*  Ster-bydrae

MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: KANJA DE VOS (skoolgraad 7, projek egter saamgestel toe Kanja in graad 6 was)
E-POS: madeleined@gamnet.co.za
DATUM: 7/2/2005 

PROJEKTITEL:
ANGLO-BOEREOORLOG
deur Kanja de Vos
 
 
INHOUDSOPGAWE
1) Die begin van ellende vir die Boerenasie
2) Die Jameson-inval
3) Oorlog in die lug
4) Die eerste aanvalle
5) Die Boere begin terugval
6) Die hoofstede val
7) Guerrilla-stryd
8) “Verskroeide aarde”-beleid
9) Bittere vrede by Vereeniging
10) Bronnelys
 
 
1) Die begin van ellende vir die Boerenasie
 
Die eerste goud is reeds in 1854 in Transvaal ontdek. Die Volksraad het besluit hulle gaan hierdie ontdekking ’n groot geheim hou, aangesien hulle bang was dat vreemdelinge Transvaal sou binnestroom. 

Op die plase Turffontein en Doornfontein het daar spoedig ’n stad verrys – Johannesburg, wat ook vinnig as die Goudstad bekend sou staan. Die Volksraad se groot vrees is bewaarheid, aangesien oorsese fortuinsoekers, by die Boerevolk bekend as Uitlanders, na die Goudstad gestroom het. Die Afrikaner het ook baie gou sy pond goud in die Goudstad gaan soek.

Goud was een van die belangrikste redes vir die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.

Die meeste Uitlanders was Britse onderdane en daar het vinnig ’n stryd tussen Boer en Brit ontstaan.

Wat presies was die Uitlander-vraagstuk?
President Kruger was bang dat die groot getal Uitlanders die politieke terrein sou oorheers en het dus probeer om die Uitlanders se politieke mag te beperk. Hy het wel toegewings gemaak, maar die Britte wou bestuursreg hê. Kruger was nie bereid om sy geliefde Republiek af te staan nie. Die Uitlanders het ’n verbete stryd aangeknoop om stemreg te verkry. Hulle het in opstand gekom en probeer om die regering omver te gooi. Hulle het ook gehoop om met die Jameson-inval die Transvaalse regering tot ’n einde te bring.

2) Die Jameson-inval

Cecil John Rhodes se lewensideaal was om die hele Suidelike Afrika as Britse gebied in te palm. Die Transvaalse regering (ZAR) was egter vir hom soos ’n doring in die vlees. Hy het dit wel reggekry om die Transvaalse en Vrystaatse Republieke  met Britse gebied te omring. Dit het tot twiste oor spoorweë, doeane en tariewe gelei. Hy wou ook die Uitlanders in Transvaal gebruik om sy lewensideaal te verwesenlik.

President Kruger wou Transvaal vir die oorspronklike Voortrekker-afstammelinge behou en Rhodes wou Transvaal vir die Britse Ryk inpalm. Dit het natuurlik tot botsing gelei.

In 1895 het Rhodes tot aksie oorgegaan. Hy het in die geheim met ’n groepie Transvaalse Uitlanders saamgesweer. Die leiers was Frank Rhodes (sy broer), Charles Leonard, George Farrar, Lionel Phillips en Hammond.
Joseph Chamberlain (Britse minister van kolonies), lord Rosebery (Britse eerste minister), sir Hercules Robinson (Kaapse hoë kommissaris) en die Londense Times is op die hoogte van die sameswering gehou.

Wat was hul planne met die sameswering?

Op Oujaar 1895 sou die Uitlanders in gewapende opstand kom. Dr. Leander Jameson sou dan onmiddellik die Transvaalse grens vanuit Betsjoeanaland oorsteek met ’n gewapende mag van 500 manne om die Goudstad te bevry. Met behulp van sir Hercules Robinson sou hulle dan Transvaal tot ’n selfregerende Britse kolonie verklaar.

