Neptunus
Die mane van die windplaneet

 

 Terug

2 van 2

Ons 8 planete 

 

   
Neptunus het, sover bekend, dertien mane. Verreweg die grootste een is Triton, met sy deursnee van 2700 km. Maar Triton is steeds minder as 80 persent so groot as die Aarde se Maan. En dan beweeg hierdie moontlike indringer boonop stroom op soos ’n kreef!

Triton, die “kreef” wat van elders kon gekom het
 

  
BO en ONDER: Triton, soos die maan in 1989 deur die snuffeltuig Voyager 2 gefotografeer is ten tyde van sy verbyvlug by die Neptunus-sisteem.

Krediet: Voyager 2 / NASA

 

VAN Neptunus se dertien bekende mane is Triton die enigste een wat massief genoeg is om bolvormig te kan wees. Wat Triton miskien nog meer besonders maak, is dat hy in ’n kreeftegang “agteruit” of  “stroom op” om Neptunus beweeg, anders as die rigting van al die ander groot planetêre mane.

Die meeste hemelligame in die Sonnestelsel beweeg teen die hor­losiewysers om die Son, soos gesien van ’n posisie bokant die Son se noordpool. Dit is dieselfde rigting as waarin die Son self in die rondte draai. Die uitsonderings is meestal komete, wat enige koers om die Son kan inslaan.

Maar Neptunus se groot maan Triton is ewe links van die regering. Waarom? Aangesien hy sekere kenmerke het wat met die dwergplaneet Pluto ooreenstem, word gedink dat Triton oorspronklik ’n voorwerp in die Kuipergordel doer in die afgeleë buitekant van die Sonnestel was, wat deur Neptunus as ’n maan gevange geneem is.

Boonop dink sekere navorsers dat die gevangeneming, toe dit plaas­gevind het, wanorde en verwoesting in die destydse Neptunus-sisteem kon gesaai en bestaande mane teen mekaar kon laat bots het. Dit kan verklaar waarom Neptunus so min mane het in vergelyking met die ander gasplanete.

Met sy −235° C is Triton se temperatuur ook die koudste wat nog in die Sonnestelsel gemeet is.

Triton is in 1846 deur die Britse sterrekundige William Lassell ontdek, minder as drie weke nadat Neptunus self ontdek is. Dit het sowat ’n eeu geduur om die volgende Neptunus-maan, Nereid, te vind.

Siende dat Neptunus die ou Romeine se mitlogiese god van die see was, is die planeet Neptunus se mane na mindere seegode genoem.
  


  Neptunus en Triton 
 


BO: Neptunus en sy maan Triton drie dae ná Voyager 2 se destydse verbyvlug. Die ou Voyager-ontdekker het oor etlike jare heen vier planete en hul mane besoek en is miskien die mees produktiewe verkenningstuig wat nog gebruik is. Omdat Neptunus die laaste groot planeet was wat Voyager 2 sou besoek, is besluit om hom baie naby aan die maan Triton verby te stuur, wat só ’n maneuver ook al aan sy trajek sou doen. Die kanniedood was egter in 2007 reeds meer as twee keer verder van die Son af as Pluto, ver in die uiterste gramadoelas van die Sonnestelsel, en daar word verwag dat hy nog tot in die jare twintig kan aanhou om seine na die Aarde toe te stuur.

Krediet: Voyager 2 / NASA

 
 

Proteus—net-net te klein om sfeer te kon wees
 

BO: Proteus, met afmetings van 436 × 416 × 402 km Neptunus se naasgrootste maan. Die onreëlmatig gevormde Proteus is belangrik omdat hy so groot is as wat ’n hemelliggaam kan wees voordat dit deur sy eie swaartekrag in die vorm van ’n sfeer getrek word.

Krediet: Voyager 2 / NASA