MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE
DEUR: SARIE V/D WESTHUIZEN
SKOOLGRAAD: 11
E-POS:
pietavdw@telkomsa.net
DATUM: 27/09/2004

TITEL: KORTVERHAAL/PROSA

Eensaamheid

Deur Sarie vd Westhuizen

DIE oggendson skyn helder en vrolik deur die tralies van Riaan Erlank se tronksel, terwyl hy verlangend na buite staar. Ja, dink hy, vier jaar gelede dié tyd was hy nog so vry soos ‘n voëltjie, en hy sou nog steeds gewees het, as dit nie vir sy pa was nie ...

Vier jaar gelede is daar by ‘n juwelierswinkel in Pretoria ingebreek en Riaan se rewolwer en hoed is op die toneel gevind. Vir ‘n verdagte het die polisie ook nie nodig gehad om ver te soek nie, want aangesien Riaan baie gereis het, was sy naam en adres in die binnekant van die hoed in groot, netjiese letters geskryf .Hoe sy maats sy rewolwer en hoed in die hande gekry het sonder sy medewete, bly vir hom ‘n onopgeloste raaisel .

Vandag word hy uit die tronk ontslaan, maar nogtans is hy nie eintlik opgewonde nie, want waar hy hier staan, weet hy nie eens of hy vanaand ‘n bed gaan hê om op te slaap nie; hy weet nie eens of sy pa en sy twee jonger broers, Steff en André, nog lewe nie . Sy pa se laaste woorde aan hom kan hy nog só goed onthou : “Nou ja , ou seun, jy het nou reeds ons goeie naam diep deur die modder gesleep en daarom sal ek verkies dat jy nie meer my seun genoem word nie .”

As sy ma nog gelewe het, kon sy miskien vir die hardkoppige Kobus Erlank iets in die kop gepraat het en dan was dit nie vir hom nodig om vier jaar van sy lewe, in eensaamheid, in ‘n koue sel deur te bring nie. Selfs toe Riaan op sy knieë voor sy pa gestaan en hom gesmeek het om die R5000 vir sy borgtog te betaal sodat hy sy onskuld kon bewys, het sy pa geweier .Dit was nie asof hy dit nie kon bekostig nie; inteendeel, hy is die rykste man in Hillbrow en bly ook in die grootste en mooiste huis . Maar hy het blykbaar gevoel dat dit sy waardigheid sou aantas.

Die knars van ‘n sleutel in die deur onderbreek sy malende gedagtes. Toe hy omkyk, staan die wag agter hom en beduie vir hom dat hy agter hom moet aankom. Met ‘n sug stap Riaan agter die wag aan, wetende wat vir hom wag ...

Toe hy die deur agter hom hoor toeklap, besef hy eers dat daar nou vir hom ‘n nuwe begin voorlê. Alles gaan nou anders wees as die vorige vier jaar, behalwe één ding :Die eensaamheid van die afgelope vier jaar gaan nog steeds daar wees ... miskien nog eensamer as voorheen.

Toe hy hom weer kon kry, staan hy voor die weelderige huis van die Erlanks, maar besef dadelik dat hy maar sal moet omdraai, want hier is hy nie meer welkom nie. As dit net nie vir sy pa was nie ...

Terug na Ruilprojekte-blad