BYDRAE DEUR: MARIAN VAN DER WESTHUIZEN

E-POS: mailto:mvdwest@absamail.co.za

DATUM: 06/09/2004

 

 

TITEL: KAMOEFLERING IN DIE NATUUR (920 woorde)

 

Inhoudsopgawe:

1. Inleiding

2. Kamoeflering deur die kleur van die omgewing aan te neem.

3. Kamoeflering deur misleidende merke of strepe.

4. Kamoeflering deur immobiliteit.

5. Kamoeflering deur kleurverandering.

6. ‘n Uniforme kleur is nie onsigbaar nie.

7. Die voorspelbare vorm word vernietig.

8. Bronnelys.

 

1. Inleiding:

 

“Eet of word geëet”, is die leuse van die natuur. En vir oorlewing is dít die grootste krisis: beide vir die jagter wat ongesiens sy prooi wil vang, sowel as vir die prooi wat moet ontsnap aan die jagter se kloue. En die groot antwoord daarop, is natuurlik kamoeflering!

 

Maar wat is kamoeflering? Volgens die Verklarende Handwoordeboek van Afrikaans, beteken kamoeflering om “onsigbaar” of “onopvallend” te maak. Dit behels ook “’n valse skyn gee aan iets” of “vermom”. En in die natuur kry ons verskeie metodes om hierdie pogings byna te vervolmaak!

 

2. Kamoeflering deur die kleur van die omgewing aan te neem:

Die algemeenste vorm van kamoeflering is só algemeen dat ons dit byna

as vanselfsprekend sien, naamlik om die kleur van die omgewing aan te

neem. Onbewustelik assosieer ons al ‘n wit ysbeer met sneeu en ‘n groen

padda met plante. Want selfs ‘n klein verskilletjie in die skakering in die

kleur van dier en omgewing, kan ‘n dier weggee en weerloos maak

teenoor sy vyand.

 

 

Boompadda

Selfs die kleur van diere van dieselfde familie

is dikwels uiteenlopend, want elkeen

moet by sy eie omgewing aanpas. ‘n Goeie

voorbeeld is die pels van die jakkals of vos:

die steppe-vos van Sentraal Asië (links bo),

die woestynvos van Noord-Afrika (regs bo)

en die arktiese vos (regs onder).

 

 

3. Kamoeflering deur misleidende merke of strepe:

 

Dikwels staan ‘n dier soos ‘n tier uit in ‘n sirkus of dieretuin met sy

aanskoulike kleure en strepe of kolle. Maar vra maar vir enige grootwild-

jagter en hy sal vir jou kan vertel presies hoe moeilik dit is om dieselfde

dier in sy natuurlike agtergrond en omgewing raak te sien en hoe hy

volkome met sy agtergrond kan saamsmelt. Diere soos sebras en tiere se

kamoeflering is natuurlik op hulle effektiefste wanneer die lig ook

saamspeel, soos met sonsopkoms of –ondergang. Tydens helder sonskyn

sal diere soos sebras dikwels oop en bloot in ‘n vlakte staan, want dan is

hulle op hulle sigbaarste. Maar dan sal die vyand vanselfsprekend ook op

sy sigbaarste wees.

 

 

Sebra

 

4. Kamoeflering deur immobiliteit:

Om stil te staan is natuurlik die heel beste kamoeflering vir enige dier, want die oomblik as beweging plaasvind, sal feitlik enige dier sigbaar word. Maar diere wat gereeld gejag word, sal dikwels instinktief bewegingloos bly staan in gevaartye en kan selfs vir ure in daardie posisie bly indien nodig. Dikwels wanneer die prooi wel raakgesien word sal hy stadig of met rukbewegings (soos bewegende gras) probeer wegsluip.

Die jagter op sy beurt sal weer nader sluip of bekruip om sodoende die beweging so stadig uit te voer dat dit amper nie waargeneem kan word nie en dan op die laaste oomblik bestorm om met spoed sy prooi te vang. Die jagter sal ook op ‘n plek wegkruip en doodstil wag totdat die prooi niksvermoedend reg op hom afloop.

 

 

Waterskerpioen

 

 

 

5. Kamoeflering deur kleurverandering.

 

Vinnige kleurveranderings om by die omgewing aan te pas is natuurlik

ook een van die bekendste kamoefleermetodes, met die verkleurmanne-

tjies as ons meer algemene voorbeeld. Hulle kan die kleur van dooie hout

aanneem of die groen van groeiende blare, en daarby kan hulle ook

posisies inneem wat in lyn is met hulle agtergrond.

 

 

Verkleurmannetjie

 

 

 

Sommige diere gaan selfs so ver as om ‘n deursigtige liggaam te

vertoon waar slegs die oë en sekere organe sigbaar is en die agtergrond

dus sigbaar is deur die liggaam. ‘n Voorbeeld hiervan is die glaskatvis,

wat byna heeltemal onsigbaar is as hy stil in die water hang.

 

6. ‘n Uniforme kleur is nie onsigbaar nie:

 

‘n Uniforme kleur sal homself verraai deur die skaduwees wat gevorm

word deur die voorwerp se vorm, aangesien die onderste dele donkerder

voorkom as die boonste dele. Die natuur het hiervoor gekompenseer deur

die donkerder kleure bo-op die dier te versprei, terwyl ligter kleure op die

sye en die heel ligste kleure op die maag voorkom waar die meeste

donker skaduwees is. Die resultaat is ‘n balans vir die natuurlike

skaduwees wat voorkom om die sigbaarheid uit te kanselleer. ‘n Goeie

voorbeeld hiervan is die rooijakkals. Hierdie verskynsel kom baie

algemeen voor by die meeste diere en kan veral by bokke gesien word en

ook by diere wat alreeds kolle of strepe het.

 

 

Rooijakkals

 

 

7. Die voorspelbare vorm moet vernietig word:

 

Die bekende en voorspelbare vorm van diere moet gebreek word om te

voorkom dat hulle maklik herken en raakgesien gaan word. Enige

ontwerp wat dus verwarring kan veroorsaak of misleidend kan wees, kan

bydra tot oorlewing van ‘n dier, deur die waarnemer te bedrieg. Dit word

gedoen deur die kleurvoorkoms, sowl as die vorm van die dier te ver-

ander. ’n Voorbeeld hiervan is die peacock butterfly wat groot oogkolle

op sy vlerke het wat verwarring met ‘n groter dier, soos ‘n uil kan veroorsaak.

 

Peacock butterfly

 

 

Die denne-valkmot het weer ‘n vorm wat sterk ooreenstem met die takke

van die boom waarop dit word.

 

Die armadillo rol homself in ‘n bal op om roofdiere te verwar.

 

Die buidelrot speel “dood” wanneer hy bedreig word.

 

 

8. Bronnelys:

- Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal - Odendal,

Schoonees, e. a.

- Huisgenoot, 13 April 1989.

- Huisgenoot, 8 Junie 1989.

- Animal Traits – Fischer and Crow

- Encarta 2003

- Internet

 

Terug na Ruilprojekte-blad