Hoogtepunte van die
ruimtewedloop
AMERIKA en die
Sowjet-Unie was in ’n hewige stryd gewikkel om aan
te toon wie die militêre meesters van die wêreld
was—en hy wat die oppergesag in die ruimte sou hê,
sou hom ook as die bobaas-land op die Aarde kon
bewys.
Erg verneder deur
die feit dat die Russe die heel eerste kunsmatige
satelliet om die Aarde laat wentel het, het die
Amerikaners koorsagtig begin werk om hul verlore
prestige te herwin. En dié sou net werklik op een
manier bewerkstellig kon word... deur die eerste
land in die geskiedenis te word wat mense op die
Maan kon laat loop.
Hier is van die
hoogtepunte uit die gebeurtenisryke eerste sowat
twaalf jaar toe die ruimtewedloop op sy intensste
was—van Spoetnik 1 tot Apollo 11—’n interessante
maar enigsins gespanne tyd in die wêreldgeskiedenis:
•
4
Oktober 1957:
Spoetnik 1, die
Aarde se eerste kunsmatige satelliet, word deur die
Sowjet-Unie gelanseer. Dit bly in 'n wentelbaan tot 4
Januarie 1958. Dié tuigie van slegs 83,5 kg het in
der waarheid die ruimte-eeu ingelui.
REGS:
Die satelliet Spoetnik 1 in die monteerfabriek waar
’n tegnikus die nodige afrondingswerk daaraan doen
in die herfs (Noordelike Halfrond) van 1957.
Foto: Great Images in NASA (GRIN)
•
4 November
1957: Die Sowjet-Unie se Spoetnik 2, met 'n hond aan
boord, bly in in 'n wentelbaan tot 13 April 1958.
Die hond, 'n tefie genaamd Laika (of Lemmetjie), het
'n aantal dae in die ruimte bly lewe, maar kon nie
weer na die Aarde teruggebring word nie.
•
31
Januarie 1958:
Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet, word
van Cape Canaveral gelanseer. Danksy wetenskaplike proewe
deur James A. van Allen word mettertyd ontdek dat daar
stralingsones is wat die Aarde omring. Dit word die
Van Allen-stralingsgordels ("radiaton belts")
genoem.

BO: Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet.
Een baie belangrike komponent van dié kunsmaantjie
was ’n Geiger-telbuis, waarmee kosmiese strale
waargeneem is. Partykeer het die instrument die
verwagte telling van kosmiese strale
geregistreer—sowat dertig tellings per sekonde—maar
dan was daar soms weer ’n onverwagse nul tellings
per sekonde. Die navorsingspan onder James A. van
Allen het opgemerk dat die wisselende tellings
afgehang het van hoe hoog of laag die satelliet
beweeg het in sy omwentelings om die Aarde. Verdere
waarnemings ná die lansering van Explorer 3 het die
waarnemers laat besluit dat die oorspronklike
Geiger-telbuis oorweldig is deur die sterk
uitstraling uit ’n gordel van gelaaide deeltjies wat
deur die magneetveld van die Aarde in die ruimte
vasgevang word. Dit word tans die Van
Allen-stralingsgordel genoem.
Foto: NASA
•
17 Maart
1958:
Amerika se Vanguard 1-satelliet word in 'n
wentelbaan geplaas. Dit stuur drie jaar lank seine
uit.
•
15 Mei
1958:
Spoetnik 3 deur die Sowjet-Unie gelanseer.
•
1 Oktober
1958:
Amerika stig NASA, sy nasionale lugvaart-en
ruimte-administrasie.
•
2
Januarie 1959:
Die Sowjet-Unie lanseer Loena 1, die eerste
kunsmatige satelliet wat om die Son wentel.
•
3 Maart
1959:
Lansering van Amerika se Pioneer 4. Hy vlieg tot
omtrent 60 000 km van die Maan af en wentel daarna
om die Son.
•
12
September 1959:
Loena 2 word deur die Sowjet-Unie gelanseer. Eerste
verkenningstuig wat die Maan tromop tref en wel op 13
September.
REGS:
Ná die eerste ontmoeting met die Maan lanseer die
Sowjet-Unie nog ’n string ander verkennningstuie na ons
byplaneet—daar was altesaam 24 Loenas.
Hier is Loena
16.
•
4
Oktober 1959:
Lansering van
Loena 3 deur die Sowjet-Unie. Hy maak sy draai om
die Maan en fotografeer 70% van die Maan se
agterkant.
LINKS:
Een van die eerste foto’s wat Loena 3 van die
agterkant van die Maan geneem het, die kant wat
gedurig van die Aarde af weggedraai is omdat die
Maan net so lank om sy eie as draai as wat hy om die
Aarde wentel. Met die Loena 3-foto’s is ’n baie ou
raaisel uiteindelik vir die mens opgelos: hoe
die Maan lyk op die halfrond wat ons nie kan sien
nie.
•
1 April
1960: Tiros 1, die eerste suksesvolle weersatelliet, deur
Amerika opgestuur.
•
18
Augustus 1960:
Discoverer XIV lanseer Amerika se eerste
Corona-spioenasiesatelliet wat met 'n kamera
toegerus is.
•
31 Januarie 1961:
’n Sjimpansee met die naam Ham word deur Amerika aan
boord van Mercury-Redstone 2 die ruimte ingeskiet
vir ’n geslaagde sprong (maar nie ’n
volle omwenteling om die Aarde nie). Ham se kapsule
plons ná slegs 16 minute en 39 sekondes in die
Atlantiese Oseaan, waar hy later in die dag deur ’n
reddingskip opgepik word. Hy is ongedeerd, buiten
dat sy neus gekneus is.
•
12 April
1961: Wostok 1 word deur die Sowjet-Unie gelanseer met Joeri
Gagarin aan boord—die eerste mens in die ruimte.
Hy wentel een maal om die Aarde.
•
5 Mei
1961:
Mercury Freedom 7 waag met Alan B. Shepard jr. van
Amerika 'n geslaagde sprong die ruimte in, maar
sonder om om die Aarde te wentel.
REGS:
’n Mercury-ruimtekapsule. “Project Mercury” was die
VSA se eerste program vir
menslike ruimtevlugte. Die program het 1959 tot in
1963 geduur en die doel was spesifiek om ’n mens in
’n wentelbaan om die Aarde te plaas. Daar is
geskerts dat die Mercury-ruimtekapsules so klein was
dat die ruimtevaarders nie daarin gery het nie, maar
hulle gedra het—soos klere!
•
6 Augustus
1961:
Wostok 2 skiet Gherman Titof die ruimte in vir die
eerste daglange ruimtevlug van die Sowjet-Unie.
•
20
Februarie 1962:
Mercury
Friendship 7 vertrek met John H. Glenn jr., die
eerste Amerikaner in 'n wentelbaan, en kring drie
keer om die Aarde.
•
10
Julie 1962:
Die Amerikaanse
satelliet Telstar 1 sorg vir die eerste direkte
transatlantiese TV-uitsending.
•
14
Desember 1962:
Amerika se
Mariner 2, die eerste geslaagde planetêre
ruimtetuig, vlieg by die planeet Venus verby en
begin dan om die Son wentel.
•
16 Junie
1963: Wostok 6 plaas die eerste vrou in die ruimte, die
Sowjet-Unie se Walentia Teresjkowa. Sy voltooi 48
aardomwentelings. (Eers byna presies twintig jaar
later, op 19 Junie 1983, word Sally K. Ride die
eerste Amerikaanse vrou in die ruimte op 'n sending
van die Challenger-pendeltuig. Die Challenger het op
'n later sending, in Januarie 1986, dramaties
ontplof.)
•
31 Julie
1964:
Amerika se Ranger 7 stuur die eerste nabyfoto's van
die Maan.
•
18 Maart
1965:
Die eerste ruimtewandeling word vanuit die
Sowjet-Unie se Wosksjod 2 onderneem en wel deur
Aleksei Leonof. Dit duur twaalf minute.
•
23 Maart
1965:
Gemini 3, die eerste bemande vlug van Amerika se
Gemini-program, voltooi drie aardomwentelings met
Virgil I. Grissom en John W. Young.
•
24
Maart 1965:
Amerika se Ranger
9 stuur duidelike beelde van die Maan waarvan baie
direk vertoon word in die eerste televisie-skouspel
oor ons byplaneet.
•
3
Junie 1965:
Edward White II onderneem Amerika se eerste
ruimtewandeling vanuit Gemini 4. Dit duur 22 minute.
•
14
Julie 1965:
Amerika se
Mariner 4 stuur die eerste nabybeelde van die
planeet Mars.
•
16
November 1965:
Die Sowjet-Unie se Venus 3 word gelanseer en word op 1
Maart 1966 die eerste ruimtetuig wat die planeet
Venus besoek.
•
4
Desember 1965:
Gemini 7 word met
Frank Borman en James A. Lovell jr. opgestuur. Die
tuig voltooi 206 aardomwentelings en bewys dat 'n
reis na die Maan moontlik is.
•
15
Desember 1965:
Die Amerikaners Walter Schirra jr. en Thomas
Stafford in Gemini 6 sorg vir die eerste
ruimte-ontmoeting deur hulle by Gemini 7 aan te
sluit.
•
3
Februarie 1966:
Loena 9 van die
Sowjet-Unie is die eerste ruimtetuig wat 'n sagte
landing op die Maan uitvoer.
•
1
Maart 1966:
Venera 3 van die Sowjet-Unie sorg vir 'n kolskoot op
Venus, die eerste ruimtetuig wat 'n ander planeet
bereik. Hy kan egter nie besonderhede omtrent Venus
terugsein nie.
•
31 Maart
1966:
Die Sowjet-Unie lanseer Loena 10, wat op 3 April die eerste ruimtetuig
word wat as ’n satelliet om die Maan begin wentel
(trouens, die eerste mensgemaakte satelliet van
enige hemelligaam buiten die Aarde).
•
2
Junie 1966:
Surveyor 1 is die eerste Amerikaanse ruimtetuig wat
'n sagte landing op die Maan uitvoer.
•
14
Augustus 1966:
Amerika se Lunar Orbiter 1 beweeg in 'n wentelbaan
om die Maan en neem die eerste foto's van die Aarde
soos gesien van die Maan af.
•
23 April
1967: Sojoez 1 van die Sowjet-Unie word met Wladimir
Komarof gelanseer. Dit stort op 24 April neer en
Komarof word gedood. Hy is, sover bekend, die eerste
mens wat in 'n ruimtevlug gesterf het.
•
5
September 1968:
Die Sowjet-Unie
lanseer Zond 5, die eerste ruimtetuig wat om die
Maan wentel en na die Aarde terugkeer.
•
11 Oktober
1968:
Amerika se Apollo 7 is die eerste bemande
Apollo-sending met Walter M. Schirra jr., Donn F.
Eisele en Walter Cunningham aan boord. Dit voltooi
een aardomwenteling.
•
21
Desember 1968:
Apollo 8 word met
Frank Borman, James A. Lovell jr. en William A.
Anders die ruimte ingestuur. Dit is die eerste
Apollo wat van die Saturn 5-vuurpyl gebruik maak en
die eerste bemande ruimtetuig wat om die Maan
wentel. Dit voltooi tien maanomwentelings in 'n
sending van ses dae.
•
20 Julie
1969: Neil Armstrong
en Edwin Aldrin jr. van Amerika se
Apollo 11 word die eerste mense wat op die Maan land
en daarop rondloop.