Op 31 Desember 1895 het Jameson Transvaal onverwags binnegeval en na Johannesburg opgeruk. Kruger was egter gou op die hoogte van sake en het die opstandelinge amnestie belowe. Hy het hulle ook verseker dat hy weer na hulle griewe sal luister. Die opstand was gou iets van die verlede. Die leiers van die opstand is ter dood veroordeel, maar die vonnis is later tot boetes verander. Generaal Piet Cronje en sy manskappe het die invalsmag van Jameson by Doornkop (naby Krugersdorp) verras. Jameson en sy offisiere is aan Brittanje uitgelewer om gestraf te word. Jameson het 15 maande tronkstraf gekry, maar is ná ’n paar maande ontslaan. Rhodes en Jameson was in die oë van die Britse publiek helde.

3) Oorlog in die lug

Ná die mislukte Jameson-inval het die konflikte tussen die twee partye verhoog. Die spanning was duidelik in die lug aan te voel en die moontlikheid van ’n oorlog was in almal se gedagtes.

Die Uitlanders het die hulp van die Britte ingeroep en die Britte het dit as die gulde geleentheid beskou om Transvaal en sy rykdomme in te palm.

Milner en Chamberlain het sekere hervormings van president Kruger begin eis, maar hy het dit van die hand gewys. Milner het besluit om sterker op te tree en voorbereidings vir ’n oorlog begin tref. Dit was duidelik dat dit nie meer ’n kwessie  tussen Kruger en die Uitlanders was nie, maar wel ’n saak tussen Kruger en die magsugtige Britse Ryk.

Die Bloemfonteinse Konferensie:
President Steyn (Vrystaat) en W.P. Schreiner (Kaapse eerste minister) wou ’n oorlog voorkom. Hulle het met die Bloemfonteinse Konferensie in hul doel probeer slaag. Milner het hom glad nie aan Steyn en Schreider se poging gesteur nie. Hy het besluit om op die stemregkwessie te konsentreer, want hy het geweet Kruger sou nie kopgee nie. Só het Milner en Kruger mekaar op 31 Mei 1899 in Bloemfontein ontmoet om te beraadslag. Die samesprekings het ses uur lank geduur, maar geen vordering is gemaak nie. Die konferensie het misluk! Die spanning het hoog geloop en die hele wêreld het asem opgehou, want indien die onderhandelings nie suksesvol was nie, sou dit net een ding beteken – Oorlog! Daar was wel nog ander samesprekings, maar dit was net ’n manier van die Britte om tyd te wen sodat hulle hulle behoorlik vir die oorlog kon voorberei.

Ná die mislukte Bloemfonteinse Konferensie het Milner ’n ultimatum aan die ZAR gestuur om stemreg vir die Uitlanders te eis. Brittanje was die sterkste mag ter see en het geweet dat geen ander land hulle sou teengaan nie. 

Hulle kon dus rustig met hul voorbereidings vir die oorlog voortgaan. Ná die Bloemfonteinse Konferensie het Brittanje onmiddellik troepe na Suid-Afrika begin  stuur. Hulle het ook troepe vanaf Rhodesië (die huidige Zimbabwe) gewerf. 
Die Britse regering het amptelik op 22 September 1899 tot ’n oorlog besluit. Hulle het weer eens ’n ultimatum opgestel en die volgende geëis:
• Onmiddellike stemreg vir die Uitlanders
• Gebruik van Engels in die Volksraad
• Ontwapening van Transvaal
Hierdie ultimatum is jare lank weggesteek en nooit aan die ZAR oorhandig nie. Die rede? Die ZAR het die Britte voorgespring en hul eie ultimatum aan die Britte oorhandig. 

Die ZAR het dr. Leyds in 1898 na Europa gestuur om steun by die groot moondhede te gaan soek. Hy het egter ’n boodskap gestuur waarin hy genoem het dat Transvaal nie steun van die buiteland moes verwag nie. Die Vrystaat het reeds in 1897 ’n verbond met Transvaal gesluit waarkragtens hulle sou saam veg indien een van hulle se vryheid in gedrang sou kom. Transvaal het hom ook so gou moontlik begin bewapen, aangesien hulle nie wapens sou kon invoer ten tyde van ’n oorlog nie. Die ZAR het ’n ultimatum opgestel om te voorkom dat die Britse troepe aan wal kom. Hulle het die volgende geëis:
• Geskille tussen Brittanje en Transvaal moes deur middel van arbitrasie besleg word
• Verwydering van Britse troepe op grense
• Geen verdere troepe moes aan wal gesit word nie
Om vyfuur die middag van Woensdag,11 Oktober 1899, het die ZAR se ultimatum aan Groot-Brittanje verstryk en verklaar Brittanje en Transvaal oorlog teen mekaar. 

4) Die eerste aanvalle

Die Boere-aanvoerders het besef dat indien hulle sou wou voorkom dat verdere Britse troepe aan wal gesit word, hulle eerste moes aanval. Die burgers se aanvoerder was generaal Piet Joubert en sy teenstander was generaal Buller. 

Die Boere se eerste aanvalle was geslaag. Die eerste skote is by Kraaipanstasie gevuur, deur veldkornet Coetzee in die aand van 11 Oktober 1899.

Wesfront:
Genl. P.A. Cronje het Mafikeng en Kimberley beleër, maar kon nie daarin slaag om die Britse magte tot oorgawe te dwing nie. Lord Methuen het sy bes probeer om Kimberley te ontset, en het die Boere hard geslaan by Belmont, Graspan en Modderrivier. Die Boeremagte het egter vasgeskop, stelling ingeneem en Methuen  op 12 Desember 1899 by Magersfontein verslaan.

Suide:
Die Boeremag het die Oranjerivier by Colesberg en Aliwal-Noord oorgesteek. Genl. Gatacre het teen hulle uitgetrek, maar is op 10 Desember 1899 in die Slag van Stormberg ook verslaan.

Oosfront:
Kommandant-generaal Piet Joubert het die Britse mag by Dundee in Noord-Natal gestuit, maar daarna het die Boeremagte ’n nederlaag by Elandslaagte gely. Daarna het die burgers weer reuse suksesse behaal by Modderspruit en Nicholsnek, ten spyte van genl. White se pogings om hulle te stop. Joubert het Ladysmith beleër, wat ’n fout was omdat te veel manskappe vir hierdie doel gebruik was. By Escourt het die Britte weer eens op hul herrie gekry, maar die burgers moes terug tot by die Tugela-rivier. Ná die siekte van genl. Joubert, wat hom op 28 Maart 1900 sy dood gekos het, het genl. Louis Botha bevel van die Transvaalse magte oorgeneem. Die Britte het hierna drie groot nederlae gely wat hul moraal tot op die laagste vlak sou laat daal. Die eerste was by Colenso, die tweede by Spioenkop en die laaste by Vaalkrans.

5) Die Boere begin terugval

Die Britte het besef dat die Boere nie so maklik oorwin gaan word nie. Hulle het dus groter getalle troepe na die slagveld gestuur. Lord Roberts het die opperbevel by genl. Buller oorgeneem.

Kimberley word ontset en dit stel Kitchener in staat om die Vrystaat met ’n sterk mag binne te val. Cronje moes vanaf Magersfontein terugval en is op 27 Februarie 1900 (Amajubadag) by Paardeberg tot oorgawe gedwing. Die Britse ongevalle was: 239 dood, 1 095 gewond, 67 vermis, 2 gevang. Die Boere: 74 gesneuwel, 187 gewond, 1 327 Vrystaters gevang, 2 592 Transvalers gevang, en 11 vroue wat weer vrygelaat is. Die nasleep van hierdie groot getalle burgers wat gesneuwel het en gevange geneem is, was dat die Boere se mag aansienlik verswak is.

