MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: Naomi
Reynecke (skoolgraad 7)
E-POS: sales@thespecialists.co.za
DATUM: 15/09/2005
Tot lof van Pretoria se unieke
wildevy...
Die
wonder van die Wonderboom
deur Naomi Reynecke
VIR
die inheemse Suid-Afrikaners van ouds was dit “heilige” grond en vir
die Voortrekkers ’n landmerk waar hulle gerus het voordat hulle verder
getrek het op hul epiese togte na die noorde.
Die eerste
mense van Europese herkoms wat hier uitgespan het, was in die trek van Hendrik
Potgieter. En die wonderlike boom wat die Voortrekkers juis na hierdie
plek aangetrek het, is deur
die trekkerleier Potgieter self die "Wonderboom" genoem.
Vandag heet
dit nog so: die Wonderboom, by Pretoria, aan die voet van die
Magaliesberg. Van heinde en ver kom
besoekers steeds om hulle te verwonder aan hierdie besonderse wildevy (Ficus
salicifolia), wat
die eeue oorleef het om in ’n unieke groeiformasie oor sy omgewing te
troon.
Interessant
genoeg het argeoloë hier die grootste enkele konsentrasie van
Steentydse artefakte in Suid-Afrika blootgelê -- 'n juweel van 'n vonds
-- maar die groot sieraad is
natuurlik die Wonderboom self.
Die
oorspronklike wildevy, wat glo meer as duisend jaar gelede hier wortel
geskiet het, het met die eeue saam in verskillende opeenvolgende stamme
ontwikkel wat konsentries om die hoofstam gerangskik is en die
reuse-boom omhoog hou. Die sentrale oer-stam het reeds lankal verdwyn,
maar sy nakomelinge vorm ’n stam wat 5,5 meter in deursnee is.
Takke waaier
vervolgens wyd rondom hierdie sentrale stam uit, waar hulle grond toe
gesak en party van die takke self wortels ontwikkel het om ’n
skouspelagtige kring van nuwe stamme te vorm.
Met verloop
van tyd het twee van die substamme ‘n derde generasie gevorm. Vandag
het die Wonderboom dertien duidelike stamme oor ‘n oppervlak van 1,5
ha en verskaf hul takke genoeg skaduwee vir meer as duisend mense.
Kenners
vertel dat hierdie fenomenale groeiwyse eintlik glad nie tipies van die
wildevyfamilie is nie. Die wildevy is ‘n geharde boomsoort wat
gewoonlik in oop boswêreld, klipperige berge en naby waterstrome en
riviere floreer. Die bas van die jong bome is glad met ’n blekerige grys kleur, terwyl die bas van die ouer bome ‘n skurwer
tekstuur het en donkerder is. Die blare is dik en leeragtig, en die
klein wit vruggies, slegs omtrent 5 mm in deursnee, verkleur tot ‘n
gelerige pienk wanneer hulle tussen Augustus en Mei ryp word.
Terwyl die
wildevy as soort selde hoër as 9 m groei, is die Wonderboom hoër as 23
m. Gepaard met die boom se merkwaardige hoogte, maak die manier waarop
die takke uitwaaier dit ‘n seldsame natuurlike wonderwerk. Gevolglik is
dit van die uiterste belang dat hierdie landmerk bewaar en teen menslike
plundering.beskerm moet word.
Die
Wonderboom was waarskynlik die veiligste in die tyd toe niemand buiten
die inheemse mense van die
streek van die wonderwerk se bestaan geweet het nie. Vanweë sy
uniekheid het hulle dit as heilig beskou en dus met rus gelaat om
ongestoord te kon groei.
Dieselfde
heilige ontsag bestaan vandag nie meer nie. Gelukkig is die Wonderboom
egter nou deel van ’n wildpark wat uit die aard van die saak sterk op
natuurbewaring ingestel is. Voorts word die boom ook tans beskerm teen
menslike verkeer om sy stam en wortels. En wildsbokke, apies, dassies en talle
verskillende soort voëls leef en skarrel in en om die boom, net soos
baie geslagte van diere sedert die tyd toe die San (Boesmans) nog so te
sê die alleenheerskappy in hierdie wêrelddeel gevoer het. .
In die park
is ook verskeie geskiedkundige nalatenskappe. En ook daaroor waak die
Wonderboom. Dit bly dus steeds die plig van ons huidige mensegeslag om
toe te sien dat die boom sover as moontlik ongeskonde vir ons nageslagte
bewaar sal bly. Dis immers geen wonder dat ons voorgeslagte die
Wonderboom so bewonder het nie!
Terug
na Ruilprojekte-blad
|