Saturnus
Die epiese ontdekkingstog van Cassini

  Terug

2 van 11

Vorentoe 

 

   
“Mees ambisieuse reis in die geskiedenis van verkenningstuie”

Jy wals, tiekiedraai met die newels en ringe,
weetgierig beloer jy die mane en dinge.
Jou seine word gretig ontvang op die Aarde—
maar skat ons, ou breker, jou werklik na waarde?


BO: 'n Kunstenaarsvoorstelling van die Cassini waar hy begin om sy wentelbaan om Saturnus aan te durf ná sy lang reis soheentoe van die Aarde af. Die maneuver om só deur die planeet se swaartekrag vasgevang te word ten einde in ’n baan daarom te beweeg, sou sowat 90 minute duur.

Krediet: Photojournal / JPL / NASA

DIE Cassini-Huygens-sending is al die mees ambisieuse reis in die geskiedenis van onbe­mande ruimteverkenning genoem—onderneem deur die wenteltuig Cassini, wat in ’n baan om Saturnus beweeg, en die landingstuig Huygens, wat vroeër van die Cassini ontkoppel is om op die grootste maan van Saturnus, Titan, te land.

Die Cassini het reeds oor etlike jare vir opwindende inligting en ongeëwenaarde foto’s oor Saturnus, sy mane en ringe gesorg en moet, as alles volgens plan verloop, nog ’n hele tyd lank met sy epiese verkenningstog daar in die verre vreemde voortgaan.

Die Huygens—die “ryloper” op die Cassini—het met sy landing op Titan voorspelbaar dowwe, maar nietemin merkwaardige foto’s bokant en op die maan geneem—waaroor die wetenskap­like wêreld onmiddellik in ekstase was. So ver in die buitewyke van ons Sonnestelsel het ’n mensgemaakte ruimtetuig immers nog nooit geland nie.
  
Die
Cassini-Huygens-sending is ’n saamwerkprojek van die Amerikaanse ruimteagentskap (NASA), die Europese ruimteagentskap (ESA) en die Italiaanse ruimteagentskap (ASI).

Die massiewe Cassini (so groot soos ’n bus) het ten tyde van sy lansering byna 5300 kg geweeg, waarvan meer as die helfte brandstof vir trajekbeheer was. Die massa van die Huygens-landingstuig, wat sy laaste rusplek op Titan gevind het, is om en by 350 kg.

Die Cassini-Huygens is op 15 Oktober 1997 gelanseer en het op 1 Julie 2004, ná ’n marathon-reis van byna sewe jaar, om Saturnus begin wentel.

BO: Daar is met ’n groot ompad na Saturnus gereis. Die rede daarvoor is dat geen bestaande lanseerder soveel krag kon opwek om só ’n groot vaartuig as Cassini reguit na die afgeleë Saturnus te lanseer nie. Om die lang afstand te kon aflê, moes hy genoeg kon versnel—en dié het hy vermag deur middel van die sogenaamde "slingervel-tegniek" waardeur hy die swaartekragte van ander planete in die Sonnestelsel vir hom laat werk het. Die Cassini-Huygens het eers twee keer om die planeet Venus, toe om Aarde en daarna om die planeet Jupiter gaan swaai voordat hy Saturnus kon bereik.

Krediet: NASA

Die Huygens is op Kersdag 2004 van die Cassini ontkoppel en het sy eie koers ingeslaan in die rigting van die maan Titan—waarna hy op 14 Januarie 2005 met behulp van valskerms deur Titan se dik atmosfeer gedring het om ’n sagte landing op die maan uit te voer.

Die Cassini is ontwerp om vier jaar lank sy verkenningswerk te doen (dus tot diep in 2008), dog ’n verlenging van twee jaar van die missie is reeds geskeduleer en ’n verdere verlenging is moontlik as daar nie probleme opduik nie.

Maar kommunikasie met die Cassini is allermins maklik. Omdat hy so ver van die Aarde is—nagenoeg agt tot tien keer die afstand tussen die Aarde en die Son—kos dit seine van 68 tot 84 minute om van die Aarde af soheentoe te beweeg, en omgekeerd dieselfde tyd. Grondbeheer kan dus nie opdragte gee wat dadelik uitgevoer moet word nie, maar moet deeglik voorsiening maak vir die tydsverloop. Selfs as hulle onmiddellik ’n opdrag uitstuur nadat hulle van ’n haakplek bewus geword het, sal byna drie ure verloop het voordat hulle ’n reaksie van die ruimtetuig ontvang.

Die Cassini se baan om Saturnus is nie eenselwig nie, maar hy word in sy rondomtalies in allerhande rigtings gestuur om as ’t ware hier, daar en oral by die verskilllende mane en die ringe verby te skuur en  inligting van nader in te win.

 

“Saturnus, hier kom ons (sien jou oor sewe jaar)”


BO: Die verkenningstuig Cassini (met sy “passasier”, die Huygens-landingstuig wat vir die maan Titan bestem is) word op 15 Oktober 1997 van Cape Canaveral-lugmagbasis in Florida, Amerika, gelanseer vir die Cassini se geskiedkundige ontmoeting met Saturnus byna sewe jaar later. Hierdie foto van die lansering is deur ene Ken Sturgill van Marion, Virginia, in die VSA, geneem en deur die ruimte-agentskap NASA beskikbaar gestel. ’n Titan IVB/Centaur-lanseringsmeganisme bestaande uit ’n tweestadium-aanjaagvuurpyl en ander komponente is gebruik. Die totale koste van die ruimtesending is sowat $3,26 miljard.
     



    

  
Vaarwel aan die “ryloper”


BO: ’n Voorstelling van die Cassini (links) en die Huygens (regs)  ná hul ontkoppeling op Kersdag 2004. Elders in hierdie aflewering oor Saturnus word vertel van die Huygens se landing op die maan Titan wat op hierdie ontkoppelingsmaneuver gevolg het.

Krediet: Photojournal / JPL / NASA
 


Cassini en Huygens—die ontdekkers van weleer
 

LINKS BO: Die Italiaans-Franse sterrekundige Giovanni Domenico (Jean-Dominique) Cassini (1625–1712), na wie die snuffeltuig Cassini genoem is. Hy het in die sewentiende eeu nie net vier van Saturnus se mane ontdek nie, maar ook die vreemde gaping in die ringstelsel wat nou die Cassini-gaping genoem word.

REGS BO:  Die Nederlandse wetenskaplike Christiaan Huygens (1629–1695), wat die Saturnus-maan Titan in 1655 ontdek het en na wie die landingstuig Huygens genoem is wat in Januarie 2005 op Titan geland het. In 1659 het Christiaan Huygens ook aangekondig dat die vreemde "mane" van Saturnus wat Galileo in 1610 gesien het, in werklikheid ’n stelsel van ringe om die planeet is. Huygens was boonop beroemd vir sy uitvinding van die slingeruurwerk, die eerste akkurate tydmetings­toestel.

Krediete: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

  Terug

2 van 11

Vorentoe 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad