Wedloop na die Maan

Van Spoetnik 1 tot Apollo 11—die intense stryd tussen Amerika en die Sowjet-Unie in die eerste jare van die ruimte-eeu

 

  Inhoudsblad

1 van 5

Vorentoe 

  

 
Mossie maar man... bliepende kunsmaantjie wat ruimte-eeu ingelui het
 

 
BO: ’n Presiese replika van Spoetnik 1, wat op 4 Oktober 1957 deur die Sowjet-Unie gelanseer is as die Aarde se eerste kunsmatige satelliet. Spoetnik 1 het ’n skamele 83,5 kg geweeg, maar die Russe het daarmee die ruimte-eeu ingelui. Vir die Amerikaners was dit ’n geweldige skok dat dit nie hulle was wat die eerste kunsmaantjie in die ruimte geplaas het nie. Wat meer sê, hulle moes tot elke prys keer dat die Kommunistiese Sowjet-Unie sy voorsprong in die ruimte behou. Boonop sou hulle vanself­sprekend moes wal gooi teen die geweldige propaganda-waarde wat dit vir die Sowjet-Kommunisme gehad het.

Spoetnik 1 het op ’n hoogte van sowat 800 kilometer om die Aarde gewentel en teen nagenoeg 29 000 km/h voortgesnel. Dit het elke 96 minute een omwenteling om die Aarde voltooi. Verskeie kere per dag het dit oor die koppe van die verwonderde Aardbewoners beweeg, wat die onophoudelike ge-bliep-bliep-bliep-bliep van daardie eerste mensgemaakte satelliet op hul radio’s kon hoor.

Die klein kunsmaantjie—werklik weinig meer as ’n blink stukkie Kommunistiese propaganda—het op 4 Januarie 1958 ná 1400 omwentelings in die Aarde se atmosfeer uitgebrand. Spoetnik 1 was nietemin die voorloper van ’n duisternis ander mensgemaakte voorwerpe, wat naderhand soos ’n swerm muggies om ons planeet sou tol.

Foto: NASA

   

 
Hoogtepunte van die ruimtewedloop

AMERIKA en die Sowjet-Unie was in ’n hewige stryd gewikkel om aan te toon wie die militêre meesters van die wêreld was—en hy wat die oppergesag in die ruimte sou hê, sou hom ook as die bobaas-land op die Aarde kon bewys.

Erg verneder deur die feit dat die Russe die heel eerste kunsmatige satelliet om die Aarde laat wentel het, het die Amerikaners koorsagtig begin werk om hul verlore prestige te herwin. En dié sou net werklik op een manier bewerkstellig kon word... deur die eerste land in die geskiedenis te word wat mense op die Maan kon laat loop.

Hier is van die hoogtepunte uit die gebeurtenisryke eerste sowat twaalf jaar toe die ruimtewedloop op sy intensste was—van Spoetnik 1 tot Apollo 11—’n interessante maar enigsins gespanne tyd in die wêreldgeskiedenis:

 •  4 Oktober 1957: Spoetnik 1, die Aarde se eerste kunsmatige satelliet, word deur die Sowjet-Unie gelanseer. Dit bly in 'n wentelbaan tot 4 Januarie 1958. Dié tuigie van slegs 83,5 kg het in der waarheid die ruimte-eeu ingelui.

REGS: Die satelliet Spoetnik 1 in die monteerfabriek waar ’n tegnikus die nodige afrondingswerk daaraan doen in die herfs (Noordelike Halfrond) van 1957.

Foto: Great Images in NASA (GRIN)

•  4 November 1957: Die Sowjet-Unie se Spoetnik 2, met 'n hond aan boord, bly in in 'n wentelbaan tot 13 April 1958. Die hond, 'n tefie genaamd Laika (of Lemmetjie), het 'n aantal dae in die ruimte bly lewe, maar kon nie weer na die Aarde teruggebring word nie.
•  31 Januarie 1958: Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet, word van Cape Canaveral gelanseer. Danksy wetenskaplike proewe deur James A. van Allen word mettertyd ontdek dat daar stralingsones is wat die Aarde omring. Dit word die Van Allen-stralingsgordels ("radiaton belts") genoem.


