Wedloop na die Maan

 
Van Spoetnik 1 tot Apollo 11—eerste mense in die ruimte


 

  Terug

2 van 5

Vorentoe 

    
Aardskuddende voorbladnuus: ’n Rus wentel man-alleen om die Aarde!


BO: Amptelike foto van Joeri Gagarin... eerste veroweraar
van die domein buitekant planeet Aarde.

DIE Sowjet-Unie het op 12 April 1961 sy onbetwiste aanvanklike voorsprong in die ruimte­wedloop vergroot deur die eerste mens in die ruimte te plaas. Hy was Joeri Aleksejewitsj Gagarin (Ю́рий Алексе́евич Гага́рин in die Russiese skrif, wat in Engels gefonetiseer is tot Yuri Alekseyevich Gagarin). Hy is in 1934 gebore en is in 1968 op ’n jeugdige 34 jaar oorlede.

LINKS: Gagarin in sy ruimtepak.

Foto: © Die Russiese Instituut vir Radionavigasie en Tyd. Gebruik van foto slegs vergun indien verwys word na die bron: http://www.rirt.ru

Gagarin het 108 minute lank in die ruimteskip Wostok 1 om die Aarde gewentel. Terwyl hy in die ruimte was, het hy die wysie van ’n patriotiese lied gefluit waarvan die liriek só begin:

“Die Moederland hoor, die Moederland weet
Waar haar seun in die hemelruim vlieg.”

Gagarin het  tuis ’n helde-ontvangs gekry as die “Colum­bus van die Kosmos”. Hy het ook in die buiteland getoer, onder meer na Brittanje en Japan. Hy het sewe jaar ná sy prestasie in die ruimte in ’n vliegtuigongeluk gesterf.

   
 
Shepard: ’n kort ruimtesprong

 
Titof swig voor Klaas Vakie


BO: Alan Shepard.

IN Amerika is naarstiglik gewerk om die Sowjet-Unie in die ruim­tewedloop in te haal ná die Russe se dubbele vroeë voorsprong—deur die eerste kunsmatige satelliet sowel as die eerste mens in die ruimte te plaas.

Vir die VSA was ’n halwe sprong aanvanklik beter as ’n leë bladsy in hul eie annale van ruimtelike prestasies. Gevolglik is Alan Shepard op 5 Mei 1961 die ruimte ingeskiet, al was hy net vyf minute lank geskei van Moeder Aarde en is nie eens gepoog om hom in wentelbaan te plaas nie.

Met sy heen-en-weertjie aan boord van Mercury Freedom 7—en as die eerste Amerikaner in die ruimte—het Shepard egter die grondslag gelê vir die latere Amerikaanse oorheersing op die gebied van ruimte­verkenning. In 1971 sou hy toe ook die vyfde mens word wat op die Maan geloop het, waarna hy ’n admiraal in die Amerikaanse vloot geword het. Hy is in 1998 oorlede.

Foto: MSFC / NASA 
 


BO: Gherman Titof.

OP  6 Augustus 1961 is Gherman Titof aan boord van Wostok 2 die ruimte ingeskiet vir die eerste daglange ruimtevlug van die Sowjet-Unie. Die sending het in der waarheid iets meer as 25 uur geduur, en Titof het sewentien keer op die Aarde gewentel.

Hy was jonk tydens die vlug. Trouens, Titof was nie eens ’n volle 26 jaar oud nie en hy bly tot vandag toe die jongste mens wat in die ruimte gevlieg het.

Anders as sy twee voorgangers het hy ook seesiek geraak—of “ruimtesiek” dan, as ’n mens die korrekter term moet gebruik. Boonop het hy ’n tyd lank geslaap en was hy verbaas toe hy wakker word en sien dat sy arms in die lug dryf vanweë die afwe­sigheid van swartekrag in die ruimte.

Ná sy vlug het Titof verskillende hoë poste in die Sowjet-Unie se ruimteprogram beklee totdat hy in 1992 afgetree het. Hy is in 2000 aan sy hart dood in sy sauna in Moskou.
 

  
 


  Eerste Amerikaner in
    ’n wentelbaan

HEEL LINKS: John Glenn, die latere politikus, en (LINKS) as jonger ruimteman.

JOHN GLENN het op 20 Februarie 1962 die eerste Amerikaner geword wat in ’n wentelbaan om die aarde geplaas is. Aan boord van die ruimtetuig Mercury Friendship 7 het hy drie omwentelings voltooi voordat sy kapsule sowat 1300 km oos van die lanseerblad (by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida) in die see neergeplons het. Glenn sou jare later, in 1998, weer die ruimte in ’n pendeltuig besoek. Hy het ook senator geword.         Foto's: U.S. Congress en NASA

      

Eerste vrou in die ruimte... die “Seemeeu” van Rusland


BO: Walentina Teresjkowa.

Fotobron onbekend, waarsk. Virtuele Ruimtemuseum in Rusland

WALENTINA TERESJKOWA van die Sowjet-unie, die eerste vrou in die ruimte, het van 14 tot 19 Junie 1963 op 26-jarige leeftyd sielalleen in Wostok 6 om die aarde gewentel. Haar ruimtetuig het darem binne omtrent vyf kilometer verby ’n ander wenteltuig, Wostok 5 beman deur Waleri Bikofski, beweeg. In November daardie jaar het Walentina toe ook met ’n ruimteman getrou—maar, nee, dit was nie die een met wie sy doer bo “geflankeer” het nie.

Haar man was Andrian Nikolajef, toe die enigste hubare Russiese man wat nog in die ruimte was. In 1964 het Walentina die lewe aan ’n dogtertjie geskenk, die enigste kind wat nog vir twee ruimtereisigers gebore is. Die huwelik het egter nie lank geduur nie en die “ruimtehuwelik” was binne ’n paar jaar op die rotse.

Walentina, wie se roepnaam vir die ruimtesending Tsjaika was (Russies vir See­meeu), het later ’n stil lewe in Moskou gelei en sy woon steeds daar. Op haar sewentigste verjaardag het sy vertel dat sy graag na Mars sal wil vlieg, al sou dit beteken dat sy nie weer na die Aarde sal kan terugkeer nie.

 

... en, baie jare later, die eerste Amerikaanse ruimtevrou

LINKS: Eers presies twintig jaar ná die prestasie van Walentina Teresjkowa, op 19 Junie 1983, antwoord Amerika met sy eerste ruimtevrou: Sally K. Ride. Sy was een van die lede van ’n sending van die Challenger-pendeltuig (’n pendeltuig wat op ’n later sending, in Januarie 1986, dramaties sou ontplof).

Foto:..NASA


 

 
  

  Terug

2 van 5

Vorentoe 

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad