|
SA
uitvinders
|
|
EHOOR
van die "uitvinder" wat heelparty mense met ’n slap riem
gevang het—deur sy kontrepsie te adverteer met die waarborg dat dit
enige soort mier kan doodmaak? Nadat gretige kopers vir hom die geld
daarvoor gepos het, het hy vir elkeen twee houtblokkies teruggestuur wat
onderskeidelik A en B gemerk was. Die instruksies daarby het gelees:
"Vang ’n mier. Plaas hom op blokkie A. Neem blokkie B en slaan die
mier dood. Dis honderd persent doeltreffend teen alle miersoorte." Of
dit ’n holrug geryde wolhaarstorie is of dalk net regtig gebeur het, is
moeilik om vas te stel, maar een ding is seker: daardie
"uitvinder" kon geen Suid-Afrikaner gewees het nie. Daarvoor
word hierdie staaltjie, in meer as een weergawe, darem al jare lank net te
gereeld in ander lande, soos byvoorbeeld Amerika, rondvertel. Ons
Suid-Afrikaanse uitvinders—’n vindingryke klomp—sal natuurlik ook
nie geassosieer wil wees met só ’n onderduimse swendelaar soos die
blokkiesverkoper nie. Ons het immers ’n trotse rekord van werklik
wonderlike nuwe prakseersels en patente, wat tot ver buite ons landgrense
tot nut van die mensdom aangewend word. Was
dit nie Suid-Afrikaners wat vorendag gekom het met die wêreld se eerste,
grootste en mees lewensvatbare onderneming om olie uit steenkool te wring
en daardeur in veertig persent van ons land se petrolbehoeftes te voorsien
nie? Was dit nie ’n Suid-Afrikaner wat die weg gebaan het vir die wêreldwye
oorplanting van harte nie? Of wat van die Suid-Afrikaanse fisikus wat
CAT-skandering help ontwerp het? Daar
is nog ’n hele aantal ander mense in ons land wat hul name verewig het
in die annale van tegnologiese innovasies, met sulke uiteenlopende
uitvindsels soos swembad-"stofsuiers" en konstruksies wat die
see se branders kan tem. Hieronder
kyk ons na ’n klompie van hierdie mense. En dit is stellig gepas om die
naam van
Chris Barnard
heel eerste te noem, want op sy besondere gebied
was hierdie merkwaardige professor tog ook ’n "uitvinder" uit
eie reg. Chris
Barnard—’n pionier van ganser harte!
Die
skenker was ’n jong meisie, Denise
Darval, wat noodlottig in ’n motorongeluk
beseer was. Die operasie is in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad
gedoen. Die ontvanger, ene Louis Washkansky,
is net agttien dae ná die operasie oorlede, maar Barnard het later
in sy loopbaan geslaagder oorplantings gedoen en sekere van sy
hartontvangers het jare lank bly lewe. Barnard,
die hoof van die harteenheid by Groote Schuur, was later ook die pionier
van die tegniek van die abba-hart. In só ’n operasie word die ontvanger se hart nie verwyder nie, maar die skenker
s’n word daarby gevoeg om as ’n hulp-pomp te dien. In
November 1977 het die professor weer opspraak gewek deur ’n
bobbejaanhart en ’n sjimpanseehart as tydelike maatreëls in twee
sterwende pasiënte oor te plant. Die pasiënte het egter net ’n paar
uur en vyf dae onderskeidelik bly lewe. Weens die intense verwerping van
die vreemde weefsel het prof. Barnard besluit om hierdie tegniek te laat
vaar. Maar
deur al sy innoverings, kan gesê word, is duisende menselewens verleng,
en hy verdien ’n plek in die galery van die voorste medici van die
twintigste eeu. Barnard het die wêreld met nuwe oë na die sofistikasie
van die geneeskunde in Suid-Afrika laat kyk. Allan
Cormack—die geleerde wat CAT se gedagtes gekry het...
Cormack
(1924-1998)
se
belangstelling in die probleem om sagte weefsels of weefsel-lae van
verskillende digthede bevredigend met X-strale te ondersoek, is aanvanklik
gewek toe hy ’n deeltydse pos as fisikus van ’n hospitaal se
radiologiese afdeling aanvaar het. Die
tweedimensionele voorstellings op konvensionele X-straalplate kon dikwels
nie tussen sulke weefsels onderskei nie. Meer inligting kon verkry word
indien die X-strale van die liggaam uit ’n aantal verskillende hoeke
geneem kon word, maar met die gebruiklike X-straaltegnieke was dit ’n
probleem. Vroeg
in die jare sestig het Cormack aangetoon hoe besonderhede van ’n plat
deel van sagte weefsels bereken kan word uit die meting van toelopende
X-strale wat uit baie verskillende hoeke daardeur beweeg. Daarmee
het hy die wiskundige tegniek vir CAT-skandering daargestel, wat behels
dat ’n X-straalbron en elektroniese verklikkers oor die liggaam heen
beweeg word. Die inligting wat daardeur verkry word, word dan deur ’n
rekenaar ontleed waardeur ’n duidelike kaart van die weefsels binne ’n
dwarssnee van die liggaam geskep word. Cormack
is in 1998 oorlede toe hy 74 jaar oud was. Ferdinand
Chauvier—’n uitvinder van die eerste water!
Die
resultaat van sy besef was die Kreepy Krauly, die revolusionêre
swembad-suier, wat egter eers in 1974 die lig by Chauvier se huis in
Springs gesien het. Dit was die eerste apparaat van sy soort wat nog gebou
was. Die Kreepy Krauly was die voorloper van ander sulke
"wandelaars" in die swembadwater, wat die baddens onderlangs
skoonhou deur middel van die werking van die bad se eie pomp. Chauvier
is in 1985 oorlede, maar sy kruipende goggas vreet steeds duisende
swembaddens in Suid-Afrika en regoor die wêreld silwerskoon. George
Pratley—die man agter die kleefdeeg wat gebou is om te klou! TOE
George Pratley, ’n ingenieur van Krugersdorp, in die jare sestig ’n
kleefstof ontwerp wat die komponente in ’n elektriese houer bymekaar kon
hou, het hy bepaald nooit kon droom dat sy produk nog die enigste
Suid-Afrikaanse uitvindsel sou word wat saam met Neil Armstrong en Edwin
Aldrin op die maan sou land nie. Pratley se beroemde klewende stopverf,
Pratley Putty, is in 1969 gebruik om dele van die Eagle-maanlandingstuig
van die Apollo XI-sending bymekaar te hou.
Eric
Merrifield—temmer van die skadelike branders HY
was die man wat besef het dat die woeste branders van die see getem kan
word—by hawens en installasies aan die kus waar hulle baiemaal soveel
skade aanrig. Gebruik net betonblokke van ongewone vorms wat tot twintig
ton weeg as versperring, was Eric Merrifielden se plan, en hulle sal die
golf-aksie van die branders opbreek en baie beskadigings voorkom.
|
|
|
|
|
Gervan Lubbe—die man wat geleer het hoe om pyn te paai
Dit
was ’n artikel oor pynverligting in ’n Amerikaanse tydskrif wat Lubbe
aan die dink gesit het. Hy het gewonder of dit nie moontlik sou wees om die
liggaam se natuurlike senu-impulse elektronies te stimuleer om pyn te verlig
nie. Omdat hy nie ’n dokter was nie, moes hy in sy vrye tyd die menslike
anatomie en fisiologie bestudeer totdat hy gereken het hy genoeg van die
oorsake van artitiese pyn weet. Daarna het hy die masjientjie ontwerp wat
die probleem kon verlig. Lubbe het in 1993 die Amerikaanse mark met sy sogenaamde Action Potential Stimulation-toestel (APS) betree en vandag word dit in 41 lande, waaronder lande in Europa en die Midde-Ooste, verkoop. Net in Suid-Afrika word dit deur meer as 40 000 mense gebruik om pyn te verlig. Henri
Johnson—die slim meneer agter die "snelgeweer" HOE
