|
Wonder-halfeeu
van die Afdeling 4 Onbemande
sendings
Foto: EUROPESE RUIMTE-AGENTSKAP KORT nadat die mens geleer het om die ruimte te bemeester, is verskeie onbemande snuffeltuie kruis en dwars deur die sonnestelsel gestuur om ons kennis van ons naaste ruimtelike bure te verbreed. Sulke ontdekkingstogte duur tot in ons tyd voort. Die
ontdekkings van die Amerikaanse Voyager 1 en Voyager 2, wat albei in 1977
gelanseer is, tel steeds onder die opspraakwekkendste van die ruimte-eeu.
Die Voyagers het saam skouspelagtige foto’s van die planete
Jupiter en Saturnus en hul ringe en mane na die aarde teruggesein. Voyager
1 het toe weggeswenk van die vlak waarop die planete om die son wentel,
maar Voyager 2 het voortgespoed om eers Uranus en toe Neptunus te verken. Die
Voyagers het reeds ons sonnestelsel verlaat en sal nooit weer terugkeer
nie. Wetenskaplikes kan glo nog hul radioseine hoor, hoewel dié teen die
jaar 2020 te swak sal word om op te vang. In
1989 het die Amerikaanse Galileo Orbiter die Jupiter-sisteem binnegedring
en ’n robot-verkenner tot diep in die atmosfeer van die reuse-planeet
ingestuur. Vanweë al sulke ontdekkingstogte het ons vandag fantastiese
nabyfoto’s van al die planete van die sonnestelsel buiten Pluto, asook
van hul mane. Eeue-oue
geheime van die planeet Mars is in 1976 met die landing van twee
Amerikaanse Vikings opgelos... maar daar is nog baie tergende raaisels.
Mars is die enigste planeet in ons sonnestelsel, buiten die aarde, wat
dalk net die een of ander primitiewe lewensvorms kan onderhou (of in die
verlede kon onderhou het). Deesdae word Mars steeds kort-kort deur nuwe
snuffeltuie beloer, met wisselende mate van sukses. Dit lyk of ons nie die
volle waarheid oor Mars sal kan agterkom voordat mense self daar geland
het nie—of baie “slim” robotte daar neergelaat is en hulle die
nodige ontledings namens ons gedoen het. Nie net planete en mane is reeds besoek nie, maar onbemande ruimtetuie het ook al komete en asteroïdes van naby besnuffel. Eintlik is al die snuffeltuie wat reeds uitgestuur is (en nie net deur die Amerikaners en die Russe nie) te veel om in ’n beknopte artikel soos hierdie te noem. Die belangstellende leser sal van sekere belangwekkendes op die Mieliestronk-werf kan lees—soos die landing op die maan Titan. Maar daarmee, soos die spreekwoord lui, is die helfte jou nog lank nie vertel nie!
In
die vyf dekades van die ruimte-eeu het die mens se dors na kennis
waarskynlik hewiger geword as ooit in die geskiedenis.
•
Jy
is nou by afdeling 4, die slotafdeling van hierdie aanbieding oor die
ruimte-eeu. Klik
hieronder op ’n afdeling as jy miskien soontoe wil terugbeweeg: 2)
Die vaartuie: Vuurpyle, ruimtetuie en ruimtestasies
|
||||||||||||