|
Tradisionele
helers
|
|
|
JY
VOEL NOU al dae lank erg knieserig en jou oë wil nie ophou traan nie.
Jy sluk aspirien op aspirien vir die kouekoors wat jou elke nou en dan
beetpak. Die pilletjies help niks en naderhand kan jy dit nie meer
uithou nie. Jy doen wat jy reken jy lankal moes gedoen het. Sangoma
toe! Só besluit jy, want jy is seker jou buurvrou het jou getoor. Jy
vind die sangoma in sy donker hut by sy moeti, velle en kalbasse, en jy
verduidelik jou siekte en vermoede aan hom. Hy gooi sy dolosse op die
vel op die grond voor hom uit. Hy staar stip na die patroon wat dit
vorm.
Foto: Marie Jeansson / Webshots / PD Die
sangoma gee vir jou ’n kruiepoeier wat, só sê hy, die gees sal
verjaag as jy dit in die deur van jou hut gaan verbrand. Jy doen dit—en die volgende dag voel jy sommer beter. In
jou eie hart, en by die gemeenskap waarin jy woon, is daar nie die
geringste twyfel dat dit poeier van die sangoma is wat jou gesond gemaak
het nie. Hierdie
toneeltjie, of ander baie soortgelyk, herhaal hom daagliks ’n menigte
kere in ons land waar tradisievaste mense in die swart gemeenskappe
hulle tot tradisionele helers wend wanneer hulle glo dat hulle deur iets
boos benadeel word. Die
praktyk is egter so vreemd vir ons Westerlinge dat ons gewoonlik weinig
daarvan begryp. Tog kan dit ’n mens verstom om te verneem waaroor die
sangoma-kultuur nou eintlik gaan en hoe dit steeds ’n wesentlike deel
vorm van die lewensbeskouinge van miljoene mense in Suid-Afrika. Agtergrond:
die toorgeloof by die Afrikane
OM
te weet hoe die sogenaamde sangomas en ander helers in die tradisionele
swart gemeenskappe funksioneer, is dit allereers nodig om die grondslag
van hul geloof in toordery te begryp. Hierdie
toorgeloof is in hoofsaak
gegrond op die oortuiging dat daar in alle konkrete dinge ’n sekere krag
of energie skuil. Die mens wat weet hoe om hierdie energie te gebruik,
kan dit tot voordeel of tot skade van andere aanwend. Hulle glo dat daar
in die naels, die hare, speeksel en in alles buite en binne die liggaam
van die mens, ’n sekere krag of energie is—ook in diere en plante. In
die geval van diere glo hulle byvoorbeeld dat, as jy weet hoe om te
werk te gaan, jy sekere eienskappe, soos die taaiheid van die buffel,
die krag van die olifant of die dodelikheid van die mambaslang, op die
mens kan oorbring. Iemand wat daardie kennis het, sal, volgens hul
geloof, aan die koning sê nou maar die taaiheid van die buffel kan gee
of die krag van ’n olifant. Hulle
glo ook dat sekere karaktertrekke van die mens in sekere dele van sy
liggaam sit. Só, byvoorbeeld, is die lewer en die hart die setel van
dapperheid. Wanneer jy dan op die regte manier ’n dapper man se lewer
eet, sal jy sy dapperheid na jou toe oorplaas. Voorts
glo hulle ook dat jy in aanraking met ’n ander persoon kan kom as jy
iets wat van sy liggaam afkomstig is in jou besit het. As jy
byvoorbeeld ’n bietjie grond neem waarop iemand getrap, gespuug of
iets anders gedoen het, kan jy toormedisyne daarop gooi en hom benadeel,
al is hy selfs meer as honderd kilometer van jou af. As jy toormedisyne
in jou tuin begrawe, en ’n dief trap daarop, sal sy bene opdroog, of
hy sal baie siek word. Die
tradisionele swartmense het ’n dodelike vrees vir toordery. Die vrees
het sy voordele en nadele in hul lewe. Só, byvoorbeeld, sal iemand nie
van ’n ander mens steel as hy meen dat daardie mens toormedisyne besit
nie. Towenaars,
hekse en die rol van die sangoma
DAAR
is twee soorte tradisionele helers in byvoorbeeld die Zoeloe-gemeenskap
in Suid-Afrika. Die inyangas maak en verskaf kruiemedisyne; die sangomas
maak in hul gesondmaking ook van waarsêery gebruik. Altwee soorte bly
geweldig gewild by die swart bevolkingsgroepe, terwyl hulle al dikwels
as "toordokters" afgemaak is deur mense wat slegs aan moderne
medisyne glo.
Dit
is egter nie korrek om die tradisionele helers toordokters te noem nie.
Onder die Afrikane is daar sowel towenaars as tradisionele helers. Die
towenaars is kwaadwillige mense wat deur middel van hul toormedisyne kwaad
doen. Hulle kan mense siek maak en selfs laat doodgaan. Teenoor hulle is
daar dan die sangomas en inyangas
wat met behulp van hul dolosgooiery of waarsêery en hul kennis van
plantemedisyne die vyande van die towenaars is. In
die lewe van die tradisionele swartmense is daar seremonies, soos die reënseremonie,
byvoorbeeld, waar hul toorgeloof, hul geloof in die voorvadergeeste en
godsgeloof almal saamwerk. Trouens, daar is nie ’n enkele aspek van hul
lewe wat nie deur een of al drie van hierdie gelowe beheers word nie. Dit is
om dié rede dat hul godsdiens vir die witman die sleutel bied tot ’n
begrip van hul gedagtewêreld en kultuur. In die Afrika-religie
word soms ’n onderskeid getref tussen mense wat van nature of weens oorerwing
antisosiaal en onbewus is van wat hulle doen (hekse) en dié wat met opset
gekies het om ander skade te berokken (towenaars). Altwee soorte is geneig
om dieselfde soort dinge te doen wat afbrekend vir die gemeenskap is.
’n Heks of ’n towenaar is basies ’n "onderstebo" mens. Soms word
werklik geglo dat hy onderstebo reis. Hy kan ook "wit" wees, waar
normale
mense "swart" is. Hy assosieer met diere, veral uile en hiënas, maar
vernietig mense. Normale mense verbeter die gemeenskap; ’n heks of
towenaar breek dit af. Wanneer
siekte, dood of ander vorms van kwaad voorkom, kan die oorsaak deur ’n
sangoma se waarsêery vasgestel word. By een soort waarsêery word
verskillende
voorwerpe gebruik om ’n antwoord te kry. Dit behels byvoorbeeld die
gebruik van ’n mandjie met voorwerpe wat na verskillende menslike
situasies verwys. Die mandjie word geskud en ’n verklaring word gebaseer
op die voorwerpe wat bo lê en hoe hulle met mekaar verband hou. ’n
Ander voorbeeld is die 'Hakata' wat deur die Shona-volke gebruik word.
Vier stukke been of hout wat ou man, jong man, jong vrou en ou vrou
verteenwoordig, word 'op' en 'af' gemerk. Die sangoma gooi dit en vertolk
dit op grond van hoe elke stuk geland het. Daar word geglo dat geeste
boodskappe deur hierdie voorwerpe gee. Die sangoma maak ook van
ander metodes gebruik—byvoorbeeld ’n spirituele beswyming—om die
voorvaderlike geeste te raadpleeg ten einde ’n diagnose of kuur vir ’n
probleem te vind, of dit nou toordery, ’n liefdesprobleem of wat ook al
is. Die boodskap wat hy uit die geesteswêreld ontvang, sal bepaal watter
soort kruie en mengsels gebruik moet word en op welke manier dit aangewend
moet word (of dit, sê maar, gesluk of verbrand moet word). Indien ’n
kragtiger medisyne nodig is, kan talle magiese rituele uitgevoer word
volgens voorskrifte wat van sangoma tot sangoma oorgedra is. By
baie swart groepe word middele en handelinge om gesondheid te herstel, bwanga
genoem. Afrikane is deeglik bewus van die fisieke oorsake van sekere
probleme en doen die nodige stappe om dit te hanteer. ’n Spalk sal
byvoorbeeld op ’n gebreekte ledemaat gesit word. Maar dit is slegs ’n
vorm van noodhulp wat nie daarin slaag om die basiese probleme van
menslike verhoudinge wat met die waarsêery aan die lig kom, te behandel
nie. Vir
genesing moet die netwerk van tradisie en gemeenskap wat op die een of ander
wyse versteur is, herstel word. Die
mens wat bwanga gebruik om herstel teweeg te bring, is juis die
"medisyneman" of sangoma. Hy is nie ’n heks wat verhoudinge vernietig
nie, maar die teenoorgestelde, iemand wat verhoudinge herstel of
beskerm. Natuurlik kan hy sommige van dieselfde metodes of magte waarvan
die heks gebruik maak, aanwend, maar hy gebruik dit positief. Dit
is natuurlik ook waar dat hy met die gebruik van sulke magte soms in die
versoeking kan kom om daardie magte selfsugtig teen die gemeenskap te
gebruik. Maar ’n sangoma is net so min ’n heks as wat ’n polisieman
’n misdadiger is omdat hy soms dieselfde wapens as die misdadiger
gebruik en in die versoeking kan kom om dit te misbruik en self ’n
misdadiger word. Baie
Afrika-groepe het "geheime
verenigings" met helende aktiwiteite. Lede van dié verenigings voer
dikwels danse uit wat, deur vermaak aan te bied, harmonie in die
gemeenskap
bring en só die kwaad afweer. Op hierdie wyse is ontspanning, genesing,
politiek en religie nou verwant aan mekaar in die tradisionele gemeenskap. Medisyne
van die tradisionele helers SANGOMAS
is, in die moderne sin van die woord, sielkundiges of para-sielkundiges.
Hulle word ook as heldersiendes beskou, of magiese waarsêers in ’n wêreld
waarin die materiële en die geestelike verstrengel is. Maar tog is tradisionele
genesing op veel meer gegrond as bloot die sielkundige of die religieuse—op die onwrikbare geloof dat die tradisionele heler se medisyne jou
gesond sal maak en daarom word jy gesond. Daar moet immers onthou
word dat baie soorte kruiemedisyne hulle oor eeue heen inderdaad as
besonder doeltreffend bewys het. Die wortels, blomme, basse, stingels en
sade van talle plante is of word mos ook wyd in die konvensionele
(Westerse) medisyne gebruik. Dink maar net aan die kafeïen uit die
koffieboon en die aspirien-agtige pynstiller uit die wilgerboom om nie
eens van die opium uit die papawer te praat nie. Sangomas
en inyangas kan dus siek mense op heel wetenskaplike maniere gesond maak,
selfs al dra hulle geen kennis van die ingewikkelde farmaseutiese werkinge
van hul geneesmiddels nie. Alle
formules wat hulle gebruik, is mondeling van geslag tot geslag oorgedra en
daar word beweer dat dit nog nooit deur hulle self opgeteken of in teksboeke
versamel is nie. Waar dit wel opgeskryf is, word gesê, is dit deur blanke
buitestaanders gedoen wat die geheime mengsels en magiese rituele foutief
of onvolledig beskryf het. Tog het hulle ook al
dikwels by die blanke kultuur gaan leen deur allerhande reukwaters, olies
en ander moderne produkte by hul mengsels te voeg. Sangomas
het hul eie besondere toerusting. Kalbasse word gebruik om moeti in te
bêre,
terwyl hulle kopbedekkings van jakkalsvel en gordels met porseleinskulpe
dra. Die sterte van beeste, buffels en wildebeeste is ’n simbool van mag
en word as stoffers gebruik om moeti op mense af te skud of rondom ’n hut
of stat te strooi ten einde siekte of boosheid af te weer. Sulke
praktyke kan weliswaar vir ons Westers georiënteerde mense vreemd lyk,
maar deesdae werk tradisionele helers en moderne dokters en
bewaringsbewustes sy aan sy in die beskerming van ons land se veldplante,
vigs-opvoeding en ander aspekte van gesondheidsorg. Die reënboognasie maak
inderdaad ruimte vir allerhande soorte mense—en kennis van mekaar is
noodsaaklik om begrip te bevorder, al is die kondonering van vreemde
lewenstyle nie altyd vir almal moontlik nie. |
|
|
Het jy geweet?
|
|