*  Ster-bydrae

MIELIESTRONK-RUILPROJEKTE
BYDRAE DEUR: DANIE VAN DER VYVER
SKOOLGRAAD: 6
E-POS: nvandervyver@saexpress.co.za 
DATUM: 11/10/2004 

PROJEKTITEL:
DIE MENSLIKE BREIN

DIT is die mens se brein wat jou in staat stel om te leer, om te onthou, goed met mekaar in verband te bring, te redeneer en dinge te doen. Die brein is die plek waar alle boodskappe ontvang word en waarvandaan boodskappe na dele van die liggaam gestuur word. ’n Mens kan dit vergelyk met ’n rekenaar, maar ons brein is nog slimmer as die rekenaar, want dit kan 
verskillende dinge tegelykertyd doen!

Die brein is die deel van die mens se liggaam wat van die mens ’n besondere wese maak en hom van alle ander vorms van lewe onderskei.

Binne-in ’n mens se kop is ’n reuse rekenaar – jou brein. Elke dag van jou lewe los hy ’n klomp probleme op en beantwoord baie vrae vir jou. 10 000 biljoen klein deeltjies in die brein doen al hierdie werk! As ’n masjien gebou moes word wat alles kan doen wat jou brein kan doen, sou hy so groot soos ’n wolkekrabber moet wees!

Gestel bv. jy speel kitaar, dan sê jou brein vir jou hande wat om te doen: jou ore vertel jou brein hoe die kitaar klink.Jou brein stuur dan boodskappe na jou hande en vingers om te beweeg en om note te verander wat verkeerd klink.

Jou brein doen ’n groot werk; dit beheer elke liewe beweging en werking van jou liggaam.Van jou brein af loop boodskapdrade, wat senuwees genoem word, na elke deel van jou liggaam. Langs hierdie drade stuur jou brein opdragte uit en ontvang inligting.

Die rugmurg is ’n lang, hol buis, effens dikker as ’n potlood. Dit is met vloeistof gevul. Onderaan die skedel is ’n gat waardeur die rugmurg loop. Die groot bo-punt van die rugmurg vorm die brein.

Jou brein beslaan ’n groot deel van die ruimte in jou skedel. Die brein word goed beskerm teen beserings deur die skedelbeen en drie lae, of kussings, onder die been.

Die brein bestaan uit drie dele:
•  Die medulla, of murg
•  Die serebellum, of kleinharsings
•  Die serebrum, of grootharsings

Van hierdie drie dele is die medulla die besigste, want dit is die deel waar alle boodskappe na die brein ontvang word. Alle boodskappe na die brein en ook alle boodskappe wat deur die brein uitgestuur word, moet deur die medulla gaan.

Die serebellum beheer jou ewewig en koordinasie. Dit is min of meer so groot soos ’n klein appel, en lyk soos ’n oesterskulp wat effens oop is.

Die serebrum stel jou in staat om te dink, onthou, sien, praat, skryf en om besluite te neem oor die werkinge van jou liggaam. Dit is die grootste gedeelte van jou brein. Die serebrum gee ook aan die mens die vermoë om te redeneer – sy gesonde verstand – wat hom bo alle ander vorms van lewe plaas.

Die gedrag van ’n vis of hond word net deur dierlike instinkte of reaksies beheer, en nie deur gedagtes of rede nie. Die serebrum van ’n vis is baie klein. Die hond s’n is groter. Die mens se gedrag word beheer deur sy vermoë om te leer, te onthou, goed met mekaar in verband te bring, en te redeneer. Daarom is die mens se serebrum groot, want al hierdie vermoëns is daarin gehuisves.

Die serebrum bestaan uit twee dele, wat ons die breinlobbe noem. ’n Regter- en linkerlob.Dit is groot en strek bo-oor die ander dele van die brein en vul ook die voue binne-in die skedel. Die voue staan bekend as windinge.

Laer vorms van diere, soos die hond, het nie brein-windinge nie, en dus het hulle ook nie so ’n groot brein nie. Omdat die mens se brein so groot is, is hy dus ook ’n gevoelige en intelligente wese.

In elke breinlob is daar ’n spesiale gebied vir gehoor, gesig, reuk, gevoel, smaak en spierbewegings. Groot dele van die serebrum het te doen met die gebruik van die hande. ’n Mens se duime – iets wat die mens van ander diere onderskei – word beheer deur groter gebiede as dié wat die vingers beheer.

Iemand wat regs is, se aksies word beheer deur die linkerlob en as jy links is, word jou aksies beheer deur die regterlob van die brein.

Jou brein reageer vinnig op alle boodskappe wat hy ontvang. As dit ’n ou boodskap is, soos “sit tandepasta op jou borsel”, soek jou rekenaar-brein baie vinnig deur baie, baie selle, spoor die regte boodskap op en stuur dit aan jou motoriese senuwees. Die opdrag gaan deur jou boodskapsentrum – die medulla – met die rugmurg af tot by die verste senuwees in jou hande en vingers. Die senuwees sit die spiere in werking, en jy sit tandepasta op jou borsel. Dit word motoriese aksie genoem.

Dan kry mens ook ’n reaksie wat refleksaksie genoem word. Hierdie aksie verloop nie volgens ’n plan nie, en jy hoef dit nie aan te leer nie. Dit is ’n noodaksie wat altyd voorrang geniet. Dit is bv. soos ’n noodboodskap na jou brein wanneer, sê, ’n spyker in jou vinger steek en jy skielik seerkry, of wanneer daar skielik ’n skerp lig in jou oë skyn, of wanneer jy harde, skerp geluide hoor. Die refleksaksie sorg dat jy onmiddelik jou vinger wegtrek van die spyker, jou oë toeknyp of jou hande oor jou ore druk.

Die menslike brein is ’n baie wonderlike ding. Hy doen baie goed op dieselfde tyd. Jy kan bv. boek lees, na musiek luister, jou kat streel EN hoor hoe hy spin. Verskillende dele van jou brein is elke dag besig om jou te laat geniet en te laat leer.

Om al hierdie dinge te kan doen, het ’n mens ’n taal nodig – die vermoë om te kan kommunikeer. Van al die aardse wesens in die skepping is die mens die enigste wat kan praat. Hy kan met ander mense kommunikeer deur te praat of te skryf. Mense dink met woorde – hulle maal in ons brein rond en val van ons tong af. Hulle bereik ander mense en bring nuwe idees.

Woorde word dus ook in jou rekenaar-brein gebêre. Woorde word deur jou ore gehoor en na jou brein gestuur; die brein verander dit in boodskappe wat met die senuwees langs na die spiere gestuur word. Die spiere gehoorsaam en stuur ’n boodskap terug na die brein. Hierdie boodskappe trek baie vinnig met die senuwees langs – van 4 km/h tot 480 km/h van die een sel na die volgende.

Jou brein beheer ook die klop van jou hart, die werking van jou longe en van al die ander lewensbelangrike organe. Dit word gedoen deur die simpatiese senuwees wat in die boodskapsentrum aan die bopunt van die rugmurg begin. Hierdie senuwees doen die werk, sonder dat jy dit hoef te sê, elke uur, elke dag. Jou hart klop van jou mensword af.

Die simpatiese senuwees laat jou ook asemhaal. Hulle beheer die werking van jou longe vanaf die oomblik dat jy gebore word.

Jou rekenaar-brein reageer op boodskappe en verslae van alle dele van jou liggaam, en hierdie inligting word dan gebêre. Honderde spiere word beheer; jy sien, hoor, ruik, voel en ervaar. Gevoelens van honger, dors, genot, pyn of woede word beantwoord. Herinneringe word uitgehaal; gedagtes begin en nuwe idees word gevorm. Jy haal asem, jou hart klop, jy praat en lag. Jou brein is altyd waaksaam, en stel jou in staat om in alles wat jy doen en dink ’n besondere wese te wees.

BRON:
Die mens se liggaam: Die brein – geskryf deur Kathleen Elgin. Uitgegee deur Franklin Watts Inc, New York in 1967. Kopiereg Afrikaanse uitgawe 1974 Die Kinderpers van S.A. – Vertaal deur Wilem du Toit.

Terug na Ruilprojekte-blad