|
Ons
parlement in
die Kaap
Dit
is ’n indrukwekkende gebou in die Victoriaanse styl, wat reeds in
die jare sewentig, tagtig van die 1800’s opgerig is om die plaaslike
parlement van die destyds Britse Kaapkolonie te huisves. Hier
vergader die twee huise van die verenigde Suid-Afrika se wetgewende
mag vandag gereeld ten einde ons jong 21ste-eeuse
demokrasie op koers te hou...

BO: ’n
Deel van die parlementsgebou.
Foto:
Andres
de Wet,
wat die
groter weergawe van die foto op
hierdie bladsy uitgeplaas het by die Wikipedia-ensklopedie op
die wêreldwye web. Andres de Wet vergun kopiëring, verspreiding
en/of wysiging van die item ingevolge die bepalinge van die
GNU Free Documentation License,
Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software
Foundation gepubliseer word; sonder Invariante Seksies, sonder
Omslagtekste vir die Voorkant en sonder Omslagtekste vir die
Agterkant. Onderworpe aan
verontskuldigings.
AN die een kant van
die ou Kompanjiestuin in die middestad van Kaapstad sal jy dit
vind—die imposante gebou van die Suid-Afrikaanse parlement in die
straat wat Parlementslaan
(“Parliament Avenue”)
genoem
word.
Hier word ons land se
wette gemaak deur ’n sekere getal verteenwoordigers van Suid-Afrika
se kieserskorps. Die parlement is in Kaapstad en nie in Pretoria
nie, waar die mag gesetel is wat moet sorg dat die gemaakte wette
uitgevoer word. Hierdie uitvoerende mag is naamlik die land se
president, sy ministers en hul onderskeie departemente wat vanuit
die Uniegebou in Pretoria fungeer.
Die rede hoekom die
sentrums van die wetgewende mag en uitvoerende mag in ons land meer
as
1300
kilometer
van mekaar af
van mekaar af lê, kan teruggevoer word na wat destyds in 1910 gebeur het
toe Kaapland, Transvaal, die Vrystaat en Natal saamgemelt het om die
Unie van Suid-Afrika te vorm.
Omdat daar soveel
onenigheid was oor watter stad die hoofstad van die Unie moes wees,
is ooreengekom om verskillende hoofstede te hê: Kaapstad as die
wetgewende hoofstad, Pretoria as die uitvoerende hoofstad en
Bloemfontein (met die Appèlhof) as die regterlike hoofstad.
Maar die
parlementsgebou in die Kaap dateer van ’n paar dekades voor
uniewording, trouens voordat die Anglo-Boereoorlog die einde van die
Boererepublieke van Transvaal en die Vrystaat sou meebring. As
sodanig is dit aanvanklik dus nie as ’n parlementsgebou vir die hele
Suid-Afrika beplan nie, maar vir die Britse Kaapkolonie van daardie
tyd...
Die geskiedenis van ons parlementsgebou
DIE
planne vir die nuwe parlementsgebou van destyds is reeds in 1873 (of
1874) gemaak. ’n Wedstryd is toe uitgeskryf waarin boumeesters gevra
is om ontwerpe voor te lê vir ’n gebou wat nie meer as £50 000 sou
kos nie.
Toe Suid-Afrika skuins
duskant ’n eeu later, in 1961, gedesimaliseer en die rand die pond
vervang het, was twee rand gelyk aan een pond. Maar dit sou onsinnig
wees om vandag te wil beweer die parlementsgebou moes niks duurder
as R100 000 wees nie. ’n Mens het deesdae tot vyf, tien, twintig
keer meer nodig om ’n gewone woonhuis te bou!
Onthou maar net dat ’n
gesin miskien nog in die 1930’s met meet en pas vir so minder as £3
per maand gevoed kon word, en ’n mens besef dadelik dat £50 000 in
die 1870’s allesbehalwe kleingeld kon gewees het.
Hoe ook al, die
wedstryd vir ’n ontwerp vir die Kaapse parlementsgebou is deur die
argitek Charles Freeman gewen. Dit het ’n hoë sentrale koepel,
Korintiese portieke en paviljoene aan die vier hoeke ingesluit. Op
papier en in sy geestesoog het Freeman ook van fonteine in die tuine
en standbeelde op die borswerings gedroom.
Maar alle drome kom
nie waar nie en party ontaard selfs in nagmerries. Toe die ontwerp
uitvoer moes word, word spoedig besef dat Freeman se vlakkerige
fondament nie gaan deug nie en dat die bouwerkers heelwat dieper sal
moet grawe. Dit lei tot ’n regstryd waarin beweer word dat die
argitek doelbewus sekere inligting oor die finale koste weerhou het.
Op die koop toe word
Freeman geroskam omdat sy ontwerp glo ’n nabootsing van ’n ander
gebou in die VSA sou wees.
Die bouwerk moes
nietemin voortgaan, en ene Henry Greaves van die departement van
openbare werke het Freeman se planne aangepas.
In 1875 het sir Henry
Barkly, die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris in Suidelike
Afrika, die hoeksteen van die gebou gelê te midde van groot
feesvierings in Kaapstad.
LINKS:
Sir Henry Barkly (1815 –1898), Kaapse goewerneur van 1870 tot 1877,
wat die hoeksteen van die parlementsgebou gelê het.
Die parlementsgebou is
in 1884 oplaas voltooi. Die Victoriaanse gebou wat op die perseel
gestaan het, was nie net
nie
soos Freeman dit voorsien het nie, maar het boonop meer as vier keer
meer gekos as wat aanvanklik beplan is, te wete £220 000.
’n Nuwe vleuel vir die
gebou is later deur die argitek sir Herbert Baker ontwerp. Die
Nasionale Raad van Provinsies word vandag daar gehuisves. Ná sir
Herbert se toevoeging is die parlementsgebou by geleentheid weer
vergroot.
