|
Gegrond op ’n artikel deur JOHN TRIGGS in DAILY EXPRESS
Beeldmateriaal: NASA
VERBEEL jou jy probeer ’n
wolkekrabber bou. Aan die binne- en buitekant is dit toegerus met die
delikaatste en duurste toerusting wat nog ooit uitgevind is. Elke
onderdeel moet presies in posisie geplaas word soos beplan is. As dit
nie gebeur nie, kan dit die projek biljoene rande duurder maak en selfs
die lewe van die bouwerkers in gevaar stel.
Voeg daarby die feit dat die
tien miljoen dele van jou gebou uit sestien verskillende lande moet kom,
maar steeds volmaak inmekaar moet pas.
Probeer nou om dit alles 355
km bokant die aarde te doen, waar die temperatuur kan wissel van bokant
die kookpunt van water tot tientalle grade onderkant die vriespunt. En
om dit alles te kroon tol jou konstruksie ook nog teen meer as 27 000
km/h om ons planeet.
Jy begin jou maar net indink
in die enorme taak om die Internasionale Ruimtestasie te bou. Weliswaar
is die bouwerk erg vertraag deur die verlies van die Amerikaanse pendeltuig Columbia
in 2003—en sekere planne is reeds afgeskaal omdat dit baie meer sal
kos as die oorspronklike ramings—maar elke stuk statistiek oor die
Internasionale Ruimtestasie bly steeds in die oortreffende trap.
Dit
is die
grootste, ingewikkeldste en mees ambisieuse tegnologiese projek wat nog
ooit bedink is. Die werk daaraan het in Mei 2000 begin, en daar is hoeka
bereken dat dit meer as
R270 biljoen sal kos om te bou en R20 biljoen per jaar om dit aan die gang
te hou. Dit lyk nou of die berekeninge alte konserwatief was.
Om
dus net te sê dat
dit ’n kolossale "lugkasteel" is wat die ruimtestasie se bouers
graag voltooi wil sien, is
’n kolossale
onderbeklemtoning. Wanneer die bouery klaar is, moet dit, ná die maan, die grootste en helderste voorwerp in die naghemel
wees. Dit sal die verste buitepos van die mensdom wees—en die eerste
stap na ’n lewe weg van ons planeet.
In laboratoriums binne sowel
as buite die stasie sal wetenskaplikes in staat wees om die
swaartekraglose omgewing te benut—waar chemiese reaksies anders
plaasvind as op die aarde en groter landbouprodukte veel vinniger
gekweek kan word. Daar kan hulle nuwe medisynes ontwikkel wat eendag
miskien talle siektes, waaronder vigs, sal kan genees.
Hulle sal ook nuwe
metaalallooie kan skep en vir die eerste keer werklik die probleme en
voordele van ’n lewe in die ruimte kan bestudeer. Vanuit die stasie
sal wetenskaplikes begin werk aan ’n waarskuwingstelsel sodat ons
planeet betyds beskerm kan word indien ’n reusagtige asteroïde (mini-planeet)
op ons afpyl soos die een wat die dinosourusse uitgewis het.
En
mettertyd—altans só word verder aan hierdie wonderlike droom
geborduur—sal die stasie as
’n halfwegstasie tussen die aarde en die res van die sonnestelsel dien.

BO: ’n
Onbemande Russiese voorraadtuig nader die Internasionale Ruimtestasie.
MAAR
presies hoe lewe die ruimtevaarders wat mekaar elke nou en dan in
die ruimtestasie aflos? Alles is hier so omgewingsvriendelik as wat
in die vreemde omstandighede moontlik is. Die gemiddelde volwasse
mens het elke dag sowat 630.000 cc suurstof, twee liter
water en omtrent 500 gram droë kos nodig. En alles moet natuurlik
vir elke
ruimtevaarder van die aarde af saamgepiekel word.
Maar
niks ontbreek werklik hier nie. Om die waarheid te sê, hier is baie meer as wat werklik nodig is om
te oorlewe.
’n
Mens eet wel bevrore kosse, maar dit is heerlik. Trouens,
die vroeë
ruimtevaarders, wat met vitamienpilletjies vir lief moes neem, sou
wát wou gegee het om sulke lekker kosse te kon gehad het.
Boonop
slaap elkeen hier baie gemaklik op sy eie slaapbank. ’n
"Stortbad", hoewel nogal verfrissend, is egter
baie anders as waaraan ’n mens op die aarde gewoond is. Die
stort het geen sproeikop nie, omdat
die swaartekrag hier in die ruimte ’n miljoen keer swakker as op
die aarde is.
Stortwater kan
nie sproei nie, maar dryf
rond pleks van om te val. Elkeen
ontvang dus net ’n paar liter water om saam met seep aan die vel
te smeer. Nadat ’n mens jou afgedroog het, word die
waterbobbeltjies rondom jou met ’n suigapparaat opgesuig. Die
stortwater word spoedig hersirkuleer en sal so suiwer anderkant
uitkom dat ’n mens dit kan drink.
REGS:
Suid-Afrika se eie ruimteman, Mark
Shuttleworth,
het in 2002
’n tydjie aan boord van die Internasionale Ruimtestasie
deurgebring—’n ervaring wat hom, na berig is, ’n yslike
R220 miljoen gekos het.
MAAR
baie ander tegnologiese hulpmiddels—lank nie slegs
watersuiweraars en storte sonder sproeikoppe nie—is
vanselfsprekend nodig vanweë die besondere toestande by die
Internasionale Ruimtestasie.
Om in sy wentelbaan te bly, moet dit so vinnig om die aarde kan
beweeg dat dit die afstand tussen Londen en Texas binne sewentien minute
kan aflê.
"Om sestien keer per dag om
die aarde te wentel, bied ’n mens ’n skouspelagtige panorama," sê
Andrew Thomas, ’n Australiër wat tye in die Russiese ruimtestasie Mir
asook in die nuwe stasie deurgebring het. "’n Mens sien elke 45
minute ’n sonop."
Maar hoe wonderlik die
uitsigte ook al is, beteken die groot snelheid waarteen die
Internasionale Ruimtestasie beweeg dat werk aan die buitekant daarvan
uiters gevaarlik is. Elke keer dat ruimtevaarders ruimtewandelings moet
onderneem om nuwe modules vas te heg of skade te herstel, waag hulle hul
lewe.
Hulle dra ruimtepakke van
nagenoeg R110 miljoen wat botsings teen stofdeeltjies so groot as ’n
sandkorrel kan weerstaan. Enige groter deeltjies sal ’n gat in ’n
ruimtepak skeur, wat die ruimtevaarder slegs ’n halfuur tyd gee om
binne-in die ruimtestasie te kom met sy noodvoorraad suurstof.
Klein brokstukkies
ruimterommel soos dié kan ook bene breek en velle oopkloof. "Die
probleem met groterige gate in ruimtepakke is dat ’n mens nie net
suurstof sal verloor nie, maar ook hitte," sê Phil West, ’n
NASA-ingenieur en ruimtewandelings-deskundige. "Jou liggaam sal begin
vries en jy sal waarskynlik jou bewussyn verloor."
Ruimtewandelings word dus tot
die minimum beperk. Gelukkig sal robot-arms baie van die werk kan doen
wat buite nodig is.
• • •
NOG tegnologiese hulpmiddels
sal dit onnodig vir ruimtevaarders maak om dit ooit
buite te waag. ’n Robot met die bynaam Robonaut (deur NASA vervaardig)
sal heeltyds buite die ruimtestasie kan bly en soos
’n astrante ryloper aan die buitewand kleef. Die robot sal deur
ruimtevaarders binne-in die stasie beheer kan word of selfs deur tegnici op
aarde wat met hul hande in handskoene werk.
Robonaut sal mensagtige hande
hê, toegerus met dosyne sensors om sy beheerder enigiets te laat voel
waaraan hy self vat en wat vlytig met gereedskap kan werk net soos die
beheerder dit wil. Die masjien sal ook twee kamera-"oë" hê, sodat
die beheerder in drie dimensies alles kan sien wat die robot "sien".
REGS:
Aangesien ruimtewandelings vir ruimtevaarders gevaarlik is, is ’n
spesiale robot genaamd Robonaut ontwerp om bouwerk en noodsaaklike
herstelwerk aan die buitekant te doen. ’n Beheerder sal hom van binne
af bestuur.
"Aangesien Robonaut altyd
buitekant die stasie sal wees, sal hy veel vinniger kan reageer indien
enige dringende herstelwerk nodig is," verduidelik Robert Ambrose, die
Robonaut-projekleier. "Dit kan verskeie ure verg vir ’n ruimtevaarder
om vir die buitekant toegerus te word, maar Robonaut sal dadelik kan
optree."
Nog ’n nuttige robot, wat
PSA of Personal Satellite Assistant genoem word, kan weer die ruimtevaarders
aan die binnekant help. As Robonaut vergelyk kan word met Star Wars se
C3PO, is PSA die stasie se weergawe van R2D2. Maar hy’s lank g’n
groot blikemmer van ’n robot wat dit moeilik vind om trappe te klim
nie. Inteendeel, die PSA is niks groter as ’n tennisbal nie en sal in
die ruimtestasie aangedryf word deur ’n reeks waaiers sodat hy
ruimtevaarders met hul take kan help.
Yuri Gawdiak, die man agter
die PSA-projek, verduidelik: "Hy’s ’n soort veeldoelige toestel
soos dié in Star Trek. Maar ons het hom ook in staat gestel om stemme
te herken sodat die ruimtevaarders vrae aan die robot kan stel en hom
opdragte kan gee.
"Die ruimtevaarder sal
byvoorbeeld sê: 'Ek wil hê jy moet na Nodus Twee gaan en vasstel wat
die temperatuur daar is.' Dan kan hy op sy eentjie wegbeweeg, werklik
die temperatuur gaan meet en terugkom."
•
• •
MISKIEN is die ruimtemanne se
belangrikste tegnologiese hulpmiddel een wat hulle hoop hulle nooit sal
hoef te gebruik nie. As hulle noodgedwonge die stasie moet verlaat, sal
hulle ’n ontsnappingskapsule gebruik—’n pendeltuigie wat die
Crew Recovery Vehicle genoem word. Hierdie ruimtetuig kan net-net die
sewe bemanningslede dra en hulle na die aarde terugbring.
REGS:
As die ruimtevaarders noodgedwonge moet padgee, kan hulle dit in ’n
spesiale kapsule, die sogenaamde Crew Recovery Vehicle, doen. Dié
pendeltuigie kan al sewe bemanningslede van die ruimtestasie vervoer.
Dié
tuig is ’n goeie voorbeeld van hoe verskillende nasies saamwerk in die
ontwikkeling van die ruimtestasie. Die Amerikaners sou die projek koördineer,
terwyl die Nederlanders die
rigtingsroere, die Spanjaarde die onderstel en die Duitsers die neus
bou. DIe Franse sou weer hul aandag op die aërodinimika toespits en die
Belgiërs aan die stert werk.
Die bouery aan die Internasionale
Ruimtestasie het egter
maar hakke-krukke gegaan ná
die Columbia-ramp. Rusland,
met sy verarmde ruimteprogram, was met sy Sojoez-tuie die enigste
funksionerende lewenslyn na die ruimtestasie. Tog wil dit met die
skrywe hiervan lyk of die Amerikaanse pendeltuie teen Julie
2005 uiteindelik weer in aksie gaan wees.
Daar
word reikhalsend uitgesien na die voltooing van die IRS, sodat die nasies van die aarde
sal kan opkyk na die naghemel en ’n helder nuwe ster sal sien, ’n glansende
simbool van die mensdom se vermoë om saam te werk.
|