* Ster-bydrae
BYDRAE DEUR: JACO LOUW
E-POS: mailto:altal@faurefaure.co.za
DATUM: 10/09/2004
TITEL:
WATERBESOEDELING EN WAT EK DAARAAN
KAN DOEN (2207 woorde)
1. OORSAKE VAN BESOEDELING
Waterbesoedeling in digbevolkte gebiede kan deur baie dinge veroorsaak
word. Ons moet uitvind wat waterbesoedelingsprobleme veroorsaak, sodat die
daardie probleme opgelos kan word. Die oorsake van hierdie probleme kan
maatskaplik (mense se gedrag) of fisies (dinge wat ons kan sien) of
institusioneel (wat die plaaslike owerheid doen) wees. Die meeste besoedeling
word deur al drie hierdie probleme saam veroorsaak. Die meeste
besoedelingsprobleme word die maklikste opgelos wanneer die gemeenskap en die
plaaslike owerheid saamstem oor presies wat die oorsake is.
1.1 Fisiese probleme :
• Stukkende
vragmotor • Stukkende pype • Stukkende riolering • Geen dienste
Dit is die dinge wat ons normaalweg kan sien, soos wanneer daar nie
vullisblikke of toilette is nie, of wanneer dit nie goed werk nie, of wanneer die fasiliteite vir die verwydering
van vullis stukkend is. Hierdie fasiliteite is dinge soos stormwaterpype,
rioolpype of vullisvragmotors. Fisiese probleme hou dikwels met maatskaplike en
institusionele probleme verband, byvoorbeeld wanneer die plaaslike owerheid nie
sy vragmotors kan herstel nie of wanneer die vullisverwyderingsdienste deur
sommige mense beskadig word (vandalisme).
1.2 Institusionele
probleme :
• Geen geld • Slegte
instandhouding • Slegte kommunikasie
Dis probleme wat deur die plaaslike owerheid veroorsaak word. Plaaslike
owerhede is daarvoor verantwoordelik om water en sanitasiedienste aan
gemeenskappe te verskaf, maar hulle is dikwels nie in staat om dienste aan ons
te lewer nie of om dit behoorlik in stand te hou nie. Gevolglik ontstaan daar
institusionele probleme as die plaaslike owerheid nie genoeg geld het om vullis
so dikwels te verwyder as wat nodig is nie, of om genoeg swart sakke te gee om
ons vullis in te plaas nie, of wanneer hy nie personeel het om dienste te
installeer nie of as hy nie weet watter dienste ons nodig het nie.
1.3 Sosiale en Maatskaplike
probleme :
• Bewustheid •
Opvoeding • Houding • Oningeligtheid
Maatskaplike probleme is probleme wat uit ons optrede voortspruit. Water
en toiletfasiliteite kan misbruik word as gevolg van 'n gebrek aan bewustheid
en opvoeding. Baie mense weet nie dat die misbruik van fasiliteite
gesondheidsprobleme kan veroorsaak en ons langtermynoorlewing kan bedreig nie,
en andere reken dit is die regering se taak om ons omgewing skoon te hou.
Werkloosheid en armoede kan beteken dat die beskerming van ons waterhulpbronne
vir ons minder belangrik is as ons dag-tot-dag-oorlewing.
2. WATERBESOEDELING EN DIE
INVLOED OP DIE OMGEWING
Ons het almal water nodig om te lewe. Ons het water nodig om te drink,
kos te maak en wasgoed te was, vir sanitasie, om groente te kweek en om vee aan
te hou. Water is nodig vir die myne,
die nywerhede en die landbou, sodat hulle kan groei en meer werkgeleenthede kan
skep. Maar ons het nie net water nodig
nie, ons het skoon water nodig. Vuil, besoedelde water benadeel ons omgewing,
maak ons siek, verhinder dat kinders behoorlik groei en vergiftig groente en
lewende hawe. Vuil water moet ook nog ten duurste gesuiwer word voordat ons dit
kan gebruik. Afval wat hoër op in die water beland, vloei stroomaf en mense
verder af word benadeel, dus moet daar stroomop, waar die probleme begin, al
begin word om iets daaraan te doen.
