MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: DANIE VAN DER VYVER
SKOOLGRAAD: 7
E-POS: nvandervyver@saexpress.co.za  
DATUM: 11/10/2004 

PROJEKTITEL:
BEROEP: ENTREPRENEUR: FOTOGRAFIE

WAT is ’n entrepreneur? Dit is iemand wat vir homself werk. Hy het sy eie besigheid en is selfonderhoudend. Sy inkomste hang af van sy eie vermoëns en werk. Dit is iemand met ondernemingsgees en skeppingvermoë, wat weet wat hy wil hê en waarheen hy op pad is. 

As ek moet kies uit verskeie rigtings waarin jy as entrepreneur kan werk, sal dit wees om iets skeppends te doen wat vir my, maar ook vir ander mense mooi is. Daarom kies ek fotografie.

As jy besluit om ’n fotograaf te word, moet jy besef dat dit nie jou gewone loopbaan is, waar dit moontlik is om ’n presiese weg te bepaal nie. Daar is baie aspekte van fotografie en fotograwe werk op uiteenlopende terreine. Daar is net so baie maniere “om fotografie te betree” as wat daar fotograwe is. 

Dit is verrassend om te verneem dat fotografie 60% organisasie, 20% toegepaste tegniek, en 20% visuele vermoëns beslaan. Die mark vir fotograwe se vaardighede is so wyd dat die behoefte nie regtig is aan ’n fotograaf in besonder nie, maar aan fotograwe wat op verskillende gebiede spesialiseer. 

Soos op baie artistieke gebiede word die baie goeie met ’n haarbreedte van die gemiddelde onderskei, want elkeen met gesonde verstand kan die beskikbare gereedskap en tegnieke gebruik. Die moderne fotograaf moet ’n mengsel van handelaar-avonturier, impressario, tegnikus, boekhouer, diplomaat, publisiteitsman, handlanger, chemikus, kunstenaar en vader- of moederfiguur wees.

Daar is maar min beroepe wat dieselfde kombinasie van skeppende en tegniese vaardighede, onafhanklikheid en betrokkenheid in die samelewing bied. Nogtans is professionele fotografie soms baie vervelig en beperk. Die vergoeding is ook soms pateties. Uiteindelik hang dit af van fotograaf se vernuf om sy eie plekkie op die fotografiese terrein te vind.

Omdat mense van verskillende goed hou en die mark heeltyd verander, is daar min kans dat ’n fotograaf hom regdeur sy hele loopbaan tot een spesifieke kategorie in beroepsfotografie kan beperk. Dit sou gevaarlik wees om dit te doen.

Daar is ’n hele paar rigtings in fotografie waarin ’n fotograaf kan spesialiseer bv. reklamefotografie, modefotografie, persfotografie, skakelfotografie, fotojoernalistiek, kommersiële en industriële fotografie, portret-, huweliks- en skoolfotografie en mediese en wetenskaplike fotografie. As ek kon kies, sou ek in fotojoernalistiek spesialiseer. Die werk van fotojoernaliste wissel van glansartikels oor mense, plekke en gebeure tot ateljeefoto’s van kos of produkte. Sommige spesialiseer in verwante markte, deur fotografiese boeke, kalenders, poskaarte en plakkate oor onderwerpe soos wild, reis en tuinmaak, ens. uit te gee.

Soos die gesegde lui, is die fotograaf net so goed soos sy laaste foto. Dit is ook waar dat die top-beroepsfotograwe weens hul betroubaarheid en hul skeppingvermoe baie geld verdien. As ’n beroepsman moet jy verseker dat alle skakels in die tegniese ketting foutloos werk en jy moet ’n goeie onganiseerder wees en in staat om onder heelwat druk te werk.

Ander belangrike bates vir enigiemand wat ’n loopbaan op hierdie veeleisende gebied oorweeg, is die vermoë om jou kreatiwiteit binne die perke van ’n kommersiële situasie toe te pas, koste-bewustheid, die vermoë om goed met mense klaar te kom, die bereidwilligheid om jouself te bemark in wat ’n baie mededingende mark is en ’n deeglike professionele benadering tot elke taak, sowel as deeglike kennis van die noodsaaklike middele vir jou beroep.

TOELATINGSVEREISTES:

Al het jy besluit om vir jouself te werk, en al is natuurlike talent en sakevernuf belangrik om ’n fotograaf suksesvol te maak, moet jy opleiding hê om op terug te val. Toelatings tot ’n beroep as fotograaf as jy dit wil laat goed lyk op jou CV, is ’n voltydse technikon-kursus. Die kwalifikasies self is nie so belangrik soos die opleiding nie. Die vakke wat op skool geneem moet word is nie so belangrik nie, solank jy ’n skeppende talent het en ’n passie vir fotografie. As die skool kuns aanbied, kan jy dit as een van jou vakke neem. Omdat dit jy vir jouself werk, is dit ook belangrik om goeie sakevernuf te hê. Daarom kan jy Ekonomie ook neem as een van jou vakke en ook Rekenaarwetenskap, omdat ons lewe so vinnig in die rigting van rekenaars beweeg. As jy vir ’n diplomakursus aanvaar wil word, moet jy ook Wiskunde en Wetenskap as vakke neem. 

OPLEIDING:

Die Nasionale Diploma in Fotografie is ’n voltydse driejaarkursus. ’n Ander kursus wat nuttig vir die voornemende fotograaf kan wees, is grafiese ontwerp en die skone kunste. Dan kan jy ook vir ondervinding eers as ’n assistant vir ’n beroepsfotograaf gaan werk, voor jy jou eie potjie probeer krap. 

VOORUITSIGTE:

Nadat fotograwe ’n tydjie as assistente deurgebring het, stig baie hul eie ondernemings, veral as daar ’n sterk vraag na hul spesifieke talente en vermoëns is. Om so ’n onderneming te begin is baie duur en ook baie mededingend – soos bewys word deur baie wat nie die mas opkom nie. Maar, daar is ook ’n groot finansiële vergoeding vir die fotograaf wat wel slaag. Dit is ’n veld wat ’n volle en bevredigende bestaan bied aan hardwerkende, artistieke mense wat diep bevrediging in die skep van beelde kry.

BRONNE:

•  Die A–Z van beroepe in Suid-Afrika.
•  Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fotograwe (SAIF).

Terug na Ruilprojekte-blad