MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE
DEUR: DANIE VAN DER VYVER
SKOOLGRAAD: 7
E-POS:
nvandervyver@saexpress.co.za
DATUM: 11/10/2004

PROJEKTITEL:
N OORSESE TOER: AMERIKA –  ORLANDO – 4 PERSONE – 27 MAART TOT 5 APRIL 2004 (Kammakastig)

EK het besluit, terwyl ek nog ’n kind is, om Orlando in Amerika te besoek. Hoekom? Disney World en Universal Studio’s om maar twee te noem. Enige oorsese reis gaan vir ’n gesin baie geld kos, maar Amerika is regtig ’n duur bestemming. Sedert die terroristeaanval op 11 September 2001 is dit ook baie moeiliker om sommer daarheen te kan gaan. Ons begin lank voor die tyd reëlings tref, want daar is baie dinge wat gedoen moet word. 

PASPOORT & VISUMS:

Die eerste ding om te doen, is om te sorg dat ons paspoorte in orde is. Daarvoor gaan ons na Binnelandse Sake. Daarna moet ons aansoek doen vir visums om Amerika te kan besoek. Ons doen daarvoor aansoek in Johannesburg by die Amerikaanse ambassade in Riverstraat. Ons moet daarheen gaan vir ’n onderhoud en sodra dit goedgekeur is, kos die visums ons R1077.00 per persoon. 

REISAGENTSKAP:

Daarna besoek ons die reisagentskap van ons keuse. Ons het besluit om Connex Travel in Bloemfontein te gebruik. Dit is baie makliker om ’n reisagentskap te gebruik, want hulle het spesiale toerpakette wat jou baie goedkoper uitwerk as wanneer jy alles een-een 
probeer reël en hulle doen alles vir jou. 

VLUG, HOTEL EN MOTORBESPREKINGS:

Ons het besluit om na Amerika te reis vir ’n week.
Die reisagentskap het ons só bespreek:
Ons vertrek vanaf Johannesburg op die 27ste Maart 2004 en kom terug op die 5de April 2004.
Ons vlugrooster lyk só:
Vertrek 27 Maart in Johannesburg en kom aan in Atlanta op 28 Maart met vlugnommer SA209. 
Vertrek in Atlanta op 5 April en kom aan in Johannesburg op 6 April met vlugnommer SA212.
Ons maak gebruik van ’n pakket: 
“ORLANDO RESORT FUN AIR PACKAGE”.
Dit sluit in: 
• Retoervlugte na Atlanta
• 7 nagte hotelverblyf in ’n “Disney’s All Star”-hotel van ons keuse
• Ontbyt en aandete
• Vervoer van en na die lughawe in Orlando na en van jou hotel
• Onbeperkte toegang tot die “WALT DISNEY WORLD”-temaparke.

Dit alles kos ons R13 589,00 per persoon, belasting ingesluit. 

Ons moet egter reis vanaf Atlanta tot in Orlando en dit is nie by die pakket ingesluit nie. Die vlugte waarop ons bespreek is, is die volgende:
Vertrek vanaf Atlanta op die 28ste Maart met Delta Airlines, vlugnommer DL63 enkom terug vanaf Orlando op die 5de April met vlugnommer DL622.
Dit kos ons R620,00 per persoon, belasting ingesluit.

Vanaf die lughawe in Orlando, ry jy met die hotel se bussie na en van die hotel. Dit is ’n gratis diens wat die hotel verskaf. As jy in Orlando self wil rondry om plekke te besoek, bespreek jy die bussie en dan neem die bussie jou gratis waar jy ook al wil gaan en tel jou weer op wanneer jy dit wil hę, gevolglik is dit nie vir ons nodig om ’n kar te huur nie. Al die plekke wat ons gaan besoek, is ook binne loopafstand van die hotel. Die hotel waarin ons gaan bly, is ook in die middel van die “WALT DISNEY WORLD”-temapark geleë. 
As ons sou besluit om ’n kar te huur, kan ons ’n Opel Corsa-4deur-kar kry teen R1520,00 vir ’n week of R320,00 vir ’n dag. Onthou net om aan die regterkant van die pad te ry en vra liewers vir ’n outomatiese kar, anders maak jy heeltyd die linkerkantste venster oop in plaas van om die ratte te verander!

BESIENSWAARDIGHEDE:

Daar aangekom, wil ons graag “Universal studios”, “Seaworld”, “Universal’s Island of Adventure”, “Wet & Wild” en “Bush Gardens” besoek. Daarvoor het ons ’n 5dag-Orlando Flexkaartjie nodig wat ons R1500,00 per persoon gaan kos. Dit is goedkoper om só ’n kaartjie te koop as om elke dag by elke park te betaal. Die kaartjie bied jou toegang tot al die besienswaardighede en alle pretparkritte vir 5 dae. Dit sluit ook vervoer tussen die parke in.

Universal studios: Maak jou reg vir bomskok. Jy kan in die middel van ’n aardbewing of tornado wees, jy gaan op ’n ET-rit hoog bo die aarde, jy kan jou binne-in ’n 4D “SHREK”-fliek bevind wat so werklik voel dat jy die draak se vog op jou vel kan voel, of spinnekoppe kan van die skerms af in jou rigting hardloop dat dit voel of hulle bo-oor jou hardloop. Jy kan kyk na ’n 3D “Terminater show”, ’n angswekkende “Jurassic Park”-rit en -“show”. Daar is ook 2 angswekkende “roller coasters” genaamd “Hulk” en “Fire & Ice” waarop jy soos ’n vark skreeu van goeie ou vrees. Daar is ook ’n “Spiderman”-rit wat ’n groot gunsteling onder besoekers is. Die vermenging van 3D, strokiesprentkarakters en die gedagte dat jy in die middel van hul węreld is, is blykbaar onbeskryflik. Dit kan ure lank voortduur en smokkel só met jou kop dat jy later nie weet wat werklik is en wat nie.

Seaworld: Jy kan gaan kyk na die “Shamu’s” (moordwalvisse). Hulle is so kragtig dat hulle met die klap van hul sterte die eerste 14 rye van die arena natspat. Jy kan selfs saam met hulle swem. Die seeleeus verower jou hart met ’n hele seerowerdrama wat hulle uitspeel. Daar is ’n “roller coaster” met die naam “Raken”. Jy skreeu blykbaar so op dié dat hulle jou in die volgende dimensie kan hoor. 

Wet & Wild: Ure se pret op pretritte deur en op die water.

Busch Gardens: Pretritte op enige ding waaraan jy kan dink.

Universal’s Islands of Adventure: Hoëspoed-waterritte deur ’n eiland-sprokiesland wat soos “Jurassic Park” lyk om maar een te noem.

Dan is daar nog “Disneyworld” wat jy gratis kan besoek omdat dit by jou pakket ingesluit is. Daar kan jy betower word deur ’n lewendige “Indiana Jones show” met waaghalse en al. Jy 
kan 13 verdiepings in ’n hyser val en gaan kyk na allerhande “shows” en ritte.

WAT EET ONS:

Daar is ’n ontbyt en aandete by jou hotelpaket ingesluit en al waaroor jy jou dus moet bekommer, is middagete. As jy ’n lekker groot ontbyt eet, sal dit nie nodig wees om so baie deur die dag te eet nie, veral nie as jy op al die ritte wil wees nie. Jy wil beslis nie naar word nie. Daar is kosstalletjies regdeur al die pretparke wat jy besoek, en jy kan sommer so loop en ry en sit en eet. As jy krag oorhet, kan jy ’n lekker aandete by die hotel gaan eet.

EK KAN NIE WAG NIE!!!!! KOM GOU, 27 MAART 2004!!!!! ORLANDO, HIER KOM ONS!!!!

BRONNE:
• Connex Travel – Bloemfontein – Tel.: 051 – 4367883 – Claudine van den Berg.
• Pierre van Pletzen by www.7delaan.co.za
• Travel Vision’s 2003/2004
• Nita van der Vyver 

Terug na Ruilprojekte-blad