*
Ster-bydrae
MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: ELANI NEL (skoolgraad 8)
E-POS: NelW1@telkom.co.za
DATUM: 27/7/2005
PROJEKTITEL:
Oliebesoedeling
deur Elani Nel
(enkele grafika
bygevoeg deur Mieliestronk)
1. Hoe oliebesoedeling plaasvind
2. Hoekom olie op water dryf
3. Probleme wat oliebesoedeling veroorsaak
4. Moontlike oplossings
5. Hoe see- en kuslewe deur oliebesoedeling beïnvloed word
6. Slot
7. Bronne
1. Hoe oliebesoedeling plaasvind
OLIETENKSKEPE laai hul olie af en moet dan weer seewater aan boord neem sodat die skepe stabiel kan bly vir hul vaart terug na van waar hulle gekom het. Nadat hulle dan aangekom het by die hawens waarvandaan hulle oorspronklik uitgevaar het, moet die seewater weer uitgelaat word om nogmaals olie aan boord te neem.
Die uitlaat-seewater is egter met olie gemeng as gevolg van die olie wat voorheen in die tenke was. Só word water gemeng met olie dan in die see gestort.
Ander kere bars die pype van die olietenkskip, of die bodem skeur oop en dan vloei groot hoeveelhede olie in die see. Daar gebeur ook ongelukke op olieboortorings ter see en dan word eweneens groot hoeveelhede olie in die see gemors.
Alle skepe moet rioolwater uitpomp wat gewoonlik olie van die skip se motore bevat. Die hoeveelheid kan dalk klein wees, maar aangesien alle skepe daartoe bydra, is dit mettertyd ’n taamlike hoeveelheid wat in die see gestort word.
Taamlik baie olie word boonop in die see gestort weens die daaglikse bedrywighede van olieprodusente wat na aan die kus is.
Maar selfs dit is nie al nie. Elke keer wanneer dit reën, word die olie en brandstof van die paaie in die afvoerpype ingespoel en beland dit dan ook op die ou einde in die see. Huishoudelike afval en rioolvuil wat olie en vette bevat, word ook in kusgebiede in die see gestort.
Die arme see is baie geduldig. Die oseane is heel gewillige
absorbeerders van afvalstowwe as hulle dit kan versprei sodat dit kan
verdun en mettertyd kan ontbind en tot niet gaan. Maar tonne van 'n dik,
klewerige olie-gemors wat op die golwe dobber, word nie sommerso
weggewerk nie. En as die see dit uiteindelik op die strande uitbraak, is
dit weer die brose wêrelde aan die kus wat dit moet ontgeld.
2. Hoekom olie op water dryf
WATER en olie is twee vloeistowwe wat onder gewone omstandighede nie "mengbaar" is nie, met ander woorde water los nie in olie op nie en olie los ook nie in water op nie. As jy 'n bietjie olie en 'n bietjie water in 'n proefbuis meng, kan jy die mengsel maar skud en skud, maar as jy dit klaar geskud het, sal die twee vloeistowwe net weer van mekaar skei en die een sal netjies bo-op die ander gaan lê. (Dit is wel moontlik om olie met water te meng deur chemikalieë soos seep by te voeg wat aan die oliemolekules sowel as aan die watermolekules klou, maar dit is nie nou hier ter sake nie.)
By 'n olie-en-water-mengsel is dit altyd die olie wat bo-op die water gaan lê. En nou is dit nodig om die konsep van digtheid te verduidelik om te verstaan waarom olie op water dryf en water nie op olie dryf nie.
Met digtheid word bedoel die verhouding tussen 'n stof se massa (gewig) en sy volume (grootte). Hoe groter die gewig na verhouding is, hoe groter is die digtheid. 'n Kubieke meter lood weeg baie meer as 'n kubieke meter kurk, en lood het dus 'n veel groter digtheid as kurk. Trouens, kurk se digtheid is selfs kleiner as dié van dieselfde volume water en daarom dryf kurk op water.
Water se digtheid is weer groter as dié van olie, maar omdat dit kan vloei, gaan lê dit onder in 'n olie-water-mengsel. Olie se digtheid is kleiner as dié van water en daarom gaan lê dit bo.
(Dit is interessant dat selfs 'n enorme planeet soos Saturnus in die buitenste ruimte 'n digtheid het wat kleiner as dié van water is. Dus sou die planeet Saturnus op water kon dryf! Die rede is dat Saturnus meestal uit gas bestaan -- en gas is vanselfsprekend nie so dig as water nie .)
3. Probleme wat deur oliebesoedeling veroorsaak word
OLIE wat op die strande uitspoel, kan die ekonomie van 'n streek ernstig ontwrig as gevolg van die verlies aan visvangste en toerisme. Tog is dit nie die ergste nie. Wat ons die meeste behoort te ontstel, is die ekologiese ontwrigting, wat soms baie jare kan duur.
Op sanderige strande dring die olie in die sand in om die brose mikro-lewe in die tussengety-sone van hul suurstof te beroof en te dood. Ook op rotsagtige strande word ongewerwelde diertjies versmoor en alge doodgemaak.

Omgewings soos woude en soutmoerasse is baie kwesbaar by oliestortings omdat olie daar vasgevang raak en nie so maklik weer kan wegspoel nie. Plante wat met olie besmet raak, kan erg in hul groei gestuit word of vrek, terwyl sade kan ophou om te ontkiem.
Uiteindelik word die hele ekologie in en by 'n strandgebied dus uiters nadelig deur oliebesoedeling geraak -- ook deur die uitwerking op seevoëls soos pikkewyne, waarvan ons verder ondertoe meer vertel.
4. Moontlike oplossings
MAATREëLS bestaan reeds wêreldwyd om oliebesoedelings ter see te bekamp, maar dit is nodig dat die beheer internasionaal baie, baie strenger toegepas sal word. Olietenkskepe wat willens en wetens die see besoedel, moet nie net swaar beboet word nie, maar die kuswagte moet sorg dat sulke skepe summier gekonfikskeer word.
Alle olietenkskepe moet voorts met dubbele bodems toegerus word sodat oliestrortings verhinder kan word as hulle sou skeur of breek. Al om die 25 jaar moet 'n skip vervang of ten minste doeltreffend opgradeer word.
5. Hoe die see- en kuslewe beïnvloed word
DIERELEWE het suurstof nodig -- ook die visse van die see, al haal hulle nie met longe asem soos ons nie, maar met behulp van kieue waarmee hulle die opgeloste suurstof in die water benut. Olie wat op seewater dryf, keer egter dat die woelige water se suurstofvoorraad gedurig uit die lug daarbo aangevul kan word.
Die gevolg is dat visse en ander waterlewende diere by die duisende vrek. Die dooies spoel saam met die klewerige swart olie op die strande uit. Die oliestank in die lug word deur die stank van massas ontbindende seediere aangevul.
Maar van al die gevolge van oliebesoedeling, is die uitwerking op seevoëls vir baie bewaringsbewuste mense die heel ergste. Die voëls vrek nie soseer omdat hulle deur die olie vergiftig word nie, maar eerder omdat hul vere as gevolg van die oliewerking met water deurweek raak sodat die voëls sink en verdrink.
Watervoëls dryf naamlik gemaklik vanweë die lug wat tussen die vere vasgevang is. Deur hul vere teen mekaar te druk, kan sommige watervoëls selfs hul dryfvermoë varieer -- en in die water afdaal totdat net die nek en kop uitsteek. Boonop het die meeste 'n olie-afskeidende poetsklier in die stuitjie. Ons noem dit die voël se vetkannetjie of oliekannetjie, want met die olie wat hieruit kom, word die vere gesmeer om die fyn struktuur daarvan te verseël en 'n waterdigte bedekking te vorm.
Maar besoedelende mineraal-olie werk so nadelig in op die voël se vere dat dit maklik sy dood kan beteken.
In die see is die pikkewyn wel die voëlwêreld se ekwivalent van 'n aanvalsduikboot -- 'n sluwe, dodelike roofvoël wat gemaak is vir spoed, diepduik en oorlewing in die guurste toestande. Tog is 'n met olie besmeerde pikkewyn buite op 'n rots 'n patetiese bondeltjie hulpeloosheid. Só het 'n olieramp 'n paar jaar gelede aan die Kaapse kus al tot 'n enorme reddingsoperasie vir besoedelde pikkewyne gelei.
Olie in sulke seevoëls se oë kan boonop blindheid meebring. En namate hulle met hul snawels die olie van hul lywe probeer afkry, beland van die olie in hul bekke en kele en dit veroorsaak oop sere. Van die geabsorbeerde olie vernietig ook die rooi bloedliggaampies, wat tot bloedarmoede lei, terwyl gifstowwe in die bloedstroom lewer- en nierversaking veroorsaak.
Watersoogdiere soos otters en robbe kan ook soos watervoëls op die water dryf en warm bly danksy lug wat in hul pelse vasgevang is. Olie vernietig eweneens die pelse se waterdigting en isolering, en die diere verdrink of vrek van die koue.
6. Slot
AS die wêreldowerhede -- en elkeen van ons, waar ons
ook al ons beskeie bydraetjie kan lewer -- nie daadwerklik gaan optree om oliebesoedeling met alle middele te beperk nie, kan die see- en kuslewe so verskraal dat daar uiteindelik baie min daarvan oorbly wat ons eendag vir ons kinders en kleinkinders sal kan wys.
7. Bronne
Mense teen die Kus
Wêreldspektrum
Internet
Terug
na Ruilprojekte-blad
|