Ons land het 'n beperkte hoeveelheid water, dis duur om vuil water te
suiwer, daarom moet ons almal dit versigtig gebruik. Ons het die reg om in 'n gesonde omgewing te lewe maar ons het 'n
plig om ons waterhulpbronne - ons riviere, damme en boorgate - skoon te hou.
Die Regering en die plaaslike owerhede is daarvoor verantwoordelik om seker te
maak dat ons basiese toegang tot water het, maar ons almal is daarvoor
verantwoordelik om seker te maak dat ons help om daardie water skoon te
hou. Oral kom daar egter al hoe meer
besoedeling en benadeling van ons waterhulpbronne voor. Baie besoedeling word
veroorsaak deur afval wat ons in ons daaglikse lewens produseer en in die water
laat beland. Waar sanitasie- en vullisverwyderingsdienste nie behoorlik
funksioneer nie of nie behoorlik gebruik word nie, kan die afval in nabygeleë
riviere en strome beland, wat dan besoedel word.
Riviere wat net in geringe mate besoedel word, kan hulself skoon maak.
Dit bly egter besoedel wanneer daar te veel afval daarin is want dan kan die
rivier homself nie op natuurlike wyse skoonmaak nie. Die water stroomaf verskaf
dan besoedelde water aan verdere gebruikers, so die verder aan en verder aan al
langs die rivier af. Wanneer dit
gebeur, ondervind alle mense later gesondheidsprobleme en kan hulle selfs
daarvan doodgaan. Dit raak veral kinders en bejaardes. Die meeste algemene
siektes, soos maagprobleme, diarree, cholera, buiktifus en vel- en oogsiektes,
is die gevolg van besoedelde water en swak sanitasie. In belang van ons almal,
in belang van die gesondheid van ons gemeenskappe en ons omgewing, moet
Suid-Afrika se water beskerm word. Daar
is vernaamlik vier tipes afval - vaste afval, afvalwater, stormwater
en rioolvuil. Enige van hierdie afval kan waterbesoedeling
veroorsaak, maar wanneer dit gekombineer word (soos wat dikwels in ons
nedersettings gebeur), vorm hulle 'n baie groter risiko vir waterhulpbronne en
vir gemeenskappe se gesondheid en welsyn.
Vaste afval: Dit is afval soos vullis en ou voedsel wat in die
straat gegooi word, of huishoudelike vullis wat in die straat of rivier gegooi
word. Vaste afval lok vlieë, wat siektes veroorsaak, maar verstop ook riviere
sodat hulle nie hulself kan skoonmaak nie.
Rioolvuil: Dit kom van lekkende toilette of putlatrines, of van stukkende of
verstopte rioolpype. Dit bevat ook bakterieë wat ons kan siek maak, en dit kan
ook chemikalieë bevat wat dit duur maak om die water te behandel.
Afvalwater: Dit is vuil waswater wat in die rivier of straat weggegooi word en dan
wegspoel tot in nabygeleë strome wanneer dit reën. Vuil waswater bevat
bakterieë, of klein organismes wat 'n mens kan siek maak, en chemikalieë wat
dit duurder maak om die water te suiwer sodat dit gedrink kan word.
Stormwater: Stormwater is reënwater wat grond, vullis en ander afvalmateriaal tot
in riviere en strome spoel. Ons sien hierdie probleem dikwels in landelike
gebiede waar vlak putlatrines oorloop tydens swaar reën.
Klein lewende organismes soos kieme in rioolvuil en chemikalieë in
waswater kan in enige van hierdie tipes besoedeling voorkom. Hoewel ons dit nie
kan sien nie, kan dit mense en diere baie siek maak en groente en selfs die
grond waarin dit gekweek word, vergiftig.
Wat is waterbesoedeling dus?
Water word besoedel wanneer die afval wat ons in ons daaglikse lewens
produseer, in die water beland. Dit kan veroorsaak dat die water minder geskik
is vir die doeleindes waarvoor ons dit gewoonlik gebruik, of skadelik of
potensieël skadelik is vir ons welsyn, gesondheid of veiligheid en skadelik of
potensieël skadelik is vir die diere en plante wat daarvan afhanklik is.
3. VOORKOMINGSMAATREëLS VIR
DIE BESOEDELINGSPROBLEEM
Om die besoedelingsprobleem op te los, moet ons na die oorsake gaan soek
en vra WAAROM? Bv. as swart vullissakke nie verwyder word nie, vra "Waarom
verwyder die plaaslike owerheid nie ons vullis nie?" As 'n putlatrine lek,
vra "Waarom word hierdie dinge nie reggestel nie?" As mense vuil
waswater in die rivier gooi, vra "Waarom doen hulle dit?" Dit sal dikwels gebeur dat ons baie kere
WAAROM? sal moet vra om by die oorsaak van die probleem uit te kom. Bv. as die
kinders aan diarree ly, vra ons WAAROM? Omdat die water besoedel is, maar
WAAROM? Omdat rioolvuil daarin beland, maar WAAROM? Omdat die toilette verstop
is, maar WAAROM? Omdat mense vullis daarin gooi.
'n Besoedelingsbewuste gemeenskap help sy plaaslike owerheid deur vir
hom te sê wat sy behoeftes is en deur hom in te lig wanneer daar probleme is.
Deur dit te doen, word daar nie geld gemors nie. En die plaaslike owerheid word ook bevoordeel wanneer minder
besoedeling in die water beland, omdat hy minder hoef te bestee aan
watersuiwering by munisipale waterbehandelingsaanlegte. Hierdie geld kan
gebruik word om dienste vir die gemeenskap te verbeter. Op dié manier kan ons
begin om die oorsake van die besoedelingsprobleem te bepaal, en dan kan ons
begin om dit op te los. Dit is iets wat
ons as individue kan doen, maar ook gesamentlik - probleme wat die hele
gemeenskap raak, kan die maklikste gesamentlik opgelos word.
Net deur saam te werk, deur met mekaar te praat, kan ons oplossings skep
wat in die praktyk en oor die lang termyn sal werk, en wat 'n duidelike
verbetering in ons lewensomgewing teweeg sal bring. Die beste manier om werklik
'n verskil te maak, is om die ondersteuning van die plaaslike owerheid en die
nasionale regering (Dept. Waterwese en Bosbou) te kry in ons pogings om ons
omgewing skoon te hou. As ons nie saamwerk nie, sal waterbesoedeling al hoe
erger word en sal groter getalle mense daaronder ly. Suid-Afrika se bevolking groei by die dag, en die behoefte om
dienste aan al hierdie mense te verskaf, is al so groot dat die regering dit
nie alleen kan hanteer nie. Dept. Waterwese en Bosbou moet elkeen se insette en
bystand kry as ons 'n toekoms van volgehoue groei en ontwikkeling wil hê en as
ons mense gesond moet wees. Dit is maklik om water as vanselfsprekend te
aanvaar, maar ons woon in 'n land met betreklik min water, en daardie water
moet beskerm word.
Ons weet nou daar is vier tipes besoedeling. Ons kan die werklike oorsake van elke tipe vasstel deur te vra Waarom? Waarom? Waarom? Ons kan help om besoedeling te bekamp deur die probleem op te los. Omdat water een van ons basiese behoeftes is, word nedersettings gewoonlik naby waterlope gevestig. Dit beteken dat ons rivier nie net aan ons behoort nie - ons deel daardie water met elkeen wat stroomaf van ons woon. As ons ons water besoedel, besoedel ons water ook vir andere, net soos ons geraak word deur besoedeling wat stroomop van ons gebeur. Dienste moet behoorlik verskaf word en mense moet behoorlik opgevoed word! Baie mense dink die regering en nie hulle nie, is verantwoordelik vir die bekamping van waterbesoedeling. Ons land se bevolking groei egter vinnig, en die plaaslike owerhede se fondse is baie beperk en moet 'n wye verskeidenheid dienste dek. Die gevolg is dat plaaslike owerhede sukkel om doeltreffende dienste te lewer aan almal wat dit nodig het. As ons nie geld hoef te bestee om afval te verwyder nie, kan ons daardie geld aan ander dinge bestee, soos beter behuising. Plaaslike owerhede moet begrip toon vir elke nedersetting se unieke behoeftes en dienste, soos hoeveel plastieksakke om te verskaf en hoe dikwels vullis verwyder moet word. Dept. Waterwese en Bosbou se taak is om die nasie se waterhulpbronne te beskerm. Hoe meer ons die probleem in ons gemeenskappe kan hanteer, hoe makliker is dit dus vir Dept. Waterwese en Bosbou om seker te maak dat daar altyd water vir almal sal wees. Die Dept. van Gesondheid word ook bevoordeel, omdat daar minder mense siek word van besoedelde water en daar dus meer geld beskikbaar sal wees om gesondheidsdienste vir ons almal te verbeter.
4. HOE OM 'N OPLOSSING TE
KRY & MY BYDRAE VIR VERMINDERING/BEKAMPING VAN BESOEDELING
Jy dink miskien: "Ek is net een persoon, wat kan ek tog doen?"
Maar alle vooruitgang begin by een persoon wat besluit het dat iets gedoen moet
word. Hier is 'n paar dinge wat gedoen
kan doen:
·
Ek moet self besoedelingsbewus wees en 'n voorbeeld stel vir
andere. Ek moet altyd versigtig wees
waar ek vaste afval weggooi, en seker maak dat dit in swart plastieksakke is,
en ek moet vuil waswater ens. op grasperke of tuine gooi (maar nie groentetuine
nie, wat besoedel kan word), of in behoorlike wegdoenfasiliteite. Gesels met die bure oor die probleme wat
besoedeling veroorsaak en hoe ons die oorsake kan vasstel en oplossings te
vind. Ek kan met my bure gesels wanneer ek probleme het oor waar om afval weg
te gooi, om te kyk watter idees hulle het. Ek sien bv. hoe motorolie in die
stormwatersloot gegooi word – stap oor na die persoon en vra
"WAAROM". Dis mos besoedeling!
·
Ek moet probeer om die oorsaak van besoedelingsprobleme vas te stel deur
te vra "Waarom?" elke keer wanneer ek vullis, lekkende krane, stukkende
pype en dies meer sien.
· Kyk deeglik na my omgewing asook na die plaaslike nedersettings en dink watter veranderinge (en party kan heel eenvoudig wees) sal help om besoedeling te bekamp. Groot veranderings is al teweeg gebring omdat een persoon op 'n ander manier as ander mense na dinge gekyk het. Elkeen se idees is waardevol.
· Vra Dept. Waterwese en Bosbou se streekkantoor om te help om goedkoop maniere om hierdie probleme die hoof te bied, te identifiseer en dink wat nodig is wat die beste sal werk en vra dit. Miskien is dit die name van die mense wat ons gemeenskap 'n prioriteit sal maak, of 'n telefoon nommer vir klagtes.
·
Betaal vir die dienste wat jy kry, buite en behalwe die basiese
dienste. Maar dring daarop aan dat dit
goed in stand gehou word in ruil vir betaling.
·
Ek moenie vullis strooi nie. Onthou dat vullishantering geld kos wat vir
ander dinge gebruik kon word, soos om huise te bou.
·
Gesels met Dept. van Waterwese en Bosbou en die plaaslike owerheid oor
wat hulle kan doen om te help.