede hang af van die ekonomie. Oor die algemeen word bourekenaars aangestel by staatsinstansies, munisipaliteite, beleggingsondernemings, banke, handel- & nywerheidsmaatskappye, die boubedryf, universiteite en navorsingsinstellings. Hulle kry ook werk in private bourekenaarpraktyke. Die leierseienskappe wat hulle deur die loop van hulle werk ontwikkel, rus hulle toe om op gebiede soos opleiding uit te blink.

BRONNE:

•  Die A – Z van loopbane in Suid-Afrika.
•  Vereniging van Suid-Afrikaanse Bourekenaars.

Terug na Ruilprojekte-blad