| MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE BYDRAE DEUR: MARINA SHORT (skoolgraad 5) E-POS: marinas@lantic.net DATUM: 2/2/2005 PROJEKTITEL: SHAKA ZULU IN die begin van elke winter het die oor alles seëvierende Zoeloe-regimente in die landstreke van hul voorvaders bymekaargekom en hulle tot nuwe oorwinnings verbind met die saluut "Ngathi, Impi" – As gevolg van ons - Oorlog. Die man wat in die fleur van hul segetog oor die Zoeloes regeer het, wat hulle gelei het van ’n klein stammetjie tot die oorheersende mag aan die suidooskus van Afrika, is Shaka.genoem. Shaka het sy bestaan te danke gehad aan ’n ontmoeting tussen die jeugdige Zoeloe-stamhoof Senzangakhona en die mooi jong dogter Nandi van die buurstam Langeni. Drie maande ná hul ontmoeting het hy gehoor dat sy swanger is en het hy eers beweer dat sy deur ’n gogga geïmpregneer is. Ses maande later is die "gogga" gebore en is hy Shaka genoem. Die seun is weens sy buite-egtelikheid gespot, maar het hom gou as ’n dapper kryger bewys. In sy jong dae het hy ’n kort breëlem-steekswaard ontwerp wat baie doeltreffend was. Shaka het in 1816 koning van die Zoeloes geword toe hy omtrent 30 jaar oud was. Hy het in die volgende paar jaar alle stamme in die nabye omgewing óf onderwerp óf verjaag. Teen 1823 was hy op die toppunt van sy heerskappy. Sy aantal volgelinge was so groot en magtig dat die klein vallei te klein vir almal geword het. Hy het sy nuwe tuiste op die walle van die Mhlatuze-rivier geskep en het dit Kwa-Bulawayo genoem, wat Plek van die vervolgde man beteken. In die warm somers het sy mense die lande omgeploeg en die swaarde en spiese skerpgemaak. In die winters het hy alle nabygeleë stamme verslaan en die vroue en vee vir hom gevat. In 1826 het hy nog ’n stat gebou, wat vandag as Stanger bekend staan. Hy het dit Kwa-Dukuza genoem, wat Plek van die verlorene beteken, omdat dit maklik was om tussen al die hutte te verdwaal. In 1827 is sy moeder Nandi dood. Henry Fynn en ander ivoorjagters was by hom en het vertel van die dinge wat daarna gebeur het. Omtrent 7000 stamlede is tydens sy uitbarsting van droefheid vermoor. In 1828 het Shaka sy troepe in Natal gelei en in die Pondo-gebied van Transkei. Hy het teruggekeer om die somer in Kwa-Dukuza deur te bring. Op 28 September het hy hier op ’n groepie Tswana-besoekers gewag. Twee van sy halfbroers, Mhlangane en Dingaan, het skielik die kraal binnegestorm en hom onverwags bestorm en doodgesteek. Die volgende dag is sy oorskot in ’n swart beesvel toegedraai en in ’n leë gat begrawe wat vir die bewaring van mielies bedoel was.
|