vinnig boul Shaun Pollock? Hoe vinnig is Pete Sampras se afslane? Sonder die
toewyding van Henri Johnson van Somerset-Wes in die Kaap sou dit dalk nooit
vir ons moontlik gewees het om vas te stel nie. ’n
Toestel wat die snelheid en hoeke van voorsnellende voorwerpe soos krieket-
en tennisballe akkuraat kan meet—dit was Johnson se uitdaging wat gelei
het tot sy uitvindsel wat ’n hele nuwe dimensie tot sport toegevoeg het. Johnson se sogenaamde
"speed gun" (snelgeweer) is in 1999 tydens die Krieket-Wêreldbekertoernooi
op die Oval in Engeland amptelik in gebruik geneem. Hy het dit in 1992
ontwerp. Dit word deur ’n Suid-Afrikaanse firma vervaardig en in
krieketspelende lande, asook in Europa en Amerika, verkoop. Maar volgens Johnson
het dit nie altyd maklik gegaan nie—die Europeërs en Amerikaners was
aanvanklik skepties wanneer hulle gehoor dat die tegnologie in Suid-Afrika
ontwikkel is. Toe wys ons hulle dat ons darem nie sulke agtervelders is as wat hulle
gedink het nie! Trevor
Bayliss—sy wenplan vir ’n radio TREVOR
BAYLISS is nou wel ’n Londenaar, maar sy belangrike uitvindsel, die
opwen-radio, het in Suid-Afrika gestalte gekry. ’n Kaapse firma het in
1996 die eerste betroubare opwen-radio op die mark geplaas. Bayliss
het vir hom naam gemaak met sy "uitvindsels" deurdat hy reeds jare
lank met idees vir toestelle in sy werkwinkel naby Londen geëksperimenteer
het. Hy het die opwen-radio in 1991 ontwerp nadat hy na ’n program oor
vigs in Afrika gekyk het. In die program is gesê dat die grootste probleem
by die verspreiding van gesondheidsinligting lê omdat so min mense dit kan
bekostig om batterye te koop. Danksy
Suid-Afrika se Liberty Life-groep is Bayliss se droom verwesenlik en het die
Suid-Afrikaaanse maatskappy in November 1995 met produksie begin—met ’n
personeel van gestremdes wat nie minder nie 20 000 radio's per maand kon
lewer. As
die veer van die radio opgewen is, is daar genoeg elektrisiteit vir ’n
speeltyd van sowat veertig minute. Ander
interessante Suid-Afrikaanse uitvindsels DAAR
is nog talle ander uitvindsels van Suid-Afrikaners self of wat deur
Suid-Afrikaners vervolmaak is. Die energie-reus Sasol staan sekerlik voor in
die ry wanneer dit kom by ’n buitelandse (Duitse) uitvindsel wat plaaslik
verfyn en uitnemend verbeter is. Suid-Afrikaners
het voorts die tegnologie ontwikkel om mikro-organismes soos baktererieë te
gebruik om goud uit erts te onttrek. Die proses word boonop wêreldwyd vir
verskeie ander metale gebruik. Kinderkrag
as ’n bron van energie—dié is weer ’n idee op heel ander vlak. Só vervaardig ’n Johannesburgse firma die sogenaamde
"Playpumps", of eenvoudige mallemeulens wat op putte geplaas word
om water na gemeenskappe se tenks te pomp terwyl die kinders hulle daarop
vermaak. Die voorbeelde is legio. Maar
dis ook nie altyd so maklik om ’n spesifieke naam aan ’n uitvindsel te
koppel nie, want soms is dit ’n hele spanpoging. Baiemaal vervaag name
boonop in die gang van die geskiedenis.
Ons
weet byvoorbeeld dat die gebruik om wit lyne op paaie te verf in Suid-Afrika
ontstaan het. Maar presies wie was die persoon wat doer in 1922 die slim
plan gekry het om daardie lyne in Adderleystraat in Kaapstad aan te bring? As enige van die lesers van
Mieliestronk.com die antwoord ken, sal ons dit graag wil verneem. HET
JY GEWEET? GEMIDDELD
sowat tagtig patente word elke maand deur die Suid-Afrikaanse Patentekantoor
toegestaan. En gemiddeld twaalf patente word maandeliks deur die
patentekantoor in die Verenigde State toegestaan vir uitvindsels uit
Suid-Afrika. Ja-nee, wie sê nog Suid-Afrikaners is nie vol idees nie? |
|