|
Vyf gedigte
deur vyf van die eerste ernstige digters in
Afrikaans
OM in Afrikaans te skryf...
vandag beskou ons dit as vanselfsprekend. Dis immers ons moedertaal
en geen ander taal kan ooit so in ons gedagtes en harte lewe as hy
nie.
Maar minder as ’n eeu gelede is daar heftig
gebaklei teen die aanvaarding van Afrikaans. Trouens, baie mense het
gevoel ons moet die statige Nederlands as ons skryftaal behou... so
nie, moes ons noodgedwonge verengels, maar ons moes asseblief tog
net nie “ons standaarde so verlaag deur erkenning aan ’n growwe
kombuistaal soos Afrikaans te verleen nie”.
Dat Afrikaans betreklik spoedig daarin kon slaag
om sy kritici die mond te snoer, is in ’n groot mate te danke aan
die eerste ernstige digters in ons mooi taal in die beginjare van
die twintigste eeu, net ná die Anglo-Boereoorlog.
Vandag sal geen gerekende Afrikaanstalige digter
weliswaar nog maklik dig soos hulle nie... maar hul passie, hul
eietydse vakmanskap en bowenal hul eerlikheid was onbesproke. Geen
historiese studie van die Afrikaanse letterkunde kan dan ook
behoorlik aangepak word sonder om ten minste van hulle kennis te
neem nie.
Hier volg die gedigte van ’n vyftal van daardie
digters... werkies wat geslagte lank deur kinders by kunswedstryde
en elders opgesê is en as sodanig ’n kennelike deel van die
Afrikaner-kultuur geword het... |
Jan
F.E. Celliers (Jan Francois Elias Celliers,
1865-1940):
Celliers se “Die Ossewa” was
eintlik ’n liriese lofdig vir die os en hierdie
nederige trekdier se tot toe nog onbesonge rol in
die geskiedenis van die Afrikaner.
|
Die Ossewa
Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe —
hul dra dit getroos en tevree.
En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna —
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.
Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe —
en ver is die tog van die dag.
Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdrans is ver en is swaar:
dit knars in die krakende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.
So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ’n held van die daad...
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver oor die velde verlaat...
C.
Louis Leipoldt (1880-1947):
Sou die natuur ooit weer so uitbundig besing kon
word as wat Leipoldt dit in sy “Die Beste”, sy
“Lenteliedjie” (al die veld is vrolik) en sy
“Oktobermaand” (die mooiste, mooiste maand) gedoen
het?
|
Die Beste
(soos dit verskyn het in die tydskrif
Die Brandwag van 15 Januarie 1915)
Geil lusern in die laagste landjie,
Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skad’wees oor die klowe;
Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!
Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag:
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
Somer en son en safier vir my!
Heer, Wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!
Roem van mense, rykdomme, pragte—
Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in dikdonker nagte,
Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!
Totius
(Jakob Daniël
du Toit, 1877-1953):
Totius se jukstaponering van die gegoede
treinpassasier en die arm meisietjie by die tent wat
altwee na mekaar se wêrelde hunker, bly tot vandag
toe ’n treffende uitbeelding van die mens se
rustelose strewe na die “beter lewe” wat altyd op ’n
ander plek sou bestaan.
|
Repos ailleurs (Die rus
is elders)
In die eensame veld staan ’n tentjie
klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: "Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn."
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
"Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn".
Eugene
Marais (Eugène Nielen Marais, 1871-1936):
In ’n tyd toe skeptici nog gedink het
dat die Afrikaanse taal te “baar en agterlik” is om
edel gedagtes te verwoord, sou Eugene Marais se
“Winternag” die wind oortuigend uit hul seile ruk.
Die uiters sombere winternag is sinnebeeldig van die
droewe lot van die Afrikaner ná die
Anglo-Boereoorlog.
|
Winternag
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!
A.G.
Visser (Andries Gerhardus Visser, 1878-1929):
Visser se klassieke, lighartige
gediggie van ’n onnutsige kind wat die kerk op
horings geneem het, laat volwassenes vandag steeds
laggend terugverlang na hul eie kinderdae.
|
As dit Fluit-fluit gaan
Dit was ’n bitter dag vir my
Die Sondag in die kerk;
Waar ons sit in die middelry,
Word alles opgemerk.
Die dominee hou skielik op;
Die ouderlings kyk om;
Rooi-skaam laat sak my ma haar kop,
Want almal lyk verstom.
Wel, tuis het ek ’n pak gekry
En huil my byna hees.
Maar dit was darem, glo vir my,
’n Lekker fluit gewees.
|