|
Wonder-halfeeu
van die
mens in die ruimte
Afdeling
3
Mense
op die maan!
Foto’s:
NASA; bykomende grafika deur Mieliestronk.com

OP 20 Julie 1969 het die menseras sy grootste enkele tegnologiese prestasie van alle tye
behaal: die landing van mense op die oppervlak van ’n buiteaardse hemelliggaam, ons
planeet se enigste maan. Die landingstuig is die Eagle genoem en die
ruimtesending het as Apollo 11 bekend gestaan.
Ses uur nadat hulle geland het, het Neil A. Armstrong, die bevelvoerder van die sending, in
sy beskermende ruimtepak uit die landingstuig te voorskyn gekom, teen ’n leer afgeklim en
op die maan getrap met die geskiedkundige opmerking: “That’s one small step for (a) man,
one giant leap for mankind.” (Dis ’n treetjie vir ’n mens, ’n reuse-sprong vir die mensdom.)
Armstrong is spoedig gevolg deur sy makker in die maanlandingstuig, Edwin “Buzz” Aldrin,
en saam het die twee ruimtemanne meer as twee uur lank op die maanoppervlak
rondgeloop en selfs gebokspring. Hulle het 21 kilogram maangrond versamel, foto’s
geneem en sekere proefnemings gedoen. Hulle het ook ’n Amerikaanse vlag (van metaal)
op die maan geplant en deur middel van satellietverbinding met die destydse Amerikaanse
president, Richard M. Nixon, op die aarde gepraat.
Hulle het gevind dat dit glad nie moeilik is om op die maan te loop of te hardloop waar die
swaartekrag slegs ’n sesde van dié van die aarde is nie.
Ná hul historiese uitstappie het Armstrong en Aldrin weer in die maanlandingstuig geklim,
opgestyg en hulle aangesluit by die derde lid van hul driemanskap, Michael Collins, wat in
die moedertuig Columbia om die maan gewentel en op hul terugkoms gewag het.
Die tuisvlug van Apollo 11 het sonder teenspoed verloop en die ruimtemanne se kapsule
het op 24 Julie in die Stille Oseaan naby Hawaii neergeplons waar Armstrong, Aldrin en
Collins opgepik is—vir ’n geweldige helde-ontvangs, wat egter eers
’n rukkie later sou gebeur. Omdat daar die geringe moontlikheid was dat hulle met “lewende
maanorganismes” besmet kon gewees het, is hulle naamlik as voorsorgsmaatreël drie weke lank in
kwarantyn gehou. Daar was geen teken van só ’n besmetting nie.
Die vlug van Apollo 11 is daarna deur nog Apollo-maanvlugte gevolg, en Amerika het tussen
1969 en 1972 twaalf manne op die maan laat land. Daar is selfs van ’n maankarretjie gebruik
gemaak om die maanoppervlak makliker te verken. Vandag lê daardie dosyn pioniers se
spore stellig nog soos destyds op die feitlik luglose maan, waar daar geen wind of weer is
wat dit kan uitwis nie. Dit is die onmiskenbare getuienis van die mens se grootste
ruimte-avontuur tot dusver—wat net deur menslike besoeke eendag aan die planeet Mars
oortref sal kan word.


BO:
Apollo-maanlandingstuig.

BO:
Aldrin by die Amerikaanse vlag wat hy
en Armstrong op die maan geplant het.

BO: In later maanlandings het die ruimtemanne ’n maankarretjie,
die Lunar Rover, gebruik om meer van die maanoppervlak te
kon verken.
•
Jy
is nou by afdeling 3. Klik
hieronder op die afdeling waarheen jy vervolgens wil beweeg:
1)
Die baanbrekers: Die eerste satelliet, die
eerste hond in ’n wentelbaan… en toe die eerste mense in die ruimte
2)
Die vaartuie: Vuurpyle, ruimtetuie en ruimtestasies
4)
Onbemande sendings na ons bure in die
sonnestelsel
|