Hierna het die burgers aangehou terugval. Op 13 Maart 1900 het Bloemfontein geval. Baie burgers in Natal moes noodgedwonge na die Vrystaat terugkeer om die Engelse inval te probeer stuit. Buller het die geleentheid gebruik om Ladysmith te ontset.

Sake het donker gelyk vir die twee Republieke en die hoop om die oorlog te wen, het by die dag afgeneem. 

6) Die hoofstede val

Die Britte het geglo dat die oorlog eers verby sou wees indien die twee hoofstede ook tot ’n val gebring is.

De Wet het hard probeer om die Britse opmars te stuit, maar selfs die oorwinnings by Sannaspos en Reddersburg kon Kitchener nie stop nie.

Johannesburg is op 31 Mei 1900 ingeneem en op 5 Junie 1900 is Pretoria tot ’n val gebring. Die Boerekommando’s het orals begin terugval.

Genl. Louis Botha het besluit dat dit tyd was om vas te skop en terug te slaan.

Ongelukkig kon Botha se welslae by Donkerhoek en Dalmanutha nie die Britte keer nie. Die Engelse het geglo dat hulle reeds die oorlog gewen het en dat die einde in sig was. Van die Britte het selfs na Engeland begin terugkeer.

Brittanje sou egter binnekort met die Boer se sterk vaderlandsliefde kennis maak en teen Afrikanertrots te staan kom.

7) Guerrilla-stryd

President Kruger moes op 75-jarige ouderdom sy geliefde vaderland verlaat om, soos deur die Volksraad besluit is, hulp oorsee vir die Boere se stryd te gaan soek. Hy het aan boord van die Gelderland, ’n oorlogskip wat deur koningin Wilhelmina van Nederland na Lourenco Marques gestuur is, sy tog na die buiteland begin. Die hele wêreld was aan die Boeremagte se kant, maar was te bang vir Brittanje se sterk mag.

Ná die val van Bloemfontein was die Boere moedeloos en bekommerd. Lord Roberts het Transvaal (later bekend as Transvaal Colony) en die Vrystaat (later bekend as Orange River Colony) geannekseer en albei tot Britse kolonies geproklameer. Lord Roberts is terug na Brittanje en lord Kitchener het die bevel oorgeneem. Die oorlog was verby! Of so het Engeland gehoop...

Al het die hoofstede tot ’n val gekom, het die Boerekommando’s nie oorgegee nie. Genl. De Wet het in die Vrystaat sukses behaal en genl. De la Rey in Wes-Transvaal.

Steyn het die Boere moed ingepraat om die stryd tot aan die einde aan te sê. Dit was tyd om die Hensoppers en die Bittereinders van mekaar te skei. Omdat die Boere se getalle so klein was, moes die hulle hul aanvalstaktiek verander. Guerrilla-oorlogvoering sou nou aan die Boere wêreldwye roem besorg.

Die kommando’s was kleiner en elkeen moes vir sy eie kos en klere sorg. Hulle het nie meer waens gebruik die, sodat hulle meer beweeglik kon wees. Die idee was om groot Britse magte aan te val en dan weer soos mis voor die son te verdwyn. Verkennerskorpse was heeltyd aan die verken vir gevaar.

Dapper manne het nou na vore getree. Genl. Botha het in Oos-Transvaal die lewe vir die Tommies swaargemaak, terwyl genl. De la Rey dieselfde in Wes-Transvaal gedoen het. Genl. Beyers het die Engelse weer in Noord-Transvaal oor die vingers getik. Die Boere het besluit om die Kaapkolonie aan te val, sodat die burgers ’n ruskans kon kry. Dit sou ook die Engelse magte verwar. Generaals Smuts, Maritz, Malan, Scheepers, Lategan en Kritzinger het aan die hoof van hierdie inval gestaan. Genl. De Wet en genl. Hertzog het in die Vrystaat die lewe moeilik gemaak vir die Tommies.

