MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: JACO CALITZ
E-POS:
jacocalitz@absamail.co.za
DATUM: 13/11/2004 

PROJEKTITEL:
GESKIEDENIS VAN KEMPTON PARK

Voorgeskiedenis
 
DIT is fassinerend om die sameloop van omstandighede te herontdek wat tot die geboorte van Kempton Park gelei het, ’n plek wat vandag inderdaad in die hart van Suid-Afrika se lewenskragtige nywerheids- en myngebiede lê. Selfs voor 25 Augustus 1903, wat as die amptelike geboortedag van Kempton Park vasgestel is, was kragte aan die werk wat 'n groot rol in die lotsbestemming van die dorp sou speel.

Voor die Groot Trek van die 1930’s was die terrein waar Kempton Park vandag geleë is, slegs aan jagters en nomadiese beesboere bekend. Met die koms van die Voortrekkers vind ’n mens die eerste tekens van grondbesetting en van gebiedsbestuur.

Die "Natalse Gouvernement of Zuid-Afrikaansche Maatskappy" het ’n versoek ontvang van setlaars  "oversijde van de Drakensbergen" (die ander kant van die Drakensberg) wat wou weet of hulle dieselfde grondeiendomsregte as die Natalse setlaars geniet het. Op 1 April 1840 het die Natalse Volksraad besluit dat setlaars aan die westekant van die Drakensberg elk op twee plase en ’n hoewe geregtig was. Ná die anneksasie van Natal in 1843 het die Transvaal-gebied ’n groot twisappel geword tot 1858 toe die Zuid-Afrikaansche Republiek (Z.A.R.) amptelik tot stand gekom het. Eiendomsbewyse (kaart en transport) is aan bestaande setlaars uitgereik om hul grondbesetting te wettig.

Die eerste saadjies vir die totstandkoming van Kempton Park is 25 Oktober 1859 gesaai toe die Z.A.R. kaart en transport vir die plaas Zuurfontein 369, in die distrik van Pretoria, aan Johannes Stephanus Marais uitgereik het. Die grond is on 12 Desember 1859 geïnspekteer en daar is verklaar dat dit "sowat 3000 morg" groot was.

Nog ’n setlaar in hierdie kontrei was Cornelius Johannes Beukes, in wie se naam die plaas Rietfontein 32 IR, net noordwes van Zuurfontein, op 17 Maart 1865 geregistreer is. Hierdie twee plase vorm ’n wesentlike deel van wat vandag Kempton Park is, en die families en nasate van die oorspronklike eienaars het sedertdien altyd ’n rol in die aangeleenthede van die dorp gespeel.

Marais het met sy bure se dogter Jacoba Aletta Maria Dorothea Beukes getrou en kort voor lank, op 27 Desember 1869, ook Beukes se plaas Rietfontein geërf. Op vyftigjarige leeftyd, in 1873, is Johannes Stephanus Marais tragies oorlede weens kouevuur (gangreen) in sy been nadat hy van sy perd afgeval het. Só het dit dan gebeur dat sy weduwee Jacoba die eienares van die twee plase geword het, wat toe ook op 23 Maart 1874 in haar naam geregistreer is (uitgesonderd ’n klein stukkie grond wat haar man vroeër aan ’n jong man genaamd Daniel Riekert verkoop het).

’n Bietjie geskiedenis

MET die lê van die spoorlyn tussen Pretoria en Vereeniging sou die aanvoorwerk vir die totstandkoming van die latere Kempton Park gedoen word. Die spoorlyn het deur die plaas Zuurfontein in die gebied geloop. ’n Stasie is gebou en dié het die bymekaarkomplek van die plaaslike boeregemeenskap geword.

In 1895 het die regering ’n fabriek vir plofstowwe by Modderfontein, aan die buitewyke van Edenvale, beplan en ’n nuwe spoorlyn is gelê om boumateriaal na die fabrieksperseel te vervoer. Met die vestiging van hierdie skakel is ’n driehoekige stuk grond geïsoleer. Carl Fredrich Wolff, wat die onderhandelaar tussen die regering en die plofstof-fabriek was, het daardie grond gekoop en dit laat onderverdeel.  Hy het dit Kempton Park Estates genoem, na die dorp Kempten in Duitsland, waar hy vandaan gekom het.

Drie vername faktore het tot die groei van Kempton Park gelei: die ontdekking van goud, die oprigting  van die fabriek vir plofstowwe by Modderfontein en die bou van die Zuurfontein-spoorwegstasie. Daarbenewens het die bou van spoorwegwerkwinkels, die aanlê van elektrisiteit en die beskikbaarheid van arbeid uit die nabygeleë townships elk op hul eie tot hierdie bestendige groei bygedra.

Elektrisiteit in die besonder het die weg gebaan vir die vestiging van die nywerheidspersele Isando en Spartan, aangehelp deur die spoorlyn waarop onverwerkte stowwe en fabrieksgoedere vervoer kon word. Nog ’n belangrike stukrag vir groei het in 1945 gekom toe die Jan Smuts-lughawe (tans bekend as die Johannesburgse Internasionale Lughawe) geproklameer is. Die skepping van baie werkgeleenthede het talle swart werkers uit die platteland na die gebied gelok. Dit het die oorbevolkte townships onder druk geplaas en informele nedersettings het begin opskiet. In 1950 is beplan vir die stigting van ’n afsonderlike dorp wat werkers van Kempton Park, Germiston, Edenvale en Modderfontein kon akkommodeer, wat in 1956 tot die totstandkoming van die dorp Tembisa gelei het.

In 1994 het Tembisa met Kempton Park saamgesmelt en daarmee het ’n ontwikkelingsprogram van die stadsraad begin. Die doel was die billike daarstelling van geriewe vir al die inwoners. In die onlangse jare was daar ontwikkelings op verskeie terreine. Paaie is geteer, stormwater-afvoerpype aangebring, rioolstelsels opgegradeer, ’n nuwe brandweerstasie gebou, staanplekgeriewe vir taxi’s verbeter en sekuriteitskameras geïnstalleer. Boonop het nuwe sportgeriewe en projekte vir tuinmaak en die opleiding van straatverkopers meegehelp om sekere van die maatskaplike probleme te verlig.

Kempton Park - "Poort tot die Wêreld"

KEMPTON PARK se middestad lê reg noord van die Johannesburgse Internasionale Lughawe, die besigste lughawe in Afrika, en in daardie sin kan dit nogal "die Poort tot die Wêreld" genoem word. Daarbenewens is dit net dertig minute se ry na Pretoria en tien minute na baie nasionale en internasionale nywerheidsondernemings.

Voortgesette uitbreidings van die Johannesburgse Internasionale Lughawe maak die unieke ligging van Kempton Park se sentrale sakedistrik uiters aantreklik vir eiendomsbeleggers. Die middestad is vinnig besig om ál langs al sy hoofverkeersare uit te brei. Hoewel daar nog grond en ruimte beskikbaar is, is die aanbod in hierdie hoogs aanloklike gebied beperk. Daarom word gesê dat dit nou die tyd vir beleggers is om op grondvlak in te klim en voordeel uit die toekomstige aanvraag te trek!

Terwyl die sentrale sakedistrik tans vir besighede gesoneer word, het die snel groeiende vraag na persele daartoe gelei dat aanliggende wooneiendomme in kommersiële eiendomme omgeskakel is.

Kempton Park is ’n natuurlike verlenging van die Lughawe met al sy voordele, wat uitmuntende geleenthede vir kleinhandelaars en diensverskaffers bied. Eiendomspryse bied tans goeie waarde vir geld. Daar is aantreklike omringende voorstedelike woonbuurte met skole, parke, sportkomplekse en die Kempton-gholfbaan.

Kempton Park: agtergrond-inligting

KEMPTON PARK lê in die oostelike deel van Gauteng, in ’n gebied genaamd Ekurhuleni. Ekurhuleni is in Suid-Afrika se hartland van vervaardiging geleë. Dit is ’n lewenskragtige, kosmopolitaanse en kultureel uitlopende streek met meer as 2,5 million inwoners. Die gebied het nagenoeg 8000 nywerhede  en is verantwoordelik vir sowat 23 persent van die bruto geografiese produk van die Gauteng-provinsie, die ekonomies kragtigste en aktiefste streek in Afrika suid van die Sahara.

Die Ekurhuleni- Metropolitaanse Raad bestaan uit 175 raadslede, gelei deur die uitvoerende burgemeester, speaker en tien lede van die burgemeesterskomitee.

