MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE
DEUR: DANIE VAN DER VYVER
SKOOLGRAAD: 7
E-POS:
nvandervyver@saexpress.co.za
DATUM: 11/10/2004

PROJEKTITEL:
HOE VOORSPEL VERSKILLENDE KULTURE DIE WEER?

DIE Khoikhoi en die San is twe kulture wat baie na aan mekaar is. Hulle is só na hulle aan mekaar dat mense begin het om hulle name saam te voeg en vandag praat hulle sommer van die Khoisan. Maar eintlik was die Khoikhoi die veeboere en die San was die jagters. Dog wat hulle ook al genoem word, die feit is dat hulle kinders van die natuur is. Omdat hulle so na aan die natuur lewe, moes hulle ook uit die natuur leer oor die weer en hulle eie afleidings maak van wat hulle ondervind het.

Die San:

DIE San het hulle godheid aangevoel in die natuur, as ’n allesomvattende teenwoordigheid wat die velde, berge en lug oorspan het.

Hoewel die son, maan en sterre ’n belangrike rol in die verhale en mitologie van die San gespeel het, is die hemelliggame nie as gode beskou en aanbid nie. Baie van hulle gelowe het onafskeidbaar verband gehou met hul voortdurende bestaanstryd tussen die duine. 

Hoe dors ’n jagter ook al was, sou hy nie in ’n opgedroogde rivierbedding na water grawe voordat hy nie eers ’n klein offertjie gebring het om die gees van die stroom te paai nie.

In hul natuurgebondenheid het die San ook verduidelikings probeer vind vir natuurverskynsels wat hulle met hul beperkte kennis nie kon verklaar nie. Hulle het byvoorbeeld geglo dat die wind eers ’n gewone mens was op wie daar eendag vere begin groei het. Kort voor lank vlieg hy toe ook soos ’n voël.

Die San het blykbaar ook aan ’n hiernamaals geglo. ’n Gestorwene is saam met sy persoonlike besittings waaraan hy baie geheg was, in ’n vlak graf begrawe. Die lyk moes in ’n slapende houding begrawe word, met die knieë onder die ken opgetrek en die gesig na die ooste – in die rigting van die opkomende son. Dit was belangrik, want as die gesig wes sou wys, sou die son die volgende oggend later opkom.

Die Khoikhoi:

BAIE geslagte gelede, het die Khoikhoi geglo, was daar ’n toordokter met die naam U-tixo. Hy het baie keer oorlog gemaak teen ’n bose kaptein met die naam Gaunab en hom elke keer gewen, maar eendag, nadat U-tixo vir Gaunab gewen het, het Gaunab in sy sterwensoomblik ’n laaste hou na U-tixo se knie geslaan. Van toe af was U-tixo, Tsui-Goub genoem. wat gewonde knie beteken. Rondom Tsui-Goub het die Khoikhoi se begrip van ’n skeppende godheid ontwikkel. Hulle het geglo dat hy uit die ooste gekom het, in die geesteswêreld die wolke maak en die reën laat uitsak. Die pragtige hemel waarin hy hom bevind, is vol lig en sonskyn. 

Die Boere en ou mense:

DIE slange seil in die dorpsgebiede op soek na meer kos en skadu, flaminke word in Soetdoring-natuurreservaat gesien, en ander geveerdes trek groep-groep rond op soek na kos – alles Moeder Natuur se droogtesimptome en swak reënvooruitsigte, só vertel die 
boere.

Woestyn-bokke wat al weke voor die reën agter wolke se dreuning en water se reuk aan trek, is maar een bewys van diere se fyn “radar”-stelsels. Reën kom ook elke nege uit tien jaar binne ’n week nadat die springbokke begin lam het. Só sê dr. Richard Liversigde, ’n dierekundige van Kimberley.

Volgens statistieke wat hy oor jare versamel het, het dit in 82% van die gevalle binne ’n week ná die eerste springboklammers in die lente en herfs gereën. Teen Junie kyk hy na die springbokooie se dragtigheid om te voorspel wanneer dit teen Oktober gaan reën.

Voëlgedrag is ook ’n goeie aanduiding van droogte of water oorvloed. Voëls swerf in groepe as daar droogte is omdat dit dan makliker is om kos op te spoor as wanneer hulle in pare vlieg. Watervoëls trek die wêreld vol op soek na water, en sal in droogtetye in groter swerms as gewoonlik te sien wees in damme wat nog water het. Tekens van reën wat kom, is die roep van die vleiloerie of die nuwejaarskoek.

Die ou mense het ook geglo dat as die korhane baie roep dan reën dit. As die bloukransvoël baie hoog vlieg en aanhoudend skreeu, reën dit. As die swaeltjies baie rondvlieg, wys dit ook op reën.

Verder is daar geglo dat as die noordewind drie dae lank aanmekaar waai, reën dit. As miere baie bedrywig is, reën dit. As kalfies uitbundig rondspring, dui dit op reën. As daar baie mis in die laagtes van plase hang, is reën op pad. Daar is ook geglo dat as jy groot vure maak wat baie rook, dan hael dit nie.

As die koue suidewind sterk waai, skielik stil word en dan skielik warm word, is daar sneeu op pad. As dit lente is en die bome maak bloeisels, is daar geglo dat as jy groot vure maak van groen blare wat baie rook, en dit ryp, sal die vruggies nie doodgaan nie.

Nog ander interessante inligting van verskillende kulture oor die weer:

•  Die mense van Mauritius kyk hoe die son ondergaan om te weet hoe die volgende dag gaan wees.
Pienk – Koud
Geel – Mooi weer
Geen wolke – Wind waai
Hulle kan reeds twee weke voor die tyd sê hoe groot die branders gaan wees. As daar die vorige dag geen wolke is nie, waai die wind die volgende dag, en dan is daar die volgende dag ’n groot rowwe see met branders van by die tien meter. Hierdie manier van weer kyk, word van oupa na pa na kind oorgedra en is baie akkuraat. 

•  Die Ovambo’s hou die vinke dop. As die vinke langs die rivier hul neste laag in die riete maak, is dit ’n droë seisoen. As hulle dit hoog in die riete maak, gaan dit ’n nat, goeie reenseisoen wees.

•  Die Damaras in die woestyngebied het na die paddas gekyk. Hulle het geglo die paddas kan aanvoel as daar vog in die lug is, dan kom hulle uit, want dit gaan reën. In die boek Vlug in Namib deur Henno Martin word die ware verhaal vertel van twee ouens wat in die Tweede Wêreldoorlog in die Namib geskuil het. Hulle het die aand in hul wegkruipplek langs die Kiusebrivier gesit en gesien hoe derduisende paddas teen die walle van die rivier uitklim. Ure later het die rivier in vloed afgekom. Hulle het toe later uitgevind dat dit duisende kilometers ver diep in die Namib gereën het, wat veroorsaak het dat die rivier in vloed afgekom het. Dit staaf die manier waarop die Damaras die weer lees. 

BRONNE:

•  Die Volksblad – Uitgawe: 1999.04.27 oor Boere.
•  Oom Johan du Plessis – Oor Damaras en Ovambo’s.
•  Tannie Adri Moffat oor die mense van Mauritius.
•  Ouma Ina oor die ou mense.
•  Huisgenoot, Jongspan – Uitgawe: 10 Mei 2001 oor Khoikhoi en San.

Terug na Ruilprojekte-blad