Kitchener het agtergekom dat die Boere se sukses aan hul beweeglikheid toegeskryf kan word. Hy het ’n stokkie hiervoor probeer steek. Hy het blokhuise laat oprig met doringdraadversperrings tussen hulle. Op al die grense was daar van die blokhuise te sien. Die boere het egter steeds soos glibberige visse deur hierdie linies geglip.

Kitchener het nou oorgegaan tot die mees drastiese metode denkbaar. Hy het die “verskroeide aarde”-beleid gevolg. Hierdie barbaristiese metode is tot vandag nog ’n klad op die naam van die Britse Ryk.

8) “Verskroeide aarde”-beleid

Plaashuise moes verbrand word, gesaaides en veestapels vernietig word, alles wat oor geslagte opgebou is, moes uit die hand van die Boer weggeruk word. Ook almal wat vir hom dierbaar was, moes weggeneem word om so te ly dat hy sou knak: sy vrou, sy kinders, sy ou mense, sy werkers…

Talle mense is per ossewa, trollie of trein (gewoonlik oop steenkool- of beeswaens sonder enige sanitêre geriewe) na die kampe aangery. Baie is ook te voet soos diere na die kampe aangejaag. Hulle is hot en haar saamgebondel en geen behoorlike reëlings is getref om hulle te huisves nie. Talle moes in die begin in die oop veld probeer regkom totdat tente (baie feitlik onbruikbaar) verskaf is, of hulle is in barakke in die kampe of elders aangehou. Selfs ’n Britse kommissie van ondersoek het bevind dat van die huisvesting skaars geskik vir varke was.

Omdat daar nie genoeg komberse, klere, beddens en matrasse was nie, is die kampbewoners aan die uiterste ontberings blootgestel. Die groot aantal kindertjies is die ergste getref. Daar was hopeloos te min kos en water in die oorvol kampe. Die kampbewoners, veral die kinders, het binne maande tot lewende geraamtes uitgeteer. Daar was geen behoorlike geriewe vir die weggooi van vullis nie en die toiletgeriewe was primitief. Dit was ’n teelaarde vir siektekieme en allerhande siektes het dus in die kampe uitgebroei. Met die uitbreek van masels in 1901, en as gevolg van ’n tekort aan medisyne en dokters, het duisende gesterf.

Die swartmense is in aparte kampe aangehou en hul behandeling was selfs hagliker. Soos aan die Boerekant was dit meestal swart kindertjies wat gesterf het.

Volgens statistieke was daar 118 000 Boeremense en 43 000 swartmense in die konsentrasiekampe. Van hulle is altesaam 22 074 Boerekinders, 4 182 Boerevroue en minstens 14 154 swartmense dood.

Trouens, 'n hele geslag Afrikaners is uitgewis. Dit is ironies dat meer mense in die kampe oorlede is as op die slagvelde.

9) Bittere vrede by Vereeniging

In April en Mei 1902 het die twee Republieke vir vrede begin onderhandel. 

Verskeie Republikeinse leiers het by Vereeniging saamgekom om oor vrede te besluit. Pres. Steyn en genl. De Wet wou wel aanhou veg tot die einde, maar hulle kon die ander leiers nie oorreed nie. Ook genl. De la Rey was teen die sluit van vrede.

Met 54 stemme teen 6 is daar besluit om vrede te sluit. Die algemene gevoel onder die leiers was dat die Boerevolk heeltemal uitgewis sou word indien die oorlog nie beëindig word nie. Die Britse oormag was net te sterk.

Op 31 Mei 1902 is die Vrede van Vereeniging by die Melrose Huis in Pretoria onderteken.

Die Boere het hul vryheid verloor. Hulle sou voortaan deur die Britse kroon regeer word.

10) Bronnelys
1. Dugeot se Mieliestronk.com-webwerf
2. Pretorius, Fransjohan: Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
3. Wêreldspektrum Deel 1
4. Wessels, Elria: Keur: 6 November 1998
5. Wessels, Elria: Keur: 11 Desember 1998


Terug na Ruilprojekte-blad