’n Wolff in dinamietwêreld!
(Die stigter van Kempton Park)

CARL FRIEDRICH WOLFF het in 1875 van Kempten in Beiere, Duitsland, na Suid-Afrika gekom.

Hy het uiteindelik omstreeks 1890 in Johannesburg aangeland, waar hy ’n kantoor van ’n Londense firma geopen het.

In hierdie tyd het pres. Paul Kruger van Zuid-Afrikaansce Republiek (Z.A.R.) begin met onderhandelings met die Nobel Trust oor die bou van ’n dinamietfabriek by Modderfontein. Hulle het na ’n bemiddelaar vir hierdie onderhandelings gesoek en Carl Wolff was die natuurlike keuse.

Carl het hom as ’n baie bekwame onderhandelaar bewys en die Nobel Trust het hom aangestel as die plaaslike direkteur vir die nuut gestigte Zuid-Afrikaansche Fabrieken voor Ontplofbare Stoffen.

Die Nobel Trust het algehele finansiële beheer oor die dinamietfabriek uitgeoefen en Wolff se vernaamste rol was blykbaar as onderhandelaar met die regering van die Z.A.R. en plaaslike grondeienaars. Wolff het ’n prominente rol gespeel ten tyde van die stigting van die dinamietfabriek en die delikate onderhandelings rondom die private spoorlyn van die fabriek na die Zuurfontein-stasie.

’n Mens kan jou goed in die opwinding van destyds indink. Goudkoors het die Witwatersrand gepak en die dinamietfabriek was industrieel van kardinale belang. Grondspekulasie was volop, gemeenskapsontwikkeling het begin vorm aanneem en Carl Wolff, op die kruin van sy loopbaan, was reg in die hart van die drama.

Die deel van die plaas Zuurfontein, waarop die spoorlyn na Modderfontein gebou moes word, het aan Matthys Buitendag behoort. Om die spoorskakel daar te stel, was uiters belangrik en geslaagde onderhandelings met Buitendag was van deurslaggewende belang.

Buitendag se groot beswaar was dat die bestaande  Pretoria-Vereeniging-spoorlyn reeds sy eiendom verdeel het. Sowat 113 morg grond aan die oostekant van die spoorlyn is heeltemal van die res van sy plaas afgesny. Die nuwe spoorlyn na die dinamietfabriek sou net verdere grondverdeling en ontwrigting van die boerdery meebring.

Die 113 morge oos van die spoorweg is waar Kempton Park uiteindelik ontstaan het.

Wolff het daarin geslaag om die verkoop van die plaas Zuurfontein aan die eienaars van die dinamietfabriek te beding. Die belangrike feit is dat die 113 morge oos van die spoorlyn nie ’n deel van die ooreenkoms was nie.

Besonderhede van die besprekings en bedoelings is nie opgeteken nie, maar wat daarna met die 113 morge gebeur het, kan ’n mens tot die gevolgtrekking laat kom dat die hoofonderhandelaar hulle nie om dowe neute nie by die verkooptransaksie ingesluit het nie.

Op 8 Februarie 1895 het Buitendag die 113 morge aan die oostekant aan ’n sekere George Just verkoop.

Die volgende jaar, op 7 Mei 1896, het Just dieselfde eiendom verkoop aan Carl Friedrich Wolff, en dit was net ’n kwessie van tyd voordat Kempton Park gestig sou word.

Die Anglo-Boereoorlog het in 1899 uitgebreek terwyl Wolff Europa besoek het. Die Zuurfontein-stasie het in die oorlog ’n betekenisvolle skakel in die Z.A.R. se kommunikasie- en ammunisieverskaffingslyn geword.

Die oorlog het op 31 Mei 1902 met die Vrede van Vereeniging geëindig en Carl Wolff, wat teen dié tyd sy bande met die dinamietfabriek verbreek het, het geen tyd verspil nie. Op 13 Augustus 1902 het hy sy deel van 113 morge van die plaas Zuurfontein aan sy eie nuut gestigte private maatskappy genaamd Kempton Park Estates Limited verkoop.

Die eiendom is in ’n dorpsgebied van 216 erwe onderverdeel. Carl Wolff het erf 212 vir sy eie gebruik gekoop. Dit was aan die suidelike grens van die dorpsgebied, naby die oostelik hoek, en Wolff het daarna die eerste huis in Kempton Park op hierdie erf laat bou.

En só is Kempton Park dan gebore.

   

Terug na Ruilprojekte-blad