BO: Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet. Een baie belangrike komponent van dié kunsmaantjie was ’n Geiger-telbuis, waarmee kosmiese strale waargeneem is. Partykeer het die instrument die verwagte telling van kosmiese strale geregistreer—sowat dertig tellings per sekonde—maar dan was daar soms weer ’n onverwagse nul tellings per sekonde. Die navorsingspan onder James A. van Allen het opgemerk dat die wisselende tellings afgehang het van hoe hoog of laag die satelliet beweeg het in sy omwentelings om die Aarde. Verdere waarnemings ná die lansering van Explorer 3 het die waar­nemers laat besluit dat die oorspronklike Geiger-telbuis oorweldig is deur die sterk uitstraling uit ’n gordel van gelaaide deeltjies wat deur die magneetveld van die Aarde in die ruimte vasgevang word. Dit word tans die Van Allen-stralingsgordel genoem.

Foto: NASA

•  17 Maart 1958: Amerika se Vanguard 1-satelliet word in 'n wentelbaan geplaas. Dit stuur drie jaar lank seine uit.
•  15 Mei 1958: Spoetnik 3 deur die Sowjet-Unie gelanseer.
•  1 Oktober 1958: Amerika stig NASA, sy nasionale lugvaart-en ruimte-administrasie.
•  2 Januarie 1959: Die Sowjet-Unie lanseer Loena 1, die eerste kunsmatige satelliet wat om die Son wentel.
•  3 Maart 1959: Lansering van Amerika se Pioneer 4. Hy vlieg tot omtrent 60 000 km van die Maan af en wentel daarna om die Son.
•  12 September 1959: Loena 2 word deur die Sowjet-Unie gelanseer. Eerste verkenningstuig wat die Maan tromop tref en wel op 13 September.

REGS: Ná die eerste ontmoeting met die Maan lanseer die Sowjet-Unie nog ’n string ander verkennningstuie na ons byplaneet—daar was altesaam 24 Loenas.
Hier is Loena 16.
 

•  4 Oktober 1959: Lansering van Loena 3 deur die Sowjet-Unie. Hy maak sy draai om die Maan en fotografeer 70% van die Maan se agterkant.

LINKS: Een van die eerste foto’s wat Loena 3 van die agterkant van die Maan geneem het, die kant wat gedurig van die Aarde af weggedraai is omdat die Maan net so lank om sy eie as draai as wat hy om die Aarde wentel. Met die Loena 3-foto’s is ’n baie ou raaisel uiteindelik vir die mens opgelos: hoe die Maan lyk op die halfrond wat ons nie kan sien nie.

•  1 April 1960: Tiros 1, die eerste suksesvolle weersatelliet, deur Amerika opgestuur.
•  18 Augustus 1960: Discoverer XIV lanseer Amerika se eerste Corona-spioenasiesatelliet wat met 'n kamera toegerus is.
•  31 Januarie 1961: ’n Sjimpansee met die naam Ham word deur Amerika aan boord van Mercury-Redstone 2 die ruimte ingeskiet vir ’n geslaagde sprong (maar nie ’n volle omwenteling om die Aarde nie). Ham se kapsule plons ná slegs 16 minute en 39 sekondes in die Atlantiese Oseaan, waar hy later in die dag deur ’n reddingskip opgepik word. Hy is ongedeerd, buiten dat sy neus gekneus is.
•  12 April 1961: Wostok 1 word deur die Sowjet-Unie gelanseer met Joeri Gagarin aan boord—die eerste mens in die ruimte. Hy wentel een maal om die Aarde.
•  5 Mei 1961: Mercury Freedom 7 waag met Alan B. Shepard jr. van Amerika 'n geslaagde sprong die ruimte in, maar sonder om om die Aarde te wentel.

REGS: ’n Mercury-ruimtekapsule. “Project Mercury” was die VSA se eerste program vir menslike ruimtevlugte. Die program het 1959 tot in 1963 geduur en die doel was spesifiek om ’n mens in ’n wentelbaan om die Aarde te plaas. Daar is ge­skerts dat die Mercury-ruimtekapsules so klein was dat die ruimtevaarders nie daarin gery het nie, maar hulle gedra het—soos klere!

•  6 Augustus 1961: Wostok 2 skiet Gherman Titof die ruimte in vir die eerste daglange ruimtevlug van die Sowjet-Unie.
•  20 Februarie 1962: Mercury Friendship 7 vertrek met John H. Glenn jr., die eerste Amerikaner in 'n wentelbaan, en kring drie keer om die Aarde.
 10 Julie 1962: Die Amerikaanse satelliet Telstar 1 sorg vir die eerste direkte trans­atlantiese TV-uitsending.
•  14 Desember 1962: Amerika se Mariner 2, die eerste geslaagde planetêre ruimte­tuig, vlieg by die planeet Venus verby en begin dan om die Son wentel.
•  16 Junie 1963: Wostok 6 plaas die eerste vrou in die ruimte, die Sowjet-Unie se Walentia Teresjkowa. Sy voltooi 48 aardomwentelings. (Eers byna presies twintig jaar later, op 19 Junie 1983, word Sally K. Ride die eerste Amerikaanse vrou in die ruimte op 'n sending van die Challenger-pendeltuig. Die Challenger het op 'n later sending, in Januarie 1986, dramaties ontplof.)
•  31 Julie 1964: Amerika se Ranger 7 stuur die eerste nabyfoto's van die Maan.
•  18 Maart 1965: Die eerste ruimtewandeling word vanuit die Sowjet-Unie se Wosksjod 2 onderneem en wel deur Aleksei Leonof. Dit duur twaalf minute.
•  23 Maart 1965: Gemini 3, die eerste bemande vlug van Amerika se Gemini-program, voltooi drie aardomwentelings met Virgil I. Grissom en John W. Young.
•  24 Maart 1965: Amerika se Ranger 9 stuur duidelike beelde van die Maan waarvan baie direk vertoon word in die eerste televisie-skouspel oor ons byplaneet.
•  3 Junie 1965: Edward White II onderneem Amerika se eerste ruimtewandeling vanuit Gemini 4. Dit duur 22 minute.
•  14 Julie 1965: Amerika se Mariner 4 stuur die eerste nabybeelde van die planeet Mars.
•  16 November 1965: Die Sowjet-Unie se Venus 3 word gelanseer en word op 1 Maart 1966 die eerste ruimtetuig wat die planeet Venus besoek.
 4 Desember 1965: Gemini 7 word met Frank Borman en James A. Lovell jr. opgestuur. Die tuig voltooi 206 aardomwentelings en bewys dat 'n reis na die Maan moontlik is.
•  15 Desember 1965: Die Amerikaners Walter Schirra jr. en Thomas Stafford in Gemini 6 sorg vir die eerste ruimte-ontmoeting deur hulle by Gemini 7 aan te sluit.
•  3 Februarie 1966: Loena 9 van die Sowjet-Unie is die eerste ruimtetuig wat 'n sagte landing op die Maan uitvoer.
•  1 Maart 1966: Venera 3 van die Sowjet-Unie sorg vir 'n kolskoot op Venus, die eerste ruimtetuig wat 'n ander planeet bereik. Hy kan egter nie besonderhede omtrent Venus terugsein nie.
•  31 Maart 1966: Die Sowjet-Unie lanseer Loena 10, wat op 3 April die eerste ruimtetuig word wat as ’n satelliet om die Maan begin wentel (trouens, die eerste mensgemaakte satelliet van enige hemelligaam buiten die Aarde).
•  2 Junie 1966: Surveyor 1 is die eerste Amerikaanse ruimtetuig wat 'n sagte landing op die Maan uitvoer.
•  14 Augustus 1966: Amerika se Lunar Orbiter 1 beweeg in 'n wentelbaan om die Maan en neem die eerste foto's van die Aarde soos gesien van die Maan af.
•  23 April 1967: Sojoez 1 van die Sowjet-Unie word met Wladimir Komarof gelanseer. Dit stort op 24 April neer en Komarof word gedood. Hy is, sover bekend, die eerste mens wat in 'n ruimtevlug gesterf het.
 5 September 1968: Die Sowjet-Unie lanseer Zond 5, die eerste ruimtetuig wat om die Maan wentel en na die Aarde terugkeer.
•  11 Oktober 1968: Amerika se Apollo 7 is die eerste bemande Apollo-sending met Walter M. Schirra jr., Donn F. Eisele en Walter Cunningham aan boord. Dit voltooi een aardomwenteling.
 21 Desember 1968: Apollo 8 word met Frank Borman, James A. Lovell jr. en William A. Anders die ruimte ingestuur. Dit is die eerste Apollo wat van die Saturn 5-vuurpyl gebruik maak en die eerste bemande ruimtetuig wat om die Maan wentel. Dit voltooi tien maanomwentelings in 'n sending van ses dae.
•  20 Julie 1969: Neil Armstrong en Edwin Aldrin jr. van Amerika se Apollo 11 word die eerste mense wat op die Maan land en daarop rondloop.

 
Laika, die eerste
hond in ’n wentelbaan
 


BO: ’n Voorstelling van die Sowjet-Unie se tefie Laika (of Lemmetjie), die eerste hond wat om die Aarde gewentel het.  Sy was ’n rondloperhond wat in die strate van Moskou gevang en vir die ruimtesending voorberei is. Daar is minstens twee weergawes van wat haar lot was nadat sy in November 1957 deur die Sowjet-Unie in die ruimte geplaas was, wel wetende dat hulle haar nie weer sou kon terugbring Aarde toe nie. Die amptelike weergawe was dat Laika minstens vier dae en dalk sowat 'n week ná die lansering pynloos dood is in haar wentelbaan om die Aarde. ’n Ander weergawe is in 2002 deur ’n Rus op
die Wêreld-Ruimtekongres in Houston, Texas, verstrek. Dit is dat Laika slegs ’n paar uur ná die begin van die sending van oorverhitting en paniek dood is. Haar kos was glo in die vorm van jellie en sy is vasketting om te keer dat sy in haar kapsule omdraai.

•  Minstens tien ander honde is in wentelbane geplaas voor April 1961 toe die Sowjet-unie se Joeri Gagarin die eerste mens in die ruimte geword het.

Foto: Virtuele Ruimtemuseum in Rusland


Maar die heel eerste ruimtevaarders
was—glo dit—vrugtevlieë!
 

LINKS BO: Dit is nie algemeen bekend dat die heel eerste lewende wesens in die ruimte vrugtevlieë was nie. Hier is ’n elektronmikroskopiese foto van ’n vrugtevlieg se kop.

REGS BO is ’n V2-vuurpyl soos dié waarmee die Amerikaners die vrugte­vlieë reeds in 1946 die ruimte ingelanseer het. Die V2 was ’n Duitse produk, en net ná die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaners en Russe geskarrel om soveel as moontlik van die V2’s—en die Duitsers wat hulle gebou het—in die hande te kry.

Driehonderd treinvragte V2-vuurpyle en-onderdele is gebuit en na Amerika verskeep, terwyl 126 van die vernaamste ontwerpers, onder wie die briljante Wernher von Braun, in Amerikaanse hande was. Trouens, Von Braun en sy span het bewustelik gesorg dat hulle deur die Amerikaners gevange ge­neem word eerder as om in die hande van die oprukkende Russe te beland. Von Braun, wat Amerikaanse burgerskap sou aanneem, sou later beskou word as die vader van die Amerikaanse ruimteprogram.

Op die foto’s ONDER is dr. Von Braun en sy vrou, Maria.

Elektronmikroskopiese foto: Electroscan / via Science, NASA; foto’s van Von Braun-egpaar: NASA

  


Enige aap kan mos vlieg (al kneus hy sy neus)
 

REGS: Ham die sjimpansee steek ewe plesierig sy hande uit vir sy eerste kos ná sy ruimtevlug.

Foto: JSC / NASA

HAM, ’n vierjarige sjimpansee, het op 31 Januarie 1961 die eerste “mensaap” in die ruimte geword toe hy die Aarde aan boord van Amerika se Mercury-Redstone 2 verlaat het.

Hy het egter slegs ’n geslaagde sprong in die ruimte uitgevoer en nie ’n volle omwenteling om die Aarde voltooi nie.

Dié vrolike kalant is geleer om ’n hefboom te druk wanneer hy ’n blou lig sien flits. As hy dit nie gedoen het nie, het ’n ligte elektriese stroom sy voetsole geskok, en indien hy wel die hefboom gedruk het, is hy met ’n piesangpilletjie beloon.

Ná sy opleiding was dit tyd vir Ham om sy slag in die ruimte te wys—sy ruimtebase wou vasstel hoe hy funksioneer wanneer hy aan al die druk en spanning van ruimtevaart blootgestel word. Hy het met vlieënde vaandels geslaag en sy hefboomdrukkery was slegs ’n breukdeel van ’n sekonde stadiger as op die Aarde.

Ham se kapsule het ná slegs 16 minute en 39 sekondes in die Atlantiese Oseaan neergeplons, waar hy later in die dag deur ’n reddingskip opgepik is. Hy was ongedeerd, buiten dat sy neus gekneus was.

Een ding wat Ham onteenseglik bewys het, is dat enige aap in die ruimte kan rondvlieg!

  

  Inhoudsblad

1 van 5

Vorentoe 

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad