|
MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE BYDRAE DEUR: JACO CALITZ E-POS: jacocalitz@absamail.co.za DATUM: 13/11/2004 PROJEKTITEL: GESKIEDENIS VAN KEMPTON PARK Voorgeskiedenis Voor
die Groot Trek van die 1930’s was die terrein waar Kempton Park vandag
geleë is, slegs aan jagters en nomadiese beesboere bekend. Met die koms
van die Voortrekkers vind ’n mens die eerste tekens van grondbesetting
en van gebiedsbestuur. Die
"Natalse Gouvernement of Zuid-Afrikaansche Maatskappy" het
’n versoek ontvang van setlaars "oversijde
van de Drakensbergen" (die ander kant van die Drakensberg) wat wou
weet of hulle dieselfde grondeiendomsregte as die Natalse setlaars
geniet het. Op 1 April 1840 het die Natalse Volksraad besluit dat
setlaars aan die westekant van die Drakensberg elk op twee plase en ’n
hoewe geregtig was. Ná die anneksasie van Natal in 1843 het die
Transvaal-gebied ’n groot twisappel geword tot 1858 toe die
Zuid-Afrikaansche Republiek (Z.A.R.) amptelik tot stand gekom het.
Eiendomsbewyse (kaart en transport) is aan bestaande setlaars uitgereik
om hul grondbesetting te wettig. Die
eerste saadjies vir die totstandkoming van Kempton Park is 25 Oktober
1859 gesaai toe die Z.A.R. kaart en transport vir die plaas Zuurfontein
369, in die distrik van Pretoria, aan Johannes Stephanus Marais
uitgereik het. Die grond is on 12 Desember 1859 geïnspekteer en daar is
verklaar dat dit "sowat 3000 morg" groot was. Nog
’n setlaar in hierdie kontrei was Cornelius Johannes Beukes, in wie se
naam die plaas Rietfontein 32 IR, net noordwes van Zuurfontein, op 17
Maart 1865 geregistreer is. Hierdie twee plase vorm ’n wesentlike deel
van wat vandag Kempton Park is, en die families en nasate van die
oorspronklike eienaars het sedertdien altyd ’n rol in die
aangeleenthede van die dorp gespeel. Marais
het met sy bure se dogter Jacoba Aletta Maria Dorothea Beukes getrou en
kort voor lank, op 27 Desember 1869, ook Beukes se plaas Rietfontein geërf.
Op vyftigjarige leeftyd, in 1873, is Johannes Stephanus Marais tragies
oorlede weens kouevuur (gangreen) in sy been nadat hy van sy perd
afgeval het. Só het dit dan gebeur dat sy weduwee Jacoba die eienares
van die twee plase geword het, wat toe ook op 23 Maart 1874 in haar naam
geregistreer is (uitgesonderd ’n klein stukkie grond wat haar man vroeër
aan ’n jong man genaamd Daniel Riekert verkoop het). ’n
Bietjie geskiedenis MET
die lê van die spoorlyn tussen Pretoria en Vereeniging sou die
aanvoorwerk vir die totstandkoming van die latere Kempton Park gedoen
word. Die spoorlyn het deur die plaas Zuurfontein in die gebied geloop.
’n Stasie is gebou en dié het die bymekaarkomplek van die plaaslike
boeregemeenskap geword. In
1895 het die regering ’n fabriek vir plofstowwe by Modderfontein, aan
die buitewyke van Edenvale, beplan en ’n nuwe spoorlyn is gelê om
boumateriaal na die fabrieksperseel te vervoer. Met die vestiging van
hierdie skakel is ’n driehoekige stuk grond geïsoleer. Carl Fredrich
Wolff, wat die onderhandelaar tussen die regering en die
plofstof-fabriek was, het daardie grond gekoop en dit laat onderverdeel.
Hy het dit Kempton Park Estates genoem, na die dorp Kempten in
Duitsland, waar hy vandaan gekom het. Drie
vername faktore het tot die groei van Kempton Park gelei: die ontdekking
van goud, die oprigting van
die fabriek vir plofstowwe by Modderfontein en die bou van die
Zuurfontein-spoorwegstasie. Daarbenewens het die bou van
spoorwegwerkwinkels, die aanlê van elektrisiteit en die beskikbaarheid
van arbeid uit die nabygeleë townships elk op hul eie tot hierdie
bestendige groei bygedra. Elektrisiteit
in die besonder het die weg gebaan vir die vestiging van die
nywerheidspersele Isando en Spartan, aangehelp deur die spoorlyn waarop
onverwerkte stowwe en fabrieksgoedere vervoer kon word. Nog ’n
belangrike stukrag vir groei het in 1945 gekom toe die Jan Smuts-lughawe
(tans bekend as die Johannesburgse Internasionale Lughawe) geproklameer
is. Die skepping van baie werkgeleenthede het talle swart werkers uit
die platteland na die gebied gelok. Dit het die oorbevolkte townships
onder druk geplaas en informele nedersettings het begin opskiet. In 1950
is beplan vir die stigting van ’n afsonderlike dorp wat werkers van
Kempton Park, Germiston, Edenvale en Modderfontein kon akkommodeer, wat
in 1956 tot die totstandkoming van die dorp Tembisa gelei het. In
1994 het Tembisa met Kempton Park saamgesmelt en daarmee het ’n
ontwikkelingsprogram van die stadsraad begin. Die doel was die billike
daarstelling van geriewe vir al die inwoners. In die onlangse jare was
daar ontwikkelings op verskeie terreine. Paaie is geteer,
stormwater-afvoerpype aangebring, rioolstelsels opgegradeer, ’n nuwe
brandweerstasie gebou, staanplekgeriewe vir taxi’s verbeter en
sekuriteitskameras geïnstalleer. Boonop het nuwe sportgeriewe en
projekte vir tuinmaak en die opleiding van straatverkopers meegehelp om
sekere van die maatskaplike probleme te verlig. Kempton
Park - "Poort tot die Wêreld" KEMPTON
PARK se middestad lê reg noord van die Johannesburgse Internasionale
Lughawe, die besigste lughawe in Afrika, en in daardie sin kan dit nogal
"die Poort tot die Wêreld" genoem word. Daarbenewens is dit
net dertig minute se ry na Pretoria en tien minute na baie nasionale en
internasionale nywerheidsondernemings. Voortgesette
uitbreidings van die Johannesburgse Internasionale Lughawe maak die
unieke ligging van Kempton Park se sentrale sakedistrik uiters
aantreklik vir eiendomsbeleggers. Die middestad is vinnig besig om ál
langs al sy hoofverkeersare uit te brei. Hoewel daar nog grond en ruimte
beskikbaar is, is die aanbod in hierdie hoogs aanloklike gebied beperk.
Daarom word gesê dat dit nou die tyd vir beleggers is om op grondvlak
in te klim en voordeel uit die toekomstige aanvraag te trek! Terwyl
die sentrale sakedistrik tans vir besighede gesoneer word, het die snel
groeiende vraag na persele daartoe gelei dat aanliggende wooneiendomme
in kommersiële eiendomme omgeskakel is. Kempton
Park is ’n natuurlike verlenging van die Lughawe met al sy voordele,
wat uitmuntende geleenthede vir kleinhandelaars en diensverskaffers
bied. Eiendomspryse bied tans goeie waarde vir geld. Daar is aantreklike
omringende voorstedelike woonbuurte met skole, parke, sportkomplekse en
die Kempton-gholfbaan. Kempton
Park: agtergrond-inligting KEMPTON
PARK lê in die oostelike deel van Gauteng, in ’n gebied genaamd
Ekurhuleni. Ekurhuleni is in Suid-Afrika se hartland van vervaardiging
geleë. Dit is ’n lewenskragtige, kosmopolitaanse en kultureel
uitlopende streek met meer as 2,5 million inwoners. Die gebied het
nagenoeg 8000 nywerhede en is verantwoordelik vir sowat 23 persent van die
bruto geografiese produk van die Gauteng-provinsie, die ekonomies
kragtigste en aktiefste streek in Afrika suid van die Sahara. Die
Ekurhuleni- Metropolitaanse Raad bestaan uit 175 raadslede, gelei deur
die uitvoerende burgemeester, speaker en tien lede van die
burgemeesterskomitee. ’n
Wolff in dinamietwêreld! CARL
FRIEDRICH WOLFF het in 1875 van Kempten in Beiere, Duitsland, na
Suid-Afrika gekom. Hy
het uiteindelik omstreeks 1890 in Johannesburg aangeland, waar hy ’n
kantoor van ’n Londense firma geopen het. In
hierdie tyd het pres. Paul Kruger van Zuid-Afrikaansce Republiek
(Z.A.R.) begin met onderhandelings met die Nobel Trust oor die bou van
’n dinamietfabriek by Modderfontein. Hulle het na ’n bemiddelaar vir
hierdie onderhandelings gesoek en Carl Wolff was die natuurlike keuse. Carl
het hom as ’n baie bekwame onderhandelaar bewys en die Nobel Trust het
hom aangestel as die plaaslike direkteur vir die nuut gestigte
Zuid-Afrikaansche Fabrieken voor Ontplofbare Stoffen. Die
Nobel Trust het algehele finansiële beheer oor die dinamietfabriek
uitgeoefen en Wolff se vernaamste rol was blykbaar as onderhandelaar met
die regering van die Z.A.R. en plaaslike grondeienaars. Wolff het ’n
prominente rol gespeel ten tyde van die stigting van die dinamietfabriek
en die delikate onderhandelings rondom die private spoorlyn van die
fabriek na die Zuurfontein-stasie. ’n
Mens kan jou goed in die opwinding van destyds indink. Goudkoors het die
Witwatersrand gepak en die dinamietfabriek was industrieel van kardinale
belang. Grondspekulasie was volop, gemeenskapsontwikkeling het begin
vorm aanneem en Carl Wolff, op die kruin van sy loopbaan, was reg in die
hart van die drama. Die
deel van die plaas Zuurfontein, waarop die spoorlyn na Modderfontein
gebou moes word, het aan Matthys Buitendag behoort. Om die spoorskakel
daar te stel, was uiters belangrik en geslaagde onderhandelings met
Buitendag was van deurslaggewende belang. Buitendag
se groot beswaar was dat die bestaande
Pretoria-Vereeniging-spoorlyn reeds sy eiendom verdeel het. Sowat
113 morg grond aan die oostekant van die spoorlyn is heeltemal van die
res van sy plaas afgesny. Die nuwe spoorlyn na die dinamietfabriek sou
net verdere grondverdeling en ontwrigting van die boerdery meebring. Die
113 morge oos van die spoorweg is waar Kempton Park uiteindelik ontstaan
het. Wolff
het daarin geslaag om die verkoop van die plaas Zuurfontein aan die
eienaars van die dinamietfabriek te beding. Die belangrike feit is dat
die 113 morge oos van die spoorlyn nie ’n deel van die ooreenkoms was
nie. Besonderhede
van die besprekings en bedoelings is nie opgeteken nie, maar wat daarna
met die 113 morge gebeur het, kan ’n mens tot die gevolgtrekking laat
kom dat die hoofonderhandelaar hulle nie om dowe neute nie by die
verkooptransaksie ingesluit het nie. Op
8 Februarie 1895 het Buitendag die 113 morge aan die oostekant aan ’n
sekere George Just verkoop. Die
volgende jaar, op 7 Mei 1896, het Just dieselfde eiendom verkoop aan
Carl Friedrich Wolff, en dit was net ’n kwessie van tyd voordat
Kempton Park gestig sou word. Die
Anglo-Boereoorlog het in 1899 uitgebreek terwyl Wolff Europa besoek het.
Die Zuurfontein-stasie het in die oorlog ’n betekenisvolle skakel in
die Z.A.R. se kommunikasie- en ammunisieverskaffingslyn geword. Die
oorlog het op 31 Mei 1902 met die Vrede van Vereeniging geëindig en
Carl Wolff, wat teen dié tyd sy bande met die dinamietfabriek verbreek
het, het geen tyd verspil nie. Op 13 Augustus 1902 het hy sy deel van
113 morge van die plaas Zuurfontein aan sy eie nuut gestigte private
maatskappy genaamd Kempton Park Estates Limited verkoop. Die
eiendom is in ’n dorpsgebied van 216 erwe onderverdeel. Carl Wolff het
erf 212 vir sy eie gebruik gekoop. Dit was aan die suidelike grens van
die dorpsgebied, naby die oostelik hoek, en Wolff het daarna die eerste
huis in Kempton Park op hierdie erf laat bou. En só is Kempton Park dan gebore.
|