Aarde
Land en see... treffende ruimtefoto’s van dele van ons planeet
  

  Terug

2 van 7

Vorentoe  


Kaap, o mooiste Kaap....

 


BO: Kaapstad en die Kaapse Skiereiland is op die voorgrond van hierdie indrukwekkende perspektiefbeeld wat uit ’n satellietfoto en ruimtelike radardata saamgestel is. Van die tafelvorm van Tafelberg is weliswaar nie veel te sien nie, maar die terreinvorms van die Wes-Kaap is fassinerend.

Krediet: NASA / JPL  / NIMA
 


Panama, die beroemde kanaal wat die Amerikas skei

 


BO: Nog ’n imposante reliëfbeeld wat uit die ruimtelike gegewens gegenereer is. Dit is van die Panama-kanaal en sy omgewing—met kleure wat wissel van groen by die laagste plekke tot wit by die hoogste verhewenhede op die landskap. Die Golf van Panama is op die voorgrond en die Karibiese See in die verte. Die kanaal loop noordwes-suidoos tussen die stad Panama aan die Stille Oseaan en die stad Colón aan die Atlantiese kant. Ingenieurs van die VSA het die kanaal van iets meer as 80 km vroeg in die twintigste eeu gebou. Die Panama-kanaal skakel die nodigheid en die gevare uit om byna 13 000 km ver te vaar om die Stille Oseaan vanuit die Atlantiese Oseaan te bereik en omgekeerd.

Krediet: SRTM Team NASA / JPL / NIMA
 
  


Skilderagtige Bahama-toneel

 


BO: Vergeet van die digter se somer, son en saffier—hierdie satellietfoto van sand, see en seegras by die Bahama-eilande is maklik net so inspirerend.

Krediet: Serge Andrefouet, Universiteit van Florida / Earth as Art, NASA
 


Die massiewe Brandberg in die Namib

 


BO en ONDER: Lank, baie lank gelede het 'n geweldig groot stuk graniet deur die kors van die Aarde omhoog gebeur om Namibië se hoogste berg te vorm, die Brandberg-massief in Damaraland in die Namibwoestyn. Hierdie koepelvormige intrusie beslaan ’n gebied van 650 vierkante kilometer en troon 2573 meter hoog oor die omringende woestyn. Op die reliëfbeeld bo en die satellietfoto onder sien ons die Brandberg op maniere wat geen sterfling beskore was voordat die ruimte-eeu aangebreek het nie.

Krediete: BO: NASA /GSFC / METI/ERSDAC / JAROS & U.S./Japan ASTER Science Team
ONDER: USGS EROS Data Center, via Earth Observ., NASA


  Terug

2 van 7

Vorentoe  

   


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad