|
|
||
|
My vis vir jou dadels
Krediet: MSKARG
Ruilhandel
ENSE het aanvanklik nie goedere van mekaar gekoop deur die verkopers ’n aantal munte of note in die hand te stop nie. Trouens, geld het in die mens se vroeë geskiedenis nog glad nie bestaan nie. Wat die mense gedoen het, was om ruilhandel te drywe.
Ruilhandel beteken doodeenvoudig om goedere uit te ruil. Ek gee vir jou ’n skaap en jy gee vir my twaalf hoenderhenne, en ons is albei tevrede. Jy sal miskien die skaap skeer vir sy wol en ek gebruik straks die hoenderhenne om vir my eiers te lê. Heel gerieflik.
Mense maak vandag nog gebruik van ruilhandel—en nie slegs in afgeleë gemeenskappe waar geld baie skaars is of feitlik glad nie bestaan nie. Op skool ruil ek miskien my een potlood vir ’n handvol lekkers, want ek het baie potlode en my ruilmaat het sy paar rand sakgeld op snoepgoed verkwis. Hy het eers agterna besef hy het vergeet om ook ’n potlood daarmee te koop!
Van omstreeks 9000 tot 4000 voor Christus (let op, ’n mens tel agteruit wanneer dit by v.C. kom) is ruiltransaksies dikwels met vee aangegaan. Later, met die ontwikkeling van die landbou, het mense ook die opbrengste van hul gesaaides of die vrugte uit hul boorde onder mekaar geruil. Of die visser of jagter het sy vangs vir landbouprodukte geruil. Jy gee byvoorbeeld vir my jou grootste vis en ek gee jou ’n mandjie van my dadels.
BO: ’n Mooi skulp... so goed as geld (of so was dit vir sekere gemeenskappe). Foto: PublicDomainPictures.net (foto effens gewysig)
Skulpe PORSELEINSKULPE het omstreeks 1200 v.C. in China die eerste betaalmiddel—of geld—geword. Regdeur die geskiedenis, selfs tot in die helfte van die twintigste eeu nog, het dié mooi skulpe vir sekere gemeenskappe as geld gedien.
Eerste geld van metaal TEEN nagenoeg 1000 v.C., aan die einde van die Steentyd, het die Chinese die blink plan bedink om nagemaakte porseleinskulpe as betaalmiddel te gebruik. ’n Mens kan dit beskou as die begin van vandag se metaalmunte. Gereedskap wat van metaal gemaak is, soos messe en grawe, is eweneens in China as geld aangewend.
Uit voorwerpe soos dié het die ronde munte ontwikkel wat ons vandag ken. Die Chinese muntstukke is gewoonlik van onedele metale gemaak (dus nog nie van goud of silwer nie) en daar was gate daarin sodat ’n mens die munte saam in ’n snoer kon inryg.
Silwermunte TEEN omstreeks 500 v.C. was stukke silwer die eerste edelmetaalmunte. Mettertyd het hulle soos vandag se muntgeld begin lyk, met die afbeeldings van talle konings en keisers daarop aangebring om hul waarde te bevestig. Of met die kop van ’n dier daarop, soos ’n leeu, wat die heerser se gesag sou uitbeeld.
Die eerste van hierdie soort munte is indertyd in Lidië gebruik (’n deel van die teenswoordige Turkye) en met verloop van tyd sou die Grieke, Perse, Macedoniërs en Romeine daarop verbeter. Anders as die Chinese geld is hierdie nuwe munte van skaars metale of allooie soos brons, goud en silwer gemaak, wat op sigself baie waardevol was.
Bron: CNG coins,
http://www.cngcoins.com, Geld van leer DIE Chinese het in 118 v.C. “banknote” gebruik wat van leer was. Vierkante van wit hertevelle, elk sowat 30 cm x 30 cm, wat met helder kleure aan die rande versier is, is vir goedere geruil. Daar word gemeen dat dit die begin van ’n soort papiergeld was.
Detail van ’n foto deur Snowyowls, wat die oorspronklike weergawe by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie
Papiergeld DIT is opvallend dat China so ’n groot rol in die ontwikkeling van geld gespeel het. Die eerste banknote van papier het ook hul eerste verskyning in daardie land gemaak en wel in die 800’s ná Christus.
Papiergeld is daarna etlike eeue lank daar gebruik totdat die note se waarde vinnig gedaal het omdat te veel daarvan uitgereik is. Van die helfte van die 1400’s het papiergeld as betaalmiddel in China vir verskeie eeue van die toneel verdwyn.
Dit was eers baie jare later dat papiergeld sy opwagting in Europa gemaak het en drie eeue alvorens dit as iets algemeens beskou is.
Handel in Afrika voor die koms VOORDAT Afrika ’n eeu of twee gelede deur verskeie Europese lande gekoloniseer is, het die stelsel van ruilhandel op ons vasteland reeds so ’n hoë ontwikkelingsvlak bereik dat hier iets soos “kommoditeitsgeld” bestaan het.
Met hierdie soort “geld” word gehalte-items bedoel soos vee, soutblokke, juwele, gereedskap, katoen en tekstielware. Sulke waardevolle kommoditeite is gebruik as betaalmiddels in die ruilhandel in belangrike handelsentrums soos Wes- en Sentraal-Soedan, die Guinese kus en die Swahili-kus.
Die blote feit dat goud blykbaar verhandel is in of vanuit Suider-Afrikaanse sentrums soos Mapungubwe en Groot Zimbabwe, spreek ook boekdele.
Foto: SASOL
Die oorvloed kosbare metale in Afrika het boonop die produksie van metaalmunte deur vroeëre Europese regerings vergemaklik. Daar word byvoorbeeld vertel dat goud uit Afrika in die sewentiende eeu die hoofbron van die Nederlandse goue munt was. Dit het destyds die Nederlandse hoofstad, Amsterdam, gehelp om die finansiële hoofstad van Europa te word.
Die Engelse het selfs hul nuwe goue muntstuk die “guinea” genoem, ter erkenning van die Afrika-goud wat van die Guinese kus van Wes-Afrika ingevoer is. Suid-Afrikaners het ook die “guinea” (Afrikaans “ghienie”) geken, vanweë ons noue historiese verbintenis met Engeland. Die geldwaarde was een pond en een sjieling. (Toe Suid-Afrika in die 1960’s gemetriseer het, was ’n pond gelyk aan twee rand en ’n sjieling aan tien sent.)
Kilwa Kisiwani
— die
ooskus van Afrika se belangrike
REGS: Die Groot
Moskee in Kilwa
Foto: Claude McNab,
DIGBY die kus van die Afrika-staat Tanzanië lê ’n eilandjie met die historiese handelsentrum Kilwa Kisiwani, waar ’n mens nog heelwat ruïnes sal aantref wat in die loomheid van die tropiese swoelte omhoog beur. Die bouvalle getuig van ’n verlore bloeityd, van vergange eeue toe die sentrum ’n uiters belangrike rol in die handel oor die Indiese Oseaan gespeel het.
Trouens, Kilwa Kisiwani, ook Kilwa genoem (en Quiloa gespel in Portugees), was van die 1100’s tot in die 1500’s n.C. die belangrikste van nagenoeg 35 handelsentrums aan die genoemde oseaan. In 1955 is in alle erns daar met argeologiese ondersoeke begin, en die plek en sy susterhawe Songo Mnara is in 1981 deur UNESCO tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar.
Sover bekend, het die eerste wesenlike menslike besetting van Kilwa omstreeks 800 n.C. plaasgevind. Tydens die Shiraz-dinastie van die elfde en twaalfde eeu was dit veral belangrik as handelsentrum. ’n Groot moskee is onder die heerskappy van Ali al-Hasan gebou, terwyl handelsbande met Suidelike Afrika en die Nabye- en Verre-Ooste aangeknoop is. Goud, ivoor, yster en kokosneute van Suidelike Afrika is verhandel, kledingstowwe en juwele van Indië en porselein van China.
Die eerste goue muntstukke wat ná die agteruitgang van die koninkryk van Aksoem (by die Rooi See) in Afrika suid van die Sahara geslaan is, is by Kilwa Kisiwani gemunt, vermoedelik om internasionale handel te vergemaklik. Een van dié munte is by die Mwene Mutabe-terrein van Groot Zimbabwe gevind.
Die beroemde Marokkaanse handelaar Ibn Battuta het Kilwa in 1331 tydens die Mahdali-dinastie besoek en aan die hof van al-Hasan ibn Sulaiman Abu'l-Mawahib vertoef. Dit is in hierdie tyd dat die vername argitektoniese konstruksies gedoen is, waaronder uitboudings van die Groot Moskee en die oprigting van die markkomplekse Husuni Kubwa en Husuni Ndogo.
Die hawestad het in sy voorspoed bly baai tot die laaste dekades van die veertiende eeu, toe die paniek oor die verskriklike Swart Dood sy tol in die wêreldhandel geëis het. In die eerste dekades van die vyftiende eeu is nuwe kliphuise en moskees in Kilwa gebou, maar in 1500 het die Portugese ontdekkingsreisger Pedro Alvares Cabral daar aangedoen en berig dat hy huise van koraalsteen gesien het. Dit het die heerser se paleis van honderd kamers ingesluit, wat in die Islamitiese Midde-Oosterse styl gebou is.
Vasco da Gama, die Portugese ontdekkingsreisiger wat die seeweg tussen Europa en Indië gevind het in sy epiese vaart om die Kaap, het in 1502 by Kilwa aangekom. Hierna het die stad se belangrikheid afgeneem, hoewel daar ’n kort oplewing was tydens die slawehandel van die agttiende eeu.
Argeoloë het in Kilwa begin belang stel vanweë twee sestiende-eeuse geskiedskrywings oor die plek, waaronder die tans verlore Kilwa-kroniek, waarvan daar darem nog sekere oorblysels bestaan. Geleerdes reken dat die Kilwa-gemeenskap tot die latere Swahili-gemeenskappe ontwikkel het. Hulle erken Kilwa se sleutelrol in die ontstaan van die taal Swahili en die islamisering van Oos-Afrika. Dit was veral vanweë die destydse handelskontakte dat die taal aan invloed gewen en ’n verkeerstaal of ligua franca vir groot dele van Oos-Afrika geword het, waar dit vandag deur sowat 50 miljoen mense gepraat word.
Die goudstandaard GOUD is in 1816 in Engeland amptelik as die waardestandaard aanvaar. In hierdie tyd is riglyne opgestel om voorsiening te maak vir die produksie van standaard-banknote sodat dit nie tot inflasie sou lei nie. Die banknote sou ’n sekere hoeveelheid goud verteenwoordig, wat beteken daar nie sommer blindelings note gedruk kon word soos dit die staat behaag het nie. Banknote is voorheen reeds verskeie eeue in Engeland en op die Europese vasteland gebruik, maar hul waarde is nooit regstreeks aan goud gekoppel nie.
(Ons buurstaat Zimbabwe is vandag ’n goeie voorbeeld van wat gebeur wanneer die staat voor die voet banknote druk sonder dat dit aan enige waarde gekoppel word. Zimbabwe het totaal bankrot geraak omdat sy geld naderhand feitlik nie meer die papier werd was waarop dit gedruk is nie.)
Amerika het in 1900 die goudstandaard aanvaar.
DIE verlammende Depressie van die jare dertig van die twintigste eeu het die begin van die einde van die goudstandaard beteken. In Amerika is die goudstandaard hersien en die prys van goud is gedevalueer. Dit was die eerste stap om die verbintenis heeltemal te beëindig. In Brittanje en internasionaal is goudstandaarde ook spoedig laat vaar, en die ingewikkeldhede van die moderne internasionale geldreëlings het begin.
GELD is lank nie meer net munte en note nie. ’n Werker se salaris kan vir hom in ’n bankrekening gedeponeer word, waarvan hy moontlik net ’n deeltjie as harde kontant met hom sal saamdra. Hy kan op die internet elektroniese oorplasings uit sy rekening doen na die munisipaliteit vir sy water en ligte, na Telkom vir sy telediens, na sy siekefonds, na die winkel waar hy klere koop, noem maar op.
Koop sy vrou kruideniersware in ’n supermark of pille by die apteek of selfs net ’n pakkie tee in die winkeltjie om die hoek, gebruik sy ’n debietkaart wat regstreeks met sy bankrekening gekoppel is. Hy gooi petrol in die gesinsmotor met ‘n “petrokaart”. “Elektroniese geld” is die wêreld vol.
En wat waarskynlik in toekoms vir ons voorlê, is dat kontantgeld sover as moontlik verder uitgefaseer gaan word. Om met geld rond te loop, maak ’n mens immers te veel van ’n maklike teiken vir diewe en rowers.
Waar die digter dus enkele dekades gelede nog oor die klinkende klank van geld gemymer het, kan mense vorentoe al hoe meer hul banksaldo’s assosieer met die dowwe gesuis van rekenaars. Of met die selfone in hul hande waarmee hulle ewe gerieflik sake kan doen.
Dis byna of ons weer terugkeer na die soort handel van baie lank gelede waarin vaste geld ook geen rol gespeel het nie!
|
||
|
Dis bewys: enige aap kan nie handel dryf nie!
|
||
|
|
||