RysRys-gids

’n Interessante kykie na die kosbare plant wat meer as die helfte van die aarde se mense voed

Die jaar 2004 was die Internasionale Jaar van Rys. Weens ’n verwagte toename in die hongersnood, ondervoeding, armoede en konflikte onder baie aardbewoners in die komende dekades, het 44 lande in 2002 die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies formeel versoek om 2004 te verklaar tot ’n jaar van groter bewusmaking van die bedreiging en die rol wat rys kan speel om die krisis te verlig. Hoe geslaagd hierdie bewusmakingsveldtog was, is nie so maklik om te bepaal nie. Maar in sekere dele van Afrika is rys die vinnigste groeiende voedselbron. Dit is dus gepas dat ons hierdie baie belangrike gewas ’n slag van nader sal bekyk...


A

LLE vlees is soos gras, lees ons in 1 Petrus 1:24 in die Bybel. Ook in ’n wetenskaplike sin kan ons sê dat ons ons vleeslike bestaan in ’n groot mate aan gras te danke het! Koring, mielies, hawer, sorghum en nog ander kosse behoort immers almal tot die grasfamilie. En natuurlik ook rys. Miskien is rys selfs die oudste van die "grassoorte" wat die mens begin verbou het.

Rys word wel nie in die Bybel genoem nie, maar in Oktober 2003 is bekend gemaak dat die oudste behoue geblewe rys wat deur boere gekweek is, in Suid-Korea in die Ooste gevind is. Radioaktiewe dateringsmetodes is gebruik om te bepaal dat 59 gebrande ryskorrels uit die tydperk van 12.000 tot 13.000 jaar voor Christus dateer. Dit is ruim 3000 jaar ouer as ryskorrels wat vroeër in China gevind is. Die nuutgevonde ryskorrels is tussen 1997 en 2001 tydens opgrawings ontdek.

Die eerste rys kon dus so lank terug as 15.000 jaar gelede reeds in Oos- en Suid-Asië gekweek gewees het, toe mense hulle in rivierdeltas begin vestig en wilde rys getem het.

Rys as deel van die maalLINKS: Rys as deel van die maal. Smaaklike ete!
  
Foto: Cepolina.com / Freephoto

  
Vandag is rys die stapelvoedsel van meer as die helfte van die menseras. Goed negentig persent van die wêreld se rys word in Asië geoes en verbruik. Trouens, in dele van Asië word ongeveer 90 tot 180 kg rys per jaar per persoon verorber, teenoor miskien so 3 tot 10 kg per persoon in die meer vermoënde sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing.

China (166.000.000 metrieke ton in 2003) is die wêreld se grootste rysprodusent, gevolg deur Indiê (133.513.000 ton) en Indonesië (51.849.200 ton). Die ander sewe van die tien groot produsente is Bangladesj, Viëtnam, Thailand, Myanmar, die Filippyne, Brasilië en Japan. Die na verhouding klein maar tog belangrike bydrae van die Verenigde State kom veral van state soos Texas, Arkansas, Louisiana, Kalifornië, Mississippi en Missouri, asook van die suide van Florida.

Oestyd op Amerikaanse ryslande—’n lugfoto. (Foto van die Amerikaanse departement van landbou)
REGS: Oestyd op Amerikaanse ryslande—’n lugfoto.
  
Foto: USDA / ARS

Europese rys is die eerste keer in 1468 in Italië geoes. Suid-Afrika is geen wafferse rysproduserende land nie. Die eerste proewe met onder meer rys en koring is deur Jan van Riebeeck gedoen kort nadat hy in 1652 in die Kaap aangekom het. Die feit dat die Wes-Kaap vandag ’n koringstreek en nie ’n ryswêreld is nie, vertel sy eie verhaal. Vandag word rys weliswaar in die subtropiese ooste van ons land gekweek.

Maar elders in Afrika is rysverbouing veel belangriker as by ons. Rys is byvoorbeeld die vernaamste stapelvoedsel op Madagaskar, die Kaap Verdiese Eilande en die Comore, asook in Gambië, Guinee, Guinea-Bissau, Liberië, Reunion, Senegal en Sierra Leone. Dit is ’n belangrikse kos vir die bevolkings van die Ivoorkus, Egipte, Mali, Mauritanië, Niger, Nigerië en Tanzanië.

Deesdae is daar boonop ’n groot belangstelling in die sogenaamde Nerica ("New Rice for Africa"), ’n nuwe soort rys wat in Wes-Afrika ontwikkel is. Dit is ’n kruising tussen ’n antieke, geharde Afrika-ryssoort (Oryza glaberrima) en ’n variëteit van die bekende Asiatiese rys (O. sativa), ’n variëteit wat goeie opbrengste lewer. Nerica, word vertel, is goed bestand teen droogte en plae, lewer groter oeste selfs met min besproeiing en bemesting, en dit het ’n hoër proteïeninhoud as ander soorte rys.

’n Mens kan amper sê die belangstelling in rys ver-rys tans in Afrika soos nog nooit tevore nie!

Rys word meganies geoes

BO: In die ontwikkelde wêreld.word rys meestal meganies geoes  

Foto: USDA / ARS
         

 Die plant, sy bloeiwyse en die graanvrug  

DIE gewone rysplant (Oryza sativa) is eenjarige grasplant en daarom verwant aan ’n aantal van ons belangrikste landbougewasse, onder meer koring, mielies en suikerriet. 

Rys op die ryslandDie plant se stingel loop uit in 'n los pluim wat uit vyftig tot vyfhonderd syaartjies bestaan. Hierdie syaartjies is die blomeenhede. Anders as by die meeste ander grasplante, bevat elke syaartjie slegs 'n enkele blommetjie. Só 'n blommetjie bestaan uit 'n stamper en meeldrade wat deur twee goed ontwikkelde blomkaffies, die lemma en die palea, omsluit word. Die stamper het twee tipiese veervormige stempels, maar daar is ses meeldrade (die meeste ander grassoorte het gewoonlik net drie). Die dekkaffies van die syaar is swak ontwikkel en is as skub-agtige strukture aan die basis van die blomkaffies sigbaar.

Die ryskorrel is ’n graanvrug of kariopsis. Hierdie manier van vrugvorming is kenmerkend vir alle lede van die grasfamilie. Die volwasse graanvrug word omsluit deur die lemma en die palea, wat hul groen kleur met rypwording verloor. Hierdie blomkaffies is die sogenaamde doppies wat deur die dorsproses verwyder moet word voordat die graanvrug gepoleer kan word.
BRON VIR TEKS IN PASSASIE HIERBO: KENNIS-ENSIKLOPEDIE

 Verbouing van rys 

WETENSKAPLIKES glo daar is derduisende variëteite van verboude rys, maar niemand weet presies hoeveel nie. Daar kan basies tussen twee hoofgroepe variëteite onderskei word: padierys (Eng.: paddy rice), wat in die waterryke laaglande verbou word, en hooglandrys (Eng.: upland rice), wat in hoër liggende gebiede voorkom. Die verskille tussen dié twee groepe is nie baie groot nie. Ons kan rys ook in vroeë en laat variëteite klassifiseer.

Hoewel rys goed in warm, vogtige klimate aard, word dit ook elders verbou. Trouens, dit kan vandag omtrent oral gekweek word behalwe in Antartika! Rys word op oorstroomde ryslande en op droë lande gekweek, in die tropiese reënwoude van Afrika en die droë woestyne van die Midde-Ooste, op kusvlaktes en op die Himalaja-gebergte.

Rysplantery (Rekenaarbeeld: Mieliestronk.com) REGS: Rysplantery in die Ooste... steeds met die hand soos dit reeds vele geslagte lank gedoen word.

Die verbouingsmetodes verskil vanselfsprekend baie op verskillende plekke. In ’n land soos Amerika is dit hoogs gemeganiseerd, maar in die meeste Asiatiese lande word rys nog op die tradisionele manier gekweek en met die hand geoes. Die lande word geploeg (gewoonlik met eenvoudige ploeë wat deur waterbuffels getrek word), bemes (meestal met mis of riool) en die grond gelyk gemaak (deur ’n houtstomp daaroor te trek).

Rys kan op twee maniere gevestig word: óf aanvanklik in saadbeddings waaruit die jong plante later op die landerye uitgeplant word óf regstreeks op die land gesaai, soos koring.

Die saadbedding-metode word feitlik deurgaans in Asië toegepas. Ryssaad word in saadbeddings aan die groei gekry en die saailinge word ná dertig tot vyftig dae met die hand oorgeplant op die ryslande wat met reën- of rivierwater oorstroom is
(REGS). In die groeiseisoen word die rys uit kanale besproei of met die hand natgegooi. Die lande word gedreineer voordat die rys geoes word.

Dit duur drie tot ses maande vir ’n rysplant om volgroeid te raak, afhangende van die variëteit en waar dit gekweek word. Rysboere het gemiddeld 2000 liter water nodig om een kilogram rys te produseer.

Uiteindelik word die rys net soos koring geoes en gedors, maar dan moet dit nog gedop word. Dit word ook gepoleer (semels en kiem verwyder), maar het dan ’n laer voedingswaarde omdat die vitamine B weggeneem is. Mense wat weinig ander kos te eet kry, kan gevolglik die gebreksiekte beri-beri kry. Hierdie besef het tot ’n groter verbruik van bruin rys (waarvan die semels nie verwyder is nie) gelei.

Nogtans het rys ’n lae proteïeninhoud in vergelyking met ander graankosse. Die gevolg is dat sekere wetenskaplikes alles in die stryd werp om voedsamer variëteite te probeer kweek, selfs deur middel van genetiese manipulasie. Omdat rys arm is aan gluten, kan ’n mens boonop nie brood daarvan bak nie, tensy rysmeel met die meel van ander graansoorte gemeng word.

Rysplante (Foto: Amerikaanse departement van landbou) Maar in die Ooste word rys geëet saam met kosse en souse wat van sojabone gemaak word, wat die nodige elemente tot die dieet toevoeg en gebreksiektes voorkom. 

As rys oornag van die aarde moet verdwyn, sê nou maar as gevolg van ’n nuwe soort plantsiekte, sal die gevolge skrikwekkender wees as enigiets wat ’n mens jou kan voorstel.

Lank lewe die rysplant. Die mensdom is so geweldig afhanklik van hom.

Rysland in Suid-China

BO: ’n Rysland in Suid-China.

Foto: George Saxton, NESDIS, NOAA

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad