Wonder-halfeeu van die mens in die ruimte

 Afdeling 4 

Onbemande sendings
na ons bure in die sonnestelsel
  

Bevrore meer in ’n Mars-krater

BO: Op Mars... ’n bevrore meer in ’n krater. Voor die ruimte-eeu het
mense feitlik niks van die sogenaamde “Rooi Planeet” geweet nie... nie
eens of daar dalk rêrig groen mannetjies is nie, soos die fiksieskrywers
hulle soms wou wysmaak. Vandag weet ons baie beter.

Foto: EUROPESE RUIMTE-AGENTSKAP

KORT nadat die mens geleer het om die ruimte te bemeester, is verskeie onbemande snuffeltuie kruis en dwars deur die sonnestelsel gestuur om ons kennis van ons naaste ruimtelike bure te verbreed. Sulke ontdekkingstogte duur tot in ons tyd voort.

Die ontdekkings van die Amerikaanse Voyager 1 en Voyager 2, wat albei in 1977 gelanseer is, tel steeds onder die opspraakwekkendste van die ruimte-eeu. Die Voyagers het saam skouspelagtige foto’s van die planete Jupiter en Saturnus en hul ringe en mane na die aarde teruggesein. Voyager 1 het toe weggeswenk van die vlak waarop die planete om die son wentel, maar Voyager 2 het voortgespoed om eers Uranus en toe Neptunus te verken.

 

Die Voyagers het reeds ons sonnestelsel verlaat en sal nooit weer terugkeer nie. Wetenskaplikes kan glo nog hul radioseine hoor, hoewel dié teen die jaar 2020 te swak sal word om op te vang.

 

In 1989 het die Amerikaanse Galileo Orbiter die Jupiter-sisteem binnegedring en ’n robot-verkenner tot diep in die atmosfeer van die reuse-planeet ingestuur. Vanweë al sulke ontdekkingstogte het ons vandag fantastiese nabyfoto’s van al die planete van die sonnestelsel buiten Pluto, asook van hul mane.

 

Eeue-oue geheime van die planeet Mars is in 1976 met die landing van twee Amerikaanse Vikings opgelos... maar daar is nog baie tergende raaisels. Mars is die enigste planeet in ons sonnestelsel, buiten die aarde, wat dalk net die een of ander primitiewe lewensvorms kan onderhou (of in die verlede kon onderhou het). Deesdae word Mars steeds kort-kort deur nuwe snuffeltuie beloer, met wisselende mate van sukses. Dit lyk of ons nie die volle waarheid oor Mars sal kan agterkom voordat mense self daar geland het nie—of baie “slim” robotte daar neergelaat is en hulle die nodige ontledings namens ons gedoen het.

 

Nie net planete en mane is reeds besoek nie, maar onbemande ruimtetuie het ook al komete en asteroïdes van naby besnuffel. Eintlik is al die snuffeltuie wat reeds uitgestuur is (en nie net deur die Amerikaners en die Russe nie) te veel om in ’n beknopte artikel soos hierdie te noem.  Die belangstellende leser sal van sekere belangwekkendes op die Mieliestronk-werf kan lees—soos die landing op die maan Titan. Maar daarmee, soos die spreekwoord lui, is die helfte jou nog lank nie vertel nie!

 

In die vyf dekades van die ruimte-eeu het die mens se dors na kennis waarskynlik hewiger geword as ooit  in die geskiedenis.


Buiteaardse landskappe
   
Danksy onbemande snuffeltuie weet ons vandag baie meer van die ander planete wat om ons son wentel... en selfs van hul mane... 

Foto van oppervlak van Titan van EUROPESE RUIMTE-AGENTSKAP, alle ander foto’s van NASA
     

Die oppervlak van Mars
   
BO: Die oppervlak van Mars. Dit lyk byna soos ’n stowwerige dag in die Karoo, maar hier’s nie bossies nie, net klippe! Tog reken die geleerdes dat Mars in die verre verlede vloeibare water moet gehad het... en dat sy klimaat in ’n stadium dalk baie meer soos die aarde s’n was.

Die oppervlak van Venus... siedend warm....

Oppervlak van Titan

BO: Die oppervlak van Venus... siedend warm onder ’n wolkekombers waar selfs swawelsuur in die hemele sweef...

BO: Die oppervlak van Titan, die grootste maan van Saturnus.

Hyperion, ’n rare maan van Saturnus wat amper vir ’n spons aangesien kan word!  
  
REGS:  Hyperion, ’n rare maan van Saturnus wat amper vir ’n spons aangesien kan word!
  
 

(Let wel, die twee mane REGS
en HEEL REGS
is nie volgens
skaal nie.)

Die Saturnus-maan Mimas... meer soos die “maan” waaraan ons self gewoond is
  
BO: Die Saturnus-maan Mimas... met die kennelike vorm van ’n “maan” soos ons daaraan gewoond is. Let ook op die groot krater, wat stellig veroorsaak is deur ’n botsing met ’n ander ruimtelike voorwerp.


En die ruimteteleskoop
Hubble

’n Oog op die diepruimte... 

Hubble


...waar ander “oë weer vir ons kyk”!

’n "Oog" in die diepruimte soos waargeneem deur Hubble

DIE Hubble-ruimteteleskoop foto NAASBO, wat op 24 April 1990 aan boord van die pendeltuig Discovery die ruimte ingeneem en in ’n wentelbaan om die aarde geplaas is, het in sy bestaanstyd van die mees fantastiese foto’s van die verre sterreruimte na die aarde gesein—nie die minste nie die sterregroep op die foto HIERBO, wat wonderbaarlik soos ’n oog in die ruimte lyk.

Omdat die Hubble bokant die aardatmosfeer wentel, kan hy veel beter in die diepruimte “inkyk” as optiese teleskope op die aardoppervlak waar die uitsig deur die dampkring belemmer word.

Die Hubble-ruimteteleskoop is genoem na die Amerikaanse sterrekundige Edwin P. Hubble (1889-1953), wat in sy tyd die bestaan van sterrestelsels ver buitekant ons eie Melkweg bewys het.

Foto’s: NASA / HUBBLE HERITAGE TEAM

Klik op hierdie mini-foto vir nog skouspel-agtige Hubble-beelde

 


   Jy is nou by afdeling 4, die slotafdeling van hierdie aanbieding oor die ruimte-eeu. Klik hieronder op ’n afdeling as jy miskien soontoe wil terugbeweeg:

1) Die baanbrekers: Die eerste satelliet, die eerste hond in ’n wentelbaan… en toe die eerste mense in die ruimte

2) Die vaartuie: Vuurpyle,  ruimtetuie en ruimtestasies

3) Mense op die maan!

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad