Huise
in Suid-Afrika
|
|||
N
ons land met sy baie verskillende volkere het woonplekke aansienlik
verander sedert die eerste Europeërs in die middel-1600’s hier
aangekom het om hulle aan Kaap te vestig. Dit is slegs in afgeleë,
landelike gebiede waar sekere matjieshuise van Khoisan-afstammelinge,
asook die hutte van talle tradisiegebonde swart mense, vandag nog
grotendeels lyk soos hulle drie, vier eeue gelede ook gelyk het. Maar
vir die ontwikkelde segmente van die Suid-Afrikaanse bevolking wat
midde-in die brandpunt van die wêreldwye tegnologiese vooruitgang
staan, ontwerp argitekte vandag huise wat geweldig verskil van die
eenvoudige kleihuisies van ons voorsate. Die verhaal van woonhuisontwikkeling in ons land loop vanselfsprekend hand aan hand met verskillende tydvakke in ons geskiedenis. As ’n mens op die spoor terugloop, kom jy op baie interessante dinge af...
Die
huise van die vroeë Europese •
DIE Fort die Goeie Hoop van Jan van Riebeeck is van klei en klip
gebou. Die Nederlandse koloniste het eers binne die fort in skuilings
gewoon, maar spoedig het hulle hul eie huise gebou. Sulke huise het uit
drie kamers met mure van klei of ru-klip bestaan. Dié mure is gemessel
met klei wat van seeskulpe gemaak is. Die dakke is met riete gedek. Selfs tot in
1770 nog was die groot
Kaapstad van vandag nog maar net ’n dorpie, ’n
skilderagtige plekkie met rietdakhuisies. Die woord "stadsverfraaiing"
was nog 'n onbekende begrip. Benewens Kaapstad was daar net die
boeredorpies Stellenbosch, die Paarl en Swellendam, en verder was daar
plase. Die
Kapenaars het weliswaar van mooi dinge gehou, maar hulle was nie
uitspattig nie. Hulle het volstaan met die gewone dinge. ’n Mens kan
begryp dat opgeleide argitekte in dié tyd nie nodig was om huise te bou
nie. ’n
Gewone timmerman-bouer, of in die buitedistrikte dikwels die boere self,
kon immers ’n goeie huis bou wat
goed in sy omgewing sou inpas. Maar
hierdie toestand het gou begin verander. Kaapstad het al hoe meer ’n
internasionale karakter begin aanneem, veral vanweë die koms van troepe
uit die Europese lande. Oorlogswolke het naamlik ál digter in Europa
begin saampak en die toenemende bedreiging is ook
in die kolonies weerspieël. Hierdie tyd het vir Kaapstad ook groot
ekonomiese voorspoed gebring, en dit het duidelik in die Kapenaars se
huise tot uitdrukking gekom. Dit was nou goeie smaak om huise te bou wat
anders as dié van jou vriende gelyk het. 'n
Skraal jong Franse ingenieur, ene Louis Michel Thibault, wat in 1783 hier
aangekom het, het ons land se eerste beroepsargitek geword en ywerig
meegehelp om die Kaap se hele aangesig te verander. Toe hy in 1815 oorlede
is, het Kaapstad reeds ’n stad geword, vol pragtige, aristokratiese
verdiepinghuise en trotse geboue. Pragtige buitehuise het in die omgewing
van Kaapstad teen die hange van Tafelberg verrys. Ons
Kaaps-Hollandse boukuns-erfenis uit die dae
van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie
Die
gewels het later hoër geword. Hulle het gevormde omlystings gekry, wat as
holbolgewels bekend geraak het. Op die voorkant van die gewel is figure
soos diere, harte, sterre, vrugte en blomme aangebring. Hierdie
omlystings, waarskynlik die werk van Oosterse slawe, is later volgens die
neo-klassieke styl vervang deur driehoekige pedimente met
pleisterwerkkruike aan weerskante daarvan. Met
verloop van tyd is ’n kombuis reghoekig aan die een punt van die huis en
’n bykomende kamer aan die ander punt aangebou. Hierdie U-vorm het by
die meeste dorpshuise voorgekom. Op die platteland is ’n enkele vleuel
by tye agter in die middel van die huis aangebou sodat die huis 'n T-vorm
aangeneem het. Partymaal het die boere 'n derde vleuel dwars oor die punt
van die T gebou. Dit het meegebring dat die huis soos ’n
H gelyk het. Aangesien
brande vinnig in grasdakhuise versprei, het Kapenaars teen die einde van
die 1700’s platdakhuise gebou wat baiemaal twee verdiepings gehad het.
Die Kaaps-Hollandse styl, wat Nederlandse, Duitse en Indonesiese invloede
toon, is tot omstreeks die middel van die 1800’s
nagevolg. Statige
ou Kaaps-Hollandse plaaswonings van weleer pryk vandag steeds trots in die
Wes-Kaap. Die
eenvoudige hartbeeshuisies op
die afgeleë boereplase •
DIE meeste boere wat in die steeds uitbreidende nedersetting uit
die Kaapse omgewing uit weggetrek het (trekboere) se huise was baie
eenvoudiger as dié van die vermoënde mense in die Moederstad en
omstreke.
(Die
benaming hartbeeshuis het in der waarheid niks met die hartbees (dier) te
doen nie. Dit is ’n vervorming van die samevoeging van harub, die
Khoi-woord vir biesies, en die Afrikaanse woord biesies self. Uit harub+biesies+huis
het dus hartbeeshuis ontstaan.) Die
Voortrekkers het enige boumateriaal gebruik wat hulle in hul omgewing kon
vind om hul eerste huise te bou. Die huise was meestal van klip en daar
was slegs een vertrek met 'n oop vuurherd aan die een kant. Gate in die
mure het as vensters gedien. Die
veranderinge in die Suid-Afrikaanse woningbou •
KORT ná die begin van die 1800's neem die Britte finaal
die beheer oor van die Kaap en geleidelik word die onmiskenbare Britse
invloed ook in die woningbou in Suid-Afrika ervaar.
George III was destyds die Britse koning, met die gevolg dat die
Engelse boustyl Georgiaans genoem is. Toe die koloniste die
dubbelverdiepingstyl hier nageboots het, is daarna verwys as
Kaaps-Georgiaans. Die
sogenaamde Engelse Regentskapsargitektuur van 1811 tot 1820 stem ooreen
met die Georgiaanse styl, maar het baie meer detail. Dit is onder meer
gekenmerk deur smee- en gietysterbalkonne en -relings, asook boligte met
uitgesnyde houtrame. Gietyster was ook gewild in die lange jare van
koningin Victoria se heerskappy (1837 tot 1901), toe sinkdakke ook volop
was. [Dit is voorts interessant dat selfs die Pretoriase huis van pres.
Paul Kruger van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in die
Britse Victoriaanse styl gebou is -- terwyl die ZAR juis Brittanje in die
Anglo-Boereoorlog aangevat het. Die pynlike presiesheid waarmee die
huis sover moontlik tot sy oorspronklike voorkoms herstel is, is vandag
oral in die huis te sien. Selfs die tapyt in die onthaalvertrek is in 1974
geweef (die een voor dit in 1933) deur dieselfde Londense maatskappy wat
vir die oorspronklike een gesorg het.] In die 1900’s
het die argitektuur met rasse spronge ontwikkel, in Suid-Afrika en wêreldwyd.
Laat
in die I920’s en 1930’s het die sogenaamde Art Deco-styl gewild
geword. Art Deco, wat in 1925 in Parys bekend gestel is, is gekenmerk deur
skerp hoeke, blokvormige patrone, pragtige mosaïekvloere van emaljeteëls,
en chroom- en bronsversierings. Die
huise van ons tyd
In die moderne
huis val die klem op dienlikheid en gerief. Dink maar aan ons skoon
binnenshuise spoeltoilette wat die ongemaklike ou
"gemakshuisies" in die agterplase totaal vervang het. Eenvoud
van lyn en massa, die weglating van onnodige versiering en funksionele
doeltreffendheid kenmerk die wonings van vandag. Maar
dit is die een kant van die prentjie. Suid-Afrikaners ondervind ’n
ernstige huistekort, veral miljoene mense van die histories benadeelde
gemeenskappe. Mense trek in hul menigtes uit arm plattelandse gebiede na
die stede op soek na werk en hulle moet huise kry. Vandag bou hawelose
mense huise van enige denkbare materiaal -- kartonne, planke, sinkplate,
stukke plastiek en wat nog alles -- en sulke informele nedersettings is
algemeen aan die buitewyke van ons stede en groot dorpe.
Foto:
BIGPHOTO.COM / FREE PHOTO
|
|||