|
Wonder-halfeeu
van die mens in die ruimte
Afdeling
1
Die
baanbrekers
Foto’s:
NASA, tensy anders vermeld
|
|
Die
eerste satelliet
DIT
het sowat 800 kilometer bokant die aardkors gewentel, teen
nagenoeg 29 000 km/h voortgesnel en elke 96 minute het dit een
omwenteling om die aarde voltooi. Sewe keer per dag het dit oor
koppe van die verwonderde aardbewoners beweeg, wat die
onophoudelike ge-bliep-bliep-bliep-bliep van daardie eerste
mensgemaakte satelliet op hul radio’s kon hoor. Die feit dat die
Sowjet-unie Amerika voorgespring het deur op 4 Oktober 1957 die
eerste aardsatelliet te lanseer, het egter ook groot kommer in die
VSA en ander lande veroorsaak. Dit was immers midde-in die Koue
Oorlog en die Russe was baie geheimsinnig oor wat hulle eintlik in
die skild gevoer het met die lansering. Die satelliet, Spoetnik 1 (op
die foto BO), het
egter slegs 83 kg geweeg en was weinig meer as ’n blink
stukkie propaganda van die Kommunistiese Sowjet-unie. Ná 1400
omwentelings het dit dan ook op 4 Januarie 1958 in die aarde se
atmosfeer uitgebrand. Spoetnik 1 was nietemin die voorloper van
’n duisternis ander mensgemaakte voorwerpe, wat naderhand soos
’n swerm muggies om die aarde sou tol. Met die lansering van
Spoetnik1—kan ons sê—het die ruimte-eeu begin. |
|
Eerste
hond
in ’n wentelbaan
DIE
eerste lewende wesens in die ruimte was—glo dit—vrugtevlieë.
Dié is reeds sestig jaar gelede, in Julie 1946, deur Amerika met
’n V2-vuurpyl opgeskiet, maar aangesien hulle nie in ’n
wentelbaan om die aarde geplaas is nie, was daar nog geen sprake
van ’n ware verowering van die ruimte nie. Die eerste lewende
wese in ’n wentelbaan was ’n hond, die tefie Laika (of
Lemmetjie), wat op 3 November 1957 deur die Sowjet-unie in
Spoetnik 2 opgestuur is (voorstelling
op die foto).
Laika het sewe dae bly lewe en sy kon nie na die aarde
teruggebring word nie. Spoetnik 2 het op 14 April 1958 in die
aardatmosfeer vergaan. Minstens tien ander honde is in wentelbane
geplaas voor April 1961 toe die Sowjet-unie se Joeri Gagarin die
eerste mens in die ruimte geword het.
•
In die
VSA is ylings stappe gedoen om die Sowjet-unie se vroeë
voorsprong in die ruimtewedloop in te haal en reeds op 31 Januarie
1958 is Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet, van Cape
Canaveral gelanseer. Met wetenskaplike proewe deur James A. van
Allen is ontdek dat daar stralingsones is wat die aarde omring.
Dit is die Van Allen-stralingsgordels (“radiaton belts”)
genoem. Op 1 Oktober 1958 stig Amerika NASA, sy nasionale
lugvaart- en ruimte-administrasie.
Foto: Virtuele
Ruimtemuseum in Rusland |
Eerste
mens in die ruimte
DIE
Sowjet-unie vergroot sy onbetwiste voorsprong in die ruimtewedloop
deur op 12 April 1961 die eerste mens in die ruimte te plaas. Hy
was Joeri Gagarin (foto
HIERBY), wat
108 minute lank in Wostok 1 om die aarde gewentel en tuis ’n
helde-ontvangs gekry het as die “Columbus van die ruimte”.
Gagarin het sewe jaar later in ’n vliegongeluk gesterf.
Fotobron
onbekend, maar foto word vry algemeen gesirkuleer |
| Amerikaner
se kort ‘ruimtesprong’
DIE
eerste Amerikaanse ruimteman was Alan Shepard (foto
LINKS), wat op
5 Mei 1961 egter net vyf minute lank vir ’n heen-en-weertjie in
die ruimte was aan boord van Freedom 7 en nie ’n omwenteling om
die aarde voltooi het nie. Shepard het egter die grondslag gelê
vir die latere Amerikaanse oorheersing op die gebied van
ruimteverkenning. In
1971 sou hy toe ook die vyfde mens word wat op die maan geloop
het, waarna hy ’n admiraal in die Amerikaanse vloot geword het.
Hy is in 1998 oorlede.
|
Eerste
Amerikaner in ’n wentelbaan
JOHN
GLENN (foto
REGS) het op 20
Februarie 1962 die eerste Amerikaner geword wat in ’n wentelbaan
om die aarde geplaas is.
Aan boord van die ruimtetuig Friendship 7 het hy drie omwentelings
voltooi voordat hy sowat 1300 km oos van die lanseerterrein (die
Kennedy-ruimtesentrum in Florida) in die see geland het. Glenn sou
jare later, in 1998, weer die ruimte in ’n pendeltuig besoek. |
|
Eerste
Russiese vrou in die ruimte...
DIE
eerste vrou in die ruimte was Walentina Teresjkowa (LINKS)
van die
Sowjet-unie, wat van 14 tot 19 Junie 1963 as 26-jarige jong dame
sielalleen in Wostok
6 om
die aarde gewentel het. Haar ruimtetuig het darem binne omtrent
vyf kilometer verby ’n
ander wenteltuig, Wostok
5 beman deur
Waleri
Bikofski, beweeg. In November daardie
jaar het Walentina
toe ook met ’n ruimteman getrou—maar, nee, dit was nie die een
met wie sy doer bo “geflankeer” het nie.
Fotobron onbekend, waarsk. Virtuele Ruimtemuseum in Rusland
...en
die eerste Amerikaanse
ruimtevrou
•
Eers presies twintig jaar later, op 19 Junie 1983, antwoord
Amerika met sy eerste ruimtevrou: Sally K. Ride (REGS).
Sy was een van die lede van ’n sending van die
Challenger-pendeltuig (wat op ’n later sending, in Januarie
1986, dramaties sou ontplof).
|
|
Eerste
ruimtewandelings
DIE
Sowjet-ruimteman Aleksei Leonof het op 18
Maart 1965 die eerste ruimtewandeling onderneem, vir ’n
uitstappie buitekant Wosjkod 2, maar met ’n koord aan die
ruimtetuig verbind. Die Sowjet-unie het destyds beweer dat die
wandeling van 24 minute goed afgeloop het, maar dit is nou bekend
dat hy byna gesterf het. Sy ruimtepak—onderhewig aan ’n volle
atmosferiese druk aan die binnekant—het styf geword en het Leonof
het dit byna onmoontlik gevind om sy bewegings te beheer.
•
Op 3
Junie dieselfde jaar word Edward
White II van Gemini 4 die eerste Amerikaner wat in die
ruimte wandel. Hy bly 22 minute lank buite die Gemini. Nog ’n
hoogtepunt in die verowering van die ruimte was heelwat later, in
Februarie 1984, toe Robert Stewart en Bruce McCandless (op
die foto REGS)
die eerste Amerikaners geword het wat sonder ’n verbindingskoord
vry in die ruimte rondgedryf het.
|
|
Eerste
menslike slagoffer
DIE
eerste mens (sover bekend, want die Sowjet-unie was baie
geheimsinnig oor sy ruimteprogram) wat in ’n ruimtevlug gesterf
het, was Wladimir Komarof van die Sowjet-unie. Sojoez 1 is op 23
April 1967 gelanseer met Komarof aan boord. Die tuig het egter op
24 April neergestort.
|
•
Jy
is nou by afdeling 1. Klik
hieronder op die afdeling waarheen jy vervolgens wil beweeg:
2)
Die vaartuie: Vuurpyle, ruimtetuie en ruimtestasies
3)
Mense op die maan!
4)
Onbemande sendings na ons bure in die
sonnestelsel
|