REGS:
Die Britse argitek sir Herbert Baker (1862–1946),
wat ’n nuwe vleuel vir die parlementsgebou ontwerp het.
Baker was in die twee dekades van 1892 tot 1912
toonaangewend in die Suid-Afrikaanse argitektuur. Hy was
ook die ontwerper van die Unigebou in Pretoria en
heelparty ander geboue.
Waarvoor word die parlementsgebou gebruik?
IN
DIE parlementsgebou in Kaapstad vergader ons tweekamer-parlement,
wat uit die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van
Provinsies bestaan. Elk het
sy eie afgebakende magte en pligte.
A
Die Nasionale Vergadering
(REGS, foto DIE BURGER)
is verantwoordelik vir die kies van die land se president en die
maak van wette; hierdie liggaam moet ook verseker dat die lede van
die uitvoerende gesag hul werk behoorlik doen en daarbenewens ’n
forum verskaf waar verteenwoordigers van die nasie in die openbaar
oor kwessies kan debatteer. Die speaker is die hoof en woordvoerder
van die Nasionale Vergadering.
Daar is 400 lede in die
Nasionale Vergadering wat vir vyf jaar by wyse van ’n algemene
verkiesing ingevolge ’n stelsel van proporsionele verteenwoordiging
gekies word. Dit beteken dat setels proposioneel aan die
verskillende politieke partye toegeken word op grond van die
persentasie stemme wat elk in die algemene verkiesing behaal het.
B
Die Nasionale Raad van Provinsies
(REGS, foto DIE BURGER) met 90 setels (tien lede vir vyf jaar gekies deur elk van die nege
provinsiale regerings) het spesiale magte om streekbelange te
beskerm, insluitende die beveiliging van tradisies van kultuur en
taal onder etniese minderhede.
Die president is sowel
die staatshoof as die regeringshoof. Hy word deur die Nasionale
Vergadering vir vyf jaar gekies, en dit is sy taak om die ministers
en adjunkministers te kies.
Hierdie twee liggame het
sekere simbole wat reeds kennelik meehelp om ons jong demokrasie se
parlementêre tradisies te bestendig.
Een daarvan is die
amptelike embleem van ons parlement.
Die embleem van die parlement

NADAT
verskillende ontwerpe oorweeg is, is die aanvaarde ontwerp (BO) in
Maart 2007 in gebruik geneem.
In die gees van openbare deelname aan ons demokrasie, het die
parlement ’n beroep op die publiek gedoen om ontwerpe vir die nuwe
embleem in te stuur. Die embleem moes die parlement se visie, missie
en waardes beliggaam.
Twintig deelnemers is uiteindelik genooi om ’n ontwerpswerkwinkel in
Kaapstad by te woon. Hul ontwerpe is verder deur die Buro vir
Heraldiek verfyn om seker te maak dat aan heraldiese spesifikasies
en vereistes vir ontwerp voldoen word. Op die ou end is die embleem
dus ’n ontwerp deur die mense van Suid-Afrika vir hul
verteenwoordigers op die hoogste politieke vlak.
Die nuwe embleem sentreer om vier sleutel-elemente, te wete Ons
Grondwet, Ons Mense, Ons Parlement en Ons Suid-Afrika. Hierdie
elemente word deur die boek, mensefigure, trom (met sy protea en
sigsag-patroon) en son gesimboliseer.
Ons Grondwet
(die
boek):
Ons grondwet lê
die grondslag vir ’n dekokrasie en oop gemeenskap wat op
demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele
menseregte gebaseer is. Die is die hoofwet van ons land en verseker,
ooreenkomstig sy bepalings, dat dit die mense is wat regeer.
Ons Mense
(die
mensefigure weerskante van die trom):
As ’n nasionale
parlement van vry verkose verteenwoordigers, dien die parlement as
’n stem van die mense en bied dit ’n nasionale forum vir die
openbare oorweging van aangeleenthede.
Ons Parlement
(die
trom):
Die trom roep die
Nasionale Vergadering en Nasionale Raad vir Provinsies op tot die
oorweging van nasionale en provinsiale kwessies, wat ’n regering
deur die mense ingevolge die grondwet verseker.
Ons Suid-Afrika
(die
son):
Die son
verteenwoordig die heling van die skeidings van die verlede, die
verbetering van die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners, die
vrymaking van die potensiaal van elke mens en die opbou van ’n
demokratiese Suid-Afrika wat sy plek as ’n soewereine staat onder
die lande van die wêreld kan inneem.
Die leuse,
“WE, THE PEOPLE”,
benadruk dat dit die mense, die Suid-Afrikaanse nasie, is wat
die heerskappy in Suid-Afrika voer.
Nog simbole van die parlement
 •
Die
Staf van die Nasionale Vergadering (LINKS):
Die ampstaf is ’n
soort septer, sinnebeeldig van die speaker se gesag. Die speaker het
nuwe ontwerpe vir die Staf van die Nasionale Vergadering op 26 Maart
2003 aan die reëlingskomitee voorgelê. Die nuwe staf is ontwerp om
die geskiedenis, tradisie, diversiteit, kultuur en tale van
Suid-Afrika te weerspieël.
•
Die
Swart Roede vir die Nasionale Raad van Provinsies (NRP)
(REGS):
Die Swart Roede is die
simbool vir die gesag van die voorsitter van die Nasionale Raad van
Provinsies. Die Swart Roede word in seremoniële optogte gedra deur
die Draer van die Swart Roede. Wanneer dit langs die voorsittende
beampte se stoel geplaas word, dui dit daarop dat die Raad in
sitting is.
|